1. Home
  2. Ecce homo
  3. Aanbid Hom in gees en waarheid
  1. Home
  2. Bybel Onderwerpe
  3. Aanbid Hom in gees en waarheid
  1. Home
  2. Jesus
  3. Aanbid Hom in gees en waarheid

Aanbid Hom in gees en waarheid

Joh 4:23 Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen.

Hierdie is die bekende woorde wat Jesus met die vrou by die put van Jacob in Samaria, Sigar spreek en is vandag steeds vir elkeen van ons as Sy volgelinge geldig.

Kom ons kyk eers bietjie na die agtergrond rondom Samaria

  • Die stad Sigar, ken ons as Sigem in die Ou Testament. 
  • Sigem in Samaria was ook die hoofstad van die tien noordelike stamme onder heerskappy van koning Jerobeam.

Volgens Joh 4:4:  MOES Jesus DEUR Samaría gaan.

  • Dit impliseer dat Jesus DEUR Samaria moes reis en so ‘n korter roete sou volg.  Volgens die historikus Josephus sou dit drie dae neem van Jerusalem tot by Galilea.
  • Die Jode het gewoonlik nie hierdie roete gevolg nie, omdat hulle sover moontlik Samaria probeer vermy het.
  • Die Samaritane was deur die Jode as onrein beskou, vir die volgende twee redes:
  • DIE SAMARITANE WAS ‘N GEMENGDE NASIE: 
  • In die 7de eeu v.C na die Assiriese oorname van die noordelike koninkryk het die koning van Assirië mense uit ander lande soos Babel; Kuta; Awa ens. ingevoer en laat woon in die stede van Samaría. 
  • Hierdie heiden nasies en die Israeliete het ondertrou. 
  • Hulle het die Here nie gevrees nie en die Here het leeus gestuur en party is gedood. 
  • Om die plaag te probeer beheer het hulle selfs een van die priesters gebring om die volk in die wee van die Here te onderrig in Bet-el, maar dit was tevergeefs.
  • SINKRETISME:
  • Die heidene het hulle eie afgode saamgebring en aanbid op die hoogtes en tempels.
  • Hulle het onder meer afgode soos Sukkot-Benot, Nergal (die Mesopotamiese afgod van pes, plae en dood) en  Asíma gemaak en aanbid. 
  • Die aanbidding van die ware Here is vermeng met die afgodediens.

Daarom dat Jesus ook aan die Samaritaanse vrou sê: 

“julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid” (Joh 4:22).

  • Die Samaritane was as minderwaardig beskou en die Jode het hulle sover moontlik vermy – soos gelees kan word in die woorde van

Joh 4:9 “Want die Jode hou geen gemeenskap met die Samaritane nie.”

  • Die Samaritaanse vrou spreek die volgende woorde:

Joh 4: 19 Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, ek sien dat u ‘n profeet is. 20 Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar ‘n mens God moet aanbid, is in Jerusalem.”

  • Sy verwys na die fisieke plek om die Here te aanbid, maar ons Skepper is nie gelokaliseer nie.

Jer 23: 23 Ek is nie ‘n God wat net naby is nie, sê die Here, Ek is ‘n God wat ook ver weg is. 

24 Niemand kan in ‘n geheime plek wegkruip sonder dat Ek hom sien nie, sê die Here. Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die Here.

Hy is nie beperk tot ons tyd en ruimte nie – Hy is alomteenwoordig en kan enige tyd deur enige een wat na Hom roep gevind word. 

WANT:

Hand 17:24 4 Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.

Hy wil in die harte en lewens van sy kinders woon

1 Kor 3:16 Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?

Volgens 1 Petrus 2:5 staan daar geskrywe:

“Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.”

En in Romeine 12:1 lees ons ‘n soortgelyke gedagte:

“Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.”

  • Ons is die offer aan die Here – hetsy finansiële offers, of deur die voorskrifte na te volg en die regte keuses te maak – dit wat vir die Here aanneemlik is!
  • Offers is dus die essensie van ons geloof, ook verteenwoordigend van die aanbidding van die Here. 
  • Vandag kan ons die Here oral aanbid en word ons nie tot ‘n bepaalde plek beperk nie. 

