1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Kores ‘n Tipe Van Jesus – Deel 2

Kores ‘n Tipe Van Jesus – Deel 2

Skriftuur: Daniël 5:22,23.

Dis die aand van 12 Oktober 539 v.C. ‘n Groepie gelowige Joodse  ballinge het vir ‘n biduur in die stad Babilon bymekaar gekom.

Daar is baie dinge om oor te gesels. ‘n Paar weke van te vore het die Medo-Persiese magte die stad begin beleër. Nog ‘n ander belangrike politieke verwikkelling waaroor hulle praat, is die militêre konfrontasie wat twee dae gelede tussen Kores en Nabonidus by Opis langs die Tigrus plaasgevind het.

“Oom Abednego”, vra een van die jongmense, “wie gaan die geveg wen, die Babiloniërs of die Meders en die Perse?”

“Ou seun,” antwoord die waardige ou oom, “Die profesie van die groot beeld wat Daniël in ‘n gesig gesien het, sê dat Babilon gaan val en die Meders en die Perse gaan die volgende wêreldheersers word.”

Een van die jong dames vra vir oom Mesag wat op ‘ keer in ‘n vuuroond gegooi is, ‘n  ander vraag.  “Hoe lank is oom nou al in ballingskap?”

“My kind dis nou amper 70 jaar. Hy jy geweet dat daar ‘n profesie is wat sê dat ons ballingskap na 70 jaar beëindig gaan word?”

Hy vra vir een van die universiteitstudente om hierdie opwindende profesie in Jeremia te lees.

Jeremia 29:10 So sê die Here: Oor presies sewendig jaar sal Ek Babel straf en julle onder my sorg neem en dan sal Ek my belofte nakom om julle hier na Jerusalem toe terug te bring.”

Oom Mesag verduidelik vir die biduurgangers dat toe Jeremia hierdie profesie gegee het, tien jaar van die 70 jarige ballingskap reeds verstryk het.

Een van die ander jong mense, Rebekka, wil weet of die profesie van verlossing uit ballingskap regtig gaan plaasvind.

“Oom Mesag. Ons volk was so goddeloos dat die Here destyds toegelaat het dat die Babiloniërs ons stad verwoes het. En as ek kyk na die ou paartjies van ons wat vanaand na die biduur opgekom het, wonder ek of ons veel beter is as wat ons voorvaders was?

Ek weet verseker van ons ryk gemeentelede wat vanaand na Belsasar se fees uitgenooi is en wat definitief die uitnodiging aangeneem het.”

Sy sit met ‘n frons op haar voorkom en wag dat oom Mesag vir haar ‘n antwoord moet gee.

“My kind. Die Here is baie goed vir sondaars. Hy het belowe om vir ons as bannelinge vrylating te bring. Die van ons wat sy uitnoding aanneem, sal die voorreg hê om na Jerusalem en na ons vaderland terug te keer.

Lees vir ons die volgende mooi teks in Jeremia:

Jeremia 29:11-13 Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en ek sal julle gebede verhoor. Julle sal vra na my wil en julle sal

dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.

“Rebekka my kind,” sê die bejaarde oom Mesag. Die Here het vir jou en elke jongmens en ou mens ‘n pragtige toekoms in gedagte.

“Hy wil ons uit hierdie Babiloniese slawerny verlos en ons na die vryheid van Jerusalem toe neem. Maar daar is een voorwaarde. Ek en jy moet Hom met ons hele hart soek.”

 

DIE HANDSKRIF AAN DIE MUUR

Een van die ander bejaardes by die biduur se naam is Sadrag. Hy kan nog baie goed hoor.

“Dit gaan darem nou rof daar in die banketsaal waar Belsasar sy groot fees hou. Ek hoor so nou en dan hoe die klomp uitbundig lag.”

Maar ewe skielik raak dit doodstil. Die klompie biduurgangers kyk mekaar verbaas aan.

“Wat dink julle kon nou gebeur het,” vra Daniël.

Terwyl hulle nog so verdwaasd vir mekaar sit en aankyk, kom een van die soldate uitasem daar aan.

“Daniël. Daniël. Kom gou. Daar is groot moeilikheid. ‘n Snaakse klomp letters het op die paleismuur verskyn. Niemand weet wat dit beteken nie. Die koning het gevra dat jy asseblief dadelik daarheen kom dit vir hom verduidelik. As jy die skrif uitlê, sal hy jou net onder hom en sy pa Nabonidus aanstel. Jy sal dan die derde belangrikste persoon in Babilon wees.”

