1. Home
  2. Die Christelike Lewe
  3. Abraham – Meer As Oorwinnaars

Abraham – Meer As Oorwinnaars

Skriftuur: Romeine 8:37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.

Een van die heerlikste sensasies, is die wen-sensasie.  Een van die onaangenaamste sensasies, is die verloor-sensasie.

Van kleins af het ek geleer om skaak te speel.  En wanneer ons gaste gekry het, het hulle gwoonlik kom skaak speel.  Ek onthou nog die keer toe ek vir een van die tannies gevra het of sy nie net een keer met my wil speel nie.

Sy was ‘n bietjie geafronteer dat ‘n snuiter soos ek dit waag om vir haar te vra om met my te speel.  Ek meen te sê.
Uiteindelik het sy ingestem en besluit om my sommer met die eerste paar skuiwe baie vinnig te skaakmat. En dit was ‘n slagting.

In my desperate vernedering het ek met my kasteel blokkie vir blokkie na haar kant toe beweeg.  En wonder bo wonder het ek my kasteel regoor haar koning gekry.  Sy was geskaakmat.  Sy het verloor.

Die tannie het nie ‘n woord gesê nie en vies vies daar weggestap.
Ek was maar so ongeveer vyf jaar oud, maar ek sal daardie oorwinnaarsvreugde nooit vergeet nie. Om te dink dat ek, so ‘n dom klein seuntjie, so ‘n groot slim tannie kon gewen het.
Maar deur die jare het ek ook die wrang smaak van ‘n verloorder gesmaak.

OORWINNING – ’N GESKENK VAN DIE HERE

Daar is ‘n paar pragtige geskenke wat die Here vir ons wil gee.  Die eerste groot geskenk is Sy geregtigheid. Hierdie geskenk kwalifiseer ons vir die hemel.

‘n Ander groot geskenk is vergifnis. Hy vergewe ons so volkome, dat God die Vader ons as volmaakte wesens beskou asof ons nog nooit gesondig het nie.

En die ander groot geskenk wat Hy ons wil gee, is die geskenk van oorwinning. Dis nie Sy plan dat ons verloorders moet wees nie.
Kom ons lees ‘n pragtige teks wat ons van die uiteindelike bestemming van oorwinnaars vertel.

Openbaring 15:2 En ek het iets soos ‘n spieëlgladde see met vuur daarin gesien. Die mense wat die oorwinning behaal het oor die dier en sy beeld en die getal van sy naam, het by die spieëlgladde see gestaan met siters wat hulle van God gekry het.

Is oorwinning iets wat ek vermag het, of is dit iets wat die Here my skenk? Sal die mense wat eendag op daardie pragtige see van glas gaan staan, iets hê om op te roem?  Kom ons lees waar hulle hulle oorwinning vandaan gekry het.

1 Korinthiërs 15:57 Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.

Moet tog nooit roem oor enige oorwinning wat jy behaal het nie.  Jy het nie die krag om teen jou gevalle natuur op te staan nie.  Jy het nie die kragom hoflik en kalm te bly wanneer jy onbeskof beledig word nie.

Oorwinning is ‘n geskenk wat van Bo af kom.

Johannes 16:33 Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My.  In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld oorwin.

Is daar mense en dinge in hierdie lewe wat dit vir jou baie moeilik maak om te oorwin? Hou moed. Jesus is deur dieselfde beproewing en Hy het vir ons ‘n heerlike oorwinning behaal.
Die rede waarom ek en jy nog nie oorwinning oor sekere swakhede in ons lewe behaal het nie, is miskien omdat ons dit in ons eie krag wou regkry. Pleks om die geskenk van oorwinning by die Here te gaan haal.

KAN EK GERED WORD SONDER DAT EK DIE OORWINNING OOR SONDE BEHAAL?

Kom ek vra jou ‘n vraag.  Kan ek gered word sonder om die oorwinning oor spesifieke sondes te behaal?  Gestel nou ek het die gewoonte om elke keer in die kerk een of ander suster se handsak te steel. Een of twee van hulle het my al uitgevang en met my daaroor gepraat, maar ek hou maar net aan om handsakke te steel.

