1. Home
  2. Die Godheid
  3. God Se Wind – Die Heilige Gees

God Se Wind – Die Heilige Gees

Skriftuur: Jesaja 45:13

Kan jy jouself indink hoe ons planeet aan die begin moes gelyk het toe dit met water en duisternis bedek was?

Wat moes die Here doen om hierdie planeet uit sy donker koue water gaos te red? En wat moet Hy doen om my te red?

Genesis 1:9 En God het gesê: Laat die waters onder die hemel hulle op een plek versamel, sodat die droë grond sigbaar word. En dit was so.

Deur watter medium het God hierdie eerste grootse planetêre wonderwerk laat geskied? Kom ons lees dit:

Genesis 1:2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.

Miskien sal ons eendag in die hiernamaals na die beeldmateriaal van hierdie wonderwerk kan kyk. ‘n Groot gedeelte van die waters word in die atmosfeer geplaas, en die ander in die oseane en mere. Dit was die werk van die Heilige Gees.

SONDVLOED

Hoe lank sou die waters op hulle plek bly? So lank as wat die mensdom aan God se Gees gehoorsaam sou wees.

Genesis 6:3 Toe sê die Here: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie.

Daar kom ‘n dag wanneer die Heilige Gees ophou om met die hardnekkige sondaar te pleit. Na 1800 jaar moes Hy die destydse planeet met dieselfde water verwoes wat Hy vroeër geskei het.

Genesis 7:19 En die waters het die oorhand gekry op die aarde, sodat al die hoë berge onder die ganse hemel bedek was.

TERUG BY GAOS

Asgevolg van die mensdom se goddeloosheid en sy weiering om na die Heilige Gees te luister, word die planeet weer ‘n keer in ‘n watergaos gedompel. Sou God se Gees weer ‘n keer die biljoene tonne water verwyder?
Genesis 8:1 En God het gedink aan Noag en aan al die wilde diere en al die vee wat saam met hom in die ark was;

Wat ‘n genadige God. Hy dink aan die agt mense wat aan Sy Gees gehoorsaam was. Hoe gaan Hy hulle uit hulle krisis red?

Genesis 8:1 En God het ‘n wind oor die aarde laat waai, sodat die waters gesak het.

Wie u is die “wind”? Ellen White verwys as volg daarna: “n Geluid soos die van ‘n sterk wind is hehoor.” PP 97.

Waar kry ons soortgelyke woorde? Tydens die uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge 2:2.

“En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het.”

Is daar ‘n teks waar die Heilige Gees met “wind” vergelyk word?

Johannes 3:8 Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.

Laat ons nie die krag van die Heilige Gees in die skepping en herskepping van ons planeet onderskat nie. Laat ons nie die werking van die Heilige Gees in die herskepping van die mens onderskat nie.

DIE UITTOG UIT EGIPTE

Die kinders van Israel is vasgekeer. Die Egiptiese leërs kom soos reuse branders van agter op hulle af. Voor hulle grynslag die doodswaters van die rooi see.

Hoe het die Here die waters van obstruksie verwyder? Net soos by die skepping en na die sondvloed. Met wind.

Eksodus 14:21 Toe steek Moses sy hand oor die see uit, en die Here het deur ‘n sterk oostewind die see laat wegvloei, die hele nag deur, en die see droog gemaak; en die waters is gekloof.

Wil die bose waters van jou sondige natuur, jou temperament en jou skandelike mislukkings jou met tye verswelg?
God se Wind, die Heilige Gees kan hierdie waters terughou totdat ons op die veilige oewers van die hiernamaals gaan uitstap.

DIE BALLINGSKAP

Kom ons lees aangaande die waters van beproewing tydens die ballingskap:

Jesaja 8:7,8 Die Here (sal) die magtige vloedwaters van die Eufraat oor hulle (Die tien stamme) laat kom: die Assiriese koning met al sy mag. Die Eufraat sal oor al sy oewers stoot, oor al sy walle spoel. Hy sal Juda binnedring, die hele land oorstroom en daardeur vloei totdat hy skouerhoogte bereik.

SAMARIA

Is hierdie profesie vervul? Ja. In 722 vC. spoel die magtige Assiriese Eufraatrivier van verwoesting oor sy grense, sy oewers en sleur Samaria mee.

Sargon II vertel op die paleisklippe van sy hoofstad Dur Sjarakin hoe hy hierdie profesie van Jesaja vervul het. Die Assiriese vloedwaters het oor die tien stamme gespoel en hulle histories permanent verdrink.

JUDA

In 701 vC. stoot die Assiriese vloedwaters weer ‘n keer oor sy walle en spoel tot in Juda.

Magtige vestingstede soos Lagis en baie ander, word deur die oorlogswaters van Sanherib weggesleur.

Die vernietigende watergety het tot teen die mure van Jerusalem aangespoel. Op die Lagisinskripsies lees ‘n mens hoe die profesie van Jesaja 8:8 vervul is:

Hy sal Juda binnedring, die hele land oorstroom en daardeur vloei totdat hy skouerhoogte bereik. Jesaja 8:8.

