1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Kores Die Grote – Deel 1

Kores Die Grote – Deel 1

Skriftuur: Jesaja 44:28

Wanneer ek die Hinnomvallei wes van Jerusalem besoek, dink ek twee wrede gebeurtenisse wat daar plaasgevind het.

Die wrede koning Manasse, seun van die goeie koning Hiskia, het sy seun aan die god Molog geoffer.

2 Kronieke 33:6 Hy het sy seuns in die Ben-Hinnomdal as offers verbrand, hom besig gehou met goëlery, waarsêery en toordery, en meegedoen aan die oproep en raadpleging van geeste.

Is dit nie verskriklik nie. Terwyl ek daar gestaan het, kon ek in my verbeeding die gegil van die seuns in die vallei van Hinnom gehoor het.

“Asseblief tog Pa. Moet ons tog nie aan die afgod Molog offer nie.”

Wanneer ‘n mens die geringste aan die versoekings van die duiwel toegee, maak hy van jou die wreedste mens. Ons mag nooit toelaat dat daar enige sonde in ons lewens heers nie want ons weet nie tot watter uiterstes dit ons kan neem nie.

Die Babiloniese Talmud, ‘n reeks Joodse kommentare vertel van ‘n ander wrede iets wat koning Manasse van Jerusalem gedoen het.

In die jaar 686 v.C. het hy Jesaja gevange geneem en hom middeldeur gesaag.

Die mens hou nie daarvan dat die profeet van die Here jou bestraf nie. Daar is sekere verkeerde gewoontes waaraan ons vaskleef en wee die mens of die profeet wat ons op ons foute wys.

Jesaja se teregstelling kon na ‘n berisping van die koning plaasgevind het.

Dikwels vat ek en jy ook die saag van verset en saag die profetiese vermaning met ons ongehoorsaamheid middeldeur.

VOORSPELLING VAN DIE KOMS VAN KORES

Maar net voor Jesaja se dood, ongeveer 689 v.C. het hy ‘n merkwaardige voorspelling gemaak. Toe die voorspelling ‘n 150- jaar later bewaarheid is, kon die mense dit kwalik glo.

Kom ons lees dit.

Jesaja 44:28 Ek sê vir Kores: Ek het jou as herder aangestel, jy moet my wil uitvoer, jy moet van Jerusalem sê: “Hy moet weer opgebou word en die tempel moet herstel word.”

In my geestesoog kan ek sien hoe Jesaja hierdie profesie onder inspirasie neerskryf. Hy sien hoe Jerusalem in die jaar 586 v.C. vir die laaste maal deur die Babiloniërs aangeval en tot op die grond verbrand word.

Hy sien die donker prentjie van hoe die volk van die Here in ballingskap weggevoer word. Hy sien hulle in Babiloniese knegskap.

En dan verander die prentjie skielik. Hy sien hoe ‘n bevryder God se volk kom verlos. Hy hoor sy naam – Kores.

Terwyl Jesaja onder inspirasie skryf, herhaal dieselfde visioen hom ‘n tweede keer. Kom ons lees daarvan.

Jesaja 45:13 Ek het vir Kores te voorskyn laat tree om reg te laat geskied; Ek verwyder elke hindernis op sy pad. Hy sal my stad weer opbou en my ballinge terugstuur sonder dat hy betaling of ‘n geskenk daarvoor ontvang, sê die Here die Almagtige

VERLOSSING UIT BABILON

Kom ons skuif die horlosie vanaf Jesaja se profesie ‘n 150 jaar vorentoe.

Ons bevind onsself in die pragtige stad van Babilon. Die stad is deur reuse mure omring. Die geel geglasierde teëls laat die stad in die laat middagson skitter.

Die Isjtarpoort is met blou teëls versier. Al die tempels skitter in ‘n kleed van wit en die koning se paleise is met rooi  teëls versier.

Die groot Eufraatrivier, verskans tussen twee reuse mure, suis saggies deur die stad.

DIE GESIN

Kom ons kyk na die ouderdomme van die Joodse ballinge in Babilon.

Daniël is onder die oudstes. Hy is in die jaar 605 v.C. na Babilon ontvoer. Sy ballingskap is amper ‘n vol 70 jaar. Hy is diep in sy tagtigs.

Dan is daar mense wat in 597 v.C. ontvoer is. Hulle ballingskap duur nou 58 jaar.

Dan is daar die ballinge wat in 586 v.C. gesien het hoe hulle geliefde Jerusalem afgebrand is. Hulle is nou 47 jaar in ballingskap.