Weet u wat?  As ek nie die oorwinning oor hierdie handsakstelery behaal nie, gaan ek later van die broers se karre steel. Wat dink u? Sal ek gered word as ek elke week ‘n kar voor die kerk steel?
BYBELKARAKTERS

Die antwoord op hierdie vrae kry ons in die lewens van die bybelkarakters. Kom ons begin by Abraham en dan kyk ons of die Here hierdie man se mislukkings oorgesien het.
Genesis 12:10-13 Daar was hongersnood in die land, ‘n baie swaar hongersnood, en Abram het na Egipte toe getrek om daar ‘n heenkome te vind.  Toe hy op die punt staan om Egipte binne te gaan, sê hy vir sy vrou Sarai: “Ek weet jy is ‘n mooi vrou. Wanneer die Egiptenaars jou sien, sal hulle sê: Dis sy vrou, en hulle sal my doodmaak maar vir jou sal hulle laat bly lewe. Sê tog maar jy is my suster dat dit met my goed kan gaan oor jou, en my lewe deur jou toedoen gespaar word.”

Wat se sonde het Abram gepleeg?  Hy het valse getuies gelewer.  Hy het gelieg. Het jy ‘n probleem met leuens?  Vertel jy ‘n wit leuntjie wanneer jy in ‘n ongemaklike situasie beland?

Abram se leuen was slegs ‘n simptoom van ‘n ander probleem.
Hy het nog nie geleer om die Here ten volle te vertrou nie.

En die rede waarom ons nie meer ‘n oorwinnende lewe lei nie, is omdat ons die Here nie ten volle vertrou nie.

Die Here het vir Abram in Genesis 12:2 beloof om vir hom ‘n groot nasie te maak.

En toe die eerste groot toets kom, verloor hy sy vertroue in die
belofte van God, vertel ‘n leuen en stel sy vrou se lewe in gevaar.

Het die Here vir Abram afgeskryf omdat hy nie die oorwinning behaal het nie? Nee. Het die Here hom vergewe en toe net so gelos?  Nee.

In hoofstuk 15 herhaal die Here die belofte aan Abram dat Hy vir hom ‘n nageslag sal gee. Maar saam met die nageslag beloof die Here nog iets.

Vers 18 Op daardie dag het die Here ‘n verbond gesluit met Abram en vir hom gesê: Aan jou nageslag gee ek hierdie land….
Na etlike jare vra Sarah vir Abram: “Skat, jy het gesê dat ons twee ‘n kind gaan hê. Dis nou al hoeveel jaar en nog niks het gebeur nie. Binne kort sal ek vir ‘n histe rectimi moet ingaan.”

DIE TOETS

Abram kom voor ‘n tweede toets te staan. Of hy kan die Here vertrou wat beloof het om vir hom ‘n nageslag te gee, òf hy kan die Here wantrou en ‘n ander plan maak.

Die Here is gereed om vir Abram die oorwinning te gee, maar ongelukkig neem Abram die geskenk nie aan nie.

Hy trou met Hagar en Ismael word gebore.  En die moeilikheid tussen Ismael en die Jode het tot vandag toe nog nie opgehou nie, en sal nooit ophou nie.

En die moeilikhede wat ek en jy veroorsaak het omdat ons nie die Here vertrou nie, sal ook nie ophou nie.

Gaan die Here vir Abram red ten spyte van sy tweede val?  Of gaan die Here Abram weer ‘n kans gee om die oorwinning oor sy swakheid te behaal.

Ek het die volgende baie interessante iets raakgeloop wat ek graag met u wil deel.  Dis ‘n brief wat aan ‘n sekere indiwidu geskryf is (5T 623)

“En tog het ek geweet dat u weer oor dieselfde terrein geneem sal word en op die punte GETOETS WORD WAAR U VOORHEEN GEFAAL HET.

So het die Here met die kinders van Israel gehandel en so ook met Sy Volk deur al die eeue.  Hy sal hulle TOETS WAAR HULLE VOORHEEN GEFAAL HET; Hy sal hulle toets en as HULLE VIR DIE TWEEDE MAAL FAAL, SAL HY DIESELFDE TOETS WEER NA HULLE BRING.”

Jare gelede lui my foon een oggend.  Die vrou aan die ander kant is baie ontsteld. Sy sê vir my dat daar een suster in die kerk is wat sy nie kan verdra nie.  Hulle het onlangs ‘n lelike uitval gehad.  En terwyl sy hierdie spesifieke oggend oor die saak gebid het, was daar ‘n geklop aan haar voordeur.

