Het jy ‘n goeie vriend, ‘n boesem vriend. Iemand vir jy enigiets op aarde sal doen, en iemand wat dieselfde vir jou sal doen. ‘n Mooi onselfsugtige vriendskap, is een van die mooi gawes wat die Here vir ons kan gee.
`My naam is Jonatan. Miskien het jy al van my gehoor. Dawid wat later koning geword het was my boesem vriend. Ek het die moeilike uitdaging gehad om lojaal aan my pa bly terwyl ek my lewe op die spel geplaas het om ook aan Dawid lojaal te bly.
Kom stap saam met my terwyl ek vir jou historiese en gesinsagtergrond gaan skets.
Net een guns asseblief. My pa was my held toe ek ‘n kind was. Tans is ek nog baie lief vir hom en wanneer ek van sy swakhede praat, is dit nie om hom te verkleineer nie. Dit gee vir jou ‘n idee vanwaar ek kom. Terselfdertyd mag dit jou help indien jou pa ook foute begaan het, en hoe om hom nogtens te eer en te respekteer.
Kom ons kyk na die volgende militêre gebeurtenis wat plaasgevind het:
Nadat ons by Gilgal, naby die Jordaanrivier en Jerigo saamgetrek het, het my pa die weermag ontbind. Van hierdie soldate was onlangs opgeroep om die Ammoniete te gaan verslaan het.
Hy het toe net tweeduisend troepe by Migmas ontplooi en ek het op sy bevel met by Gibea met ‘n duisend man die fort gaan hou. Dit was ‘n baie groot fout. Ons weermag was vol moed na die onlangse oorwinning. Ons moes onmiddellik met ander vyande afgereken het.
Ons oorloghonger buurman, die Filistyn, het in die hartjie van ons land kom vestig. Hulle militêre slaankrag het ons ver oortref. Gedurende die lang tyd van oorheersing is ons verbied om enige wapentuig te vervaardig. Dit was net ek en my pa wat met ‘n spies en ‘n swaard rondgeloop het.
Dit was tydens my pa se tweede regeringsjaar dat hy ‘n poging aangewend het om die mag van die Filistyne aan te durf. Ek was die eerste om hulle by Geba te gaan verslaan het. Die Filistyne kon nie hierdie pil sluk nie, en kort voor lank het hulle ons kom aanval. My pa het die oorlogsbasuin oor die hele land laat blaas en ons manne het by Gilgal saamgetrek.
Die Filistyne het met ‘n groot weermag by Migmas saamgetrek. Toe my pa die nuus hoor, het ons troepe die hasepad gevat. Die ou paartjies wat oorgebly het was vreesbevange. Toe my pa as koning van Israel gesalf was, het die profeet Samuel vir hom laat weet:
“Jy moet voor my na Gilgal toe gaan en ek sal later kom om brandoffers te offer en maaltydoffers te bring. Jy moet sewe dae wag tot ek by jou kom. Dan sal ek jou sê wat jy moet doen.”
My arm pa het nie die geduld gehad om vir die profeet Samuel te wag nie en toe offer hy maar sommer self. Dit was nie geoorloof nie. Samuel het net daarna op die toneel verskyn. Ag ek het my pa so jammer gekry.
My pa se onvermoë om die soldate te motifeer was so hartseer. Met net 600 troepe oor het hy na die vesting van Geba gegaan. Oorkant die groot wadi, (kloof) het die Filistyne kamp opgeslaan.
In hierdie krisisoomblik het die Heilige Gees my beïndruk om my waperdraer te vat en die magtige Filistynse weermag aan teval.
“Kom ons gaan oor na die patrollie van hierdie heidene toe. Miskien sal die Here ons help. Hy kan red, deur baie of deur min.”
My wapendraer sê vir my dis reg. Ek sê toe vir hom: “Nou toe, kom ons beweeg in hulle rigting sodat hulle ons kan sien.
My boesemvriend Dawid het iets soortsgelyk geskryf: Psa 18:30 Want met U loop ek ‘n bende storm, en met my God spring ek oor ‘n muur.
My liewe vriend, neem kennis van dit wat ek en Dawid gesê het. Pak jou probleme aan, nie net met jou insig of het jou krag nie, maar in die krag en leiding van ons Skepper, Hy wat hemel en aarde gemaak het. Hy is alom teenwoordig, Hy is almag.
