Skriftuur: Markus 5:18,19
Dertien mans is besig om dieselfde roete terug te roei as wat hulle ‘n uur of wat vante vore geroei het.
Gedurende die 24 uur wat hulle wakker is, het hulle ontsettend baie beleef.
STORM OP DIE SEE
Die vorige nag het hulle gesien hoe Jesus die storm stilgemaak het. Hulle sal nooit daardie gesig vergeet nie. Hulle het Hom wakker gemaak en vir Hom vertel dat hulle besig was om te vergaan.
Hy het opgestaan. Sy hande omhoog gehou, die storm bestraf, en toe het daar ‘n hemelse kalmte oor daardie waters gekom.
STORM OP LAND
Maar die wonderwerk wat sopas plaasgevind het, sal hulle ook nooit vergeet nie.
Kom ons luister hoe hulle gesels:
JOHANNES PRAAT
“Jy weet Petrus.” sê Johannes, “Toe daardie twee mal ouens op ons afgestorm het, het ek my boeglam geskrik. Ek het gedag dis ons laaste dag op aarde. Het jy mooi gekyk hoe hulle gesigte gelyk het? Dis die naaste aan twee duiwels wat ek in my hele lewe gesien het.”
“Jy weet Johannes,” sê Petrus. ”Jy ken my as ‘n ou wat nie bang is nie. Maar toe daardie ouens op ons afstorm het ek laat spaander. Ek het nie kans vir hulle gesien nie. Toe ek so omkyk sien ek net hoe hardloop julle ouens soos ek julle nog nooit sien hardloop het nie. Dis nie net ek alleen wat my asvaal geskrik het nie. Ek glo aan die spreekwoord wat sê: Bang Jan is beter as Dooie Jan.”
JAKOBUS PRAAT
Jakobus is die volgende wat praat:
“Wat vir my fantasties was, was om te sien met watter spoed die twee duiwelbesetenes teen die berg afgehardloop het. Net toe ek dink hulle gaan Jesus uit die grond uit hardloop, steek Hy Sy hand op en die twee malles skop ankers vas. Sjoe. Ek sal dit nooit vergeet nie.”
Jare later het Petrus vir jong Markus gevra om die verhaal van die genesing van die besetenes van Gadara neer te skryf. Petrus het net van die een, die heel malle vertel want hy het ‘n onuitwisbare indruk op Petrus gelaat.
Markus 5:15 Toe hulle by Jesus kom en die besetene in wie die baie bose geeste was, daar sien sit met sy klere aan en by sy volle verstand, het hulle groot geskrik.
ANDREAS PRAAT
Terwyl Andreas die roeispane beweeg, begin hy te praat:
“Weet julle ouens wat my nou die meeste beïndruk het? Nadat ek my uitasem gehardloop het, het ek teruggekyk en die twee besetene by Jesus gesien.
“Hulle was soos lammetjies in Sy teenwoordigheid. Toe ek nader stap het ek na hulle voorkoms gekyk. Nog nooit in my hele lewe het ek sulke gedrogte gesien nie. As Charles Darwin hulle moes raakloop sou hy sê hulle is die twee vermisde skakels tussen mens en dier.
“Maar nadat Jesus die duiwels uit hulle gedryf het, het ek ‘n ongelooflike verandering ten goede in hulle gesien.”
Kom ek lees vir u ‘n ander ooggetuie se verslag oor die verandering wat in hierdie twee se lewens plaasgevind het:
“Hulle verstand is verlig. Hulle oë het intelligent geglinster. Hulle gesigte wat so lank deur die beeld van die Satan misvorm is, het skielik sag geword. Die bloedbevlekte hande was stil. Met blymoeldige stemme het hulle God oor hulle verlossing verheerlik”. – Die Koning van die Eeue, bld. 297
Andreas praat verder:
“Ek onthou hoe die eienaars van die verdrinkte varke vir ‘n lang ruk stip na die twee mans gekyk het. Hulle kon net nie glo dat hierdie duiwelbesetenes so kon verander het nie.
“Ek het hulle fyn dopgehou. Nadat Jesus die duiwels uit hulle gedryf het, het hulle ‘n nuwe menswaardigheid geopenbaar. Hulle was weer in beheer.
“Kêrels ons is baie bevoorreg om saam met ons Wonderbaarlike Messias te kan werk. Hy het so ‘n passie vir mense. Niemand het hulle aan daardie twee mal ouens gesteur nie. Jesus neem ons deur ‘n vreeslike storm om by hierdie twee wrakke uit te kom en hulle te genees.”
