1. Home
  2. Ecce homo
  3. Waarna Staar Julle?
  1. Home
  2. Ecohome
  3. Waarna Staar Julle?

Waarna Staar Julle?

Hand 1:11   Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het. 

In Handelinge vra die twee engele aan die dissipels waarna staan julle en kyk?  Waarna staar julle

*** Waarna staar ons?  Waarop fokus ons? 

  • As die son se strale deur ‘n vergrootglas lank genoeg op ‘n droë graspol gefokus word sal dit uiteindelik ontvlam.  So moet ons op Jesus fokus, totdat die krag van die evangelie in ons harte vlamvat.
  • Dink net hoe groot was die dissipels se hartseer by die hemelvaart?

Die eerste hemelvaart wat in die Skrif opgeteken was in 2 Kon 2, aan die oorkant van die Jordaan, in die omgewing van Jerigo, waar Elia deur ‘n wa en perde van vuur na die hemel opgevaar het. 

Elia se hemelvaart is ook ‘n tipe van die lewende regverdiges tydens die wederkoms.  Hulle sal ook nie sterf nie en net soos Elia lewend in die hemel opgeneem word.  Binne ‘n oogwink sal hulle verander word en Jesus in die wolke ontmoet, soos ons lees in 1 Kor 15:

1 Kor 15:52  in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.  53  Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. 

BELOFTE:  Die twee engele by Jesus se hemelvaart het die vertroostende belofte van Jesus se wederkoms aan elke dissipel gebring.  Soos Jesus gegaan het, sal hulle Hom ook sien kom.

ENGELE AS DIENSKNEGTE VAN DIE HERE (Boodskappers en verslagnemers): Die Griekse woord vir engel is Angelos en beteken “boodskapper”.   Die engele was die boodskappers van goeie nuus ook aan Maria.

Gabriël het aan Maria die belofte gebring voor Jesus se eerste koms na die wêreld:

Luk 1:30:  Die engel het vir haar gesê: “Moenie bang wees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. 31 Kyk, jy sal swanger word en aan ‘n seun geboorte skenk. Jy moet Hom Jesus noem. 32 Hy sal magtig wees, en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal aan Hom die troon van sy voorvader Dawid gee. 33 Hy sal vir ewig oor die nageslag van Jakob regeer. Aan sy heerskappy sal daar geen einde kom nie. ”

Die engele se boodskap van hoop is vandag steeds geldig vir elke dissipel. Die belofte aan die heerlike, glorieryke wederkoms!

WEDERKOMS:

Soos die verhaal van ‘n pa wat vir sy dogter belowe het om haar deur haar universiteitsopleiding te ondersteun. Hulle het haar akademiese reis noukeurig beplan, haar drome en aspirasies bespreek. Aanvanklik het haar pa haar verseker van sy finansiële steun en dat sy geen bekommernisse sou hê nie.

Ongelukkig het dinge nie volgens plan verloop nie en daar was onvoorsiene omstandighede waardeur die vader oorweldig was en gevolglik kon hy nie sy belofte van finansiële hulp nakom nie.

*** Hoeveel beloftes het ek en jy al gemaak en kan ons om een of ander rede nie nakom nie?

Menslike beloftes en goeie intensies kan so maklik teleurstel.

In kontras staan die beloftes van ons Hemelse Vader vas soos ons in die skrif lees:

Numeri 23:19: “God is nie ‘n man, dat Hy sou lieg nie, en nie ‘n mensekind, dat Hy van plan sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, sou Hy praat en dit nie gestand doen nie?”

Ons kan altyd Sy beloftes glo want:

Jesaja 46:10-11: “Ek wat van die begin af die afloop aankondig, van lank gelede af dit wat nog nie gebeur het nie; Ek wat sê, ‘My raadsbesluit sal standhou; alles wat Ek wil, sal Ek uitvoer,’ Ek wat uit die ooste ‘n roofvoël roep, van ‘n ver land af iemand roep vir my raadsbesluit. Ja, Ek het dit aangekondig; Ek sal dit beslis laat gebeur. Ek het dit gereedgemaak; Ek sal dit beslis uitvoer.”

Kom ons kyk NA DIE BELOFTE wat gegee is deur die twee engele by die Hemelvaart dan lees ons in:

Handelinge 1:11 Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

Hieruit weet ons dat Jesus net so sal terugkeer soos Hy opgevaar het.