Joh 4:21 Jesus sê toe vir haar: “Glo My, Mevrou, daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie

  • Die tyd om na Jesus uit te roep IS NOU – volgens vers 23:

Joh 4:23 Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid

  • Ware aanbidding begin hierdie uur.  Sou ons twyfel is dit nou die tyd om Hom aan te roep en te aanbid in gees en waarheid.

WAT KWALIFISEER ONS OM DIE HERE TE AANBID?

Volgens Matt 7 is daar voorwaardes aan gekoppel

Matt 7:21  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

22  Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?

23  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

NEDERIGHEID – ARM VAN GEES

  • Maar deur die oë van Jesus soek hy diegene wat besef dat hulle arm (arm van gees), blind en naak is.
  • Soos die Psalmdigter dit stel:

Psa 51:19  Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie! 

  • Selfs vandag soek die Here na almal wat in opregtheid na Hom soek – om Hom in Gees en waarheid te aanbid. 
  • As ons bewus is van ons eie tekortkominge soos die Heilige Gees dit aan ons uitwys, sal ons aanbidding vir die Here aanneemlik wees.

Jes 57: 15 So sê Hy wat hoog en verhewe is, Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is: Ek woon in ‘n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is.

Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes..

Ons is geskape om eer aan die Here te bring – om Hom te aanbid, MAAR volgens Sy voorwaardes. Ons lees in:

Joh 4:24  God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die GEES EN IN WAARHEID AANBID

  • Dit word ook so mooi gestel tydens die Bergpredikasie:

Mat 5:3  Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

WARE EN VALS AANBIDDING

  • Ons moet die Here dien met totale oorgawe en nie soos Jesaja gesê het van Israel nie:

Mar 7:6  … Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.

7  Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.

8  Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas: die wassery van kanne en bekers, en ander dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie.

9  En Hy sê vir hulle: Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou.

Dit help nie ons het al die skyn van godsdienstigheid en volg al die leë rituele nie – soos geskrywe in:

2Tim3:5 …mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.

Ons moet Jesus ken – lees uit Fil 3 as volg:

Fil 3:10 sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding…

  • As ons Hom nie ken nie kan ons Hom nie volgens Sy voorwaardes aanbid nie.
  • Dit veronderstel ware aanbidding, enige ander vorm van aanbidding of mensgemaakte rituele is vals.
  • Kragtelose aanbidding is ‘n blote skyn en die rituele is net so leeg soos die sinkretistiese aanbidding van die Samaritane.
  • Dieselfde onderskeid word gemaak tussen ware en skyn (vals) aanbidding in Miga 6:

Mig 6:6  Waarmee sal ek die HERE tegemoetgaan en my buig voor die hoë God? Sal ek Hom tegemoetgaan met brandoffers, met jaaroud kalwers?

7  Sal die HERE ‘n welbehae hê in duisende ramme en tien duisende strome van olie? Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel?

8  Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?

WARE AANBIDDING IN GEES EN WAARHEID

  • Daar is ‘n pragtige voorbeeld in die Ou Testament van aanbidding in Levitikus 2.  Hierdie gedeelte beskryf die voorskrifte rakende die vuuroffers (ook bekend as spys-, aanbiddings- en graanoffers).

Lev 2: 2 En hy moet dit na die seuns van Aäron, die priesters, bring; en die priester moet daarvan ‘n handvol neem, van die fynmeel met die olie, met al die wierook wat daarby behoort; en hy moet dit as die gedenkoffer op die altaar aan die brand steek, ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die Here3 …’n hoogheilige deel van die vuuroffers van die Here.” 1953

  • Die graanoffers was ‘n vrywillige offer wat getuig het van hulle dankbaarheid aan die Here.  Hierdie offer was hoogsheilig soos ons pas gelees het.
  • Die graanoffer het bestaan uit alledaagste bestanddele, maar sodra dit aan die priester gegee en aan die  toegewy was, was dit as hoogheilig gereken. 