Tot waar sou die Assiriese stormwaters van die Eufraat kom? Skouerhoogte. Deur God se onbegryplike genade het Hy Juda hierdie keer van algehele verdrinking gered:

Jesaja 37:36 Die engel van die Here het gegaan en honderd vyf en tagtig duisend man in die Assiriese kamp doodgemaak. Toe die Assiriërs die môre vroeg opstaan, lê die lyke almal daar.

Die argeologiese bevestiging van hierdie Assiriese ramp is op die suile van Karnak in Egipte gevind.

BABILON

As Juda gedink het Assirië is ‘n groot rivier, dan het hulle nog nie die Amasone van Babel gesien nie.

In 605 vC. spoel die Babiloniese waters vir die eerste keer teen Juda. Die jong kroonprins Nebukadnesar spoel Daniël en baie ander koninklikes na Babilon weg.

Maar die vloedwaters van Babilon was nog nie klaar met hulle werk nie.

In 597 vC. spoel meer Babiloniese stormwaters teen Juda. Hierdie keer word die profeet Esegiël, koning Jojagin en 10,000 ander Judeërs na Babilon weggespoel.

Ten spyte van die vloedrampe ignoreer hulle die pleitstem van die Heilige Gees en verwerp die profetiese woord.

In 586 vC. het die Babiloniese vloedwaters Jerusalem heeltemal weggespoel het. Argeologie bevestig dit.

BANNELINGE

Wie was vir die ballingskap verantwoordelik?

Juda self. Sou die Wind van God weer in hulle lewe waai en hulle uit hulle ellende verlos?

Jesaja 11:15,16 Die Here sal die Nyldelta laat opdroog. Hy sal ’n skroeiende wind teen die Eufraat stuur en net sewe kanale daarvan laat oorbly wat ’n mens met jou skoene aan kan deurloop. Daar sal vir die oorblyfsel van sy volk wat in Assirië is, ’n grootpad wees soos daar was toe Israel uit Egipte getrek het.

Die ballinge sit in die kerk by die Kebarrivier terwyl Esegiël vir hulle uit die profeet Jesaja lees.

Hulle vra hom: “Esegiël. Wat bedoel Jesaja met die opdroog van die waters, die grootpad en die wind?”

“Onthou julle hoe die Here ‘n sterk wind gestuur het om ‘n pad deur die rooi see te waai? En toe weer ‘n wind om die Egiptenare binne in die see te verdrink?

“Die Here gaan daardie selfde wonderwerk herhaal. Die Babiloniese waters wat julle hierheen gespoel het, gaan opdroog. Die mag wat Babilon oor julle uitoefen gaan deur die wind van die Heilige Gees weggewaai word. Julle gaan op die grootpad van verlossing na Jerusalem terugloop.”

DANIëL SE PREEK

‘n Ander klompie ballinge luister na ‘n preek wat die profeet Daniël een Sabbat in Babilon gepreek het.

Jesaja 51:10,11 Is dit nie u wat die see, die waters van die groot wêreldvloed drooggemaak het nie, wat van die dieptes van die see ’n pad gemaak het vir die deurtog van die verlostes nie? (Hoe? Deur Wind) So sal dan die losgekooptes van die HERE teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry; kommer en gesug vlug weg.

Daniël verduidelik: “Broers en susters. Toe God vir ons ‘n blyplek op hierdie planeet wou skep, het die Wind van Sy Heilige Gees tonne waters verwyder.

Toe Hy Sy slawevolk uit Egipte wou verlos, het Hy die rooisee deur die wind van Sy Gees laat opdroog.

“Jesaja voorspel dat ons wat hier anderkant die groot Eufraatrivier in ballingskap sit, binne kort deur God se Wind, die Heilige Gees, verlos gaan word.

Die ballinge vra vir die profeet Daniël hoe ‘n mens op daardie verlossingsdag gaan voel. Hy lees weer ‘n keer:

Jesaja 51:11 So sal dan die losgekooptes van die HERE teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry; kommer en gesug vlug weg.

Vir ons wat vandag soos die ballinge van destyds kerk toe gekom het, is daar baie goeie nuus. Die Wind van God is gereed om ‘n nuwe blydskap in ons lewens in te waai.

DIE VERLOSSER

Hoe lank sou die Babiloniese ballingskap duur? Hoe lank gaan ons ballingskap van pyn nog aanhou?

Jeremia 29:10 Want so sê die HERE: As eers sewentig jaar vir Babel verby is, sal Ek op julle ag gee en aan julle my goeie woord vervul om julle na hierdie plek terug te bring.
Waar lees ons van die “goeie woord” wat vertel hoe God berouvolle ballinge deur Sy Gees uit genade kan red?

Jesaja 44:22-28 Ek delg jou oortredinge uit soos ’n newel en jou sondes soos ’n wolk; keer terug na My, want Ek het jou verlos… Wat van Jerusalem sê: Dit moet bewoon word; en van die stede van Juda: Hulle moet herbou word, en Ek sal sy puinhope oprig, wat vir die diepte sê: Verdroog! en jou riviere sal Ek laat verdroog; wat van Kores sê: Hy is my herder, en hy sal alles volbring wat My behaag deurdat hy van Jerusalem sê: Dit moet gebou word, en die tempel moet gegrond word.