Jesus, soos die dissipels Hom geken het sal terugkeer as ‘N FISIESE HERE.  Jesus het volgens Lukas saam met hulle vis geëet, Thomas kon sy vinger in Sy wonde steek.  Sy tweede koms sal ook ‘n fisiese terugkeer wees, Jesus, soos hulle Hom geken het.

SIGBAAR – Die dissipels wat teenwoordig was het almal gesien hoe Jesus opvaar, net so sal al Sy dissipels ook weer SIEN hoe Hy terugkeer.

Open 1:7 Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het; en al die volke op die aarde sal oor Hom rou. Ja, amen!

Jesus het Sy dissipels gewaarsku teen ‘n geheime tweede koms. Dit sal ‘n ongeëwenaarde skouspel wees.  Nog nooit sou enige een so iets ooit aanskou het nie. Tydens hierdie buitengewone oomblik sal die gelowiges wat reeds dood is opgewek word:

1 Thess 4:16 Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan;

1 Kor 15: 52-54 sal daarna die gelowiges wat nog lewe ook in ‘n oogwink verander word, en met onsterflikheid beklee word en Jesus in die Hemel ontmoet.

1 Thes 4: 17 daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees.

Jesus sal sigbaar wees vir almal.  Dit is nodig om te noem dat ons Hom in die wolke sal ontmoet. Hy sal nie Sy voete op hierdie aarde neersit tydens die wederkoms nie. 

Die vals Christusse sal op die aarde wees en die wonderwerke doen wat Jesus tydens Sy eerste bediening gedoen het.

In Matt 24:27 vergelyk Hy Sy koms met ‘n weerligstraal, dit sal UNIVERSEEL wees:

Matt 24:27 Die koms van die Seun van die mens sal wees soos ‘n weerligstraal wat in die ooste uitslaan en die hele lugruim tot in die weste verlig.

Deurdat elke oog Hom sal sien, weet ons dat die regverdiges en goddeloses sy koms GELYKTYDIG sal aanskou.  Daar is dus nie sprake van ‘n geheime koms nie. 

Die reaksie van die goddeloses is as volg:

Matt 24:30 En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. 

DIT SAL HOORBAAR wees.  Die koms sal nie net sigbaar wees nie, maar ook hoorbaar, daar is geen geheime koms nie:

1 Thes 4:16 Want die Here self sal met ‘n luide bevel, met die stem van ‘n aartsengel, en met ‘n trompetgeskal van God, uit die hemel afkom, en diegene wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.

Tydens hierdie geleentheid sal almal moet erken dat Jesus die Here is.  Sy se koms sal ‘n glorieryke, skouspelagtige terugkeer wees.  Ons lees in Matt 16:27 as volg:

Want die Seun van die Mens gaan saam met sy engele kom, beklee met die heerlikheid van sy Vader, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens wat hy gedoen het.

In Openbaring gee Johannes ‚n pragtige voorstelling van die heerlikheid van die wederkoms.

Open 6:2 Ek het gesien: daar was ‘n wit perd. Sy ruiter het ‘n pyl en boog gehad. ‘n Oorwinnaarskroon is aan hom gegee, en hy het as oorwinnaar uitgegaan om nog verder te oorwin

Ook in Open 19 lees ook van Christus op die wit perd in Open 19:11

Toe het ek gesien die hemel is oop. Daar was ‘n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en die Betroubare genoem. Met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog.

Jesus keer terug as die Koning van Konings wat sal heers oor ‘n ewige Koninkryk.  Hy word uitgebeeld as die Aanvoerder van die Hemelse leërs wat finaal die oorlog oor die Bose sal oordeel en oorwin.

WAT ONS SAL ERVAAR?  Dit sal ‘n skielike, onverwagse terugkeer wees vir diegene wat dit nie verwag nie.  Paulus beskryf dit so mooi in: 

 1 Thes 5:2 Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos ‘n dief in die nag. .

Jesus sal skielik net verskyn soos ons lees in:

1 Joh 2:28 En nou, kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn, en nie met sy wederkoms deur Hom in die skande gestel word nie.

Maar ons weet dat die Dag van die Here, die Wederkoms van die Seun van die mens die einde van die wêreld is, vir ons ‘n glorieryke, heuglike dag en vir andere ‘n dag van oordeel en vernietiging. 

JERIGO: Ons het alreeds genoem dat Elia in die omgewing van Jerigo na die hemel opgeneem is in die vuurwa met perde.  Dit is ook ‘n tipe van die wederkoms waar die regverdiges nie sal sterwe nie en Jesus in die lug ontmoet.

