Hierdie is die mooi deel van my lewe. Maar dit sou nooit gebeur het as ek nie my swaarkry toegelaat het om my leermeesters te wees nie. Hier in die tronk het ek van hierdie gedroom van die farao gehoor. Ek deel dit graat met jou.
Twee jaar later het die farao ‘n droom gehad. Hy het gedroom hy staan langs die Nyl. Uit die rivier kom daar toe sewe mooi vet koeie uit en hulle gaan wei in die vleigras. Ná hulle kom daar toe sewe ander koeie uit die rivier uit. Hulle was lelik en maer en het langs die ander koeie op die rivierwal gaan staan.
Ek wil net noem dat die mense van Egipte die Nylrivier ‘n god gesien het. Hulle het hom Hapi genoem. Kom ek vertel verder wat met die koeie gebeur het.
Die koei was ook deur die Egiptenare aanbid en haar naam was Hathor. Maar maar luister na die volgende eienaardige droom wat die farao gehad het:
Toe vreet die lelike maer koeie die sewe mooi vettes op. Daarna het die farao wakker geskrik. Hy het weer aan die slaap geraak en weer gedroom. Hy het gesien hoe sewe mooi vol are opskiet aan een stingel. Ná hulle kom daar toe sewe skraal are uit wat verskroei is deur die oostewind. Die skraal are sluk toe die sewe vol vet are in. Daarna het die farao wakker geskrik, en hy het besef hy het gedroom.
Die môre was die farao onrustig oor die drome. Hy het al die waarsêers van Egipte en ook die raadgewers almal laat roep en vir hulle sy droom vertel. Maar niemand kon dit vir hom uitlê nie.
Die skinker wat twee jaar gelede ‘n droom in die tronk gehad het, luister aandagtig na hierdie droomervaring van die farao. Wat dink jy het in sy gedagtes opgekom? Ek moes twee jaar langer hierdie mooi ondervinding gewag het.
Toe sê die hoof van die skinkers vir die farao: “Vandag moet ek u herinner aan die verkeerde ding wat ek vroeër gedoen het. U het toe kwaad geword vir u dienaars, vir my en vir die hoof van die bakkers, en u het ons laat opsluit in die tronk in die huis van die hoof van u lyfwag.
Nou moet jy net onthou wie die hoof van die tronk van die farao se lyfwag was. Dit gaan hierdie verhaal nog interessanter maak.
Daar het ons in een en dieselfde nag ‘n droom gehad, elkeen sy eie droom met sy eie uitleg.
Saam met ons was ‘n Hebreeuse jongman, ‘n slaaf van die hoof van die lyfwag. Ons het toe ons drome vir hom vertel, en hy het dit vir ons uitgelê. Hy het dit uitgelê volgens elkeen se droom.
Soos hy dit vir ons uitgelê het, het dit daarna gebeur: vir my het hy in my amp laat herstel en die bakker het hy laat ophang.”
Nou word die verhaal baie interessant want Potifar luister na hierdie gesprek. En onthou hy het Josef drie jaar gelede in hierdie tronk laat opsluit.
Toe het die farao vir Josef laat roep en hulle het hom gou uit die tronk gehaal. Nadat hulle hom geskeer en ander klere aangetrek het, is hy na die farao toe.
Na drie jaar sien ek weer die hoof van die tronk van die lyfwag van die koning. Potifar was baie ongemaklik maar ek het hom met respek behandel.
Na ‘n ruk kom ek en Potifar by die paleis aan. Ek het nie meer soos ‘n tronkfool gelyk nie want my baard was geskeer. Terloop niemand mag sonder ‘n geskeerde gesig voor die koning verskyn het nie.
Die farao het toe vir my gesê: “Ek het ‘n droom gehad, maar daar is niemand wat dit kan uitlê nie. Toe het ek van jou gehoor: jy lê ‘n droom uit as jy hom hoor.” Ek het hom gou gekorigeer:
“Nie ek nie! God gee dié goeie antwoord vir u.” Ek het toe vir hom die hele betekenis van die koeie en die koringare verduidelik. Ek noem toe aan hom:
“U het maar net een droom gehad. Wat God wil doen, het Hy aan u meegedeel. Die sewe mooi koeie is sewe jaar en die sewe mooi are is sewe jaar. Dit is maar een en dieselfde droom. Die sewe maer, lelike koeie wat daarna uit die rivier gekom het, en die sewe skraal are wat deur die oostewind verskroei is, is ook sewe jaar, sewe jaar hongersnood.