TOESTANDE IN BABILON

Ons luister hoe die ou mense oor die toestande van Babilon praat.

Toe Nebukadnesar nog geleef het, was daar meer verdraagsamheid teenoor mense. Veral nadat hy tot bekering gekom het.

Daniël vertel graag van hoe die Here met hierdie magtige koning gewerk het. Dit was ‘n baie groot dag toe die bejaarde die koning in die Eufraat gedoop het.

Maar noudat sy kleinseun Belsasar op die troon sit, het dinge vinnig begin agteruit gaan.

Die koning het ‘n vreeslike maag aan hom van al die kos en wyn wat hy op die baie partytjies inneem. En dan begin hy ‘n vreeslike opinie van homself kry.

Die laaste ruk het egskeidings toegeneem. Amptenare in die Babiloniese administrasie pleeg al hoe meer bedrog en die veiligheidstak van die polisie kan ontmoontliik nie meer die misdaad stopsit nie.

DIEFSTAL

Baie Sabbatte het Daniël self die preek geneem. Hy het die broers en susters van die komende val van Babilon gewaarsku.

Die geliefkoosde boeke waaruit Daniël gepreek het, was Jesaja hoofstuk 13 en Jeremia hoofstukke 50,51.

Kom ons gaan woon ‘n erediens in die kerk in Babilon by. Die skriftuurlesing kom uit Jesaja 13:17-20.

Daniël begin te preek.

“Broers en susters. Daar is mense wat glo dat die Egiptenaars die volgende wêreldryk gaan word. Moet dit nie glo nie.

Luister wat sê die profeet Jesaja:

Jesaja 13:17 Kyk! Ek maak die Mediërs Babel se vyande…

“Broers en susters”, gaan Daniël voort, “Babilon het nou al net so sleg soos antieke Sodom en Gemorra geword. Die Here kan nie  langer toelaat dat dinge so aangaan nie. Kom ek lees vir julle  nog ‘n voorspelling uit die profeet Jesaja.”

Vers 19 Babel, die sieraad onder die koninkryke, die pronkstuk en trots van die Galdeërs, sal deur God verwoes word soos Sodom en Gomorra.

Daniël vertel vir die jongmense in die gehoor van sy besoek aan die dooie see.

“Jongmense, op ‘n keer het ek en ‘n paar ander van my maats gaan kyk hoe dit by die plek lyk waar Sodom en Gemorra vroeër was.  Dit is net soutwater waar jy kyk en die omgewing is net een groot verlatenheid.

Die profeet Jeremia het voorspel dat hierdie magtige stad waarin ons tans woon, net so verlate gaan wees soos daardie twee stede. Soos wat hulle eie sondes hulle destyds verwoes het, so gaan Babilon se sondes hom ook verwoes.”

Daniël kwoteer nog ‘n teks uit Jesaja 13

Vers 20 Die stad sal nooit meer bewoon word nie, niemand sal ooit weer daarin bly nie. Geen Arabier sal sy tent daar opslaan nie, geen wagter sal sy kudde daar laat rus nie.

Een van die waaghalsige jongmense in die diens steek sy hand op.

“Sê my, profeet Daniël. Is dit moontlik dat hierdie magtige mure tot op die grond toe vernietig sal word?  Is dit moontlik dat ‘n vyand die sterk poorte sal kan oopbreek? Is dit moontlik dat hierdie magtige stad so verlate sal word dat mense nie eers ‘n tent hier wil opslaan nie?”

Die profeet verseker die jongman dat die woord van die Here voorspel het dat Babilon totaal verwoes sou word.

Daniël gaan nou na ‘n latere profeet toe en hy lees die volgende uit

Jeremia 51:41 Sesak, (kodewoord vir Babel) so beroemd oor die hele aarde, is verower, is ingeneem!  Babel het ‘n verlate plek geword in die volkerewêreld!   

“Maar dis nie al nie,” sê Daniël vir die jongman. Kom ek lees vir jou die volgende teks wat hierdie godsman, Jeremia geskryf het.

Vers 58 So sê die Here die Almagtige: Die dik vestingmure van Babel sal gesloop word, sy hoë poorte sal afgebrand word: mense het geswoeg vir niks, nasies het hulle afgesloof vir iets wat vir die vuur bestem is.

Daniël verduidelik vir die gemeente dat Jeremia van die val van Babilon praat asof dit alreeds gebeur het. Die profetiese woord is so vas dat dit van die toekoms praat asof dit van die verlede praat.