Daniël verskoon homself en stap saam met die soldaat na die saal waar die mense skielik opgehou om te lewaai. Kom ons lees hoe Daniël dit in sy eie woorde gestel het:

Daniël 5:4-6 Hulle het wyn gedrink en die gode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip geprys. (Interessante volgorde) Meteens verskyn daar toe ‘n mensehand wat op die gepleisterde muur van die paleis skryf, reg teenoor die kandelaar. Die koning het die hand gesien terwyl dit skryf. Toe het die koning bleek geword, hy was baie bang, sy bene het gebewe en hy was lam van die die skrik.

Dit was ‘n baie vreemde toneel wat Daniël gesien het. ‘n Rukkie gelede het hulle so lawaai dat mens hulle oor byna die hele Babilon kon hoor. Nou is hulle doodstil.

TITANIC

Dit was amper soos die nag op die Titanic. Die een oomblik nog het die orkes dansmusiek gespeel. Die drank het die mense hard laat praat en uitbundig laat lag. Die volgende oomblik was die handskrif van die dood vir die passasiers op die Titanic aan die muur. Die skip was besig om te sink.

Dieselfde orkes het nou die gewyde lied begin speel: Nader my God by U.”

Minute later het die grootste begrafnis ter see plaasgevind.

DANIëL SE PREEK

Dis ‘n aangrypende preek wat Daniël die aand vir Belsasar gegee het. Hy het na sy voorganger Nebukadnesar verwys en gesê dat die God van die hemel hom as koning aangestel het.

Vers 20,21 Maar toe hy hoogmoedig en verwaand geword het, is hy uit die koningskap afgesit en het hy sy roem verloor. Hy is uit die menslike samelewing uitgestoot en het soos die wilde diere geword; hy het saam met die wildedonkies gebly en moes gras eet soos beeste; hy is snags deur die dou van die hemel natgemaak.  Hy moes erken dat die allerhoogste God mag het oor die koninkryke op aarde en daaroor aanstel wie Hy wil

Terwyl Daniël met Belsasar praat, kyk hy kort-kort benoud na die onheilspellende gloeiende letters teen die paleismuur. Hy wag in angs dat die profeet moet klaar preek en die letters ontsyfer.

Sy gedagtenis gaan terug na die dag toe sy hoogmoedige oupa Nebukadnesar se oë snaaks geword het. Hy kan nog onthou hoe hy agter in die paleis gras geëet het. Hy onthou ook nog die dag toe oupa Nebukadnesar se verstand teruggekeer het en hy by Daniël se kerk aangesluit het.

Daar was tye in Belsasar se lewe dat hy die stem van Heilige Gees tot hom hoor spreek het.

Daar was tye wat hy die begeerte gehad het om homself aan die God van Daniël oor te gee. Maar keer op keer het hy sy hart verhard. As hy net die lesse van nederigheid wou geleer het, kon dit tot sy redding gelei het.

Daniël praat.

Verse 22,23 Maar u, Belsasar wat hom opgevolg het, u het u nie verootmoedig nie, alhoewel u dit alles weet. U het verwaand opgetree teenoor die Here in die hemel: die bekers uit sy tempel is na u toe gebring en u en u hoofamtptenare, u vrouens en u byvrouens het daaruit wyn gedrink. U het die gode van silwer en goud, en van brons, yster, hout en klip geprys,(let op die volgorde) gode wat nie kan sien nie en nie kan hoor nie en niks weet nie. U het nie die God geëer van wie u die lewensasem ontvang en wat oor u lewe beskik nie. Daarom is die hand deur Hom gestuur en is hierdie woorde geskrywe.

GOUD EN SILWER – SILWER EN GOUD

Toe die fees net begin het, het Daniël vir ons die volgorde van die gode as volg gegee:

Vers 3 …Goud, silwer, brons, yster…”

Waar kry ons hierdie volgorde? In die beeld van Daniël 2. Wie word deur die goud voorgestel? Babilon. En wie word deur die silwer voorgestel? Die Medo-Perse.

Na die hand teen die muur geskryf het, kry ons hierdie interessante volgorde:

Vers 23 …U het die gode van silwer en goud, en van brons, yster…geprys

Kan jy die verskil sien? Die silwer koninkryk van die Meders en Perse het die plek van die goue koninkryk van die Babiloniërs ingeneem.

