1. Home
  2. Tipologie
  3. Die Prag Van Tipologie In Die Bybel: Jesus – Die Antitiepe Van Die Tipes In Die Ou Testament

Die Prag Van Tipologie In Die Bybel: Jesus – Die Antitiepe Van Die Tipes In Die Ou Testament

Skriftuur: Matteus 12:6,41,42

Jesus spreek ‘n skare mense toe en sê vir hulle:

1. “Hier is Iemand wat groter is as die tempel.” Matteus 12:6

Ons het hier tipologie te make. Jesus verduidelik vir sy toehoorders en vir jou en my hoe om die Ou Testament te verklaar.

Alles van die destydse tempel – van die kandelare, die lam, die brood en die priester is tipes van die Groot Antitiepe Kandelaar, Die antitipiese Brood, die antitipiese Lam en die antitipiese Hoë Priester, Jesus Christus.

2. Matteus 12:41 Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Hulle het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona!

Elke profeet waarvan ons in die Bybel lees, is ‘n tipe van die Jesus, die groot Antitipiese profeet.

Elke profeet, goed of sleg, het so ‘n klein sonstraaltjie van Jesus die groot Son van geregtigheid weerkaats.

3. Matteus 12:42 Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo!”

Nog ‘n baie handig sleutel om Jesus in die Ou Testament te ontdek. Al die konings was tipes van die groot Antitipiese Koning Jesus.

En soos ons ‘n bietjie later gaan sien, het die Here ook heidense konings as tipes van Homself gebruik.

VERLOSSINGSMOTIEF

In hierdie preek, konsentreer ons op die verlossings- motief in die tipologie.

4. Met ander woorde ons gaan kyk hoe twee tipes, ‘n profeet en ‘n koning Jesus op ‘n besondere wyse as ‘n Verlosser by uitstek voorstel.

MOSES

Kom ons lees eers ‘n teks wat baie duidelik vir ons vertel dat Moses ‘n tipe van die komende Antitipiese Messias was:

5. Deuteronomium 18:15 “Die Here jou God sal ’n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek wees. Vir hom moet jy gehoorsaam.

OOREEKOMSTE

Die ooreenkomste tussen Moses en Jesus is aangrypend.

1. Toe Moses in 1530 gebore is, was dit op alle gebiede die donkerste oomblik in die geestelike geskiedenis van Israel.

Hulle het slawe geword. Hulle het uitwissing in die gesig gestaan. En boonop het hulle ‘n verdraaide godsbeeld gehad.

Bisarre Egiptiese politeïsme het ‘n vernietigende uitwerking op hulle godsdiensbeskouing gehad.

6. Dit moes deur verlossing herstel word.

Toe Jesus gebore is, het hierdie planeet sy laagste geestelike peil bereik. Die duiwel het deur die geestelike leiers gewerk en gesorg dat die mense God as ‘n Tiran gesien het. Elke gelykenis wat Jesus vertel het, was ‘n regstelling van ‘n verdraaide Godsbeeld wat die Fariseërs verkondig het.

7. Dit moes deur verlossing herstel word.

DOODSDEKREET

Die duiwel het geweet die beloofde verlossing van Israel het nadergekom en toe doen hy iets vreeslik.

In 1530 beweeg hy Farao Tutmosis I om ‘n doodsdekreet uit te vaardig.

8. Eksodus 1:22 Daarna het die farao sy hele volk beveel: “Julle moet elke pasgebore seuntjie in die Nyl gooi, maar spaar die dogtertjies se lewe.”

Hierdie dekreet was op Moses, die toekomstige bevryder gemik.

Maar wat leer die tipologie ons? Dieselfde dekreet moet op tydens die geboorte van die komende Bevryder, Jesus Christus plaasvind. Kom ons raadpleeg die Nuwe Testament:

9. Matteus 2:13-15 Nadat hulle vertrek het, het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.”

Wat ‘n interessante ooreenkoms. Die grootste menslike verlosser in die geskiedenis, Moses en die groot Goddelike Redder, Jesus moes albei as babas gesterf het.

10. Maar wanneer God ‘n reddingsaksie beplan, kan geen aardse vors Sy planne verongeluk nie.

VERLOSSING IN DIE NAG

As jy in Moses se ouers se posisie was, wanneer sou jy hom in die Nyl gaan versteek het? In die donker nag wanneer niemand dit kon sien nie.

Wat van Jesus? Wanneer het Josef en Maria met Hom gevlug?

11. Vers 14 Josef het toe opgestaan en in die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte toe vertrek  en daar gebly tot die dood van Herodes.

12. Elke keer wanneer ek langs die Nyl stap, dink ek aan die talle babaseuntjies wat farao Tutmosis I laat verdrink het.

13. Elke keer wanneer ek Betlehem besoek, dink ek aan die talle seuntjies wat Herodus die Grote laat doodmaak het.

DIE REDDING VAN MOSES EN JESUS

Terwyl ek die heilsgeskiedenis in die Bybel lees, maak ek oor en oor die heerlike ontdekking:

14. Wanneer God besluit dat die tyd van verlossing aangebreek het, het Hy nog altyd ‘n Verlosser voorsien.

Geen aardse vors, hoe magtig ook al kon nog ooit God se verlossingsdade fnuik nie.

