My lewe was so leeg sonder Dawid. Hy was so ‘n dierbare onselfsugtige vriend. Hier in die paleis het dit al hoe slegter met my pa gaan. Kom ek noem net een onaagename insident.
Nadat Dawid van Gibea gevlug het toe ek vir hom van my pa se moordplanne vertel het, het hy nie mooi geweet waarheen om te vlug nie. Arme Dawid. Hy kon nie na sy ouers vlug nie, want my pa sou hom daar kom uithaal het.
Hy het in Nob by die priester Agimelek gekom. Agimelek het Dawid ontsteld tegemoet gegaan en gevra: “Waarom is jy alleen? Waarom is daar niemand by jou nie? Waar is jou boesem vriebd Jonatan?” Pleks dat Dawid die waarheid vertel het, het hy vir Agimelek gelieg.
“Die koning het my ‘n opdrag gegee en gesê: ‘Niemand mag iets weet van die saak waarvoor ek jou stuur en wat ek jou beveel nie.’ Ek het my manskappe op ‘n sekere plek bestel. Maar nou iets anders: wat het u byderhand? Gee my tog vyf brode of net wat u beskikbaar het.” Die priester het Dawid geantwoord: “Ek het nie gewone brood byderhand nie, hier is net gewyde brood. As die manskappe hulle tog maar van vrouens weerhou het.”
Toe sê Dawid vir die priester: “Soos altyd wanneer ek gaan oorlog maak, is vrouens vir ons verbode en daarom is die liggame van die manskappe rein. Al is dit ook ‘n gewone onderneming, is die liggame vandag tog rein.”
Soos ek die storie onthou, het die priester toe aan hom gewyde brood gegee, want daar was nie gewone brood nie, net die offerbrood wat op ‘n bepaalde tyd uit die tempel verwyder word om dit deur vars brood te vervang. Een van my pa se slawe moes daardie dag in die tempel deurbring. Sy naam was Doëg. Hy was ‘n Edomiet, die hoof van my pa se veewagters.
Wat my vriend Dawid toe doen was om vir die priester te vra of daar nie ‘n spies of ‘n swaard in die tabernakel is nie. “Is hier nie miskien ‘n spies of ‘n swaard byderhand nie? Ek kon selfs nie eens my swaard of my ander wapens vat nie, want die saak van die koning was dringend.”
Die priester het hom geantwoord: “Die swaard van Goliat die Filistyn, vir wie u in die dal by die groot boom verslaan het, is hier, toegedraai in ‘n mantel agter die skouerkleed. Vat dit vir u as u wil, want in hierdie plek is daar niks behalwe hierdie een nie.” En Dawid sê toe vir hom dat daar nie nog so een is nie. En hy vat hom toe.
Hierná het Dawid nog meer aangejaag en dieselfde dag nog van my pa na Akis die Filistynse koning gevlug. Dit was ‘n baie moeilike tyd. Deels het ek my pa verantwoordelike gehou vir sy moordplanne. Ek het hom nogtans as my pa gerespekteer en vir my boesemvriend gebid. Maar toe tel hy nog meer moelikheid op.
Akis se amptenare het vir hom gesê: “Haai koning. Is dit nie Dawid, die koning van die land nie? Sing hulle nie vir hom in koordanse nie: Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!”
En toe maak arme Dawid nog ‘n groter gek van homself. Toe hy besef wat hulle sê, het hy baie bang vir koning Akis geword. Toe staan hy en maak of hy van sy lottjie getik was. Hy het hom voor die Filistyne waansinnig gehou, en terwyl hy by hulle was, het hy hom soos ‘n mal mens gedra. Hy het teen die deure van die poort gekrap en sy spoeg in sy baard laat afloop.
Gelukkig het Akis vir sy amptenare gesê: “Julle kan mos sien die man is mal. Waarom bring julle hom na my toe? Het ek behoefte aan mal mense dat julle hierdie een na my toe bring om by my mal te wees? Moet hý in my huis inkom?”
Op ‘n manier het my tydelike mal vriend ook uit daardie moeilike situasie ontspan. My vertouelinge het my vertel dat Dawid daarvandaan ontsnap en in die Adullamgrot gaan wegkruip. Elke keer as ek gehoor het hoe hy moes vlug, het ek ‘n stryd met my pa se wrede moordlus gehad. Maar dit was my pa en die Bybel sê vir my dat ek my ouers moet respekteer. En as jy in die selfde boodjie as ek verkeer, bid die Here om jou te help soos hy my gehelp het.