Ek vertel verder wat daardie dag met my in my wapendraer gebeur het:
“As hulle vir ons sê: ‘Staan stil totdat ons by julle kom,’ bly ons hier onder staan. Ons gaan dan nie op na hulle toe nie. Maar as hulle vir ons sê: ‘Kom op na ons toe,’ gaan ons na hulle toe, want dan sal dit vir ons die teken wees dat die Here hulle in ons mag gee.” Toe hulle ons sien sê hulle: “Kyk daar! Party Hebreërs het uitgekom uit die gate waarin hulle weggekruip het.”
Ons twee het met ‘n geheime moeilike roete na bo geklouter. Toe ons bo uitkom, het ons harte baie vinnig geklop. Met ‘n spoed het ons die wagte oorrompel.
Engele het ons beskerm en saam met ons geveg en die Filistyne verslaan. ‘n Aardbewing het soos ‘n magdom perderuiters en strydwaens geklink. Ons het besef dit was ‘n goddelike ingryping . Selfs die vyand was oortuig dat die God van Israel besig was om hulle verlossing te bewerkstellig.
In hierdie verwarring het hulle hulle eie soldate as vyande gesien en ‘n massa slagting was die gevolg. Die geweldige gerommel is in my pa se kamp gehoor. Die wagte het geraporteer dat die Filistyne se getalle uitgedun het. Niemand het agtergekom dat ek en my wapendraer die kamp stilletjies verlaat het nie.
My pa het skielik op hulle toegeslaan en selfs ons mense wat gedros het was gou op die toneel. Die Filistyne het laat spaander en ons het ‘n groot oorwinning behaal.
Ag en toe begaan my pa weer ‘n verskiklike vlater. Miskien is jou pa dieselfde. Hoe maak mens as jou pa vir jou ‘n verleentheid geword het? Die Here het my gehelp om hom steeds te respekteer en hy kan jou ook help om dieselfde te doen.
Hier volg sy patetiese kontraproduktiewe onsuksesvolle uitspraak:
“Vervloek is die man wat iets eet tot vanaand, sodat ek my op my vyande kan wreek.” Gevolglik het die manskappe aan niks geproe nie.
Die oorwinning was reeds behaal en dit sonder sy kennis of samewerking. Maar my arme pa wou vir homself beroemd maak deur die totale vernietiging van die Filisteinse weermag.
Sy bevel was deur selfsugtige ambisie gemotiveerd. Hy het gladnie aan die behoeftes van sy makskappe gedink nie, net aan sy eie ego. Hy sê dat hy hom op sy vyande moet wreek en nie dat die Here Homself oor Sy vyande moet wreek nie. My arme pa.
Hierdie belaglike verbod op die manskappe dat hulle nie mag eet nie, het daartoe gelei dat hulle een van die gebooie van God oortree het. Hulle was so honger dat toe die verbod beëndig is, hulle die buit net daar en dan geslag en geëet het, bloed en al. Die verbod van die Here sê duidelik dat jy nie vleis met die bloed mag eet nie.
Ek het was onbewus van hierdie verbod en ‘n bietjie heuning langs die pad geëet. My pa het daarvan te hore gekom en besluit om my met die dood te straf. Ek het nie ‘n moedswillige sonde gepleeg nie. En boonop het die Here my gebruik om die oorwinning te bewerkstellig.
Hoe sou jy gevoel het as dit jou was? Hoe oorleef ‘n mens ‘n pa se onbillike optrede? Moes hy nie alles in sy vermoë gedoen het om my lewe te spaar nie? Ek was mos onskuldig. Ek wil jou net vir jou sê dat hierdie ding wat my pa gedoen het, my geknak het. Ag nee man. Jy werk nie so met jou kind nie.
Maar as hy my skotvry laat wegkom het, sou dit ‘n erkenning van sy irrasionele eed gewees het. Sy selfsugtige eed sou vernederend gewees het.Ek lees vir julle wat Samuel oor hierdie gebeurtenis geskryf het:
1Sa 14:36 Toe sê Saul: Laat ons in die nag aftrek agter die Filistyne aan, en laat ons onder hulle plunder totdat dit môre lig word; en ons moet nie een onder hulle laat oorbly nie. En hulle antwoord: Doen alles wat goed is in u oë. Maar die priester het gesê: Laat ons hier tot God nader.