SKANDELIKE, HAGLIKE OMSTANDIGHEDE

Die Bybel vertel vir ons in watter haglike omstandighede Moses na sy geboorte verkeer het:

15. Eksodus 2:1-4 ’n Man uit die stam Levi was met ’n Levitiese meisie getroud. Die vrou het swanger geword en ’n seuntjie in die wêreld gebring. Toe sy sien hoe mooi is hy, het sy hom drie maande lank weggesteek.

Dit was baie ongemaklik om ‘n huilende baba in ‘n slawe huisie stil te hou. Hoe Amram en Jochebed dit reggekry het, weet ek nie.

Maar naderhand het die ou stemmetjie al harder begin skreeu en hulle moes ‘n ander drastiese, riskante plan maak.

16. Verse 3,4Langer kon sy hom nie wegsteek nie. Daarom het sy vir hom ’n biesiemandjie gekry en dit met klei en pik dig gemaak. Sy het die seuntjie daarin neergelê en dit tussen die riete aan die kant van die Nyl gesit. Sy suster het op ’n afstand gaan staan om te sien wat met hom gebeur.

Op ‘n manier het hulle pik in die hande gekry wat vanaf die dooie see afkomstig was. Hulle moes seker idees van die Nylbote gekry het en toe met die riete ‘n skippie gemaak het.

17. Moses was n goedkoop doeke toegedraai. Dis al wat die slawegesin kon bekostig.

Dit klink miskien romanties, maar dit was nie. Krappe het aan die riet kom krap. Babers wou die baba opvreet. Die likkewane was ‘n bedreiging. Dis nie onmoontlik dat die Nylpaddas in die skippie kon spring nie. Om nie eers van die muskiete en die groen slyk te praat nie.

Miriam het ‘n harde tyd gehad om na kleinboet te kyk. Sy was nie seker of sy lewe gespaar sou word nie.

18. Maar as God iemand wil gebruik om Sy volk te verlos, sal niks in Sy pad staan nie.

Ek weet nie presies hoe benard jou situasie op die oomblik is nie. Maar wat ek weet is dat God jou en my op ‘n verrassende, verbasende wyse kan verlos. Hy dit by uitstrek.

Kom ons lees op watter verrassende wyse die Here destyds verlos het:

19. Eksodus 2:5,6 ‘n Dogter van die farao het afgegaan Nyl toe om te swem, en die jongmeisies wat haar vergesel, het aan die kant van die rivier geloop. Toe sy die mandjie tussen die riete sien, stuur sy haar diensmeisie om dit te gaan haal.Met die oopmaak sien sy dit is ’n seuntjie en hy huil. Toe kry sy hom jammer en dink: dit is seker een van die Hebreeuse seuntjies.

Ek glo ‘n engel van die Here het die prinses Hatsjepsut na die plek gelei waar baba Moses op die Nylwaters gedryf het.

Die jammerte in haar hart vir die lotgevalle van Hebreeuse seuntjies wat in die Nyl verdrink is, het iets dramaties tot gevolg gehad.

Hatsjepsut het met haar pa Tutmosis I gaan praat, en hy het die doodsdekreet herroep.

Hier kry ons die eerste geval waar Moses ‘n redder van die Hebreeuse volk word.

20. Wanneer God Sy volk wil verlos, kan geen doodsdekreet Hom keer nie.

JESUS DIE ANTITIPE

Dis die verhaal van Moses die tipe, se begin. Kan ons aanvaar dat ‘n soortgelyke ondervinding op Jesus gewag het? Beslis.

21. Lukas 2:7 Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

Dis al trusou wat Maria vir haar kind gehad het.

JESUS SE NEDERIGE GEBOORTE

Jesus het seker die nederigste geboorte in die wêreldse geskiedenis gehad. So nederig dat Hy die nederigste mens in hierdie lewe kan bereik.

22. Argeoloë het ‘n tipiese krip ontdek waarin Jesus gebore is. Terwyl ek daarna gekyk het, het dit my aangegryp dat Jesus na Sy geboorte daarin neergelê is.

Die krip was binne in ‘n koeistal. Dis hier waar koeie met skurwe kwylende tonge voer uit die krip gelek het.

Dis heel moontlik dat ‘n rot oor die koeimis gehardloop het om te kom loer wat in die krip aangaan.

As daar ‘n olielampie in die stal was kon mens ook ‘n paar grillerige kokkerotte gesien het.

23. Tussen koei speeksel en koeimis, tussen rot en kokkerot het die Vader vir Jesus kom neersit.

GEESTELIKE AFVALLIGHEID

Die verhaal van die Joodse nasie, is ‘n tragiese verhaal. Hulle afvalligheid het uiteindelik die heidennasies oortref.

In 722 vC. het Sargon II die tien stamme na Assirië weggevoer.

In 605 vC. het Nebukadnesar begin om Juda as ballinge na Babilon te neem.

Wat ‘n patetiese toestand. En daar was niemand onder Israel wat die volk uit hulle ballingskap kon verlos nie.