  • Israel se verowering van die stad Jerigo was ook ‘n tipe van die wederkoms.
  • Jerigo was ‘n vrugbare oase, geleë in die laagte van die Jordaanvallei, naby aan die Dooie See en so 25km soos die kraai vlieg vanaf Jerusalem.
  • Op verskeie plekke in die Ou Testament word daar na Jerigo as die Palmstad verwys.
  • Dit was ook die grondgebied van die stam van Benjamin. 
  • Almal is met die verhaal van Jerigo bekend.  Daar was baie spesifieke instruksies aan Josua gegee vir die beplande oorwinning oor Jerigo, soos ons lees in Josua 6:

Jos 6:3 Julle moet dan om die stad trek, al die krygsmanne; trek die stad een maal om; so moet jy doen ses dae lank.

4 En sewe priesters moet sewe ramshorings voor die ark dra; maar op die sewende dag moet julle die stad sewe maal omtrek; en die priesters moet op die horings blaas;

5 en as hulle lang geluide op die ramshoring blaas, as julle die geluid van die horing hoor, moet die hele volk ‘n groot krygsgeskreeu aanhef: dan sal die stadsmuur op sy plek inval; en die volk moet inklim, elkeen reg voor hom uit.

  • Dit stad moes volgens Jos 6:18 met die banvloek getref word, ‘n banoffer aan die Here, omdat dit die eerste stad was wat in die beloofde Kanaän deur Israel verower is.   Op hierdie wyse was Jerigo ‘n “eerste offer” van die oes wat aan die Here toegewy was.
  • Ons ken ook die tragiese verhaal van Agan wat nie die voorskrifte na gekom het nie en wel van die buit geneem het.
  • Baie interessant word die prostituut Ragab en haar familie gespaar volgens Jos 6:17 gespaar “omdat sy die boodskappers wat deur ons gestuur was, weggesteek het.”
  • Die twee boodskappers laat ons dink aan die twee engele (boodskappers) wat ook vooruit gestuur was om almal te waarsku voor die oordeel by Sodom, asook die twee engele by Jesus se hemelvaart om die dissipels te vertel van die verwagte wederkoms.

DAAR IS PRAGTIGE PARALLELLE TUSSEN DIE VAL VAN JERIGO EN DIE WEDERKOMS:

  • Josua as ‘n tipe Christus lei Israel in oorwinning

Joh 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. 

  • Ragab die prostituut is ‘n tipe van die kerk, die bruid van die Lam.  ‘n Heiden en ‘n prostituut. 

Eseg 16:15:  Maar jy het vertrou op jou skoonheid en gehoereer vanweë jou naam; en jy het jou hoererye uitgestort op elkeen wat verbygegaan het, dat dit syne sou wees.

Die bruid van Jesus is verteenwoordigend uit elke volk, taal en nasie en word geroep uit alle heidense gelowe en sinkretisme.

  • Die sewe ramshorings wat geblaas word op die sewende dag is ‘n tipe van die sewe trompette wat deur die engele geblaas sal word net voor die wederkoms.

Open 8:6  En die sewe engele met die sewe basuine het hulle gereed gemaak om te blaas. 

  • Na die sewe ramshorings geblaas was het die volk ‘n krygskreet geskreeu.  Op hierdie klank het die mure van die stad ingeval.  So ook sal dit wees met die wederkoms – op die stem van Jesus se woorde:  ONTWAAK!, ONTWAAK!, ONTWAAK! sal die grafte oopskeur en dood oorwin word:

1Thes 4:16  Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.

*** Die teendeel kan ook waar wees dat ons al soveel keer die belofte van die wederkoms gehoor het, maar glo ons steeds die boodskap van die twee engele, soos gegee aan Jesus se dissipels by hemelvaart?

HEILIGE GEES

  • In Johannes 16:8 lees ons waar Jesus alreeds voor Sy kruisdood aan sy dissipels ‘n ander belofte gee, die Heilige Gees, ons Paraklētos  – ons Trooster en Helper.
  • Tien dae nadat die engele aan die dissipels verskyn het by Jesus se Hemelvaart is die Heilige Gees op Pinkster uitgestort.  Ons lees in Joh 16:7-8 as volg:

Joh 16:7  Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur;   8  en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel 