****  Is ons ook versigtig in die gebruik en hantering van enige toegewyde offers wat ons ontvang? 

  • Dieselfde beginsels was van toepassing op Ananias en Saffira …

****  Getuig ons lewens ook van dankbaarheid teenoor die Here?

Lev 2: 1“Wanneer iemand vir die Here ‘n graanoffer [spysoffer] wil aanbied, kan hy meel aanbied. Hy gooi daar olie oor en sit wierook bo-op.

  • Die Hebreeus woord vir spys/graan is minchâh
  • Wat dui op ‘n blyk van dankbaarheid, ‘n geskenk, spesifiek ‘n godsdienstige offergawe (gewoonlik bloedloos en vrywillig).
  • ‘n Minchâh is ook ‘n geskenk aan ‘n meerdere,
  • soos Jacob se geskenke wat hy vooruit na Esau gestuur het toe hy terugkeer na Kanaän en
  • volgens Rig 13:19  het Simson se pa, Manóag ‘n bokkie en ‘n spysoffer, minchâh op die rots aan die HERE geoffer.

Vir die spys/graanoffer word fynmeel gebruik wat op verskillende maniere voorberei kon word soos ondermeer ringbrode of koeke.

FYNMEEL:

Die fynmeel waarvan dit voorberei was stel ook die louteringe in die lewe voor:

1Pet 4:12  Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; 

13  maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. 

Ons word soos suiwer, gelouterde goud, fyn meel, gebroke voor die Here. 

Like sheaves of corn he gathers you unto himself.

     He threshes you to make you naked.

     He sifts you to free you from your husks.

     He grinds you to whiteness.

     He kneads you until you are pliant;

     And then he assigns you to his sacred

fire, that you may become sacred bread for

God’s sacred feast.

~ Khalil Gibran

 By die fyn meel moes olyfolie en wierook gevoeg word.

OLYFOLIE

  • Volgens  1 Sam 16:13 was olie ‘n simbool van die salwing van die Gees van die Here, soos ons lees in:

1 Sam 16:13 Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk…

WIEROOK

  • Die wierook was weer simbolies van aanbidding

Open 5:8 Net toe die Lam die boek neem, het die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor Hom gekniel. Elkeen van hulle het ‘n siter gehad en ‘n goue bak vol wierook, die gebede van die gelowiges.

  • Wierook verteenwoordig dus die gebede van die gelowiges, ons aanbidding aan die Here.
  •  Hier is ook ‘n pragtige vers in Psalm 141 van Dawid:

Ps 141:2  Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan, die opheffing van my hande soos die aandoffer. 

  • Wierook word geoes vanaf die bome van die genus Boswellia, deel van die Burseraceae-familie.
  • Daar is baie verskillende spesies.
  • Die bome produseer ‘n tipe hars, ‘n aromatiese boomgom (oleo-gom) om die plant te beskerm teen insekte, swamme en beskadigde weefsel te herstel. 
  • Die hars word ge-oes deurdat ‘n insnyding in die boomstam gemaak word, sodat die bome ‘n melkerige stof “bloei”.
  • Sodra hierdie melk met lug in aanraking kom, verhard dit en word ge-oes as wierook of parfuum.

GEBROKE HART SOOS WIEROOK

  • Wanneer die wierook verbrand word gee dit ‘n lieflike, soet geur af.

**** Wanneer ons pyn in die lewe ervaar, soos die sny wat in die stam van die boom gemaak word – en ons tot die Here keer in ons gebrokenheid ons harte voor Hom uitstort, gee ons gebede  ‘n lieflike geur af, soos die wierook wat geoffer word op die altaar in die tempel.

Ps 51:19 Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging:  U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God

Sodra die olyfolie uitgegiet word op die graan en die wierook daarop gesit word is dit volgens Lev 2:2,8,15,16

“ …. ‘n vuuroffer wat deur die Here aanvaar word.”

