1. Home
  2. Ecce homo
  3. DIE EMMAUSGANGERS:  TOE IS HULLE OË GEOPEN

DIE EMMAUSGANGERS:  TOE IS HULLE OË GEOPEN

“Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. 31Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. 32Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”~ Lukas 24:30- 32

I met him at the crossroads, a man with but a cloak and a staff… there was a silence and a mystery in him… And when he left us after three days we did not feel that a guest had departed, but rather that one of us was still out in the garden and had not yet come in.” ~ Kahlil Gibran, The Wanderer

Op die paaie van die lewe begin baie van ons diepste ontmoetings.

Khalil Gibran beskryf in The Wanderer  van ’n vreemdeling wat onverwags opdaag in sy lewe.  ’n Man met slegs ’n mantel en ’n staf, die littekens van pyn en ontberings duidelik sigbaar, maar hy is die draer van ’n stilte en ’n misterie wat nie geïgnoreer kan word nie.

Die verteller van die verhaal nooi hom as gas saam na sy huis toe waar hy hartlik verwelkom word en saam met die familie aan die tafel sit.  Die vreemdeling deel die verhale van al sy omswerwinge, ervaringe van lyding en volharding op die pad waarlangs hy gekom het.  Wanneer die vreemdeling na drie dae vertrek bly daar ‘n bewuste teenwoordigheid agter.  Vir almal voel dit of die gas hulle nooit verlaat het nie, maar asof iemand wat behoort, nog net buite is, steeds tasbaar, naby, maar onsigbaar.

EMMAUSGANGERS:

Hierdie verhaal resoneer met Lukas 24 waar ons lees van die gebeure op die pad na Emmaus die Sondagaand na Jesus se opstanding. 

In hierdie verhaal ontmoet twee dissipels ook ’n vreemdeling op die pad.  Dit is ‘n lang en hartseer pad, sowat 12km vanaf Jerusalem na Emmaus. 

Hulle is verward, hulle harte is vol vrae, hulle is baie onseker en teleurgesteld oor die gebeure wat die afgelope Pasga afgespeel het.  Hulle was in Jerusalem om die Fees van Ongesuurde brode te vier soos die wet van Moses dit voorgeskryf het.  Hierdie pelgrims fees het die Jode herinner aan hulle Verlosser.  Dit was ‘n tyd van offerandes en nuwe hoop vir hulle.  Ongelukkig het baie tragiese gebeure afgespeel en in plaas van bevryding het hulle die kruis gesien; in plaas van ’n triomferende Messias wat hulle verlos van die Romeinse juk, ’n graf.

Met swaar harte verlaat die twee dissipels Jerusalem waar hulle hoop begrawe lê.

‘N VREEMDELING SLUIT AAN BY DIE REISIGERS:

In hierdie omstandighede op pad terug na hul tuisdorp, sluit ’n vreemdeling by hulle aan.  Die Emmausgangers ontvang Jesus as ’n reisgenoot, nie wetende dat die Verlosser self was wat saam met hulle gestap het nie.  Hierdie vreemdeling is onbewus van die gebeure soos dit beskryf word in Luk 24 vanaf vers 19:

Kleopas en sy mede-reisiger antwoord Hom en vertel van Jesus van Nasaret, die Profeet van die Here, wat deur die geestelike leiers Hom oorgelewer het om gekruisig te word, en hoe hul eie hoop saam met Hom aan die kruis gesterf het.  Hulle het verwag dat dit Hy is wat Israel uit Romeinse onderdrukking sou verlos het.  Maar nou, op die derde dag, waartydens die Fees van Eerstelinge gevier word is alles baie deurmekaar.  Vroue uit hulle groep was na die tuingraf toe vroeg in die oggend, maar Jesus se liggaam was nie meer daar nie.  Die graf was leeg.  Die vroue het getuig dat engele sê dat Hy uit die dood opgestaan het en van die ander dissipels wat bevestig het dat hulle Hom wel gesien het.  