Sy het opgehou bid en die voordeur gaan antwoord.  En raai wie het daar gestaan? Sy wou by my weet waarom die Here so iets aan haar gedoen het. Ek het vir haar gesê dat die Here die vrou weer ‘n keer oor haar pad gestuur het sodat sy die oorwinning oor haar negatiewe gevoelens kon kry.

OORWINNINGS MET BETREKKING TOT MENSEVERHOUDINGS

Jare gelede het ek en my baas vasgesit. Het so iets al met jou gebeur? Ons kon net nie klaar kom nie. Ek is toe daar weg.  Maar weet jy wat? Die baas wat ek toe gekry het, was nog erger.
Daar was ‘n oorwinning wat ek by my eerste baas moes behaal het, wat ek nie behaal het nie. Die Here het my die kans gegee om die oorwinning by die tweede baas te behaal. Daar het ek ook gefaal.
Kom ek vertel u van my derde baas. Hy was moeiliker as die eerste twee saam. Op ‘n dag het ek vir hom gesê: “Nou loop ek. Ek kan nie meer langer met jou saamwerk nie.” Ek sal sy woorde aan my nooit vergeet nie.  Hy het vir my gesê: “Onthou net, daar waar jy wil heengaan, is daar ook Piet Korrelkop.”

Ek is nie weg nie. Ek het vir die Here begin bid om vir my die oorwinning oor my negatiewe gevoelens teenoor my baas te gee. Na ses jaar het ek hierdie groot geskenk gekry.
En ek wil net vanoggend vir jou sê dat die oorwinnings wat die Here aan ons skenk, baie groot en baie heerlik is.
ABRAM SE DERDE MISLUKKING

Kom ons lees aangaande Abram se derde geestelike mislukking.  Kan jy nog onthou wat sy probleem was? Hy het gesukkel om die Here op Sy woord te neem. Elke keer wanneer hy in die moeilikheid was, het hy op sy eie planne staatgemaak en dan skandelik verloor.
Dit was die Here se begeerte dat Abram die oorwinning moes aanneem wat Hy hom wou gee. En omdat Abram voorheen gefaal het, het die Here hom weer oor dieselfde terrein gelei sodat hy die oorwinning kon behaal.

Genesis 20:1,2 Abraham het van Mamre af weggetrek na die suidland toe en hom tussen Kades en Sur gaan vestig. Toe hy op ‘n keer in Gerar gewoon het, het hy voorgegee sy vrou Sara is sy suster, Koning Abimelek van Gerar het haar toe laat haal om met haar trou.”

Arme mens. Hy loop al so ‘n lang pad met die Here saam, en sowaar, hy wantrou Hom weer ‘n keer. Net ‘n rukkie van te vore, het die Here vir hom die volgende bemoedigende belofte gegee. Ons lees dit in

Genesis 17:1 Toe Abraham nege en negentig jaar oud was, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige.  Lewe naby My en wees opreg!  Ek sal my verbond met jou sluit en baie, baie mense uit jou laat voortkom.” Abram het op sy knieë geval, en toe sê God vir hom: “Dit is my verbond met jou: jy sal die vader wees van ‘n menigte nasies; jy sal nie meer Abram genoem word nie, jou naam sal Abraham wees, want Ek maak jou die vader van baie nasies.”

Abraham stap na die mark by Gerar om ‘n paar goedtjies te gaan koop. Die mense stel hulle self aan hom voor en Abraham stel homself ook aan hulle voor.  “My naam is Abraham, vader van baie nasies.”

“Hoeveel kinders het jy?”,  vra een van die handelaars.  “Wel, ek het nog nie kinders nie, maar ek hoop dit sal nog gebeur.”
“En wie is hierdie dame wat saam met jou mark toe gekom het?”

“Wel, dis my suster.”

KAN ONS MAAR MET ABRAHAM RAAS?

Kan ons maar met Abraham raas?  “Abraham, jou swakkeling.  Kan jy nie ophou met jou leuens en ten volle op die Here begin vertrou nie? Het Hy jou nie al hierdie jare opgepas en gelei nie?  Jy is ‘n skatryk man met alles wat jou oë begeer en jy loop en lieg so ver as wat jy gaan.”