Toe ek weer van Dawid gehoor het, het sy broers en sy hele familie gehoor waar hy hom bevind het en toe daarheen na hom toe gegaan. Dit was nie maklik nie want sy ouer broers het nie juis ooghare vir hierdie boetietjie gehad nie.
Maar dan was daar nog ‘n ander sielkundige uitdaging vir my arme vriend Dawid gehad. ‘n Klomp mans wat uit disfunksionele huise gekom het, het na Dawid gedros. Elkeen wat in die moeilikheid was, en elkeen wat ‘n skuldeiser gehad het, en elkeen wat verbitterd was, by hom aangesluit, en hy het hulle leier geword. Daar was ongeveer vier honderd man by hom. Dit het baie geverg om hierdie klomp manne uit mekaar se hare te hou.
Die volgende ding wat ek hoor is dat Dawid daarvandaan na Mispe in Moab toe is. Hy het vir die koning van Moab gaan vra of sy ouers daar kan bly totdat hy sal weet wat die Here vir sal wys wat om te doen. Ek is seker sy ouers en familie het vir hom gesê dat hulle so ‘n klein bietjie rondgegooi word. Hulle het by die koning van Moab gebly so lank as Dawid in die bergskuiling was.
Ek so bly die profeet Gad het vir Dawid gesê hy mag nie in diehier skuiling bly nie. Hy het toe na Juda teruggegaan. Ek wil hê jy moet dink ek skinder nie, maar ek het nodig om jou van een van die hartseerste rampe van my pa vertel.
Terwyl hy in Gibea op ‘n hoogte onder ‘n tamarisk gehet met sy spies in sy hand gesit het en al sy amptenare by hom gestaan het, het hy verneem dat die mense weet waar Dawid en sy manne is. Hy het vir sy amptenare wat by hom staan, gesê:
“Luister tog, Benjaminiete! Sal die seun van Isai miskien ook vir julle almal velde en wingerde gee en julle almal aanstel as leiers van duisende en leiers van honderde? Julle almal het saamgesweer teen my. Niemand het my vertel dat my seun Jonatan ‘n verbond met die seun van Isai gesluit het nie. Niemand van julle het medelye met my nie. Niemand het my vertel dat my seun ‘n amptenaar van my teen my opmaak, sodat hy vandag vir my ‘n bedreiging is nie.”
Ag my pa het homself so jammer gekry en nou pak hy die skuld op my voordat hy op nog ‘n moordekspedisie uit was. Doëg die Edomiet het tussen die amptenare van Saul gestaan en hy het gesê:
“Ek het die seun van Isai gesien toe hy in Nob by Agimelek seun van Agitub gekom het. Agimelek het die Here vir Dawid geraadpleeg en vir hom padkos gegee. Agimelek het ook die swaard van die Filistyn Goliat vir hom gegee.”
Op grond van hierdie inligting het my pa die volgende misdaad gepleeg. Hy het die priester Agimelek, seun van Agitub, en sy hele familie, die priesters in Nob, ontbied, en hulle het almal na hom toe gekom. My pa sê toe: “Luister, seun van Agitub.” En hy het geantwoord: “Ek luister, U Majesteit.”
“Waarom het jy en die seun van Isai teen my saamgesweer toe jy vir hom brood en ‘n swaard gegee en God vir hom geraadpleeg het, sodat hy teen my in opstand kon kom en vandag vir my ‘n bedreiging is?”
Ek het gesien hoe daardie arme priester homself spierwit geskrik het. Hy sou oomblikke later ‘n lyk wees. Agimelek het die koning geantwoord:
“Maar wie van al u amptenare is so betroubaar soos Dawid, die skoonseun van die koning? Hy is die hoof van u lyfwag en geniet hoë aansien in u huis. Dit is in elk geval nie die eerste keer dat ek God vir hom geraadpleeg het nie. Die koning moet my en my hele familie nie van iets beskuldig nie, want ek het beslis niks van die hele saak af geweet nie.”
En toe hoor daardie priester die vreeslikste woorde wat ‘n mens kan hoor: “Agimelek, jy moet sterwe, jy en jou hele familie.” Toe beveel my pa die hardlopers wat by hom staan: “Pak hulle en maak dood die priesters van die Here, want hulle is aan Dawid se kant. Hulle het baie goed geweet dat hy vlug en hulle het my dit nie vertel nie.” Maar die amptenare van die koning wou nie ‘n vinger verroer om die priesters van die Here aan te val nie.
