Lev 17:11 (2020) Omdat die lewe van ‘n liggaam in die bloed is, het Ék vir julle die bloed gegee om by die altaar te gebruik, om versoening vir julle lewens te doen. Dit is immers die bloed wat deur die lewe vir ‘n persoon versoening doen.
Tydens ‘n vorige geleentheid het ons gesels oor die ark wat agter die voorhangsel in die heiligdom gestaan het en wat ‘n skeiding gebring tussen die mens en die teenwoordigheid van die Here. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, op Sy uitroep, het die voorhangsel van onder na bo geskeur wat simbolies was van Christus se eie liggaam wat vir ons gebreek was. Binne hierdie konteks lees ons:
Heb 10:19 Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20 en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam.
Deur die bloed van Jesus word ons verhouding met die Vader herstel.
Eph 2:13 Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.
Daar word meer as 375 keer in die Woord na bloed verwys en vorm ‘n sentrale tema deur die Skrif.
- Die Hebreeus vir bloed is (dām דם). Sonder bloed is daar nie lewe nie.
Bloed is egter nie net ‘n metafoor vir lewe nie, maar verteenwoordig ook die lewe self.
- As ons ‘n “A” by die Hebreeuse woord vir bloed (dām) voeg, kry ons A-dam (mens).
- Die Hebreeuse woord vir grond is (a-dām-a)
- Bloed, verteenwoordig lewe en vorm die basis woord vir die grond en die naam Adam wat die Skeppingsverhaal ondersteun. Sonder bloed is daar nie ‘n mens nie en sonder grond kan lewe nie onderhou word nie.
Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.
*** Hoe indrukwekkend is dit nie? Jesus word ook die laaste Adam genoem, deurdat ons deur Hom herskep word.
- Die effek van sonde was die vervloeking van die grond en die skeuring wat dit tussen die mens en die Here gebring het. Jesus kom om alles te herskep en bring vir ons die belofte aan ‘n ‘n nuwe, verheerlikte liggaam by die wederkoms en nuwe aarde na die Duisend Jaar Vrederyk.
1 Kor 15:45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.
- Ons fisiese liggaam is oorgeërf vanaf Adam, maar ons kry ons verheerlikte liggaam deur Christus, die laaste Adam.
*** Is ons bewus van hoe afhanklik ons van die Here is? Sonder Hom sal ons nie bestaan nie.
Joh 1:3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
- Die meervoud van bloed in Hebreeus is (dā-mim). Dit is dieselfde woord vir geld, betaling, of vergelding.
- Sonde kom na die mensdom deur die eerste Adam, maar ons almal se verlossing, die betlaing en vergelding vir die sonde, kom deur die laaste Adam, sodat ons die ewige lewe kan hê.
- Volgens Hebreërs lees ons as volg:
Heb 12:24 by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel.
- Jesus se bloed is verteenwoordig Sy genade, soos dit op die versoendeksel gesprinkel is ter vergewing van sondes, waar die bloed van Abel uitroep na geregtigheid.
- Slegs deur die bloed van Jesus Christus kan ons die vooruitsig vir ‘n ewige lewe hê.
- Sonder die bloed van Christus is daar ook geen evangelie nie
Charles Spurgeon stel dit so mooi: “The Bloody Sacrifice on Calvary is the only hope for sinners…”
Alreeds in Lev 17:14 word verklaar dat die lewe in die bloed is.
Lev 17:14 Omdat die bloed van enige dier sy lewe is, beveel Ek julle, Israeliete, dat julle géén bloed mag eet nie. Omdat die bloed van enige dier sy lewe is, sal elkeen wat dit eet, doodgemaak word.
Omdat die bloed in die lewe is, plaas die Skrif ‘n verbod op die eet daarvan.
Levitikus gee ook die spesifieke voorskrifte vir die verskillende offerandes. Ons kan nie Jesus se kruisdood probeer begryp sonder die konteks van die Ou Testamentiese anti-tipiese offers nie.
Die kosbare bloed van Jesus is dus die vertrekpunt om die verlossingsplan vir die mensdom te verstaan.
Die verlossingsverhaal begin in Eden, by die sondeval. Ons lees in:
- Gen 3:13 Daarop sê die HERE God aan die vrou: Wat het jy nou gedoen? En die vrou antwoord: Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.
Sonde word bevraagteken deur die woorde: “Wat het jy nou gedoen?”