** Net so ontmoet Jesus ons ook op die hartseer, verwarde paaie in die lewe.  Hy kom na ons toe om saam met ons te stap.

Die twee reisigers twyfel tussen geloof en verwarring, daar is ‘n spanning tussen wat hulle gehoop het, wat hulle gesien het, en wat werklik nou gebeur het.

JESUS VERDUIDELIK DIE SKRIFTE:

Jesus onderbreek hulle mismoedige gesprek.  Hy wys hulle op die traagheid van hulle geloof, hulle geestelike blindheid wat die Skrifgetuienis verduister het.

Lukas 24:25  Toe sê Hy vir hulle: “Wat ‘n gebrek aan begrip en wat ‘n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? 

Met hierdie woorde ontbloot Jesus die dieper probleem, hulle ken die Skrifte, maar glo dit nie ten volle of verstaan dit nie ten volle nie.  Hulle het die profesieë oor die Messias selektief gelees, volgens hulle eie verwagting en interpretasie.  Die probleem was nie ’n gebrek aan inligting nie, maar ’n traagheid van geloof, ’n hart wat sukkel om die Here se plan te vertrou wanneer dit anders lyk as menslike verwagtinge.

**  Jesus identifiseer ook die probleem in ons lewe.  Is ons ook soms geestelik blind en interpreteer net die Skrifte volgens ons eie paradigma en verwagting?

Volgens die Skrifte en die profesieë moes die Messias ly, dit was nie ’n tragedie nie, maar die beplande, voorsiende Goddelike weg tot heerlikheid nog voor die skepping van die aarde.

“Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom.” ~ 1 Petrus 1:20

Op die pad na Emmaus, as Leermeester van die Skrifte, stap Jesus saam die pad en verduidelik Hy verder hoe al die profete en elke profesie, elke belofte uiteindelik na Hom lei. Onder sy uitleg begin die Skrif vir hulle leef; die ou verhale nuut en betekenisvol word.

**  Die Emmausgangers se woorde weerspieël ons eie hopeloosheid en wankelende geloof.  Soms maak ons eie omstandighede nie sin nie, maar bring verwarring.  Die Here ken ook al ons gedagtes.  Daar staan in Psalm 139:4:

“Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.”

Sy ingryping wys ons dat ongeloof dikwels nie ’n gebrek aan kennis is nie, maar dat ons soms geestelik blind is en gebrekkig is aan openbaringskennis. As ons die Skrifte ondersoek kom ons tot die besef dat ons verhale binne Sy groter plan is om ons wanhoop te laat verdwyn. Daarom bely ons saam met die profeet:

“Ek weet, Here, die mens kan nie self sy pad kies nie, niemand kan self sy koers bepaal nie.”   ~ Jeremia 10:23 

AANKOMS BY EMMAUS:

Toe hulle Emmaus nader, skep Jesus die indruk dat Hy sy reis wil voortsit, maar hulle dring by Hom aan om by hulle te bly, waarna Hy die uitnodiging aanvaar.

** Nooi ons ook Jesus in om by ons te kom eet en oorbly, of is Hy steeds net vir ons ‘n Vreemdeling op pad om ‘n ander plek?

Rondom die tafel, in die stilte van die aand, vind ’n heilige oomblik plaas. Jesus neem die brood, Hy seën dit, breek dit, en gee dit aan hulle. In hierdie eenvoudige gebaar breek ’n nuwe wêreld vir hulle oop. Die skubbe val van hulle geestelike oë af, hulle oë was geopen en die Vreemdeling erken hulle as die Verrese Here.  En tog, net toe hulle Hom herken, verdwyn Hy uit hulle sig. 

Met hierdie woorde wys Jesus nie net die Emmausgangers tereg nie, maar ontbloot Hy ’n dieper probleem: hulle het die Skrif geken, maar dit nie ten volle geglo of reg verstaan nie. Hulle het die profesieë oor die Messias selektief gelees—met verwagting van heerlikheid, maar sonder ruimte vir lyding. Jesus se teregwysing is dus nie hard nie, maar liefdevol: Hy roep hulle om met ’n oop hart die volle raad van die Skrif te aanvaar. Die probleem was nie ’n gebrek aan inligting nie, maar ’n traagheid van geloof.  ’n Hart wat sukkel om die Here se plan te vertrou wanneer dit anders lyk as menslike verwagtinge.