WANNEER KOM VERLOSSING

Een van die jong susters in die gemeente steek haar hand op. Sy  wil ook vir profeet Daniël ‘n vraag vra.

“Profeet. Ek is ‘n slafoffer van Babiloniese wreedheid. Soldate het my man en my twee seuns koelbloedig om die lewe gebring. My twee dogters het met Babiloniese goëlery deurmekaar geraak en wil niks meer met die kerk toe doene hê nie. U het vir ons gelees dat die Here hierdie goddelose stad gaan verwoes.

“Sê my profeet Daniël, sal die Here Sy kinders uit hierdie stad verlos? Sal ons ooit weer die voorreg hê om ons geliefde geboorteland te sien? Ek wou onlangs by binnelandse sake hoor of ek na Israel kan emmigreer, maar hulle wou niks weet nie.”

Die ou profeet praat met die hartseer moeder.

“Die toestande waarvan jy praat, is deur die profeet Jeremia voorspel. In Babilon sal mense altyd vervolg word. Kom ek lees dit vir jou:

Jeremia 51:33  So sê die Here die Almagtige: Die Isrealiete word verdruk, en saam met hulle die Judeërs. Die deur wie hulle gevange gehou word, hou hulle vas en weier om hulle vry te laat. 

“Maar my dierbare ou sustertjie. Ek het goeie nuus vir jou.   Babilon gaan ons nie vir altyd gevange hou nie. Julle jongmense gaan spoedig die voorreg kry om na Israel terug te keer. Kom ek lees vir jou ‘n pragtige belofde. Ons dien ‘n baie sterk Verlosser.”

Jeremia 51:34 Maar hulle Beskermer is magtig; sy Naam is die Here die Almagtige. Hy sal vir hulle reg opkom: Hy sal rus bring in die land Israel, maar onrus vir die inwoners van Babel.

Die slotlied wat Daniël daardie Sabbat na afloop van die erediens opgegee het, het ‘n diep indruk op die gehoor gemaak.

Broers en susters ek wil hê dat ons Psalm 126:1-3 moet saamsing. Kom ons sing die lied met ‘n ywer asof ons alreeds verlos is.

Die fluit, en die lier en die harp het die inleiding gespeel, en die gemeente het begin sing.

Psalm 126:1-3 Toe die Here die lot van Sion verander het, was dit vir ons soos ‘n droom. Ons het gelag en gesing. Onder die nasies het hulle gesê: “Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen.” Die Here het groot dinge aan ons gedoen; ons was bly.

Die mense het daardie Sabbat baie nadenkend uit die kerk gestap. Is dit moontlik dat ons lot binnekort verander sal word? Is dit moontlik dat ons binnekort na Jerusalem sal optrek?

DIE VERBAND TUSSEN DIE VAL VAN ANTIEKE BABILON EN GEESTELIKE BABILON

Dis baie belangrik dat ons ‘n deeglike studie van die val van antieke Babilon maak. Dis baie belangrik om te lees wat die volk van die Here destyds gedoen het. Waarom?

Die val van antieke Babilon, is ‘n tipe, ‘n voorbeeld van die val van antitipes Babilon, die vyande van die volk van die Here.

12 OKTOBER 539 V.C.

Dis 12 Oktober 539 v.C. Die stad is in rep en roer. Koning Belsasar het besluit om die grootste partytjie van alle partytjies te hou.

Die spyseniers is in rep en roer om al die eet en drinkgoed by die groot banketsaal te kry.

Die nuus dat Kores se leërs die stad nader, maak geen indruk op die organiseerders van die fees nie. Vanaand gaan hulle eet en drink soos nog nooit van te vore nie.

Toe die son agter die westerkim wegsak, het die orkes begin speel. Mans en vrouens het met die verskillende strate na die suidelike paleis begin aanstap. Mense wat hulle aangekyk het, was beïndruk met hulle deftige Babiloniese klere. Hulle was op pad om te gaan eet en te gaan drink.

Daniël 5:1,2 Koning Belsasar het ‘n groot ete gegee vir sy duisend hoofamptenare en saam met hulle wyn gedrink. Toe hy onder die invloed van die wyn was, het hy die goue en die silwerbekers wat deur sy voorganger Nebukadnesar uit die tempel van Jerusalem weggevoer is, laat haal sodat hy en sy hoofamptenare, sy vrouens en sy byvrouens daaruit kon drink.

EET EN DRINK GAAN DIE VAL VAN ANTIEKE BABILON VOORAF

Dit was onder andere ‘n gastronomiese tipe. Eet en drink het die val van antieke Babilon voorafgegaan het. En die antitiepe?