JUDAS PRAAT
Judas het ook iets gesê. Raai waaroor het hy gepraat?
“Dit het my hart gebreek toe ek daardie twee duisend varke in see sien verdrink het. Ek het net gewonder of ‘n mens hulle nie liewer op ‘n vendusie kon verkoop het en die geld vir armes kon gee nie.”
JESUS WORD WEGGESTUUR
Terwyl Markus vir Petrus wag om die verhaal van die genesing van die besetene verder te dikteer, is daar ‘n tikkie hartseer in Petrus se stem.
Kom ons lees waarom:
Markus 15:16,17 Die wat alles gesien het, het vir hulle vertel wat met die besetene gebeur het, ek ook van die varke. Hulle het toe by Jesus daarop aangedring om uit hulle gebied uit weg te gaan.
Miskien het Markus vir Petrus oor hierdie eienaardige optrede van die mense van Gadara uitgevra.
“Ou seun. Hierdie heidene was meer besorg oor varke as oor mense. Hulle het baie goed geld gemaak met die verkoop van varkvleis aan die mense van Dekapolis. Soos jy weet was dit heidense gebied. Die klompie Jode wat daar gebly het, het hulle geloof asgevolg van Hellenistiese invloede versaak en saam met die heidene varkvleis geëet.”
Markus wil by oom Petrus weet wat Jesus gemaak het toe hulle Hom gevra het om pad te gee.
“Jy weet Markus. Jesus het nooit iemand ‘n vuil kyk gegee nie. Met ‘n mooi glimlag en ‘n hoflike groet het Hy na die skuit toe gestap en ons het weer begin roei.”
DIE BESETENE SE VERSOEK
Markus wou by Petrus weet wat met die besetene gebeur het toe Jesus in die skuit geklim het. Petrus sê vir Markus om die volgende woorde neer te skryf:
Markus 5:18,19 Toe Jesus in die skuit klim, het die man wat van die duiwel besete was, by Hom daarop aangedring om saam met Hom te gaan. Jesus het hom dit dit egter nie toegelaat nie maar vir hom gesê: “Gaan na jou huis, na jou mense toe, en gaan vertel vir hulle wat die Here alles vir jou gedoen het en dat Hy jou jammer gekry het.”
JOHANNES PRAAT MET SY BROER JAKOBUS
Johannes praat met sy broer Jakobus.
“Jy weet ou Jakes. Ek het die geneesde besetene van Gadara verskriklik jammer gekry toe hy vir Jesus gevra het of hy nie saam met Hom kon gaan nie. Het jy gesien hoe hy Jesus aangehou smeek en smeek en smeek het. Op ‘n stadium het hy Jesus aan die arm vasgehou. Toe ons in die boot klim, wou hy met alle geweld ook saam met ons inklim.”
Die twee broers kyk hoe hierdie geneesde man vir hulle aanhou waai. Kort kort vee hy trane af en dan waai hy weer en weer en weer.
JAKOBUS PRAAT MET SY BROER PETRUS
Nou praat Jakobus weer met sy broer Johannes.
“Jy weet ou Jo. Jesus het darem ‘n mooi manier om met mense te praat. Ek het gaan luister wat Jesus alles vir hom gesê het. Kom ek vertel jou die presiese woorde wat Jesus gesê het:
“Luister Alex. Soos jy weet is die Jode julle heidene nie baie goedgesind nie. As jy nou saam met My sou gaan kom, sal dit vir my baie moeilik wees om vir mense van die goeie nuus van die liefde van God die Vader te vertel.
“En Alex. Vir jou gaan dit nog moeiliker wees. Die Jode gaan nie na jou luister nie. Jy mag lateraan heeltemaal moedeloos word.
“Kom ek maak ‘n ander voorstel. Gaan jy en jou maat wat saam met jou genees is, nou dadelik na julle eie huise toe. Jou vrou en kinders het by jou skoonouers gaan intrek. Hulle sal hulle oë nie glo as jy daar aangestap kom nie.
“Gaan vertel vir hulle wat met jou gebeur het. Vertel vir hulle van die liefde van Goddie Vader. En as jy klaar is met hulle, dan gaan vertel jy vir die mense in die dorp van jou genesing. En as jy daar klaar is, gaan vertel jy vir die mense in die ander nege stede van die Dekapolis van die goedheid van die Here.
“Alex. Kom Ek maak vandag ‘n afspraak met jou. Dis nou Augustusmaand. Volgende Julie is ek terug en dan wil ek hê jy moet al die mense met wie jy gewerk het by hierdie selfde plek bymekaar maak. Op daardie stadium gaan ek vir ‘n dag of twee saam met julle deurbring en julle nog baie meer van My hemelse Vader se liefde vir sondaars vertel.