OPDROOG VAN DIE EEUFRAAT

Pragtige verlossingstaal. Die Heilige Gees is by magte om die donker wolke van my sondes weg te waai.

Dan sê Hy hoe Hy riviere gaan laat opdroog. Van watter rivier praat Hy hier? Die Eufraat waar God se kinders in ballingskap gehou word.

Op 12 Oktober 539 vC. het Kores by Babilon aangekom. Daardie nag het die Eufraat letterlik opgedroog en Babilon het geval.

KORES

Wie presies was Kores wat God as verlosser en herder gebruik het om die ballinge te verlos? Kom ons lees dit:

Jesaja 44:28 – 45:1 Wat van Kores sê: Hy is my herder… So sê die Here aan sy gesalfde, aan Kores, vir wie Hy as heerser aangestel het, aan wie Hy nasies onderwerp en voor wie Hy konings hulle wapens laat neerlê, voor wie deure oopmaak en poorte nie gesluit laat bly nie.

Kores word ‘n herder, ‘n gesalfde, en ‘n hersteller genoem. Aan wie laat hy jou dink?

Net soos Jesus se koms eeue voor die tyd voorspel is, net so is Kores se koms eeue voor sy geboorte voorspel.

Tydens Moses se geboorte wou die farao alle babaseuntjies in die Nyl verdrink. Die duiwel het geweet ‘n verlosser was op pad.

Met Kores se geboorte wou koning Astyages van die Meders, sy eie kleinseun doodmaak. Die duiwel het geweet die verlosser van Sy kinders is gebore en hy moes dood.

Tydens Jesus se geboorte het Herodus beveel dat alle babaseuntjies doodgemaak moes word. Die duiwel het geweet die Verlosser is gebore. Interessante parallelle.

DIE VLOEDWATERS

Openbaring vertel hoe die vloedwaters van vervolging deur die eeue God se volk wou verdrink. Kom ons lees dit:

Openbaring 12:15 Die slang het toe ‘n stroom water soos ‘n rivier uit sy bek agter die vrou (God se ware kerk) aan uitgespoeg, sodat sy deur die stroom meegesleur kon word.

Gelukkig het die Wind van die Heilige Gees telkemale die vloedwaters weggewaai.

DANIËL EN KORES DIE GROTE

In die lig van die volmaan stap Kores die banketsaal van Babilon binne. Josefus en Ellen White vertel hoe Daniël vir Kores uit Jesaja 45:13 gelees het:

Ek het vir Kores te voorskyn laat tree om reg te laat geskied; Ek verwyder elke hindernis op sy pad. Hy sal my stad weer opbou en my ballinge terugstuur sonder dat hy betaling of ‘n geskenk daarvoor ontvang, sê die Here die Almagtige.

Toe Kores besef dat sy naam en sy verlossingswerk 200 jaar voor sy geboorte voorspel is, het hy ‘n verlossings- dekreet uitgevaardig. Die detail vind mens in Esra 1.

Beide die Bybel en die Koressilinder bevestig dat Juda sonder betaling, slegs uit genade verlos is. Die Wind van die heilige Gees het ‘n pad deur die waters van konflik gewaai.

OPDROOG VAN DIE EINDTYD EUFRAAT

Een Sabbat lank gelede op die eiland van Patmos sien Johannes hoe die Eufraat van universele boosheid opdroog.

Hy sien hoe die stormwaters van vervolging finaal deur God se Wind opdroog. Hy sien hoe ‘n ander Kores, Jesus Christus saam met Sy Vader uit die Ooste kom.

Openbaring 16:12 Die sesde engel het toe sy bak op die groot Eufraatrivier uitgegooi. Die water daarvan het opgedroog om ‘n pad vir die konings uit die ooste oop te maak.
GOEIE NUUS

Kores het al die koste vir die reis van die ballinge betaal om uit Babilon na Jerusalem te vertrek. Juda is uit genade uit die greep van Babilon verlos.

Ons hemelse Kores het op Golgota ons reisgeld na die nuwe Jerusalem betaal. Hy kom ons binnekort haal om vir ewig saam met Hom hemel toe te gaan.

Openbaring 21:1 Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie.

Ek verlang na ‘n land waar daar net mooi mense gaan wees. ‘n Land waar die Prins van Vrede gaan regeer.

WAT MOET ONS DOEN OM HEMEL TOE TE GAAN?

Hoe lyk dit in ons harte? Het daar miskien ‘n klomp bitter water van rebellie en kwessies ingespoel? Klots die waters van onverskilligheid, onreinheid en sonde teen die damwal van ons harte?

Ek het baie goeie nuus. Soos by Pinkster is God se Wind vanoggend gereed om weer ‘n keer te waai.

As ons Hom toestemming gee, gaan Hy die waters van goddeloosheid uit ons lewens wegwaai.

Ek het ‘n behoefte aan die skoonmaakproses van daardie reinigende Wind, wat van jou?

Was this article helpful?