  • Volgens Openbaring 12:10 is Satan die aanklaer wat ons dag en nag voor die Here beskuldig.
  • Hierteenoor oortuig die Heilige Gees ons van sonde en die skeiding wat dit tussen ons en die Here bring.  Hy roep ons tot sonde belydenis, lei na bekering en skep ‘n honger na die Here se redding en vergifnis vir ons sondes, sodat ons regverdig voor die Vader kan staan, deur die soenoffer van Jesus.
  • Die Heilige Gees sal ons ook toerus met krag en gawes om die goeie nuus te verkondig volgens Hand 1:8

Hand 1:8  maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

*** Ons is volgens 1 Pet 2:9 ‘n uitverkore geslag sodat ons die evangelie kan verkondig.

1 Pet 2:9 Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig

As ons die evangelie verkondig en vasklou aan die belofte van die wederkoms sal ons gekonfronteer word deur diegene wat dit afmaak as onsin, soos geskrywe in:

2 Pet 3:3-4: Dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.

Soms ondersteun die spotters ook die idee van hemel op aarde.  ‘n Lewe sonder enige grense waar jy jouself na hartelus aan allerlei vleeslike begeertes kan vergryp.  ‘n Losbandige, wettelose bestaan sonder enige gewetenswroegings of toekomstige konsekwensies.  So ‘n lewe veronderstel dat daar later nog baie tyd sal wees om jou geestelike sake in orde te kry.  Die lewe is dus geduldig en almal kan houtgerus voortgaan om in sonde voort te lewe. 

Maar die uurglas loop leeg en die skrif aan die muur is soos ons kan lees in:

Matt 24:37  En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.   38  Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het,   39  en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. 

Soos die waarskuwing aan die gemeente van Sardis moet ons wakker skrik dat ons nie vasgevang word in die alledaagse sorge en die ewige belofte van ‘n lewe saam met Christus misloop nie.

Open 3:2  Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe, want Ek het jou werke nie volkome voor God gevind nie. 

Ons weet die Here is getrou, Sy beloftes is betroubaar en staan vas.

Laat ons voorbereid wees want die tyd is min volgens:

Open 22:20  Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus! 

Laat ons ag slaan op die waarskuwingsboodskappe van die drie engele in Openbaring 14.

Ook aan die gemeente van Laodisea sê Jesus in Openbaring 3:21 die volgende:

Open 3:21“ ‘Wie oorwin, sal Ek saam met My op my troon laat sit, net soos wat Ek ook oorwin het, en saam met my Vader op sy troon sit.

DIE TROON:  Die woord troon in Hebreeus is kissê, ‘n metaforiese stoel of sitplek.

Verskeie profete het duidelike visioene ontvang waar die Here op ‘n troon sit, onder meer Miga in 1 Kon. 22:19;  Jesaja; Esegiël en Daniël.

  • Volgens Openbaring 20 sal almal eendag voor die troon van die Here verskyn

TROON VAN OORDEEL:  Elkeen se dade sal geoordeel word.  Ons lees in Ps 28:4 as volg:

Vergeld hulle volgens hulle dade en volgens hulle skandelike gedrag.  Vergeld hulle volgens die werk van hulle hande en laat hulle kry wat hulle verdien

Die oordeel het die volgende ten doel:

  • Die herstel van die Here se regverdige karakter wat deur Satan verwoes is.
  • Eliminasie van twyfel wat rebellie tot gevolg kan hê.
  • Bevestig die Here se regverdigheid deurdat die regverdiges beloon word en sonde gestraf word.  Volgens Open 19:2 lees ons dat:

Open 19:2 …Sy oordele is waaragtig en regverdig; want Hy het die groot hoer geoordeel wat die aarde met haar hoerery verderf het, en Hy het die bloed van sy diensknegte op haar gewreek.

Daar is ‘n fyn balans tussen die Here se toegeeflike liefde en genade teenoor Sy geregtigheid.  Liefde en genade sonder geregtigheid sal lei tot wetteloosheid, waar geregtigheid sonder liefde nie Sy karakter sal verteenwoordig nie.  Kom om lees hoe mooi word dit beskryf deur die Psalmdigter in:

Ps 99:8 Here ons God, U het hulle gebede verhoor. U was vir hulle ‘n vergewende God, maar Een wat ook hulle sondes gestraf het.

Daar kan DRIE FASES VAN OORDEEL onderskei word, naamlik:

  • Die ondersoekende oordeel wat die wederkoms voorafgaan.  Hier word die hemelse heiligdom gereinig van alle sonde.  Jesus tree op as Middelaar waar slegs die regverdiges geoordeel word volgens Daniël 7:9,10.