Die Here moes ‘n heidense koning gebruik om dit te doen.

24. Maar wanneer God Sy volk wil verlos, kan niemand Hom keer nie. Al moet Hy ‘n vreemdeling gebruik om dit te doen, sal Hy dit doen.

KORES DIE GROTE

Een van die mooiste profesieë oor die koms van die komende Messias, vind ons in die boek Jesaja. Hier lees ons van Kores, ‘n pragtige tipe van die Jesus die antitipiese Verlosser.

25. Jesaja 45:13 Ek het vir Kores te voorskyn laat tree om reg te laat geskied; Ek verwyder elke hindernis op sy pad. Hy sal my stad weer opbou en my ballinge terugstuur sonder dat hy betaling of ’n geskenk daarvoor ontvang, sê die Here die Almagtige.

Ongeveer 200 jaar voor sy geboorte voorspel die profeet dat Kores die werk van ‘n verlosser gaan doen. Kores gaan die volk van die Here uit ‘n ander Egipte verlos, die Egipte van ballingskap.

PLANNE OM KORES TE VERMOOR

26. Herodotus skryf iets baie interessants aangaande Kores se oupa, Astyages. Die orakels het vir hom laat weet dat wanneer iemand met die naam Kores gebore word, hy sy koninkryk omver sou werp.

Toe sy dogter Mandane vir Kores in die wêreld bring, het hy opdrag gegee dat die seuntjie gedood moes word.

Herodotus vertel hoe die Astyages vir sy minister van finansies, Harpagus opdrag gegee het om baba Kores om die lewe te bring.

27. Hy kon dit nie oor sy hart kry nie, en gee toe opdrag aan die skaapwagter, Mitradates om die baba dood te maak.

Daardie selfde dag sterf sy kindjie. Hy en sy vrou Spako begrawe toe hulle kind in die plek van baba Kores.

OPGEVOED IN SKANDE

En een van die grootste toekomstige heersers van alle tye word in skande grootgemaak.

Sy pa Mitradates is ‘n eenvoudige skaapwagter en sy ma ‘n slet. Die naam Spako in die taal van die Meders beteken slet.

28. Baba Kores word in armoedige doeke toegedraai en in ‘n skaapwagter huis grootgemaak.

Soos Moses se lewe gespaar is, so is Kores se lewe gespaar. Albei was tipes van die komende Messias.

29. Wanneer God gereed is om Sy volk te verlos, kan geen aardse vors daardie planne fnuik nie.

DIE WEDERKOMS

In 1844 is daar weer ‘n kind gebore – die oorblyfselkind. Hierdie kind is in die doeke van skande en teleurstelling toegedraai.

30. Dit was ‘n koliekbaba wat net nie wou ophou huil nie. Die duiwel was daar om hierdie baba met ‘n kiem van desperaatheid te infekteer.

‘n Goddelike bevel is aan hierdie baba gegee om op te hou huil oor die groot teleurstelling en ander klanke te begin maak.

31. Openbaring 10:11 Toe het hulle vir my gesê: “Jy moet weer God se boodskap aangaande baie volke, nasies, tale en konings verkondig.”

Die baba het begin om nuwe klanke te maak – teologiese kosmiese klanke. Van die een einde van die wêreld tot aan die ander einde van die wêreld verkondig hierdie kind dat Jesus weer gaan kom.

32. Maar wanneer God ‘n baba wil groot maak, kan geen aanslag van die Satan Sy planne verongeluk nie.

DOODSDREIGEMENT

Kan ons verwag dat hierdie kind, hierdie boodskapper met die goeie nuus met die dood bedreig gaan word? Ja.

Moses, ‘n tipe van die Messias is met die dood bedreig. Kores, ‘n tipe van die Messias is met die dood bedreig. Jesus, die Messias self is met die dood bedreig.

33. Openbaring 13:15 Aan hom is daar ook mag gegee om asem in die dier se beeld te blaas, sodat die beeld kan praat en almal kan laat doodmaak wat nie die beeld aanbid nie.

Dit gaan die heel laaste keer wees wat die duiwel en sy agente probeer om Sy kinders dood te maak. Net voor Moses God se volk verlos het, het plae die goddelose getref.

Dieselfde patroon word herhaal. Verskriklike plae tref die goddeloses wat daarop uit is om God se kinders van die aardbodem weg te vee.

Dieselfde donker dag wat die doodsdekreet geimplimenteer moet word, word die kosmos met die lig van God se heerlikheid verhelder.

Triljoene engele blaas hulle trompette. Die verlossingsklanke ego van galaksie tot galaksie.

34. En dan, bo die jubelklanke van die trompette word die stem van Jesus gehoor. “Ontwaak! Ontwaak! Julle wat in die stof van die aarde slaap!”

Saam met die lewendes styg die ontslape dodes na bo. ‘n Onbeskryflike ontmoeting vind tussen geliefdes, die hemel en aarde plaas.

35. As God ons wil verlos, kan niks Hom keer nie. Nie nou nie, en ook nie by die Wederkoms nie.

Was this article helpful?

Related Articles