“Hoe klink dit vir jou Alex?”
ALEX AANVAAR JESUS SE OPDRAG
Ek dink Markus was baie opgewonde toe Petrus vir hom hierdie merkwaardige verhaal vertel het.
“Sê my oom Petrus. Het Alex toe geluister na wat Jesus vir hom gesê het om te doen? Vertel my gerus dat ek dit kan neerskryf. Ek is seker die mense wat hierdie verhaal gaan lees, gaan dit net so interessant vind as wat ek dit nou vind.”
Kom ons hoor wat het Petrus vir Markus gevra het om te skryf:
Markus 5:20 Hy het toe gegaan en deur die hele Dekapolis begin bekend maak wat Jesus alles vir hom gedoen het. Almal was verbaas daaroor.
ALEX DIE EVANGELIS
Baie keer hoor jy mense sê dat hulle nie vir die Here kan werk nie, want hulle is nie opgelei nie.
Een van die effektiefste maniere om vir Hom te werk, is om vir mense te vertel wat Hy vir jou gedoen het. Geen preek het soveel krag as iemand se persoonlike getuienis nie.
In my verbeelding kan ek sien hoe Alex vir sy vrou en die nuuskierige bure vertel wat met hom gebeur het.
“Weet julle. Ek staan die oggend op en die duiwels begin soos gewoonlik hier binne in my te skreeu. Toe ek by die graf uitstap, sien ek mense wat so pas met hulle bootjies vasgemeer het.
“Iets hier binne in my sê ek moet op hulle afstorm en vernietig. Julle ken daardie steil afdraende vanaf Gadara tot by die see van Galilea. Ek is met ‘n spoed daar af. Ek sien net hoe spat die mense uitmekaar.”
“Behalwe vir een Man. Ek maak dit toe vir Hom. Die oomblik toe ek dink ek duik Hom van die aarde af, steek Hy Sy hand op. Wat toe gebeur het, kan ek nie mooi vir julle verduidelik nie. Dit was asof ‘n bonatuurlik mag my spoed breek en toe en weer sien is ek voor hierdie Man se voete.
“Ek kan agterkom Hy was nie soos ‘n gewone mens nie. Voor Ek vir Hom kon vra om my asseblief van die klomp duiwels te verlos wat my besit het, het hulle hier in my binneste begin skreeu.
“Toe het Hy iets gedoen wat ek nooit sal vergeet nie. Hy het die duiwels uit my uitgedryf. Ek kan julle nie vertel watter heerlike verlossing dit was.
“Ek wou vir altyd by hierdie Jesus bly, maar Hy het my gevra om vir julle te kom vertel wat Hy vir my gedoen het. Voordat die eienaars van die versuipte varke Hom gevra het om ons gebied te verlaat, het Hy my beloof dat Hy ons weer kom besoek.
“Ek nooi julle uit om die eerste week van Julie by Gadara te wees want dit is daar waar Hy ons gaan ontmoet.
“Al wat ek julle vra is om net te kom en Hom met julle eie oë te kom sien. Julle sal nooit weer dieselfde wees nie.”
DIE WERK VAN TWEE MANS
Wanneer ek plekke soos Damaskus, Jerasj, Bet-San, Amman, Umm Qais besoek wat vroeër deel van die Dekapolis was, die tien stede, dink ek aan die sendingwerk wat hierdie twee manne onder hulle mede heidene gedoen het.
Die dag toe Jesus na hierdie heidense gebied teruggekeer het, was daar 4000 mans wat na Hom kom luister het. Dis nou behalwe die vrouens en kinders.
JESUS KEER TERUG NA DIE GEBIED VAN DEKAPOLIS
Na ongeveer ‘n jaar het Jesus teruggekeer na Sy geneesde twee vriende. Maar voor dit het Hy eers na Tirus toe gestap waar Hy ‘n heidense vrou se dogtertjie genees het. Die kind was ook van ‘n bose gees besete.
Wat ‘n bedagsame Heiland wat so verskiklik vêr stap om ‘n eenvoudige vrou se kind te gaan genees.
Daarna het Hy Dekapolis binnegekom en ‘n doofstom man met ‘n spraakgebrek genees.
Ek glo Hy het kort kort in hierdie heidengebied boodskappe na Alex en sy maat gestuur om te sê dat Hy op pad is.
JESUS ONTMOET VIR ALEX
Dit was darem ‘n heerlike dag toe Jesus en Alex mekaar weer ontmoet het. Ek dink Hy het Jesus baie lank vasgehou.