Dan 7:9 Terwyl ek kyk, is daar trone reggesit, en Hy wat ewig lewe, het op sy troon gaan sit. Sy klere was so wit soos sneeu, sy hare soos skoon wol. Sy troon was van vuurvlamme met wiele van vuur. 10 Vuur het uit die troon gestroom en verder gevloei. Duisende der duisende het Hom gedien, miljoene het daar voor Hom kom staan. Die hofsitting het begin, en die boeke met die aanklagte is oopgemaak.

  • Die millennium oordeel vind plaas in die hemel na die wederkoms voor die nuwe Jerusalem uit die hemel sal neerdaal.  Tydens hierdie oordeel sal die onregverdiges en gevalle engele geoordeel word.  Die regverdiges in die hemel sal saam oor die dode oordeel, volgens hulle werke, soos daar in die boeke geskryf is.  Die engele sal verslag neem.  Hierdie fase demonstreer die Here se regverdigheid aan die Skepping.

Open 20:4  En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.

  • Die uitvoerende oordeel sal aan die einde van die duisend jaar plaasvind.  Dit is die Here se finale ingryping om sonde uit te wis.  In die Skrif is daar verskeie voorbeelde van tipes van die finale oordeel, byvoorbeeld:
    • Waar Lucifer en Sy engele op die aarde neergewerp is
    • Na die sondeval waar Adam en Eva uit Eden verban is
    • Vernietiging van Sodom en Gomorra

By elk van hierdie voorbeelde was engele betrokke.

  • Lucifer was een van die beskutengele by die troon van die Almagtige volgens

Esegiël 28:14: …Jy was ’n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ’n heilige berg; ’n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes.

  • Na die Satan se rebellie is hy en ‘n derde van die engele op die aarde neergewerp.
    • Na die sondeval lees ons van gerubs wat aan die oostekant van Eden geplaas is om die boom van die lewe met ‘n vlammende swaard te bewaak.
    • Dit was alreeds aand toe twee engele by Sodom en Gomorra aankom om die verwoestende oordeel oor die stede te voltrek.

ENGELE OM DIE OORDEEL TE VOLTREK, AS DEEL VAN DIE HERE SE WEERMAG:  In beide die gevalle van die sondeval en die verwoesting van Sodom en Gomorra tree die engele op as die Here se krygers.  Ons vind nog ‘n voorbeeld van hemelse weermag in 2 Kon 6:17 by Tel Dotan:

2 Kon 6:17 En Elísa het gebid en gesê: Here, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die Here het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa.

***  Eskatologies – laat ons ag slaan op die waarskuwingsboodskap van die engel van die Here soos gegee aan Johannes in Open 22:6 dat ons gered kan word

Rev 22:6  En hy het vir my gesê: Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig; en die Here, die God van die heilige profete, het sy engel gestuur om sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur. 

Die uitvoerende oordeel is die einde van hierdie wêreld soos ons dit vandag ken, maar die regverdiges sal Hom ewig aanbid.

TROON VAN GENADE:  Die apostels noem ook in Heb 4:16  dat ons tot Jesus, ons Hoë Priester, Sy troon van genade met vrymoedigheid kan nader en so barmhartigheid en genade kan ontvang, om op die regte tyd gehelp te word. Ons kan sonder vrees enige tyd tot Hom nader. 

Volgens Psalm 99 sal die Here self ons antwoord as ons Hom aanroep:

Ps 6:6: … Hulle het die Here aangeroep en Hy het hulle gebed verhoor.

TROON VAN GLORIE EN EER:  Volgens Heb 12:2 sit Jesus aan die regterhand van die troon van die Vader.  Hy beklee die ereplek in die hemel aan die Vader se regterhand.  Die hele Skepping sal voor die majesteit van Sy troon buig soos ons lees in Fil 2:9-11.

Ook die profeet Jeremia beskryf die troon as volg:

Jer 17:12:  ‘n Magtige troon, van die begin af verhewe, dit is die plek waar ons heiligdom staan!

Die troon verteenwoordig die Here se mag en heerlikheid en gesag soos ons lees in

Jesaja 6:1:  … het ek [Jesaja] die Here sien sit op ‘n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het.

Kyk ook na die pragtige beskrywing van Johannes in Open 4 waar die vier en twintig ouderlinge “hulle krone voor die troon lê en sê: ‘U is waardig, ons Here en God, om heerlikheid en eer en krag te ontvang’” (Open 4:10–11).