Ons moet almal rekenskap gee oor ons sonde, oor die skade wat ons die skepping berokken. Ons sonde het gevolge. Soortgelyke frases lees ons ook in:
- Jos 7:19 Toe sê Josua vir Agan: My seun, maak tog die HERE, die God van Israel, heerlik en gee Hom die eer; en gee my tog te kenne wat jy gedoen het; steek dit nie vir my weg nie.
- Jon 1:8 En hulle sê vir hom: Vertel ons tog om wie se ontwil hierdie ramp ons getref het? Wat is jou nering? En waar kom jy vandaan? Wat is jou geboorteland, en uit watter volk is jy?
- Ps 50: 21“Moet Ek stilbly as jy sulke dinge doen? Dan sal jy dink Ek het soos jy geword! Nee, Ek eis rekenskap van jou, Ek kla jou aan!
Die Here bevraagteken ons aksies en die Heilige Gees oorreed ons van sonde. Hy korrigeer ons in liefde en deur Sy bloed word ons van totale ondergang en verwoesting gered.
Na die sondeval in Eden sien ons die eerste offer, waar die bloed van ‘n lam vergiet is om Adam en Eva se naaktheid, wat die gevolg van hul sondes was, te bedek.
Die bloed van hierdie eerste offer word ‘n simbool, ‘n vooruitskouing na Jesus se plaasvervangende kruisdood en Sy bloed, wat vir ons sonde gevloei het.
Heb 9:12 Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ‘n ewige verlossing tot stand gebring.
Hebreërs vestig ons aandag daarop dat Jesus se bloed, die bloed van alle offers oortref.
Waar bloed gestort is, is ‘n lewe beëindig.
Die eerste moord op aarde waar Kain sy broer Abel uit jaloesie vermoor lees ons in:
Gen 4:10 En Hy sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af.
Hier moet Kain ook rekenskap gee van sy sonde as die Here vra “Wat het jy gedoen?”
Die Skrif waarsku teen bloedvergieting en eis geregtigheid deurdat dit uitroep na die Here:
Gen 9:5 Maar wat julle eie bloed betref, dit sal Ek eis: van al die diere sal Ek dit eis. Ook van die mens, van die een teenoor die ander, sal Ek die siel van die mens eis. 6 Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.
BLOED ROEP UIT:
Daarom roep bloed wat vergiet is uit tot oordeel en geregtigheid:
Open 6:9 En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. 10 En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?
Die werkwoord “roep” (צעק = zaw-ak) wat in Gen 4:10 gebruik word, waar Abel se bloed uitroep, kom verskeie kere in die Skrif voor, elke keer ten tye van onreg.
- Soos die swaarkry van die Israeliete onder die slawejuk en onderdrukking van die Egiptenare
Exo 2:23 En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God.
- Die sondes van Sodom roep ook uit:
Gen 18:20 Verder het die HERE gesê: Die geroep oor Sodom en Gomorra is waarlik groot, en hulle sonde is waarlik baie swaar. 21 Ek wil neerdaal en sien of hulle werklik gehandel het soos die geroep oor hulle is wat by My gekom het; en so nie, Ek wil dit weet.
- Maar wat was die werklike sonde van Sodom?
Eseg 16:49 Kyk, dít was die ongeregtigheid van jou suster Sodom: In trotsheid, oorvloed van brood en sorgelose rus het sy en haar dogters geleef, maar sy het die hand van die arme en behoeftige nie versterk nie.
- Die sondes van Jerusalem spreek ook van dieselfde sonde volgens
Eseg 22:29,31: 29 Die burgers van die land verdruk en beroof mense. Hulle buit armes en mense in nood uit en hulle verdruk die vreemdeling asof daar geen reg bestaan nie. … 31Daarom laat Ek my toorn oor hulle losbreek en vernietig Ek hulle met die vuur van my gramskap. Ek laat hulle kry wat hulle verdien,” sê die Here my God.
- Ook word Basan geoordeel vir dieselfde sonde:
Amo 4:1 Hoor hierdie woord, koeie van Basan, wat op die gebergte van Samaría is! Wat die armes verdruk, die behoeftiges hard behandel; wat aan hulle here sê: Bring aan en laat ons drink! 4:2 Die Here HERE het gesweer by sy heiligheid: Kyk, daar sal dae oor julle kom dat hulle julle met hake sal optrek en die wat van julle oor is, met vishoeke.
- Volgens Deut 15:11 lees ons dat die Here armoede toelaat sodat Sy mense kan uitreik en help.