Jesus kon Homself dadelik aan hulle geopenbaar het as die Messias, maar Hy kies om die Skrifte te openbaar.  Ons moenie ‘n teofaniese ervaring verwag nie, maar moet bid dat die Here deur Sy Heilige Gees vir ons die geskrewe woord openbaar dat ons tot kennis kan kom.

Soos Gibran se Wanderer, word Jesus eers herkenbaar vir die Emmausgangers as gas in hulle huis, in gesprek, teenwoordigheid, en uiteindelik by die breek van brood.

** As ons daagliks die lewende brood eet moet ons bid dat ons tot nuwe insigte kom en ons oë geopen word om waarheid te bring wat nuwe hoop bring en verwarring en ongeloof te laat wyk.

Die Emmausgangers was oorrompel deur die gebeure. Dan spreek hulle die woorde: 

“Het ons harte nie brandend geword toe Hy op die pad met ons gepraat en die Skrifte vir ons ontsluit het nie?”

TERUG NA JERUSALEM:

Jesus het die duisternis van hulle ongeloof verdryf.  Hierdie vurige herkenning dryf hulle onmiddellik terug Jerusalem toe om aan almal te verkondiging dat die Here werklik opgestaan het.  Wat as ’n droewige terugtog begin het, word nou ’n haastige pelgrimstog van vreugde.  Met nuwe krag staan hulle op en keer nog dieselfde aand terug na Jerusalem. Daar, tussen die ander dissipels, hoor hulle die bevestiging wat hulle reeds geweet het: “Die Here het regtig opgestaan; Hy het aan Simon verskyn!” En so voeg hulle hul eie getuienis by, hoe Christus Homself aan hulle bekend gemaak het in die verklaring van die Skrifte en aan tafel by die breek van die brood.

HULLE OË IS GEOPEN EN HULLE HET GEWEET

Hierdie woorde:  hulle oë is geopen en hulle het geweet” kry ons ook elders in die Skrif, dit is ‘n openbarings oomblik en neem ons terug na die tuin van Eden.

GESPREK IN EDEN:

In Genesis 3 ontmoet ons ook twee persone, Adam en Eva, wat onbewus van hul  kwesbaarheid en die skeiding wat sonde kan bring.

Satan verskyn as ’n vreemdeling,  die slang, vermom in nuuskierigheid met die doel om te mislei.  Hy bring twyfel en ongeloof en hulle beleef ook verwarring, et soos die Emmausgangers.  Die Here se Woord verdraai.

Ook hier word iets gegee om te eet. Die daad lyk eenvoudig, selfs onskuldig. Maar waar Jesus die brood breek om lewe te gee, word die vrug aangebied as ‘n uitnodiging tot ongehoorsaamheid aan die Here se opdrag, soos die slang dit sê in Gen 3: 5:  “sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.

Dan gebeur dit weer: “hulle oë het oopgegaan.”

Die effek hiervan is nie kennis wat vrede bring nie, maar skeiding, skaamte en vrees.

Hulle het nou die kennis van goed en kwaad sonder die vermoë   om dit te dra. Anders as die Emmausgangers, wat met brandende harte terughardloop Jerusalem toe, kruip Adam en Eva weg tussen die bome.

PARALLEL:

Die parallel is diep en aangrypend:

  • in beide verhale is daar ’n vreemdeling,
  • ’n gesprek,
  • ’n uitleg,
  • iets wat aangebied word om te eet,
  • die oopgaan van oë en
  • openbaringskennis.

Maar waar Genesis 3 eindig in vervreemding, begin Lukas 24 in herstel.

Die eerste maaltyd na die val bring skeiding; die maaltyd by Emmaus bring vereniging.

Die eerste oop oë sien hulself naak, hulle sonde en kwesbaarheid waar die Emmausgangers die verrese Here sien.

Die sondeval in Eden word in kontras gestel met die verlossingsverhaal by Emmaus.

Waar die mens in Eden deur misleiding die slang geglo het, die dissipels die korrekte interpretasie van die woord geleer om tot insig van die Skrifte te kom.