Die troon van die Here word beskryf in antropo-morfologiese taal om menslike kwaliteite aan die Here toe te ken.  Die visioene van ‘n letterlike troon wat die profete ontvang het was ook ‘n wyse waarop die mens makliker kon identifiseer met die Here, as die Koning van alle konings.  Sy troon is ‘n beeld vir die mens om Sy koningskap en heerskappy te begryp.  Israel was alreeds bekend met heidense konings wat op trone gesit het.

COLOSSI VAN MEMNON

‘n Argeologiese voorbeeld is die Colossi van Memnon in antieke Thebes in Egipte, vandag se Luxor,  waar twee afbeeldings is van Farao Amihotep iii wat op sy troon sit met sy hande op sy knieë.  Hierdie twee standbeelde skep ‘n betowerende melodie wanneer die wind daardeur waai.  Baie besoekers beskryf die geluide van die singende standbeelde soos ‘n sagte fluit of die klanke van ‘n harp. 

*** Soos die Heilige Gees oor ons harte beweeg mag ons lewens net soos die Collosi van Memnon die grootheid van die Here besing …

TROON VAN AANBIDDING:  Volgens Openbaring 4:8 lees ons van die hemelse klanke voor die troon van die Skepper:

Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom! 

ENGELE AANBID DIE HERE: In die Hemel, word die Here ook op Sy troon aanbid deur die engele, die ouderlinge, die lewende wesens soos dit geskrywe staan in:

Open 7:11  En al die engele het rondom die troon en die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan, en hulle het voor die troon op hulle aangesig neergeval en God aanbid en gesê: 12  Amen! Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte aan onse God tot in alle ewigheid! Amen. 

Die hele Skepping staan in eerbied en ontsag voor die heilige troon en aanbid en vereer die Here van die Here.  Lof, heerlikheid, wysheid en eer word aan Hom toegeskryf en almal antwoord met Amen”, laat dit so wees!

DIE VERBONDSARK

in die Skrif lees ons die eerste keer van die verbondsark in Exo 25.  Gedetailleerde spesifikasies is aan Moses gegee vir die bou van die tabernakel wat ‘n bloudruk sou wees van die hemelse troonkamer.

Heb 8:5  Hulle bedien egter slegs ‘n afbeelding en skadubeeld van die hemelse heiligdom. Toe Moses die Goddelike opdrag gekry het om die verbondstent op te rig, het God gesê: “Sorg dat jy alles maak volgens die voorbeeld wat Ek jou op die berg gewys het.” AFR 83 

  • Die hele tabernakel sou diepere geestelike simboliek verteenwoordig wat duidelik sou blyk uit Jesus se aardse bediening van verlossing.  Jesus is ons soenoffer en ons hoë priester volgens die orde van Melgisedek.

Die verbondsark, of te wel die versoendeksel in die Ou Testament was ‘n simbool van die troon van die Here.

Dawid skryf in 1 Kronieke 28:2 dat die verbondsark die rusplek vir die Here se voete is.

  • Die ark was van Akasiahout gemaak en met goud binne en buite oorgetrek.
  • Die dimensies was as volg: een en ‘n kwart meter lank, ‘n driekwart meter breed en hoog.
  • Volgens Num 4:15 was daar ringe teen die kante waardeur pale gesteek was om die ark te dra.  Die pale nooit verwyder nie en het so verseker dat niemand ooit daaraan hoef te raak en sou sterf nie. 

KORAGIETE:  Die Leviete, spesifiek die Koragiete is afgesonder volgens Deut 10:8  en  Num 16:8 om die verbondsark te dra.

Num 16: 8 Toe sê Moses vir Korag: Hoor tog, seuns van Levi! 9 Is dit vir julle maar ‘n geringe ding dat die God van Israel julle van die vergadering van Israel afgesonder het, om julle nader aan Homself te bring om die diens van die tabernakel van die HERE te verrig en voor die vergadering te staan om hulle te dien? CAB23

As die wolkkolom geskuif het, was dit uitsluitlik die werk van die Koragiete om die ark te skuif.  Korag was ‘n Leviet, die kleinseun van Kehat.  Alle Leviete was nie priesters nie.  Die priesters was aangewys uit die Kehat-groep, die seuns van Aäron.  Korag het in opstand gekom teen die leierskap van Moses en Aäron.

Daar is ‘n paar parallel tussen die Koragiete en Lucifer:

  • Die Koragiete was die naaste aan die ark en so ook aan die Here se teenwoordigheid.  Korag, tesame met Datan en Abiram rebelleer teen die leierskap wat die Here aangewys is.  So was Lucifer een van die beskutengele en ook die naaste aan die Here se heerlikheid.  Hy wou homself verhef om soos die Here te wees. 