1Sa 14:37 Toe het Saul God geraadpleeg: Sal ek aftrek agter die Filistyne aan? Sal U hulle in Israel se hand gee? Maar Hy het hom dié dag nie geantwoord nie.
1Sa 14:38 En Saul sê: Kom nader hierheen, al die hoofde van die volk, en ondersoek en kyk waarin hierdie sonde vandag begaan is.
1Sa 14:39 Want so waar as die HERE leef wat Israel verlos, al was dit ook in my seun Jónatan, dan moet hy sekerlik sterwe! Maar niemand uit al die manskappe het hom geantwoord nie.
Ek staan daar tussen die manskappe en ek kan nie glo wat my pa praat nie!
1Sa 14:40 Daarop sê hy aan die hele Israel: Julle moet eenkant staan, en ek en my seun Jónatan sal eenkant staan. En die manskappe antwoord Saul: Doen wat goed is in u oë.
1Sa 14:41 Toe sê Saul aan die HERE: God van Israel, gee tog die waarheid! En Jónatan en Saul is aangewys, maar die manskappe het vry uitgegaan.
1Sa 14:42 En Saul sê: Werp die lot tussen my en my seun Jónatan. En Jónatan is aangewys.
1Sa 14:43 Daarop vra Saul vir Jónatan: Gee my tog te kenne wat jy gedoen het. En Jónatan het hom te kenne gegee en gesê: Ek het net ‘n bietjie heuning geproe met die punt van die staf wat in my hand was; hier is ek, ek sal sterwe.
1Sa 14:44 Toe sê Saul: Mag God aan my so doen en so daaraan toedoen, jy moet sekerlik sterwe, Jónatan!
1Sa 14:45 Maar die manskappe het aan Saul gesê: Moet Jónatan sterwe wat hierdie groot verlossing in Israel bewerk het? Volstrek nie! So waar as die HERE leef, geen haar van sy hoof sal op die aarde val nie! Want met God het hy dit vandag gedoen. So het die volk dan Jónatan losgekoop, dat hy nie gesterf het nie.
1Sa 14:46 Daarna het Saul agter die Filistyne teruggetrek, en die Filistyne het na hulle plek gegaan.
My pa kon nie daarop aanspraak dat hy die oorwinning behaal het nie, maar hy het gehoop dat hy erkenning vir sy ywer kon verdien, selfs as hy my sy seun sou offer.
My arme pa kon nie van die feit ontslae raak dat die volk en die Here my bo hom verkies het nie. Ek voel so jammer vir hom. Die feit dat die troepe my uit sy hand verlos het, was ‘n ernstige bestraffing vir sy irasionele optrede.
My verlossing deur middel van die troepe was ‘n intense vernedering vir my pa se dwase optrede. Omdat hy ander vervloek het, het hy gevrees dat die vloeke na hom sou kom. Hy het sommer die oorlog met die Filistyne beëindig en met ‘n bui huistoe gegaan.
Ek het baie deur my pa se foute geleer. Mense wat baie maklik hulle self regverdig, maak baie gou verskoning vir hulle eie foute. En jy weet al is hulle oortuig dat die Here nie saam met hulle wandel nie, weier hulle te erken dat hulle foute gemaak het. Hulle koester ‘n baie lelike gesindheid en vel ‘n onregverdige oordeel op ander wat beter as hulle is. Hulle sal beter voel as hulle die volgende raad sou volg:
“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.
Het jy dit ookal opgemerk? Wanneer mense hulle eie belange najaag en selfsugtig optree, beland hulle in situasies waar hulle ware kleure ontbloot word. Dis presies wat in my pa se geval gebeur het. Sy optrede het getoon dat sy koninklike status belangriker as sy plig teenoor mense was.
As die mense nie vir my ingetree het nie, sou my pa my daardie dag doodgemaak het.
Mag die Here vir jou en my help om die selfsug en eie waan in ons lewens sal verban en ons mooi, beskeie en onselfsugtige omgeemense maak. Volgende keer gaan ek, Jonatan jou van my vriendskap met Dawid te vertel.