Toe sê my pa vir Doëg: “Spring onder hulle in en val die priesters aan.” Doëg die Edomiet het onder hulle ingespring, die priesters aangeval en daardie dag vyf en tagtig man wat die linneskouerkleed dra, doodgemaak. Nob, die dorp van die priesters, is met die swaard uitgewis: man en vrou, kind en suigling, bees en donkie en kleinvee.
Weet jy ek het vir weke amper nie ‘n oog toegemaak nie. My pa het my met valse beskuldigings probeer verwoes. Met die Here se genade het ek hom nogtans as my pa geëer.
Een seun van Agimelek seun van Agitub het ontkom. Sy naam was Abjatar en hy het agter Dawid aan gevlug. Abjatar het aan Dawid vertel dat Saul die priesters van die Here doodgemaak het. Dawid het vir Abjatar gesê: “Ek het daardie dag toe Doëg die Edomiet daar was, geweet dat hy beslis alles vir Saul sou vertel. Ek het die lewe van jou hele familie in gevaar gestel. Bly by my en moenie bang wees nie, want hy wat my lewe soek, soek ook jou lewe. Maar jy is veilig by my.”
Kan jy besef watter skuldgevoelens en pseudoskuldgevoelens my dierbare vriend Dawid moes deurmaak. En kan jy dink hoe moeilik ek hierdie verhaal probeer verwerk het?
Op ‘n keer is aan Dawid vertel: “Die Filistyne veg teen Keïla en plunder die dorsvloere.” Dawid het die Here geraadpleeg: “Sal ek optrek en hierdie klomp Filistyne verslaan?” Die Here het vir Dawid geantwoord: “Trek op en verslaan die Filistyne en bevry Keïla.” Maar die manne van Dawid sê: “O nee, ons verkeer hier in Juda alreeds in gevaar, hoeveel te meer as ons na die skanse van die Filistyne toe gaan by Keïla?”
Arme Dawid het weer die Here geraadpleeg, en die Here het geantwoord: “Maak klaar, trek op na Keïla toe, want Ek lewer die Filistyne aan jou oor.” Dawid en sy manne het toe opgetrek na Keïla toe en teen die Filistyne oorlog gemaak. Hy het hulle vee as buit saamgevat nadat hy hulle in ‘n groot veldslag verslaan het. So het Dawid die inwoners van Keïla bevry.
Ag ek was so bly toe ek van Dawid se oorwinning gehoor het. En ek was so dankbaar dat Abjatar hom voortaan ook kon ondersteun het. Toe Abjatar seun van Agimelek na Dawid toe in Keïla gevlug het, het gelukkig die skouerkleed saamgevat.
Daar is toe aan Saul berig dat Dawid in Keïla gekom het, en hy het gesê: “God het Hom aan Dawid onttrek. Hy is nou in my hand, want deur in ‘n stad met grendeldeure in te gaan, het hy homself toegesluit.” My pa het al die manskappe opgekommandeer om op te trek na Keïla en Dawid en sy manne te beleër.
Gelukkig het Dawid gehoor dat Saul hom wil aanval en hy het vir die priester Abjatar gesê: “Bring die skouerkleed hier.” Dawid het gesê: “Here, God van Israel, ek is u dienaar. Ek het verneem dat Saul na Keïla toe wil kom om die stad te verwoes omdat ek hier is. Sal die regeerders van Keïla my aan hom uitlewer? Sal Saul optrek soos ek verneem het? Here, God van Israel, lig my tog in.”
En die Here antwoord: “Ja, hy sal optrek.” Toe vra Dawid: “Sal die regeerders van Keïla my en my manne aan Saul uitlewer?” Die Here het hom geantwoord: “Ja.” Ek het weer ‘n keer aan my dierbare vriend Dawid gedink. Hy is so goed vir die inwoners van Keïla en hier kry hy stank vir dank.
Dawid en sy manne, ongeveer ses honderd man, het klaargemaak, uit Keïla uitgegaan en heen en weer rondgetrek. Daar is ook aan Saul vertel dat Dawid uit Keïla ontsnap het en Saul het sy agtervolging gestaak.
Daarna het Dawid in die woestyn in bergskuilings gaan woon. Hy het in die berge in die Sifwoestyn gewoon. My pa het hom die hele tyd gesoek, maar God het hom nie in sy se mag oorgegee nie.
Volgende keer gaan ek jou vertel hoe ek vir Dawid in die Sifwoestyn opgesoek en gekry het. Dit was ‘n onbeskryrlike ondervinding.