Vir 25 jaar lank probeer die Here vir Abram die oorwinning gee, en vir 25 jaar lank weier Abraham om dit aan te neem.
Gaan die Here hom nog ‘n kans gee wat van jou en my?  Is daar swakhede in ons lewens waarmee ons nou al vir jare mee worstel?  Gaan die Here ons weer ‘n kans gee?

DIE TOETS WORD MOEILIKER

Solank as wat ons leef, gaan die Here probeer om vir ons die oorwinning oor sekere swakhede te gee. Hy gaan ons elke keer oor die selfde terrein lei.En elke keer sal die toets net moeiliker en moeiliker raak.

“Die Here neem Sy kinders keer op keer oor dieselfde terrein.  DIE DRUK NEEM TOE totdat volmaakte nederigheid in die gedagte heers en die karakter verander is.”

“Die reiniging van Gods volk kan nie sonder lyding bewerkstellig word….. Hy neem ons van die een vuur na die ander en toets ons egte waarde.”

DIE LAASTE TOETS

Die heel laaste groot toets het na Abraham gekom. Kan jy nog onthou wat se swakhede hy gehad het?  Hy het gesukkel om die Here te vertrou en dan het hy dinge gedoen wat nie reg was nie.
Genesis 22:1,2 ‘n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef gestel en vir hom gesê: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.

So sewentien jaar vantevore is Isak gebore. Dit was die grootste dag in die lewe van Abraham en Sara. As die ou kleintjie snags net “kwê” gesê het, het hulle opgespring om te kyk of alles by klein Sakkie reg is.

Met seer rug en al het Abraham met sy seuntjie op die mat rondgekruip.

“Pa, moenie so rof met Sakkie speel nie,” het Sara gewaarsku.

GAAN OFFER VIR ISAK

Een nag word Abraham wakker. Hy hoor die stem van die Here wat al so dikwels met hom gepraat het. “Gaan offer vir Isak”.
Sy keel trek toe. Hy begin te rasionaliseer. Hy staan op en gaan kyk of Isak himself nie oopgeskop het nie. Hy stap na buite en kyk na die sterre. Hy loop terug bed toe en maak nie ‘n oog toe nie.

“Weer het die Here dit raadsaam geag om Abraham se geloof met ‘n verskriklike beproewing te toets. AS HY DIE EERSTE TOETS DEURSTAAN HET, en geduldig gewag het dat die belofte in Sara vervul word en nie vir Hagar as vrou geneem het nie, sou hy nie aan die moeilikste toets onderwerp gewees het wat nog ooit na ‘n mens gekom het nie.”  (The Story of Redemption, p.80)

Hoe lank worstel jy al om die oorwinning oor ‘n sekere swakheid te behaal? Dit was nou ongeveer 42 jaar dat Abraham met ‘n gebrek aan vertroue in die Here gesukkel het.

Vir 42 jaar het die Here die geskenk van oorwinning vir Abraham
aangebied en vir 42 jaar lank het hy gefaal.

Maar die groot oomblik het nou in Abraham se lewe aangebreek.  Iewers gedurende daardie lang nag het hy besluit om die Here volkome te vertrou. Abraham het besluit om die oorwinning oor ongeloof wat die Here hom aangebied het, te aanvaar.

Hebreërs 11:17,18 Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: Uit Isak sal jou nageslag gebore word, het gereed gestaan om sy enigste seun te offer.  Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het.

Abraham en Isak stap teen die berg Moria uit. “Pa, waar is die lam wat ons gaan offer?”

Abraham kyk na sy seun. “Sakkie, die Here sal voorsien.”  Isak besef dat hy die offerlam gaan wees.

Terwyl Abraham sy seun op die brandofferaltaar vasmaak, help Isak hom.  Die trane loop terwyl hulle met die voorbereidings besig is.

Die versoeking is daar om op te hou om die Here te vertrou, maar Abraham volhard. Hy glo dat die here magtig is om Isak weer uit die dood op te wek.

Toe hy die slagtersmes oplig om sy seun se slagare af te sny, het die Here vir Abraham gestop.

Terwyl Johannes na die oorwinnaars op die see van glas gekyk het, het hy vir Abraham gesien. Ek wonder of hy jou en my daar gesien het?

