Ek is so dankbaar dat die Here Sy beloftes oor en oor aan ons herhaal. Hy wil hê ons moet hierdie geskenke styf vashou want as ons dit verloor, is dit groot skade.
Eksodus 23:20 Kyk, Ek stuur ’n Engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat Ek gereedgemaak het.
Wie is hierdie Engel?
Wat word met die woord “pad” bedoel? Fisies of geestelik of altwee?
Eers gee Hy Sy gebooie van liefde en dan kry hulle die versekering dat Hy hulle op pad na die Beloofde Land gaan beskerm.
God sou Sy kant bring. Was daar iets wat Israel van hulle kant moes doen?
Vers 22 Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom.
Wat van die baie tekse wat leer dat as ons ons sondes bely, Hy ons sal vergewe?
Hier het ons ‘n tipiese Oosterse uitdrukking wat die klem op God se sovereine geregtigheid en heiligheid laat val.
Eksodus 34:6,7 En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag.
Vers 22 Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom.
Wie praat hier met wie?
God die Vader, die eerste persoon in die Godheid, verwys na die Tweede Peroon in die Godheid, nl. Sy Seun
Die Engel wat God se Naam dra, is aan Hom gelyk. Is daar tekse in die Nuwe Testament wat Jesus se gelykheid met die Vader bevestig?
Johannes 1:1-3 IN die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.2 Hy was in die begin by God.3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
Kan Johannes vir ons uitspel wie presies hierdie Woord was?
Vers 14En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid.
(Sien ook Kolossense 1:13-19 en Hebreërs 1:8)
Vers 22 Maar as jy terdeë na sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, sal Ek die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees.
As jy jou lewe aan die Here oorgegee het, het Hy onderneem om jou vyande te hanteer.
So as jy besig om met jou vyande te probeer afreken, ontspan. Sit jou swaard in sy skede terug. Jy kan miskien te min of te veel pakslae uitdeel. Hy weet net hoe om te regverdig te straf.
En buitendien, dis ‘n verskriklike vermoeiende taak om jou vyande te wil terugkry.
Vers 23 Want my Engel sal voor jou uit gaan en jou bring na die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete; en Ek sal hulle vernietig.
Dui die vernietiging op die volk of op die individu?
Is individuele Hetiete gespaar? Sy naam? 2 Samuel 23:39
Wat van die Jebusiete?
2 Samuel 24 :18 Daarop kom Gad dieselfde dag by Dawid en se vir hom: Gaan op, bou vir die HERE ’n altaar op die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet.
Wat van die Amoriete, Feresiete en Hewiete?
2 Kronieke 8:7,8 Al die mense wat oorgebly het van die Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete, wat nie uit Israel was nie – van hulle kinders wat ná hulle oorgebly het in die land, wat die kinders van Israel nie uitgeroei het nie, dié het Salomo laat opkom vir dwangarbeid,
Eksodus 23:24 Jy mag jou voor hulle gode nie neerbuig en hulle nie dien nie, ook mag jy nie doen na hulle werke nie; maar jy moet hulle heeltemal afbreek en hulle klippilare kort en klein slaan
By Matsemor in Armenië het ek hierdie pilare raakgeloop. Menslike offers is aan hierdie afgode gebring. Hierdie dekadente, immorele simbole van manlike en vroulike prostitusie moes verwoes word.
Ons het hierdie antieke erotiese gode nog steeds by ons in die vorm van pornagrafie.
Verse 25,26 En julle moet die HERE julle God dien; dan sal Hy jou brood en jou water seën, en Ek sal siektes uit jou midde verwyder.26 Daar sal geen misdragtige of onvrugbare in jou land wees nie. Ek sal die getal van jou dae vol maak.
Tydens al hulle omswerwinge was Christus hulle Leidsman in die wolk en die vuur
Baie van die tipes het vooruitgewys na die Verlosser wat gaan kom. Maar Hy was ook op daardie oomblik by hulle met boodskappe aan Moses wat hy aan hulle moes oordra. Christus was die enigste kanaal waardeur seëninge na hulle gevloei het.
Verse 27,28 Ek sal my skrik voor jou uit stuur en elke volk waarby jy kom, in verwarring bring. En Ek sal al jou vyande vir jou laat vlug. Ook sal Ek perdebye voor jou uit stuur; dié sal die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete voor jou uit verdrywe.
Wie sou die oorwinning behaal mits Israel gehoorsaam is?
Verse 29,30 Ek sal hulle nie in een jaar voor jou uit verdrywe nie, dat die land nie woes word en die ongediertes nie teen jou te veel word 30 Ek sal hulle so langsamerhand voor jou uit verdrywe, totdat jy vrugbaar word en die land beërwe.