Waar die slang die Skrif verdraai het, verklaar Christus dit.

Waar die eerste Adam geneem het, gee die tweede Adam Homself.

VERLOSSINGSPLAN:

Die begin van die verlossingsplan lees ons reeds in Genesis 3:15 — die eerste evangelie, die proto-evangelium.

“Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Hy sal jou kop vermorsel, en jy sal Hom in die hakskeen byt.”

Hier, in die begin van alles, in Eden, word die Verlosser alreeds aan die mensdom belowe. Nie as ’n oorwinnaar sonder wonde nie, maar as Een wat sou ly. Die kop van die slang sou vermorsel word, maar teen ‘n baie duur prys.

Die pad na heerlikheid is die van lyding en pyn. Dit is hierdie waarheid wat die Emmausgangers gemis het, en wat Jesus vir hulle moes uitwys.

Soos Hy langs die pad met hulle begin gesels het uit “Moses (die Torah) en al die profete” besef ons dat die eerste skrif wat Jesus uit Genesis 3:15 aan hulle verduidelik het die inverse was van die gebeure wat hulle verward en hopeloos gelaat het.  Uit Genesis 3:15 weet ons dat Verlossing belowe was, maar is gekoop deur die bloed van Jesus aan die kruis, dit was die plan van voor die Skepping af.

“Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom. Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig.” ~ 1 Petrus 1:18-21 AFR83

Genesis 3:15 verkondig reeds aan die begin van die geskiedenis ’n belofte van hoop. Die slang sou die Verlosser se hakskeen byt , dit was ‘n werklike wond, maar die Verlosser sou die slang se kop vermorsel, ‘n finale oorwinning.

Satan kon Christus laat ly, maar hy kon Hom nie oorwin nie.

Juis waar dit gelyk het of die mag van die duisternis seëvier, het die Here se liefde en verlossingsplan oorwin. Die kruis was nie die einde nie, maar die keerpunt. Die wond was tydelik; ‘n ewige oorwinning.

So word die sirkel voltooi: van Eden na Emmaus, van verlore onskuld na herstelde hoop. Die vreemdeling in die tuin het gebring wat tot dood gelei het; die Vreemdeling op die pad het gebring wat lewe gee.

Wanneer ons met vrae worstel en na die waarheid verlang, laat die Here Hom vind. In ons verwarring kom Hy ons te hulp, net soos vir die Emmausgangers waar Hyself kom om die Skrifte te verduidelik, nie in ‘n teofaniese verskyning nie.  Dieselfde geld vandag vir ons, as ons uitroep sal Hy vir ons antwoord:

“As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”~ 1 Jacobus 1:5 AFR83

Jesus maak dit self duidelik in die gelykenis van die ryk man en Lasarus. Abraham sê daar dat selfs al sou iemand uit die dood opstaan, dit nie geloof sal bring nie as mense nie na Moses en die Profete luister nie. Met ander woorde: dit is nie ’n bonatuurlike verskyning wat harte verander nie, maar die Woord van die Here wat gehoor, verstaan en geglo word.

Maar hy sê vir hom: ‘As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan.” ~ Lukas 16:31 AFR83

Daarom is die Skrif genoeg, en dit is presies waarom Jesus op die Emmauspad die Skrifte verduidelik.

Ons sien dieselfde verhaal weer in Handelinge 8.

DIE ONTMANDE ETIOPIËR

Die Evangelie is nie net vir een volk of een nasie bedoel nie.

Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, 35maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is. 36Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal.”  ~ Handelinge 10:34-36

Wat op die Emmauspad begin het met twee teleurgestelde dissipels, beweeg nou verder, na mense wat ver weg en uitgesluit was. Die goeie nuus reik uit na almal wat na die Here soek.

Handelinge 8 vertel vir ons van ’n man uit Etiopië, ’n hoë amptenaar, ’n skatmeester in diens van Kandake, die koningin van die Etiopiërs.