*** Is ons gebede ook ‘n lieflike, soet geur soos dit opstyg na die Here, of bid ons meestal selfsugtige, selfgesentreerde gebede?

  • Dit laat ons dink aan die fles kosbare nardusolie wat Maria op Jesus se voete uitgegiet het en Hom gesalf het voor Sy dood.  Hierdie lieflike aroma het die huis gevul en die aroma van hierdie mooi daad sou Jesus in die donkerste tye vergesel.

Joh 12:3  En Maria het ‘n pond egte, baie kosbare nardussalf geneem en die voete van Jesus gesalf en sy voete afgedroog met haar hare. En die huis is vervul met die reuk van die salf.

*****  Van watter aroma getuig ons lewens?

HEUNING & GIS (SUURDEEG)

  • Volgens vers 11  mag geen suurdeeg of heuning by die offer gevoeg word nie

Lev 2:11 Geen spysoffer wat julle aan die Here bring, mag van iets wat ingesuur is, berei word nie; want van géén suurdeeg of heuning mag julle vir die Here ‘n vuuroffer aan die brand steek nie.

  • Gis was ‘n simbool van die sonde, hoogmoed, skynheiligheid en valse lering.
    • Heuning is, voordat dit verbrand word is soet en smaaklik. Maar wanneer dit verbrand word dit ‘n swart gemors.
    • Ons kan slegs aanbied wat die toets van vuur kan weerstaan:

1Kor 3:12  En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels— 13  elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.

  • Ons aanbidding moet ook die vuur kan weerstaan en nie soos heuning ‘n verstikkende rook en swart onaangename massa vorm nie. 
    • Daarom kan ons nie gis of heuning meng by die offer nie, dit sal die vermenging van heidense gebruike wees wat verteenwoordigend is van die sinkretisme van Samaria.

SOUT

By elke offer moes daar ook sout gevoeg word – ons volgens vers 13

Lev 2: 13 Gooi sout by al jou graanoffers. Die sout herinner aan die verbond met jou God; moenie dat dit in jou graanoffers ontbreek nie. Bied sout aan op al jou graanoffers.

  • Gis en sout is inverses van mekaar – gis verander, waar sout preserveer
  • Sout beperk ook bederf, dit is ‘n preserveermiddel.  As ons die wysheid van die Woord verkondig kan ons kies teen sonde en lewe preserveer.  Hierdie sout sal keer dat die dood intree.

SOUT was tekenend van die Here se verbond –

  • Soutverbond: 

Daar is sprake van 2 soutverbonde in die Skrif, in Numeri 18:19 en 2 Kronieke 13:5.

Num 18:19 Al die offergawes van die heilige dinge wat die kinders van Israel aan die Here afgee, gee Ek aan jou en jou seuns en jou dogters saam met jou as ‘n ewige insetting. Dit is ‘n ewige soutverbond voor die aangesig van die Here, vir jou en jou nageslag saam met jou. (1953)

2 Kron 13:5 Behoort julle nie te weet dat die Here, die God van Israel, die koningskap oor Israel aan Dawid vir ewig gegee het, aan hom en sy seuns as ‘n soutverbond nie? (1953)

  • Sout was gebruik om ‘n kontrak te sluit, ‘n soutverbond.  Die twee partye kon of saam sout eet of elke party het sout oor sy skouer gegooi.  Sout het die kontrak bekragtig.

**** Het ons al in die huwelik ‘n paar sakke sout saam opgeëet?  Dit impliseer dat ons te midde van teëspoed aan mekaar getrou sal bly en die huwelikskontrak sal eerbiedig.

**** So sluit die Here ook vandag met ons ‘n soutverbond.  Die Skrif is vol beloftes waar Hy belowe om vir ons ‘n God te wees.  Ongelukkig kom ons nie altyd ons deel van hierdie verbond na nie.