Waarom is die Kanaäniete nie oombliklik vir hulle boosheid vernietig nie? Die Here het hulle 400 gegee om van hulle boosheid te bekeer.
Want die land sou woes en verlate raak as dit nie deur genoeg mense bewoon word nie.
Die wilde diere sou vermeerder en Israel aanval. Toe die Assiriërs die noordelike stamme weggevoer het, het leeus die inwoners aangeval. 2 Konings 17:24,25
Nog ‘n rede waarom die nasies nie onmiddellik verdryf is nie?
Die Here wou sien of Israel hom sou gehoorsaam. (Rigters 2:21–23).
Vers 31 En Ek sal jou grense vasstel van die Skelfsee af tot by die See van die Filistyne, en van die woestyn af tot by die Eufraat. Want Ek sal die inwoners van die land in julle hand gee, en jy sal hulle voor jou uit verdrywe. 32 Jy mag met hulle of met hulle gode geen verbond maak nie.33 Hulle mag in jou land nie woon nie, dat hulle jou nie verlei om teen My te sondig nie. Want jy sal hulle gode dien, ja, dit sal vir jou ’n strik wees.
ISRAEL SE REAKSIE OP DIE VOORWAARDES?
Eksodus 24:3 Toe Moses kom en aan die volk al die woorde van die HERE en al die verordeninge vertel, antwoord die hele volk met een stem en sê: Al die woorde wat die HERE gespreek het, sal ons doen.
Moses het terselfdertyd die inligting in ‘n boek geskryf.
Vers 4 En Moses het al die woorde van die HERE opgeskrywe en die môre vroeg hom klaargemaak en onder die berg ’n altaar gebou, en twaalf gedenkstene volgens die twaalf stamme van Israel.
Daarna het die bekragtiging van die verbond gevolg.
Vers 5 En hy het jongmanne van die kinders van Israel gestuur; dié het brandoffers geoffer en as dankoffers bulle vir die HERE geslag.
Die brandoffers het persoonlike toewyding en oorgawe gesimboliseer.
Die dankoffers het vir ‘n hernude gemeenskap en dankbaarheid gestaan.
Vers 6 En Moses het die helfte van die bloed geneem en dit in komme gegooi en die helfte van die bloed teen die altaar uitgegooi.
Omdat bloed die lewe van die offerdier gesimboliseer het, was dit deel van elke offer.
Die bloed wat op die altaar gesprinkel is, het God tot die verbond verbind en die bloed wat op die volk gesprinkel is het hulle tot die vereistes van die verbond verbind.
Dis nog vroeg in die oggend aan die voet van die berg Sinai. Wat is die volgende iets wat gaan gebeur?
Vers 7 Hy het die verbondsboek geneem en dit vir die volk voorgelees. Hulle het gesê: “Ons sal alles doen wat die Here beveel het en daaraan gehoorsaam wees.”
Hier is die eerste keer in die Bybel waar ons van ‘n “boek” lees wat geskryf is. Die res van die “wet” was hierop gebaseer en Moses het later die boek Deuteronomium geskryf wat dit verder verduidelik het.
Nadat die volk na die voorlees van die wet geluister het, het hulle weer soos in vers 3 gesê hulle sal alles doen. Hierdie keer het hulle egter iets bygevoeg:
“Ons sal alles doen wat die Here beveel het en daaraan gehoorsaam wees.”
Hoekom het hulle in hulle poging om gehoorsaam te wees gefaal?
Jeremia 31:31-34 Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit;32 nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie – my verbond wat hulle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE.
33 Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees.
34 En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.
Eksodus 24:8 Toe neem Moses die bloed en gooi dit uit op die volk en sê: Dit is die bloed van die verbond wat die HERE met julle gesluit het op grond van al hierdie woorde.
Die voorwaardes van die verbond is plegtig herhaal en die slawevolk het nou God’s verbondsvolk geword.
Reëlings moet nou getref word om die teokrasie van die uitverkore volk te bevestig.
Vers 9 Daarop het Moses opgeklim met Aäron, Nadab en Abíhu en sewentig van die oudstes van Israel.
Terwyl die volk aan die voet van die berg aanbid het, is hierdie manne aangesê op die berg uit te klim.
Die 70 oudstes sou Moses met die administrasie help en God het Sy gees op hulle uitgestort en hulle ‘n blik op Sy grootheid gegee.
Hoe beskryf Moses hierdie eerste openbaring van God se glorie?
Vers 10 En hulle het die God van Israel gesien, en onder sy voete net soos ’n vloerwerk van saffierstene en so helder soos die hemel self.