Daar kom ‘n oomblik in elke mens se lewe dat sy boeke afgesluit  moet word. Die rekenmeester kom en ‘n balansstaat word opgestel.

In Belsasar se geval was dit 12 Oktober 539 v.C.

Ek weet nie wanneer ek my laaste nag op aarde sal binnegaan nie.

Ek weet nie wanneer joune sal aanbreek nie. Maar iewers vorentoe wag daardie oomblik vir jou en my.

GELEENTHEDE VAN BEKERING

Wat maak ons met die oomblikke van genade in ons lewe? Wat maak ons wanneer die Heilige Gees met ons pleit en ons vra om met sonde te breek?

Jesaja 55:6 Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is.

Die Here het nie meer liefde vir sy bekeerde kinders as die onbekeerdes nie. Hy was net so lief vir Belsasar as wat Hy vir Daniël was. Party mense reageer op die Here se liefde ander nie.

Jeremia 51:9 Ons het Babel gedokter, maar hy nie gesond geword nie.

Die Groot Geneesheer het die hemelse antibiotikum vir Babel aangebied, maar Babel het geweier om die medikasie te neem. Die aand tydens die fees is Babilon as ‘n terminale pasient gediagnoseer.

Met ‘n hartseer blik kyk Daniël na die Babiloniese koning wat die grootste geskenk, die geskenk van die ewige lewe versmaai het.  En dan lees hy die woorde teen die muur:

Daniël 5:25,26  En dit is die skrif wat geskrywe is: Mene, mene, tekel ufarsin. Dit is die uitleg van die woord: Mene – God het u koningskap getel en daar ‘n einde aan gemaak.

MENE

Waarom word die woord mene twee keer gebruik? Omdat daar twee Babiloniese konings geregeer het. Belsasar in Babilon en sy pa Nabonidus in Tema in Arabië. Die Bybel is fantasties akkuraat.

Vers 27 Tekel – u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind.

Die maand Tishri waarin Babilon geval het, was in beide die Joodse en Babiloniese kalender die sewende maand. Die Joodse Yom Kippur, die Dag van Versoening het op die 10de van Tishri geval.

Wanneer is Babilon op die weegskaal geplaas en te lig bevind?  Met ander woorde wanneer is Babilon geoordeel?

Ek glo dit was vyf dae voor die val van die stad wat op die 15de Tishri plaasgevind het.

Vers 28 Peres – u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee.

KORES VAN DIE STAD BINNE

Baie jare van te vore het Jeremia in ‘n visioen gesien hoe Babilon sou val. Dis fasinerend interessant.

Jeremia 51:31,32 Die een hardloper na die ander hardloop, die een boodskapper na die ander, om vir die koning van Babel te sê dat sy stad heeltemaal ingeneem is, dat die bruë beset is, dat die riete langs die rivier brand en dat die soldate paniekbevange is.

DIE BIDUUR GROEPIE

Die groepie mense by die biduur sien ewe skielik die gloed van  vure langs die Eufraatrivier. Hulle hardloop uit en sien hoe die riete brand.

Maar dis nie al nie. Hulle sien hoe duisende der duisend Medo-Persiese soldate die stad binneval.

En hoor hulle ‘n vreeslike geskreeu wanneer die soldate die banketsaal van die koning binneval.

Baie jare gelede het Jeremia dit voorspel.  Kom ons lees dit:

Jeremia 51:14 Die Here die Almagtige het ‘n eed afgelê by Homself: Ek laat die vyande soos sprinkane jou toesak, en hulle sal met ‘n geskreeu die oorwinning oor jou vier.

Terwyl ek onlangs die banketsaal in Babilon besoek het wat Saddam Hussein gerestoureer het, het ek aan hierdie aand gedink.

In my geestesoog kon ek sien hoe die nuwe wêreldheersers daardie saal binnestorm en die dronk koning om die lewe bring. Wat ‘n hartseer verhaal.  Dit kon so anders gewees het as die koning hom bekeer het.

Daniël 5:30 Daardie nag is koning Belsasar van die Galdeërs vermoor.

Die goud van die beeld van Daniël 2 het plek gemaak vir die silwer. Profesie is vervul.

Die leeu van Daniël 7 het plek gemaak vir die beer. Die profesie is haarfyn vervul.

Jeremia 50:23 Hoe gebreek, hoe in stukke lê die hamer nou waaronder die hele aarde moes ly! Hoe verlate het Babel geword tussen die nasies!