  • Daar was selfs in Herodes se tempel ‘n soutkamer waar die sout gestoor was.
  • Sout was skaars en baie waardevol:   As kosbare kommoditeit was die Romeinse soldate in sout betaal, van waar die woord salaris is afgelei is uit die Latyn SALARIUM.  Dit beteken soutgeld, soos ons bekend is met die uitdrukking “om jou sout werd te wees”.
  • Jesus gee nuwe betekenis aan sout deurdat Hy dit as ‘n metafoor vir elke gelowige se lewe gebruik.  Ons moet die sout van die wêreld wees, en die smaak verbeter en die lieflike geur van die Evangelie te versprei.   

**** Hierdeur sê Jesus nie net wat ons moet doen nie, maar ook hoe kosbaar ons vir Hom is – Hy wil vandag met elkeen van ons ‘n soutverbond sluit.

  • Dit was ook gebruik as ‘n simbool van reiniging.  Elia het sout by die onbruikbare water in Jerigo gegooi soos ons lees in 2 Kon 2:21: 

“So sê die Here: Ek maak hierdie water bruikbaar sodat dit nie meer dood of onvrugbaarheid sal veroorsaak nie.”

  • In die Ou Testament was sout ook tekenend van verwoesting en vervloeking (Rig 9:45 – Abimeleg – ons sal later daaroor gesels)

Khalil Gibran — ‘There must be something strangely sacred in salt. It is in our tears and in the sea.’

  • Die graanoffer was een van 3 vrywillige offers.  Deur ‘n offer, ‘n gedeelte aan die Here te wy het getuig dat alles uiteindelik aan Hom behoort.
  • Wat wel belangrik was is dat hierdie offer uit dankbaarheid vir Sy voorsiening aan die Here gebring is.

Psa 96:8  Gee aan die HERE die eer van sy Naam, bring offers en kom in sy voorhowe. 

SAMEVATTEND VERTEENWOORDIG DIE GRAANOFFER DIE OLIE, TEKENEND VAN DIE HEILIGE GEES, SOUT OM TE REINIG EN GETUIG VAN ONS VERBOND MET DIE HERE EN DIE WIEROOK, ‘N AANNEEMLIKE GEUR VIR DIE HERE

2Kor 2:15  Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan

So is ons aanbidding ook ‘n tipe van die spysoffer as ‘n geskenk van eerbetoon en uit dankbaarheid vir Sy voorsiening.

***** Bring ons nog die “spysoffers” uit dankbaarheid wat die Here toekom in gees en aanbidding?

KOM ONS GAAN DELF  BIETJIE DIEPER IN DIE GESKIEDENIS VAN SIGEM OM ANDER MOONTLIKE WAARHEDE VIR BLOOT TE LÊ EN DIE VERHAAL VAN DIE VROU BY DIE PUT VAN JACOB IN SAMARIA BETER TE BEGRYP

SIGEM

  • Sigem, of hedendaagse Nablus is ‘n Palestynse stad op die Wesbank.
  • Dit is sowat 50km noord van Jerusalem geleë
  • Ook bekend as die Nuwe Testamentiese Sigar
  • Stad met baie ryk Bybelse geskiedenis
  • Sigem was geleë in die vallei tussen die berge Ebal en Geresim
  • ABRAM
  • As ons terugdink aan Abram met sy aankoms in Kanaän uit Haran, doen hy aan by Sigem, die antieke Tell Balata.
  • Hier by die terpentynboom More [Môreh] het hy tent opgeslaan en vir die Here ‘n altaar gebou. 
  • Sigem word verteenwoordig deur die goedheid en seën van die Here soos ons lees in

Deu 8:7  Want die HERE jou God bring jou in ‘n goeie land, ‘n land van waterstrome, fonteine en onderaardse riviere wat in die laagtes en op die berge uitkom; 

8  ‘n land van koring en gars en wingerdstokke en vyebome en granate; ‘n land van olieryke olyfbome en heuning; 

9  ‘n land waarin jy brood sonder skaarste sal eet, waarin niks jou sal ontbreek nie; ‘n land waarvan die klippe yster is, en uit die berge waarvan jy koper sal uitkap; 

10  en jy sal eet en versadig word en die HERE jou God loof oor die goeie land wat Hy jou gegee het. 