Lucifer het Jesus Christus met jaloesie en agterdog bejeën. Tog het Lucifer saam met die engele neergebuig ter erkenning van Jesus se opperheerskappy, sy verhewe gesag en regmatige koningskap – maar agterdog en jaloesie het hom van binne verteer (EGW, The Story of Redemption, p 14).

  • Lucifer was die engel van musiek en ook het die Koragiete baie van die psalms geskryf.  Dawid het hulle ook aangewys as drumpelwagters by die tempel.
  • Die Kehat-groep, die Koragiete verteenwoordig ‘n derde van die Leviete en Satan word uit die hemel gewerp tesame met ‘n derde van die engele.

***  Ons is uiters geseënd om baie kennis en insig in die Woord te hê, soos Korag, maar daar staan geskrywe:

Luk 12:48 …Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word.

***  Hoe lyk ons harte?  Kan ons rekenskap gee of is daar dalk spore van hoogmoed en rebllie?  Waarop fokus ons?  Ons eie selfsug en honger na mag en eer?

VERSOENDEKSEL:  Bo-op die ark het die versoendeksel gerus.

  • Die versoendeksel was gegiet uit een soliede stuk goud met ‘n kroon om die kant en twee gerubs bo-op. Hulle vlerke was uitgestrek waarmee hulle die versoendeksel beskut het.
  • In Exo 25 gee die Here aan Moses die volgende belofte:

Exo 25:22 Daar sal Ek jou ontmoet. Van bo die versoendeksel af, van tussen die twee gerubs wat op die ark met die Getuienis is, sal Ek met jou praat oor al die opdragte vir die Israeliete wat Ek jou gaan gee.

  • Die belofte van die Here was om die volk te ontmoet tussen die twee gerubs (beskut engele) op die versoendeksel. Die Here sou volgens Lev 16:2 as ‘n wolk verskyn bokant die versoendeksel op die verbondsark.

Daar is ook interessante argeologie ontdek, by Serabit el-Khadim, om hierdie verse te ondersteun, naamlik die HOBAB INSKRIPSIE wat as volg lees: 

Die Heilige vertoef tussen die twee gerubs. En die Heilige is vir Israel en Hobab

Hierdie inskripsie verwys na die Almagtige tussen die gerubs op die versoendeksel van die ark.  Dieselfde Here, die Heilige van Israel is ook vir ons

*** Soos die Here vir Hobab is kan ons saam sê:

Rom 8:31  … As God vír ons is, wie kan teen ons wees? 

  • Die tafels van wet, waaraan almal gehoorsaam moet wees, was in die verbondsark geplaas en deur die versoendeksel (kapporet) bedek. 
  • Die bloed van offers is op die versoendeksel gesprinkel om namens sondaars voor die Here te pleit volgens Lev 16. 
  • Die twee beskut engele op die versoendeksel staar ook simbolies na die bloed van Christus wat op die groot Versoendag gesprinkel is op die troon van hemel om vir ons sondes te pleit. 

Heb 9:24 Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom wat deur mense gemaak is en net ‘n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn

  • Die twee engele op die versoendeksel is verteenwoordigend van die verlossingsbelofte van die mensdom.

*** Soos die twee gerubs na die bloed van Christus staar, waarna staar ons? Waarop fokus ons?  Is die verlossingsbelofte nog vir ons ‘n realiteit?

Twee engele ontmoet ook Maria volgens Joh 20:12 die oggend van Jesus se opstanding by die graf:

Joh 20:12  en sien twee engele daar sit met wit klere aan, een by die hoof en een by die voete waar die liggaam van Jesus gelê het. 

  • Hulle vra haar:  “Mevrou, hoekom huil jy?”, maar Maria was ontroosbaar.  Sy draai om sien Jesus wat ook dieselfde aan haar vra:  “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”
  • Later het Jesus haar geantwoord:  “Maria!”
  • Die engele was weereens in die teenwoordigheid van Jesus ook as boodskappers om die grootste gebeurtenis aan die dissipels mee te deel:  Jesus het die dood oorwin, Hy het opgestaan!

***  Soms is ons ook ontroosbaar en verloor alle hoop.  Dalk is dit ook nodig om ons harte oop te maak en te besef dat Jesus daar by ons staan in die grootste krisis en ons op ons naam noem, Maria.  Maar eers is dit nodig dat ons die vraag moet antwoord:  Vir wie soek jy? 