Deut 15:11 Want die arme sal in die land nie ontbreek nie; daarom gee ek jou bevel en sê: Jy moet jou hand wyd oopmaak vir jou broer, vir die ellendige en die arme in jou land.
*** Is ons dalk skuldig aan dieselfde sonde as Sodom, Egipte en Basan? Maak ons ons hand oop vir die arme of onderdruk ons die behoeftiges en sluit ons harte vir hulle nood?
*** Watter sonde sal in die laaste dae teen ons uitroep?
BLOED VAN JESUS:
- Geseënd is ons wat Jesus ken want slegs Sy bloed kan ons vergifnis verseker.
1 Pet 1:18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, 19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,
- Petrus beklemtoon dat ons net gered word deur Jesus se kosbare bloed en nie deur verganklike dinge soos silwer en goud nie.
SOENOFFER:
- Volgens Eksodus 30:12-15 lees ons as volg:
12 As jy die volle getal van die kinders van Israel opneem volgens hulle geteldes, moet hulle, elkeen vir sy lewe, losgeld [soenoffer] aan die Here gee as hulle getel word, sodat geen plaag onder hulle mag wees as hulle getel word nie. 13 Dit moet hulle gee, elkeen wat na die geteldes oorgaan: ‘n halfsikkel [ses gram] volgens die sikkel van die heiligdom … ‘n halfsikkel as offergawe aan die Here…15 Die ryke moet nie meer en die arme moet nie minder as ‘n halfsikkel bring nie, as hulle die offergawe van die Here gee om vir julle siele versoening te doen.
- Volgens die Wet van Moses moes elke manlike Israeliet van twintig jaar en ouer ‘n jaarlikse versoeningsoffer van ‘n halfsikkel as tempelbelasting betaal. Hierdie offer (gawe) sou wees vir die versoening van sy lewe en sou gebruik word vir die werk in die tabernakel. Die halfsikkel het verwys na ‘n baie groter soenoffer. Dit was ‘n tipe van Jesus se soenoffer aan die kruis vir ons oortredinge.
*** Dalk moet ons stilstaan en dink aan die grootheid van die offer vir ons verlossing.
- Sonder bloed is daar nie vergifnis vir sonde nie.
Heb 9:22 Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie.
Een maal per jaar op die Groot dag van Versoening was die bloed van die bok vir die Here op die versoendeksel van die ark gesprinkel ter vergewing van sondes en reiniging van die tempel. Onder die indrukwekkende Goue Koepel, Dome of the Rock, op die Tempelberg in Jerusalem, is die rots waarop die verbondsark, volgens oorlewering in die Allerheiligste in die tempel gestaan het. Dit was ook die plek waar Abraham vir Isak geoffer het en bekend as die dorsvloer van Arauna, wat Dawid gekoop het om ‘n offer aan die Here te bring om die toorn van die Here te stop oor sy sonde om ‘n sensus-opname te doen.
Vandag het die gewone toeris nie meer die voorreg om hierdie terrein te besigtig nie, vanweë die komplekse politieke situasie. ‘n Ent verder onder die rots, onder die brandofferaltaar, is daar ‘n vertikale skag ontdek. Hierdie skag het weer by ‘n horisontale tonnel aangesluit om al die bloed van die offers wat in die tempel gebring is te gekanaliseer na die Kidron vallei. Hier in die Kidron vallei is ook die Tuin van Getsemane waar Jesus gebid het voor Sy kruisiging en Hy bloed gesweet het oor die swaar en bitter lydensbeker wat op Hom gewag het.
- Die vergieting van Christus se bloed dui daarop dat Sy dood plaasvervangend was en dat Hy die straf namens ons gedra het.
- Soms veroorsaak ‘n skuldige gewete dat ‘n persoon van die Here vervreem word – daarvoor het die bloed van Jesus gevloei, om ons van alle ongeregtigheid te reinig.
Heb 9:14: Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.
LEX TALIONES
Lex Talionis, ook bekend as die wet van vergelding verwys na die beginsel van geregtigheid. “‘n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand”.
Sou iemand iets gesteel het, was dit nodig om restitusie te doen. Daar word ook van ons verwag om met ons naaste reg te maak.
- In Lukas 19 lees ons die verhaal van Saggéüs wat tot bekering gekom het. Hy het vierdubbel reg gemaak met almal van wie hy gesteel en afgepers het.