  • By Sigem verskyn die Here aan Abram en bevestig Sy verbond en demonstreer Sy genade en goedheid.
    • JACOB
  • Paar dekades later kom Jacob, net soos Abram uit Haran ook by Sigem.  Hy koop ‘n stuk grond by Gamor, die pa van Sigem. 
  • Op hierdie grond bou Hy ook, net soos Abram ‘n altaar en noem dit: El-elohe-Israel:  “Die God van Israel is God” (Gen 33:18-20). 
  • By Sigem grawe Jacob ook ‘n put soos ons later in Joh 4 daarvan lees waar Jesus die vrou van Sigar ontmoet.
    • ISRAEL
  • Uiteindelik volg Israel dieselfde pad – merk die eskalasie – eers arriveer Abram met sy familie by Sigem, daarna Jacob met ‘n uitgebreide gesin en dan die volk Israel onder bewind van Josua. 
  • Volgens Deut 27:1-26 beveel Moses voor sy dood die Israelitiese leiers om in Sigem op berg Ebal “groot klippe oprig en dit met kalk bestryk” waarop die woorde van die wet geskryf moet word, asook moet ‘n altaar gebou word waarop brandoffers gebring word.
  • Hierdie laat ons terugdink aan Sinai wanneer die wet op die kliptafels geskryf is en brandoffers op die altaar aan die voet van die berg gebring is.
  • Moses beveel ook dat die volk verdeel moet word.
  • Die Leviete moes die volk om op Berge Gerisim en – Ebal verdeel vanwaar die seëninge en vloeke van die verbond uitgespreek sou word.  Op die twaalf vloeke moes die volk daarop met ‘n “Amen” antwoord.
    • Op Gerisim (Eerste berg van seëninge) sou Simeon, Levi, Juda, Issaskar, Josef, en Benjamin staan vanwaar die seëninge uitgeroep sou word (kinders van Lea & Ragel – sonder Ruben en Sebulon)
    • Teen die hange van Ebal was Ruben, Gad, Aser, Sebulon, Dan, en Naftali vanwaar die vloeke uitgeroep sou word (kinders van die slavinne Bilha en Sipa).
  • Sigem verteenwoordig hier ‘n plek van aanbidding en verbondsbevestiging.

AFGODE BEGRAWE

Hier is Sigem is ook die plek waar hulle met afgodery breek. Ragel was heelpad nog in besit van Laban se afgodsbeeldjies wat sy gesteel het.  Ons lees as volg in Gen 35:4

Gen 35:4  Toe gee hulle aan Jakob al die vreemde gode wat in hulle besit was, en die ringe aan hulle ore, en Jakob het dit begrawe onder die terpentynboom wat by Sigem is. 

Die terpentynboom van Sigem ~ by die terpentynboom More [Môreh] – in die NKJ word daarna as ‘n eik verwys en dit is dieselfde plek waar Abraham sy tent oopgeslaan en ‘n altaar gebou het

Daar word ook later in die geskiedenis twee maal weer verwys na oorbelle, wat elke keer ‘n gebruik is om afgodsbeelde te maak, soos ons die verhaal ken by Sinai waar Aäron (Eks. 32:2-4) die goue kalf gemaak het met die oorringe en ook die Efodbeeld wat Gideon ná sy oorwinning oor die Midianiete gemaak het (Rig 8:24-27). 

  • Dit is by hierdie selfde terpentynboom waar die afgode begrawe is wat Abram vroeër sy tent opgeslaan het.
  • Volgens Josua 24:14 lees ons soortgelyke woorde waar die volk moet kies om die Here te dien in waarheid en hul afgode af te lê.

Jos 24:14  Vrees dan nou die HERE en dien Hom in opregtheid en waarheid, en verwyder die gode wat julle vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die HERE. 

  • By dieselfde terpentynboom rig Josua ‘n gedenkpilaar/klip op:

Jos 24:26  En Josua het  … ’n groot klip geneem en dié daar opgerig onder die eikeboom wat by die heilige plek van die HERE is. 