Matt 6:33. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.. AFR53

  • In Psalm 18:10 word beskryf dat die Here op die gerubs ry en vlieg en volgens Esegiël 1 is die troon van die Here bo die koppe van die gerubs.
  • Uit die allegoriese beskrywing van die gerubs in Skrif verteenwoordig dit die Here se teenwoordigheid.

VOORHANGSEL:  Die ark het in die allerheiligste gestaan waarna slegs die hoë priester toegang gehad het.  Hy moes op die Yom Kippur, dag van Versoening deur die voorhangsel na die allerheiligste gaan wat dit van die res van die tabernakel geskei het. 

Die voorhangsel is ook volgens spesifieke voorskrifte gemaak:

Eks 26:1 … Gebruik daarvoor tien stukke materiaal: goed geweefde linne en blou, pers en bloedrooi wolstofJy moet gérubs daarop laat uitborduur.

  • Die voorhangsel was soos ‘n tipe tapisserie waarop engele in koninklike kleure uitborduur is.  Dit simboliseer die engele wat die Here in Sy troonkamer aanbid en dien. 
  • Tien stukke materiaal is aan hakies opgehang om die allerheiligste af te skort. Die historikus, Josephus beweer dat die voorhangsel 4 duim dik was.  Elke keer as die wolkkolom beweeg het moes die Koragiete die voorhangsel vanaf die Heilige in die tabernakel se kant afhaal word en oor die ark gegooi word dat niemand dit kon aanskou nie. 

1 Sam 6:19 19 Maar die Here het die inwoners van Bet-Semes getref omdat hulle die ark bekyk het. Hy het sewentig man onder hulle laat sterf. Toe het hulle gerou omdat die Here hulle so swaar getref het. AFR 83

Hierdie verhaal van Bet-Semes neem my na die Griekse legende van PANDORA SE BOKS:  Volgens die mite was Pandora ‘n beeldskone vrou en het met Epimetheus getrou.  As ‘n huweliksgeskenk het sy ‘n pragtige versierde boks as trougeskenk vanaf Zeus ontvang, maar sy mag dit nooit oopmaak nie.  Pandora het elke dag na die pragtige boks gestaar.  Al waaraan sy kon dink was wat moontlike daarin sou wees.  Sy het haar begin verbeel dat dit pragtige pêrels en ander juweliersware sou wees, dalk selfs ‘n paar goue munte!  Toe Epimetheus eendag weg was, kon sy nie langer haar nuuskierigheid bedwing en die versoeking weerstaan nie.  Stadig het sy die boks oopgemaak waardeur allerhande ellende en onheil aan die wêreld vrygestel is.

Voorstelling:  Charles Edward Perugini:  Pandora’s Box

*** Waarna staar ons?  Kan ons die voorskrifte wat gegee word nakom?

Die voorhangsel het skeiding gebring tussen die Heilige Here en die mens, net soos die sonde skeiding tussen die Here en die mens gebring het tydens die sondeval.  Dit word so mooi gestel in Habakuk:

Hab 1:13: U oë is te rein om toe te kyk terwyl daar verkeerd gedoen word

Wanneer die hoë priester die allerheiligste betree het moes hy homself vooraf reinig, spesiale klere aantrek en wierook brand.  Die rook was ‘n tipe skerm teen die direkte aanskouing van die Here se heiligheid.  Hy het ook die bloed van ‘n bul, vir sy eie sondes,  en die van die sondoffer, vir die sondes van die volk, saamgeneem om op die versoendeksel te sprinkel.  

Die voorhangsel is verteenwoordigend van Jesus, ons enigste weg na die Vader:

Joh 14:6.  “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

Volgens Matt 27 toe Jesus uitgeroep voor Hy sterf het die voorhangsel van onder na bo geskeur.

Matt 27:50 Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. 51  Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars. 52 Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, 53 en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het.

Op die uitroep, het Jesus die dood oorwin. 

Soos Jerigo se mure ingeval het op die krygskreet sal Jesus uitroep by die wederkoms en die grafte sal oorskeur en die dood weereens oorwin word.

***  Waarna staar jy?  Glo jy die wederkomsbelofte van die twee engele by Jesus se hemelvaart?  Hoor ons die boodskap van die drie engele in Openbaring 14? 

Dalk moet ons weer vashou aan die beloftes soos Jesus gespreek het in Joh 14:

Joh 14:1  Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. 

2  In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 3  En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 

Dr Saartjie Eksteen

Was this article helpful?

Related Articles