*** Dit help nie net om jammer te sê nie. Is daar dalk nog persone vir wie ons dalk moet terugbetaal?
- So sou David ook boet vir die moord wat hy gepleeg het toe hy Uria die Hetiet laat vermoor het. Hy sou later self daarvoor moes boet. Ons ken die gelykenis wat die profeet Natan aan Dawid vertel het waar die ryk man die arm man se lammetjie vir sy vriende geslag het en Dawid se uitspraak was as volg:
2 Sam 12:6 En die ooilam moet hy viervoudig teruggee, omdat hy hierdie ding gedoen het en geen ontferming geken het nie.
Dawid was uiteindelik self die skuldige en het met sy eie vier lammers betaal vir die grusame moord op Uria:
- Die baba wat gebore was uit die sonde met Batseba is dood
- Absalon se suster Tamar is deur Dawid se oudste seun Amnon verkrag. Absalon het wraak geneem en sy half-broer Amnon vermoor
- Absalon is deur Joab, die bevelvoerder van Dawid se leër doodgemaak
- Adonia is deur Salomo doodgemaak
Elke lewe het waarde en elke lewe is kosbaar voor die Here. Daar sal uiteindelik rekenskap van ons geëis word. Jesus verkondig dat elkeen van Sy kinders die wet van vergelding strenger moet toegepas.
In Matt 5:21-22, sê Jesus:
Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. 22Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur.
Hiervolgens word fisiese moord en haat teenoor ons naaste gelyk gestel aan mekaar. Om die versoenende bloed van Jesus te aanvaar, is dit voorwaardelik dat ons selfondersoek moet doen en die toestand van ons sondige harte moet besef.
*** Is daar dalk iemand wat ons moet vergewe?
Matteus 5:23“As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, 24 laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.
Net as ons die saak met ons naaste uitgemaak het, kan die reinigende bloed van Jesus ons ook red. Die Here se geregtigheid eis dat die sonde gestraf sal word, dit eis dus vergelding.
Enige bloed wat vergiet is in die land het die land vervloek en volgens Num 35 moes daar vergelding gedoen word, want die bloed roep uit.
Num 35:33 En julle mag die land nie ontheilig waar julle in is nie; want die bloed ontheilig die land, en vir die land word geen versoening gedoen vir die bloed wat daarin vergiet is nie, as net deur die bloed van hom wat dit vergiet het.
ONOPGELOSTE MOORD:
Binne die konteks van Lex Talionis was daar ‘n probleem as daar versoening gedoen moes word vir ‘n onopgeloste moord.
Volgens Deur 21:1-9 lees ons as volg:
Indien ‘n lyk op ‘n oop veld gekry word en die moordenaar onbekend is, sou die oudstes en regters van die dorp die naaste aan die moordtoneel deur ‘n spesifieke ritueel moes gaan om die land te reinig van die onskuldige bloed wat daar vergiet is. Soos ons alreeds vroeër genoem het dat die bloed uitroep na die Here.
Die oudstes en regters sou ‘n vers bring wat nog nooit gewerk het nie, na spruit, met standhoudende water op ‘n stuk grond wat nog nooit bewerk is nie. Hier sou hulle die vers se nek breek en hulle hande in die water was en hulle onskuld verklaar, wat versoening sou simboliseer. Die Here sou die bloedskuld van die grond vergewe.
Deur 21:7en sê: Ons het nie hierdie bloed vergiet nie en ons het ook nie gesien wie dit gedoen het nie. 8 Here, U wat vir Israel verlos het, spreek tog u volk vry en moenie dat die skuld van bloed wat onskuldig vergiet is, op u volk Israel bly nie.
Hierdie vers is ‘n anti-tipe van Jesus se kruisdood. So het Pilatus besluit om Jesus te laat kruisig ten koste van sy eie oordeelsvermoë en sy hande in onskuld voor die volk gewas, soos die oudstes en leiers in die geval van die ritueel vir ‘n onbekende moord.
- ‘n Illustrasie van die hande wassing word so mooi uitgebeeld in die bekende toneel van William Shakespeare se Macbeth, waar Lady Macbeth, na die moord op Koning Duncan, uitroep: “Out, out, damned spot! Out, I say!“. Haar aanhoudende hande wassing kon nie die bloed van die moord verwyder nie.
Die diep psigologiese las wat iemand ervaar en wat die gewete aankla is die uiteinde van die skuld van bloedvergieting wat aan elke moordenaar kleef.
Bloedvergieting laat ‘n verwoestende spoor agter en roep na die hemele indien daar nie versoening gedoen is nie.
In reaksie op Pilatus hande wassing het die Joodse volk oorverdowend geskree:
Matt 27:25 … Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!