  • Sigem is dus ‘n plek waar daar gebreek moet word met afgodery, sinkretisme.

Sigem word ook later plek van baie hartseer

VERKRAGTING VAN DIANA

  • Daar volg egter ‘n tragiese verhaal van bloedvergieting in Sigem.
  • Net soos Abraham en Isak hulle vroue in gevaar gestel het deur voor te gee dat hulle nie getroud was met hulle half-susters nie, so stel Jakob Dina in gevaar deur toe te laat dat sy gaan kuier by die dogters van die omgewing van Sigem. Maar anders as Sara en Rebekka, word Dina die slagoffer van die sedelose Kanaänitiese omgewing, deurdat die prins van Sigem, haar onteer.
  • Simeon en Levi neem wraak en het al die mans van Sigem uitgemoor.
  • Selfs die vee het dit ontgeld.
  • Hierdie geweld was ‘n oorreaksie, in teenstelling met die beginsel van Lex Talionis – ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand
  • Uiteindelik is dit ook die rede dat Jacob Sigem verlaat.  Tog is die Here getrou aan Jacob soos ons lees in:

Gen 35:5  En toe hulle weggetrek het, kom daar ‘n skrik van God op die stede rondom hulle, sodat hulle die seuns van Jakob nie agternagejaag het nie. 

  • Later in Jacob se lewensverhaal lees ons dat hy nie hierdie grusame, bose optrede goedgekeur het nie, soos dit blyk uit sy weiering om Simeon en Levi te seën soos hy met sy ander seuns gedoen het.
  • Ons dink ook verder aan die geskiedenis van Josef waar Jacob vir Josef stuur om na sy broers se welstand uit te vind by Sigem.
  • Hy kry hulle by Dotan waarna hulle hom in put gooi en as slaaf verkoop.
    • Sigem is ook ‘n plek van tragedie

MAAR die Here sal selfs ons vloeke in ‘n seën verander

Rom 8:28  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. 

JACOB GROND ~ JOSEF BEGRAWE

  • Hier kry ons ook die kontras waar Josef geseën word met ‘n dubbel porsie.
  • Bietjie later in die geskiedenis begin en eindig die verhaal van Josef ook hier. 
  • Voor Joacob se dood herinner hy Josef dat Kanaän die land van belofte is en gee ook volgens Gen 48:22 aan Josef die grond wat hy gekoop het in Sigem, by Gamor.
  • Josef se beendere is ook later in Sigem begrawe (Jos. 24:32). 
  • Sommige skrywers beweer ook dat Josef se tweeling seuns, Efraim en Manasse, ook hier begrawe is.

**** Moet ons dalk nie ook luister na die raad van Jacob en besef dat hierdie aarde slegs ons tydelike woning is nie en uitsien na die porsie wat vir ons voorberei is nie?

Gen 48:22  En ék gee jou een stuk [porsie; shek-em] land bo jou broers, wat ek met my swaard en my boog van die Amoriete afgeneem het.

  • “Stuk” – “porsie” – in Hebreeus is ook  shek-em (Soos Sigem) – beteken skouer, rif. (Skouer – tussen 2 berge Ebal en Geresim)
  • Hier is woordspeling waar aan Josef ‘n porsie “Sigem“ van Sigem wat gegee is.  ‘n Dubbele porsie.
  • Ons lees in Gen 48:5 dat Jacob, Josef se twee seuns as sy eie aangeneem het en gee aan hulle dieselfde status as die ander elf seuns.  Die dubbel porsie gaan dus aan Efraim en Manasse.
  • Hoewel Sigem gekoop was by Gamor mag dit dalk wees dat dit oorgeneem is deur die Amoriete toe Jacob Sigem verlaat het in Gen 35:4-5.
  • Josef se lewe begin en eindig hier by Sigem
  • Sigem verteenwoordig hier ‘n plek van belofte, seën en ‘n dubbel porsie

Sigem was ook een van die ses asielstede van Israel (Jos 21:21) wat aan die Leviete gegee is, maar volgens Rigters 9 was daar ook nog Kanaäniete in hierdie stad. 