“Meester. Ek en my vriend het baie hard gewerk om ‘n klomp mense bymekaar te kon kry. More gaan hulle hier wees. Daar is duisende wat my beloof het hulle kom. Ek hoop net hulle kom almal.”
Die volgende dag het die mense begin opdaag. Jesus staan en kyk hoe die skare nader stap. Ou Alex is so opgewonde hy kan dood gaan.
“Kom ek stel julle aan Jesus voor. Dis Hy wat hierdie ou mal Alex gesondgemaak het. Hy is gewillig om julle van enige kwaal te genees.”
DIE EERSTE DAG
Die mense stroom na Jesus. Toe almal op die grond gaan sit het, het Jesus met sy preek begin. Die heidene se monde hang oop.
Ek wonder of die eienaars van die versuipte varke ook teenwoordig was.
Aan die einde van die eerste dag het die mense nog nie genoeg van Jesus se boodskappe gehad nie.
DIE TWEEDE DAG
Die tweede dag moes Jesus nog vir preek. Die mense kan net nie genoeg kry nie.
Die een man van Damaskus sê vir iemand van Daara. “Weet jy wat. Ek het net kos vir twee dae ingesit en ek verstaan dat Jesus more vir die derde dag ook nog gaan preek. Wat gaan jy maak? Ek het gedink ek bly maar al moet ek die hele ent pad met ‘n honger maag huistoe loop.”
Markus 8:1-3 In daardie selfde tyd was daar weer ‘n keer ‘n groot menigte mense by Jesus, en hulle het niks gehad om te eet nie. Hy roep toe sy dissipels nader en sê vir hulle: “Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie. As Ek hulle nou sonder kos huis toe stuur, sal hulle langs die pad beswyk. Party van hulle kom van ver af.” Maar die dissipels sê vir Hom: “Waar sal ‘n mens in hierdie verlatenheid genoeg brood vir hulle kan kry?”
So ‘n ruk gelede het Jesus ‘n skare van 5000 mans, behalwe vir vrouens en kinders aan die ander kant van die meer gevoed. Eintlik moes hulle vir Jesus gevra het om maar weer ‘n wonderwerk te verrig en brood en vis vermeerder.
Pleks daarvan probeer hulle om menslike planne uit te dink om te gaan brood koop. Miskien het Jesus net Sy kop geskud en geglimlag en toe vir hulle gevra:
Vers 5-9 Hy vra hulle toe: “Hoeveel brood het julle?” “Sewe,” antwoord hulle. Toe gee Hy die mense bevel om op die grond te gaan sit. Nadat Hy die sewe brode geneem en God gedank het, het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee om uit te deel, en hulle het dit aan die mense voorgesit. Hulle het ook ‘n paar vissies gehad; en nadat Hy die seën gevra het, het Hy gesê hulle moet dit ook uitdeel. Die mense het geëet en genoeg gekry. En hulle het nog sewe mandjies vol bymekaargemaak van die die stukke wat oorgebly het. Daar was omtrent vier duisend mense. Daarna het Hy hulle huis toegestuur.
JESUS PRAAT
“Alex. Het jy ‘n les in die vermeerdering van die brood en vis geleer?
“Jy het jou bietjie ondervinding met My geneem het en na ander geneem. En kyk net na hierdie groot skare mense wat na My kom luister het.
“Iemand het die bietjie kos wat hulle gehad het vir My gegee en kyk net hoeveel duisende mense is gevoed.
“Onthou net Alex. Dit wat jy in toewyding na My bring, word deur My seën vermeerder.”
DIE HIERNAMAALSFEES
“Alex. Oor ‘n rukkie gaan ek aan die kruis van Golgotha sterf. En omdat ek gaan sterf, sal jy kan leef. En Alex as jy aan My getrou sal bly tot die dood toe, gaan ons mekaar weer eendag sien.
“Ek gaan vir jou ‘n pragtige woning in die nuwe Jerusalem voorberei. En as Ek daarmee klaar is, kom Ek jou haal.
“Maar voordat jy in jou hemelse woning gaan bly, gaan ons eers ‘n heerlike feesmaal saam geniet. Alex. Mag dit wees dat baie van die mense wat jy hier op aarde bearbei het, eendag saam met jou aan daardie tafel sal sit.”
In die hemel gaan ek vir Alex opsoek. Ek gaan hom vra om sy hele verhaal aan my oor te vertel. En saam gaan ek en Alex Jesus deur die ewigheid loof omdat Hy gekom het om sondaars soos ek en Alex te red.
e-pos Navrae na questions@amazingdiscoveries.co.za