DIE VOLK ISRAEL

Dit was op die grens van die beloofde land dat die volk se moed gebreek het, en hulle deur ongeloof omgedraai het.Hulle het verloor. Veertig jaar later neem die Here hulle weer na die grens van die beloofde land. Hierdie keer was die moeilikhede baie groter as die eerste keer.

Gelukkig het Israel die tweede toets geslaag. God se oorwinning aangeneem en die beloofde land binne gegaan.

“Net so toets God nog sy volk. En wanneer hulle faal, bring Hy hulle op dieselfde plek en die tweede is die toets baie moeiliker as die eerste keer. So hou dit aan totdat hulle die toets deurstaan het, of as hulle opstandig raak, onttrek die Here sy lig van hulle en laat hulle in duisternis.” Patriarge en Profete 437

PETRUS SE OORWINNING

Kan jy nog onthou waar Petrus gefaal het?  Dit was die aand in Kajafas se paleis waar Petrus verloor het en sy meester met vloeke verloön het.Hy het verloor. Wat is die Here se ideaal vir ‘n verloorder?  Om te wen. En waar dink jy moes Petrus die oorwinning behaal? Op dieselfde plek waar hy verloor het.  Luister na hierdie gedagtes.

“Die dag na die genesing van die kreupele, het Annas en Kaiafas saam met ander hoofwaardiges vir die verhoor byeengekom – die gevangenis is voor hulle gedaag. In daardie selfde vertrek, en voor sommige van die einste mense het Petrus sy Meester skandelik verloën. Waar hy nou self verhoor is, kon hy alles baie
duidelik onthou. Hy het nou die geleentheid gehad om vir sy lafhartigheid te vergoed.” Handelinge van die Apostels 62.
Dit mag net wees dat ek en jy op hierdie oomblik deur dieselfde toets gaan waar ons voorheen gefaal het. Moenie opstandig wees nie. Die Here is besig met ons. Hy wil vir ons die geskenk van oorwinning gee. Hy wil nie hê ons moet verloorders wees nie.

“Keer op keer bring die Here Sy struikelende kinders oor dieselfde terrein; maar as hulle voortdurend nalaat om op die vermaning van Sy gees ag te slaan; wanneer hulle nalaat om op elke punt te hervorm waar hulle fouteer het, sal die Here hulle uiteindelik aan hulle eie swakheid oorlaat.”  9T 182;

MY OUTBOET

Toe ek in graad 1 gekom het, het ek baie gou ‘n groot les geleer. Jy sukkel nie met ‘n maatjie wat ‘n ouboet in ‘n hoër standerd het nie.  Ek het dit eendag gewaag maar my boeglam geskrik toe hierdie grad 4 reus vir my sê om sy boetie uit te los.
Toe ek in grad 3 kom, het my boetie in graad 1 begin.  Met die eerste groot speeltyd het ek sy klasmaatjies bymekaar gekry en ‘n toespraak afgesteek.

“Sien julle hierdie groot ou? As julle aan my klein boetie slaan, het julle met my te doen.”

Ek het met baie blou oë huis toe gegaan omdat ek nie ‘n ouboet in die skool gehad het nie. My boetie is sonder blou oë deur die laerskool. Daar was ‘n ouboet wat sy gevegte vir hom geveg het.
JESUS MY OUBOET

Kom ek vertel julle van my Ouboet. Sy Naam is Jesus. Ek het deur die jare geleer dat as die duiwel my ‘n blouoog wil gee, roep ek vir Jesus my Ouboet. En raai wie is dan die wenner?
Nou die dag toe ‘n versoeking van neerslagtigheid my wou neerslaan, het Jesus my Ouboet vinnig gekom en hom met een hou uitgeslaan.

‘n Rukkie gelede het ek amper ‘n blou oog gekry want ek wou iemand terug betaal wat my te na gekom het. Maar gelukkig het ek Jesus my Ouboet geroep om namens my te baklei en Hy het ‘n skitterende oorwinning oor my jaloesie en bitterheid behaal.

Probeer my Ouboet Jesus vir enige tipe oorwinning.  Hy wen altyd.

e-pos Navrae na questions@amazingdiscoveries.co.za

Was this article helpful?

Related Articles