ABIMELEK

  • Die rigter, Gideon het hom nie baie gesteur aan die voorskrifte van Deur 7:1-3 nie
  • Hiervolgens mag Israel nie met die volkere van Kanaän ondertrou het nie.  Die fisiese vermenging het die vermenging van godsdiens veronderstel en Israel het weer verval in afgodery en Baäl-Berít aanbid.
  • Ons het reeds verwys dat Gamor, die vader van Sigem was en hoe die mans vroeër in die geskiedenis wreed uitgemoor is deur Simeon en Levi.

****Was dit net oënskynlike vrede tussen die Kanaäniete en Israeliete?

  • Gideon het sewentig seuns by verskeie vroue gehad. 
  • Abimelek, was sy seun by ‘n Kanaänitiese byvrou van Sigem.
  • Sy naam beteken “my pa is koning”.
  • ‘n Afgryslike verhaal volg waar Abimelek sy 70 halfbroers gruwelik vermoor om homself as koning van Sigem te verklaar.  Sy jongste halfbroer, Jotam het die bloedbad vrygespring.
  • Vanaf berg Gerisim vertel Jotam ‘n fabel aan al die leiers van Sigem, wat later ook profeties van aard is.
  • Dit vertel die verhaal van die bome wat een na die ander weier om koning oor die bome te wees.
  • Die olyf-, vyeboom en die wingerdstok, het al drie het geweier.
  • Uiteindelik het hulle ‘n dorningbos gekies om hulle koning te wees.
  • Hierdie fabel het as ‘n kritiek gedien teen Abimelek en sy aanspraak op die koningskap oor Israel wat hy met geweld bekom het.
  • Die DORINGBOS is ‘n simbool van vervloeking as ons dink aan Gen 3:18 

Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet.

  • Ook was Jesus se doringkroon ‘n simbool van vervloeking, vernedering en bespotting.
  • Soos die ram op berg Moria, wat met sy horings in die doringbos verstrengel was, is dit ‘n tipe van Jesus, ons Verlosser, wat uiteindelik die vloek van die mensdom op Hom geneem het (Yehôvâh Yir’eh– Die Here sal voorsien)
  • Abimelek sou later wel die vrugte pluk van sy genadelose daad.

Mat 7:16  Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!  17  So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. 

  • Die inwoners van Sigem het teen Abimelek gedraai en hy het die inwoners vermoor, die stad afgebreek, die kelder aan die brand gesteek en dit met sout besaai
  • SOUT was hier ook ‘n simbool van vervloeking
  • Hy het slegs 3 jaar regeer en uiteindelik het ‘n vrou in Tebes ‘n meulsteen op sy kop laat val en hom noodlottig gewond.
  • Sigem verteenwoordig hier ook n’ plek van tragedie en vervloeking

Vandag ontmoet Jesus ook vir elkeen van ons, soos die vrou by die put van Jacob by die Sigar in ons lewe.

*****Vir elkeen van ons by Sigem, ‘n plek van

  • tragedie,
  • perversie,
  • sinkretisme en
  • vervloeking

word ons met dieselfde keuse gekonfronteer as wat Josua aan Israel voorgehou het:

Jos 24:15  … kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien

ELKEEN VAN ONS MOET KIES – Dat ons Jesus as die Christus ~ die Messias erken

  • Kom ons bring ons graanoffers van:
    • ‘n gebroke gees (fynmeel),
    • met die olie van die Heilige gees,
    • gemeng met sout om ons te reinig van afgodery en wat getuig van ons verbond met Hom
    • en aanbidding wat ‘n aanneemlike geur soos wierook vir Hom sal wees
  • Hy wil steeds vir elkeen van ons seën om saam die ewige Kanaän te beërwe

Joh 4:23  Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 

Dr Saartjie Eksteen

Was this article helpful?

Related Articles