Daar sal in die hele Egipte sewe jaar groot oorvloed kom. Dan breek daar sewe jaar hongersnood aan. Die mense sal die voorspoed wat daar in die hele Egipte was, vergeet en die hongersnood sal die land op sy knieë bring. “
Jy moes die bekommerde uitdrukking op die farao se gesig gesien het. Hy kan nie glo wat hy hoor nie.
“Josef brei ‘n bietjie verder uit oor wat hierdie droom alles behels. Ek is bekommerd maar ek wil alles hoor.”
“Ek sal dit met graagde doen u Majesteit. Die hongersnood sal so straf wees dat ‘n mens later niks meer van die oorvloed sal merk nie. Die droom het twee keer na u toe gekom omdat die saak vas staan by God. Hy sal dít binnekort uitvoer.”
Ek kon die teenwoordigheid van die Heilige Gees daardie dag in die paleis van die farao aanvoel. Met ‘n frons op sy voorkop vra hy vir my watter voorstel het ek in hierdie komende krisis.
“Ek beveel aan dat u ‘n verstandige en wyse man kies en hom in beheer plaas van die hele Egipte.
Die farao moet dit doen: u moet beamptes vir die hele land aanstel en die land tydens die sewe jaar van oorvloed behoorlik organiseer. Hulle moet al die graan van die goeie jare wat aan die kom is, insamel en dit in graanskure bêre en bewaak sodat daar kos tot u beskikking is.
“Die graan moet vir die land in reserwe gehou word, dit moet vir die sewe jaar van hongersnood beskikbaar wees in Egipte. Dan sal die hongersnood nie die land uitroei nie.”
Potifar wat my oorspronklik in die tronk gegooi het, het my teruggevat. Hy was ongemaklik en sy lyftaal het dit gewys. Hy moes haastig teruggaan om saam met die ander beamptes en die farao oor die pad vorentoe te beraad.
As dit was so heerlik om vir ‘n uur of wat buite die tronk kon rondbeweeg. My ou baard was ook af. Ek het so lekker skoon gevoel. Ek het die Here gedank dat Hy vir my met ‘n profetiese gawe toebedeel het. Die gevangenisse was bly om my weer te sien, en ek was bly om hulle ook weer te sien.
Ek het opnuut my lot in die tronk aanvaar en vir die Here gevra om my lot te aanvaar en my te help om altyd vergewensgesind te wees. Hy is my leidsman en Hy sal my lei al is dit ook net in hierdie tronk waar ek al drie jaar sit.
Terwyl ek nog ‘n nag in my tronksel deurgebring het, het ek gewonder hoe dit met die voorstel gaan wat ek voorgestel het. Ek het ook gewonder of ooit weer van die farao sal hoor. Miskien mag hy weer vra om verder oor die plan uit te brei wat ek voorgestel het. Dit was nie lank daarna nie, of Potifar daag weereens by die tronk op. Onthou omdat hy oor hierdie tronk deur die farao aangestel is, is hy die enigste een wat die magtiging het om een van ons te ontslaan of tydelik uit te neem.
Toe ek met ‘n gebaar van eerbied voor die groot vergadering verskyn, het farao weer begin praat. Hierdie keer nie met ‘n frons op sy voorkop nie. Toe ek hoor wag hy sê het ek amper in ‘n beswyming gegaan.
“God het jou dit alles bekend gemaak. Daaruit is dit duidelik dat niemand soveel verstand en wysheid as jy het nie. Ek stel jou aan oor my paleis. My volk moet jou gehoorsaam. Net ek sal meer mag hê as jy.”
Die farao het verder nog vir my gesê: “Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipte.” En weet jy wat hy toe doen?
Hy haal sy seëlring af en steek dit aan my vinger. Hy het selfs virmy linneklere laat aantrek en ‘n goue ketting om my nek gehang. Hy het my ook op sy tweede beste wa laat ry. Ek kan nie vir jou beskryf hoe pragtig mooi daardie koets gelyk het nie. Daar is voor my uitgeroep: “Betoon hom eer!” Kan jy dit glo. Ek die tronkvoël is oor die hele Egipte aangestel.
Farao het ook vir my gesê: “Ek bly die farao, maar sonder jou toestemming mag niemand in Egipte ‘n vinger verroer of ‘n voet versit nie.”
