Het jy gehoor van die Romeinse kaptein wat tydens die dood van Jesus uitgeroep het: “Waarlik. Hy was die Seun van God.” Dit was ek.
Kom ek vertel jou waarom ek tot daardie oortuiging gekom het.
Asgevolg my gehardheid het Pilatus my as die laksman aangestel. Ek kan nie vir jou sê hoeveel mense ek al gekruisig het nie. Ek kan ook nie vir jou sê hoeveel krimineles ek al gegesel het nie.
Kom ek vat jou na die begin van my Vrydagoggend. Sommer baie vroeg daardie oggend het Pilatus my laat roep om ‘n man te kom kats. Dis die gebruik dat ons 40 houe minus een gee. Dit wet het ons verbied om meer as 40 te gee. En omdat ons bang was om te oortree, het ons liewer 39 katshoue gegee.
Dit was vir my snaaks dat Pilatus hierdie man voor die tyd wou laat gesel. Ek het later uitgevind dat hy die simpatie van die skare wou uitlok sodat hy Jesus kon vryspreek. Dit het nie gewerk nie. As die klomp Jode eers bloed geruik het, het hulle geen einde geken nie.
Toe ek Jesus oor die pilaar laat buk, het ek agtergekom dat die Sanhedrin hom reeds 26 katshoue oor Sy bors gegee het. Dit was vir Jesus ontsettend seer om met daardie stukkende bors oor die pilaar te gaan lê.
Wat my verbaas het, was dat Hy geen beswaar gemaak het nie. Terwyl ek hom regkry om gekats te word, het Hy vir my gekyk. Ek het nog nooit so ‘n uitdrukking op iemand se gesig gesien het. Toe Hy vir my kyk, het die uitdrukking op Sy gesig vir my gesê: Ek het jou oneindig lief en aanvaar jou met My hele hart.
Met die nege-en-dertigste katshou was Sy rug net een stuk rouvleis. Ek het Hom losgemaak en na Pilatus geneem. Hy het weer vir my gekyk. Ek sal daardie uitdrukking van omgeeliefde nooit kan vergeet nie.
Ten einde Jesus los te kry het Pilatus die skurk Barabas langs Jesus laat staan om die mense ‘n keuse te gee wil hulle wil hê Pilatus moes loslaat.
Die Jode kon eenmaal ‘n jaar iemand in die tronk laat uitkom. Maar daardie klomp mense het soos demone geskreeu en gesê Barabas moet vrygelaat word en Jesus moet gekruisig word. Nou staan ek hier langs Jesus terwyl hulle so skreeu. Maar Jesus se blik van liefde bly op Sy gesig.
Dit was die gebruik dat nadat iemand tot die dood gevonnis word, hy sy 400 minus 1 katshoue moes kry. Nou ek is ‘n geharde Romeinse soldaat met min simpatie vir die misdadigers.
Toe ek Jesus vir die tweede keer na die katsbank toe neem het Hy nie gevloek nie. Hy het weer vir my gekyk en alwat ek gesien het was goddelike liefde en kalmte.
Toe ek die eerste katshou op Sy reeds stukkende rug gee, het iets in my hart sag geword. Na die 39ste hou, moes ek Hom ophelp. Hy was kragteloos. Hy het weer vir my gekyk. Hy was nie vir my kwaad nie. Hy het my met liefde bejeën. Iets was besig om in my binneste plaas te vind.
Die Romeinse wet het bepaal dat die veroordeelde sy eie kruis moes dra. Maar toe ons die kruis op Jesus plaas het Hy met kruis en al op die grond geval.
Ek het alles probeer om Hom regop te kry om die kruis te dra, maar tevergeefs. Toe iemand nader kom om te kyk wat aangaan het ek hom gegryp en gesê dat Hy Jesus se kruis moes dra.
Ek sal daardie mooi glimlag van Jesus nooit vergeet nie toe Hy vir Simon van Sirene met liefde bedank het dat hy Sy kruis vir Hom dra.
Ek toe doen ek iets wat ek nog nooit gedoen het nie. Ek neem Jesus in my arms en dra Hom Golgota toe. Toe ek Hom op die kruis neerlê het Hy weer met goddelike liefde na my gekyk en my bedank.
Nadat ek die spykers in Sy hande en voete geslaan het, het ons die kruis opgetal en in die gat laat val wat vir die kruis gemaak is. Dit het Jesus oneindige pyn veroorsaak.
Ek is so gewoond dat die slagoffers my op hierdie stadium begin vloek, maar Jesus doen dit nie. Inteendeel die geestelikes wat spottend om die kruis gestaan het, het Jesus vervloek. Ek kyk na Sy gesig en ek sien die hemelse vrede op daardie verminkte gesig.
Teen 12 uur het daar ‘n onheilspellende duisternis oor ons toegesag. Jy moes gehoor het hoe mense gekerm het. Party was paniekbevange.
Drie uur later het die duisternis gewyk. Die sterwende Jesus het uitgeroep: “My God my God waarom het u my verlaat.” Met Sy laaste asem roep Hy uit: “Dit is volbrin.” Toe Hy sterf begin ‘n verskriklike aardbewing die omgewing teister. Jy hoor net hoe rol groot klippe van die heuwels af. En toe is alles stil.
Sy dood het my hart verower en dis toe ek uitroep: “Waarlik Hy was die Seun van God.”
My liewe vriend as jy nog nie agtergekom het dat Jesus die Seun van God is nie, nooi ek jou uit om die verhaal van die kruis te lees. En mag die Heilige Gees jou hart aanraak, soos wat Hy my harte hart aangeraak het. Mag jy Hom jou hart gee, soos wat ek my hart aan Hom gegee het.