“Hierdie vreeslike woorde het tot die troon van God opgestyg. Die vonnis wat hulle op hulleself uitgespreek het, is in die hemel aangeteken. Daardie gebed is verhoor. Die bloed van die Seun van God was op hulle kinders, en hulle kindskinders, tot ‘n ewige vloek.” (KE, 759:2)
*** Hoe hartseer is dit nie? Hier kies die volk, die owerpriesters en die ouderlinge om die bloedskuld te aanvaar en aanspreeklik te wees vir Jesus se kruisdood. Die verrykende gevolge van Matt 27:25 sal hulle tot in ewigheid aankla.
Hierdie woorde “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!” sal op die groot oordeelsdag tot vervulling kom.
Open 1:7 Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!
Met Jesus se tweede koms sal hulle Hom sien as die Koning van die Hemel en in vrees “… vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam.” (Open 6:16 )
’n Spesiale opstanding gaan Christus se tweede koms vooraf. “Almal wat in geloof in die derde engel se boodskap gesterf het” sal uit die dood opstaan, asook diegene wat Hom gewelddadig teëgestaan het en die wat Hom bespot en gekruisig het. Hierdie opstanding sal plaasvind sodat almal Sy heerlikheid kan aanskou en so die vervulling van Jesus se belofte van Open 1:7 kan aanskou.(SDA Bybel Kommentaar, vol 4:878; GS, 637)
Onskuldige bloed wat vergiet is roep uit na die Here, asook die verdrukking van ellendiges en die wat in nood verkeer:
Psa 9:13 Want Hy wat die bloed soek, dink aan hulle; Hy vergeet die geroep van die ellendiges nie.
Ons aksies moet ‘n strewe na geregtigheid en liefde vir ons naaste weerspieël, ons moet Jesus se karakter verteenwoordig.
AW Tozer meen dat:
Die hoogste opdrag van die Christelike kerk vandag is om haar beeld van God te reinig en te verhoog totdat dit weer werklik God waardig is.
Laat ons nie ons harte verhard teenoor ons naaste se swaarkry of moord pleeg deurdat ons nie kan vergewe nie, want ons is duur gekoop deur die bloed van Jesus. Uiteindelik sal die gelowiges kan oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis (Open 12: 11).
FISIESE KENMERKE VAN BLOED:
Ons moenie die krag van die bloed van die Lam onderskat nie.
Bloed is lewensnoodsaaklik en maak ongeveer 7-8% van die totale liggaamsgewig van ‘n persoon uit. Dit beteken dat ‘n gemiddelde volwassene ongeveer 4,5 tot 6 liter bloed het. Hoeveel te meer die bloed van die Lam!
Kom ons bespreek enkele fisiese kenmerke van bloed en kyk na die geestelike toepassing daarvan:
- Die eerste suksesvolle bloedoortapping was in 1665 deur dr. Richard Lower gedoen. Die doel van ‘n bloedoortapping is om pasiënte se bloedsamestelling aan te vul of te herstel wanneer hulle ‘n tekort aan bloed of spesifieke bloedkomponente het, soos byvoorbeeld die behandeling van Anemie of bloedverlies. Net so herstel die bloed van Jesus die verhouding tussen ons en die Here deur die verlossing deur Sy bloed, soos ons lees in:
Eph 1:7 In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,
1 Joh 1:7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.
- Bloed bevat ongeveer 55% plasma, 45% rooibloedselle, witbloedselle en bloedplaatjies.
- Rooibloedselle (Eritrosiete) se hooffunksie is om suurstof van die longe na die weefsels van die liggaam te vervoer. Sonder suurstof en voedingstowwe is lewe nie moontlik nie. Presies dieselfde geld binne die geestelike konteks, want sonder Jesus se bloed is lewe nie moontlik nie. Ons lees as volg:
Joh 6:53 Maar Jesus sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie.
- Die rooibloedselle vervoer ook alle afvalstowwe, soos koolsuurgas om uitgeskei te word. Hoe verwyder die kosbare bloed van Jesus ook die sonde uit ons lewe?
Heb 9:22: “Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie.”
- Rooibloedselle bevat Hemoglobien, ‘n proteïen wat suurstof bind en vervoer, en dit gee bloed sy kenmerkende rooi kleur, maar die bloed van Jesus reinig ons van alle ongeregtigheid. Volgens Jes 1:18 staan daar geskrywe:
Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos
- Bloedplaatjies (Trombosiete) is klein fragmente van selle wat ‘n belangrike rol speel in die bloedstollingsproses. Die bloedplaatjies vorm ‘n bloedstolsel wat ‘n roof maak en nodig is vir die genesing van ‘n besering. Deur die kruisdood van Jesus het daar vir ons ook genesing gekom.