Kom ons gaan ‘n bietjie terug in die geskiedenis. Wat het die verwoesting van Sodom en Gemorra voorafgegaan?  Wat is dit wat die val van die voorsondvloedse wêreld voorafgegaan het?

En wat dink jy is dit wat aanleiding tot ons verwoesting in hierdie eindtyd gaan wees?

Lukas 17:26-30 Net soos dit in die tyd van Noag gegaan het, so sal dit ook gaan in die tyd van die Seun van die mens: hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Toe kom die sondvloed, en dit het hulle almal uitgewis. In die tyd van Lot het dit ook net so gegaan: hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink, gekoop en verkoop, geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot Sodom verlaat het, het vuur en swael uit die hemel gereën, en dit het almal uitgewis. Net so sal dit ook gaan op die dag wanneer die Seun van die mens verskyn.

Dis baie interessant om deur die Bybel te blaai en na die verskillende geleenthede te kyk waar mense geëet en gedrink het.

En dis baie interessant om te merk hoeveel kere daar ‘n ramp of  die geëet en gedrink gevolg het. In 1 Samuel 30:16 het dit met die Amalekiete gebeur.

Ons lees in 1 Konings 1:25 van Adonia, een van Dawid se seuns wat homself tot koning verklaar het. Na ‘n groot etery en drinkery het die teespoed hom getref.

Job se seuns het ook na ‘n feesmaal van eet en drink tragies tot hulle einde gekom.

NIKS MET EET EN DRINK VERKEERD NIE

Daar is niks met normale eet en drink verkeerd nie. Die eet en

die drink wat ‘n ramp voorafgaan is ‘n bietjie anders. Die bord word twee of drie keer vol gelaai en daar word meer as net Oros gedrink.

En moenie dink omdat my vrou vetter as ek is dat sy meer as ek eet nie. My lintwurm en vinnige metabolisme steek miskien die feit weg dat ek meer as sy eet.

Kom ons lees hoe Jesus na die verkeerde eet en drink verwys.

Matteus 11:18 Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’ Die Seun van die mens het gekomen geëet en gedrink, en hulle sê: ‘Kyk daar, ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van die tollenaars en sondaars.’…

Een van die grootste onregte wat ons onsself kan aandoen, is om  onsself te ooreet. Die bloed wat die brein moet voed en ons wakker hou, is by die oorvol maag. Gevolglik verloor ons beheer oor ons rede.

ERNS VAN VRAATSUGTIGHEID

Kom ons lees in watter ernstige lig die Bybel vraatsugtigheid beskou:

Deuteronomium 21:18-21 Wanneer ‘n man ‘n opstandige en ongehoorsame seun het wat nie na sy pa en ma wil luister nie, selfs al straf hulle hom, moet hulle na die leiers van die stad toe vat by die stadspoort. Hulle moet vir die leiers van die stad sê:‘Hierdie seun van ons is opstandig en ongehoorsaam. Hy lusiter nie na ons nie. Hy is ‘n vraat en ‘n suiplap.’ Dan moet al die mans van die stad hom met klippe doodgooi. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei, en die hele Israel sal daarvan hoor en bang wees.

Ek het na die uitwerking van ooreet gaan kyk en die volgende skokkende feite gekry:

Die geestelike kragte verswak sodat sonde nie regtig so sondig  voorkom nie.

Misdaad word gering geag, hartstog vier botoon en goeie beginsels word oorboord gegooi.

Net soos wat die voorkoms van Spurs en die O’Hagans destyds vermeerde het totdat Babilon geval het, so gebeur dit ook vandag.

Jesus sê dat onmatigheid een van die tekens van die einde gaan wees.

In hierdie saak moet elkeen van ons sy eie aptyt ondersoek om te sien of daar nie by ons ‘n probleem bestaan nie.

DIE BESTE DiëET

Kom ons kyk na ‘n teks wat vir ons die regte soort kos voorskryf.

Matteus 5:6 Geseënd is die wat honger en dors na die wat reg is, want hulle sal versadig word.

Kom skep ‘n groot porsie psalms in jou bord en eet van die heerlikste poësie in die wêreld.

Sny ‘n groot stuk evangeliebrood af en smeer hom dik met die botter van Jesus se lewe. Hoe meer jy van Jesus die brood van die lewe eet, hoe meer sal jy jou dors met Sy reinigende bloed wil reinig. Kom ons sit minder in ons fisiese maag en meer in ons geestelike maag.

e-pos Navrae na questions@amazingdiscoveries.co.za

Was this article helpful?

Related Articles