Hy was nie ’n Jood nie, maar ’n Godvresende, ontmande heiden, iemand wat die Here van Israel gesoek het. Volgens die wet van Moses (Deut. 23:1) sou so iemand nie volle toegang tot die tempel se aanbidding hê nie. Hy kon nie volkome insluit word nie, al was sy hart opreg.

Hierdie man het ’n lang reis aangepak om die Here te soek. Hy het van Etiopië af na Jerusalem gekom, ’n reis van honderde kilometers, waarskynlik om dieselfde fees as die Emmausgangers te vier, die Fees van Ongesuurde brode.

Maar ook sy pelgrimstog het nie aan sy verwagtinge voldoen nie. Die tempel, wat ’n plek van ontmoeting moes wees, het moontlik vir hom ’n plek van uitsluiting geword. Geen Skrif sê dit eksplisiet nie, maar die konteks laat ruimte vir hierdie pynlike moontlikheid: dat hy weer op pad huis toe is, verward, hartseer en teleurgesteld, met meer vrae as antwoorde.

Soos die Emmausgangers, begryp hy nie die Skrifte nie. 

Hy lees uit Jesaja 53, die lydende Kneg:  “Hy is soos ’n skaap na die slagplek gelei…”
Hier sien die Here weer die verwarring en die opregte hart en Hy stuur sy boodskapper Filippus op die Gaza woestynpad.  Op pad terug na die fees en diep teleurgesteld, stil, afgesonder, sonder skares.

Net soos op die Emmauspad, loop die boodskapper saam, luister eers, en verklaar dan die Skrif. Begin by Jesaja, verkondig hy vir hom Jesus, die Een wat moes ly, die Een wat verwerp is, die Een wat gesterf het en opgestaan het.

Die patroon is onmiskenbaar:
– ’n verward reisiger
– ’n goddelike ontmoeting op ’n afgeleë pad
– die opening van die Skrifte
– ’n openbaring van Christus as die lydende Messias
– en dan ’n beslissende reaksie

Die Etiopiër se oë gaan oop — nie tot skaamte soos in Eden nie, maar tot vreugde en geloof. Hy sien water en roep uit:

Onderweg kom hulle toe by water aan, en die amptenaar sê: “Hier is water. Wat verhinder dat ek gedoop word?” ~ Handelinge 8: 36

Die vraag is aangrypend. ’n Man wat sy hele lewe lank gehoor het wat hom verhinder, hoor nou: niks verhinder jou nie. In Christus is daar geen uitsluiting meer nie.

Hy word gedoop, en dan gebeur iets wat ons reeds ken: Filippus verdwyn. Soos Jesus by Emmaus, word die boodskapper weggeneem, maar die geloof bly. Die Skrif sê:

“Die amptenaar het hom nie meer gesien nie en het sy reis met blydskap voortgesit.” ~ Handelinge 8: 39

Volgens vroeë Christelike geskiedenis het hierdie man waarskynlik die Evangelie terug gedra na Afrika.

  • Van Emmaus tot die woestynpad na Gaza sien ons dieselfde hart van God:
    Hy soek dié wat soek.
  • Hy ontmoet dié wat op pad is.
  • Hy verklaar Homself deur Sy Woord.
  • En Hy laat niemand weggaan sonder hoop nie.

Die Emmauspad is ’n reis wat elke gelowige moet aanpak. Dit is die pad van vrae en verwarring, waar Christus ons dikwels ontmoet soos Gibran se Wanderer — as ’n Vreemdeling wat stil saamloop en luister. Hy dwing nie herkenning af nie, maar maak eers die Skrif oop. Want dit is nie genoeg om te sien nie; die Woord moet verstaan word.

Wanneer die brood gebreek word en die Woord brand in die hart, gebeur dit weer: toe is hulle oë geopen. Wat eens verborge was, word duidelik. Wat eens hopeloos was, kry rigting. Die Vreemdeling word herken as die Lewende Here.

Al verdwyn Hy uit hulle sig, is Hy nie weg nie. Hy bly in die Woord wat oopgebreek is en in die harte wat verander is.

Toe is hulle oë geopen… en hulle het geweet.

Dr Saartjie Eksteen

Was this article helpful?

Related Articles