Isa 53:5 Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
- Witbloedselle (Leukosiete) speel ‘n belangrike rol in die immuunstelsel om die liggaam te beskerm teen infeksies en siektes. Volgens Johannes in Open 12:11 sal ons oorwinning oor Satan behaal deur die bloed van die Lam. Jesus se gestorte bloed het die mag van Satan vernietig. Soos die bloed van die paaslam Israel se eersgeborenes beskerm het teen engel van die dood, dat hy kon “pass over”, beskerm die bloed van Jesus ons teen die tweede, ewige dood.
Exo 12:13 … as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan.
Uiteindelik sterf nie een van die eersgeborenes uit Israel nie, maar baie later sterf die Vader se Eersgeborene sodat die doodsengel ons ook sal oorslaan.
Deur die bloed van Jesus en die getuienis van Jesus kan elke Christen deel hê aan ‘n ewige lewe.
Onsterflikheid was een van die essensiële fokusareas van die Egiptiese kultuur en vandaar die motivering vir die bou van indrukwekkende piramides en grafkelders en die mummifisering van die gestorwenes. Die Farao’s en ander vername persone het hul name op ‘n cartouche laat uitkap in die poging om dit te verewig. So is die naam van Farao Hapshetsut, Moses se stiefma, doelbewus uitgevee is om haar nalatenskap te vernietig. Hierdie praktyk van klipinskripsies het oorgespoel na die Israeliete. Argeologiese bewyse is in Wadi Tumilat, die Bybelse Goosen gevind waar die Israeliete in nederige modderhuise gebly het en hulle name op die klip lintels en deurkosyne uitgekap het. Tydens die eerste paasfees moes die Israeliete die bloed van die paaslam oor hulle op die kosyne vee wat bevestig dat net die bloed van Lam van God die mensdom kan red van die dood.
- Bloed word gebruik vir genetiese navorsing, soos die identifisering van genetiese afwykings, vaderskapstoetse en forensiese analises. Omdat ons Jesus aangeneem het as ons Verlosser is ons mede-erfgename en die Vader word ook ons Vader. Ons het nou bloubloed:
1 Pet 2:9: Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.
- ‘n Rooibloedsel se lewensduur is 120 dae. Nuwe rooibloedselle word voortdurend in die beenmurg geskep om ou selle te vervang en te herstel. Die bloed van Jesus gee ook aan ons die belofte van ewige herstel.
- Daar is vier verskillende bloedgroepe, naamlik A, B, AB en O, as gevolg van die teenwoordigheid van spesifieke antigene op die oppervlak van die rooibloedselle. Hierdie bloedgroepe bepaal ook die verenigbaarheid van bloedoortappings. Volgens Kol 12:20 word:
…deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.
NAGMAAL
- Voor Jesus se kruisdood het Hy die nagmaal ingestel. Ons lees
Mat 26:26 En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. 27 Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. 28 Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes. 29 Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.
- Deur die gebruik van die nagmaal dink ons terug aan Jesus se kruisdood, maar dit skep ook by ons die verwagting dat Jesus terugkom. Volgens 1 Kor 11:26 staan daar:
1 Kor 11:26 Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.
- Die nagmaal as terugwysing na die bloed van Jesus gee ons die versekering van Sy ewige liefde, vergifnis en verlossing.
*** Besef ons werklik die groot opoffering wat Hy vir ons gemaak het?
As ons die nagmaal gebruik bevestig ons ons geloof in sy krag om ons te genees en te bevry.
Deur sy bloed word ons gereinig; vernuwe en ons neem die brood en wyn ter gedagtenis aan sy liefde wat nooit verflou nie.
*** Is die bloed van Jesus ook ‘n werklikheid in ons lewe? Dit is slegs deur Sy lewegewende bloed wat ons gered kan word!
2 The Lamb is slain, the Sacrifice immortal,
Whose life received creates the soul anew;
His blood is shed, but is it on the portal?
O haste and see! doth it avail for you?
Refrain:
“I will pass over you, when I see the blood:”
I will pass over you, ’tis a saving flood.
“I will pass over you, when I see the blood,”
The precious blood of Jesus.
F.E Belden – The Passover, Christ in Song#38
Dr Saartjie Eksteen