Hulle het die God van Israel gesien: onder sy voete was ’n plaveisel soos saffiersteen, so blou soos die hemel self. NV
Toe sien hulle die God van Israel. Onder sy voete was daar ’n gelyk oppervlakte wat gelyk het soos ’n vloer van saffiersteen—net so helder soos die blou lug. Boodskap
They saw the God of Israel. Under his feet was something like a street made out of sapphire. It was as clear as the sky itself. New International Reader’s version
Then they climbed the mountain—Moses and Aaron, Nadab and Abihu, and seventy of the elders of Israel—and saw the God of Israel. He was standing on a pavement of something like sapphires—pure, clear sky-blue. Message
Under his feet was something like a pavement made of lapis lazuli, as bright blue as the sky. NIV
They did not behold the Deity, but they saw the glory of His presence. Before this they could not have endured such a scene; but the exhibition of God’s power had awed them to repentance; they had been contemplating His glory, purity, and mercy, until they could approach nearer to Him who was the subject of their meditations.
The heavens themselves are the pavement of God’s palace, and his throne is above the firmament.
Vers 11 Maar Hy het sy hand nie na die uitgesoektes van die kinders van Israel uitgestrek nie, en hulle het God aanskou; daarop het hulle geëet en gedrink.
Dit was die glorie van Seun van God wat hulle gesien het. Hulle lewe was gespaar en nou neem hulle aan ‘n offermaaltyd deel nadat hulle geoffer. Hierna is die groep terug na die kamp toe.
Vers 12 Toe sê die HERE vir Moses: Klim op die berg na My toe en vertoef daar, dat Ek jou die kliptafels kan gee en die wet en gebooie wat Ek geskryf het om hulle te onderrig
Verse 13,14 Hierop het Moses klaargemaak en Josua, sy dienaar. En Moses het op die berg van God geklim en aan die oudstes gesê: Wag hier vir ons tot ons na julle terugkom. En kyk, Aäron en Hur is by julle; wie regsake het, kan na hulle gaan.
Verse 15,16 Toe Moses die berg opklim, het ’n wolk die berg oordek. En die heerlikheid van die HERE het op die berg Sinai gebly, en die wolk het dit ses dae lank oordek. En op die sewende dag het Hy na Moses geroep uit die wolk
Wat se hartsondersoek het Moses gedurende hierdie ses dae gedoen? Voordat hy in ‘n dieper gemeenskap met God betrokke geraak het, het hy lank in gebed deurgebring.
Op die sewende dag wat ‘n Sabbat was,is Moses genooi om die digte wolk binne te stap.
Is dit miskien ‘n voorstel wat ons kan oorweeg voordat ons op ‘n Sabbat die Here se teenwoordigheid binnegaan?
Vers 17 En die verskyning van die HERE se heerlikheid was in die oë van die kinders van Israel soos ’n verterende vuur op die top van die berg
Die digte wolk gaan voor die oë van Israel oop en die heerlikheid van die Here verskyn soos ‘n magtige verterende vuur.
Vers 18 En Moses het binne-in die wolk ingegaan en die berg opgeklim. En Moses was op die berg veertig dae en veertig nagte.
Watter allermooiste iets het die Here vir Moses gedurende daardie 40 dae gesê?
Vers 19 Ook moet hulle vir My ’n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon.
Wat ‘n gedagte! God wou in hulle midde kom woon. En vandag?
God het die slawevolk bo al die ander volke vereer deur hulle die unieke kosbare besitting van die Koning van die konings te maak.
Hy het hulle uit Egipte geneem en aan hulle ‘n heilige pand te gee. Hulle moes die bewaarders van Sy wet wees sodat kennis aangaande Sy karakter aan die mensdom beskikbaar sou wees.
Sodoende sou die lig van die hemel op ‘n wêreld skyn wat in duisternis gehul was. ‘n Stem moes gehoor word wat afgodedienaars roep om die lewende God te kom aanbid.
As die Israeliete hulle pand getrou bewaar, sou hulle ‘n magtige koninkryk word. God sou hulle beskermer wees en Hy sou hulle bo al die ander nasies laat triomfeer.
Sy lig en waarheid sou deur hulle geopenbaar word. Hulle sou onder Sy wyse regering (teokrasie) uitstaan as ‘n voorbeeld van die voortreflikheid van Sy godsdiens bo elke vorm van afgodediens.
Dis nog steeds God se plan vir jou lewe en my lewe. Kom ons breek met ons geestelike verslapping en verdiep ons toewyding met die Koning van die koning.
Mag Sy karakter die geleentheid kry om in ons lewe gestalte te kry sodat ons daardeur Sy naam sal verheerlik.