In my verbeelding sien ek hoe die farao vra of daar iemand is wat inligting oor my doen en late kan gee. Hy het geweet Potifar was die hoof van die tronk waarin ek opgesluit was. Wat se verslag dink jy het hy vir farao gegee?
Onthou ek het vir tien jaar vir hom gewerk en vir drie jaar in sy tronk deurgebring. Daar het hy my ook gebruik om sekere pligte na te kom.
Ek wil nie oor my goeie hoedanighede praat nie. Maar as ek nie deur die genade van Here ‘n toegewyde onselfsugtige lewe gelei het nie, sou ek nooit hierdie geweldige verantwoordelike aanstelling gekry het nie.
My liewe vriend ek weet nie hoe haglik jou omstandighede is nie. Ek weet nie hoe sleg mense jou behandel het nie. Ek weet nie hoe dit met jou in jou emosionele tronk vaar nie. Maar hier is my raad. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Laat toe dat die liefde van die Here jou lewe beheer. My gebed is dat jou tronkondervinding jou na ‘n paleis van eer sal neem.
Ek het jou reeds van Potifar se romantiese vrou vertel. Selfbeheersing bring eer, selfbevrediging bring oneer. Ek het dit ervaar. Ek was soos enige ander normale man. Daar was ook by my ‘n behoefte aan ‘n lewensmaat. Maar dit moes die Here vir my wys. Daar was nie eers dames in ons tronk nie en ek het nie geweet hoe hierdie droom van my ooit sou uitkom nie.
Kom ek vertel jou hoe dieselfde farao hierdie behoefte van my vervul het. Hy het my sommer ‘n nuwe naam gegee. Nie tronkvoël nr. 13 nie, maar Safenat-Paneag. Die betekenis van my nuwe naam is baie interessant: “Die Here spreek dat ek mag lewe.” Maar dit het nie net op my betrekking nie, maar ook op die farao en die hele volk.
My aanstaande se naam was Asenat, dogter van Poti-Fera priester van On. Faro moes natuurlik eers met haar pa oor sy voorstel gepraat het. Hy moes al my positiewe hoedanighede aan hom verduidelik het. Dis ook heel moontlik dat hierdie priester met met sy naamgenoot, Potifar, by wie ek vir tien jaar gewerk het, gesels het.
Ek was dertig jaar oud toe ek in die diens van die farao die koning van Egipte getree het. Ek is van die farao af weg en het die land deurgegaan, die hele Egipte. En terwyl ek hierdie lang afstande afgelê het, het ek aan die goedheid van die Here gedink.
My ysterkettings in die tronk, is met goues in die paleis vervang. My tronklere is uitgetrek en ek het pragtige koninklike fyn linne aangetrek. My sel is met ‘n paleis vervang; ek het Potifar my vorige baas, se baas geword; die geklank van my tronkketings is met die klank van “Bring home eer!” vervang.
Soos die Here my deur my hele lewe gelei en ondersteun het, het hy my met die bestuur van die grootste noodkrisis van my tyd gelei.
Ag ek moet julle vertel van die ou seuntjies wat reeds voor die jare van hongersnood begin het, vir my en Asenat gebore is. Die eerste outjie is Manasse genoem, “want,” het ek gesê, “God het my alles laat vergeet: al my swaarkry en alles wat my familie my aangedoen het.”
En toe bring die Here vir ons nog ‘n ou seuntjie. Ek het hom Efraim genoem, “want,” het ek gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek verneder is.”
Na die sewe jaar voorspoed in Egipte het die sewe jaar hongersnood begin soos ek dit destyds aangekondig. In al die lande was daar hongersnood, maar in die hele Egipte was daar kos,
want toe die hongersnood Egipte tref en die mense vir die farao kos vra, het hy vir al die Egiptenaars gesê: “Gaan na Josef toe en doen wat hy sê.” Oor die hele wêreld was daar hongersnood, en toe dit straf word in Egipte, het Josef die graanskure oopgesluit en wat daarin was, aan die Egiptenaars begin verkoop. En toe die hongersnood straf word in die ander lande, het die mense van die hele wêreld Egipte toe gekom om koring te koop by Josef.
Volgende keer gaan ek vir julle vertel wat gebeur het toe my broers hier kom koring koop het.
Hoe reageer mens wanneer jou voornemende moordenaars ewe skielik hier voor jou verskyn?
Wat se emosies dink jy het ek ervaar?