BIDUURGROEPIE

Na ‘n ruk keer Daniël terug na die groepie mense wat vir die biduur bymekaar gekom het. Hy glimlag breed. Die val van Babilon het die verlossing van die kinders van Israel meegebring.

Saam lees hulle die volgende gedeelte:

Jeremia 50:33,34 So sê die Here die Almagtige: Die Israeliete word verdruk, en saam met hulle die Judeërs. Die deur wie hulle gevange gehou word, hou hulle vas en weier om hulle vry te laat. Maar hulle Beskermer is magtig; sy Naam is die Here die Almagtige. Hy sal vir hulle reg opkom: Hy sal rus bring in die land Israel, maar onrus vir die inwoners van Babel.

VALSE SEKURITEIT

Daar is iets waarna elke mens in die lewe soek, en dit is sekuriteit.

Onlangs loop ek ‘n vrou raak wat van haar man geskei is. Nadat ons so ‘n rukkie gesels het, vertel sy vir my die rede waarom sy van hom af weg is.

Die emosionele en finansiële sekuriteit wat sy by hom gesoek het, het ontbreek.

Wat se sekuriteit bied jy jou lewensmaat?

Die eerste keer toe ek as jongman ‘n lening by die bank wou aangaan, het hulle sekuriteit by my gesoek.  Ek het dit nie gehad nie, en ek het nie die geld gekry wat ek nodig gehad het nie.

DIE MAAN

Namate die gevaar van die Medo-Perse groter geword het, het die Babiloniërs groter sekuriteit by hulle gode gesoek. Naderhand was Bel Marduk en Nebo nie meer vir hulle sterk genoeg nie en toe het Nabonidus nog ‘n god bygeneem – die maangod Sin.

Hy het waarlik geglo hierdie nuwe god sal hom die militêre sekuriteit gee wat hy nodig gehad het.

Maar hy het hom misgis. Daar is net een plek waar ons ewige sekuriteit kan kry en dit is by die Here.

Wanneer mens na die Babiloniese kalender kyk, ontdek jy iets baie interessantes. Die 15de Tishri toe Kores Babilon binnegeval het, was dit volmaan.

En die maangod Sin wat Babilon moes beskerm, het met soveel helderheid op die strate van Babilon geskyn, dat die vyand hom  met gemak kon verower.

Babilon het sy sekuriteit by die verkeerde plek gaan soek.

DIE EUFRAATRIVIER

En dan het die Babiloniërs ook nog op die Eufraatrivier staatgemaak. Waar die rivier deur die stad gevloei het, was daar dik mure weerskant om die stad te beskerm. Groot koper poorte was op elke brug oor die rivier aangebring. Dit was fisies onmoontlik vir die vyand om hierdie magtige koperpoorte oop te breek.

Kom ons lees wat met die Eufraatrivier en die koper poorte gebeur het:

Jesaja 44:27 Ek sê vir die diep waters van Babel: Droog op! Ek sal jou riviere laat opdroog.

Kores het Babilon op ‘n droë rivierbedding binnegeval.  Maar wat van die bronspoorte?

Jesaja 45:2 Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak.  Ek sal bronspoorte oopbreek en sluitbalke van yster stukkend kap.

Toe Kores by die poorte kom, het hy tot sy verbasing ontdek dat hulle oop was.

Die hand wat die boodskap teen die muur geskryf het, het ook die poorte oopbebreek sodat Kores die stad kon verower.

BABILON SE SONDE

Babilon het op aardse sekuriteit vir sy sukses staatgemaak. En toe val Babilon.

Waarop maak ek en jy staat?

Jesaja 26:2-4 Maak oop die poorte dat die nasie wat gered is, kan ingaan, die nasie wat aan God gehoorsaam is en wat op Hom vertrou. Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel.  Vertrou altyd op die Here, want die Here God is ‘n veilige toevlug.

Die enigste veilig vir jou en my in hierdie laaste dae, is om ons vertroue op die Here te plaas, pleks van mense en dinge.

Ons sal moet leer om Hom meer te vertrou en ons self meer en meer te wantrou.

Ons sal moet leer om uitsluitlik op die Here se genade vir ons redding staat te maak en minder op dit wat ons geestgelik  kan vermag.

e-pos Navrae na questions@amazingdiscoveries.co.za

Was this article helpful?

Related Articles