1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Monoloog
  4. DIE SEUN VAN ‘N PA – BARABBAS

DIE SEUN VAN ‘N PA – BARABBAS

Skriftuur: Markus 15:6-15

1. “My naam is Barabbas. So ‘n rukkie gelede is ek die doodsvonnis opgelê en nou wag ek net vir die laksman om my tereg te stel.

“Wanneer ek op my lewe terugkyk, sien ek een lang modderspoor van

die liederlikste sondes.

2. “Ek was so verwaand dat ek my selfs as die Messias voorgedoen het. ‘n Hele paar kwesbare, ongeleerde mense het my gevolg. Onder die dekmantel van godsdiens het ek talle mense se lewens verwoes, psigies en fisies.

3. “Die laaste geval van gewapende roof met die bedoeling om dood te maak, het tussen Jerusalem en Jerigo plaasgevind. Dis die enigste plek waar rowers hulle self goed kan versteek.

4. “‘n Onskuldige man het vanaf Jerusalem na Jerigo gestap toe ek en my twee maats hom aangerand het en van al sy besittings beroof het. Terwyl ons ‘n end van die rooftoneel weggekruip het, het ons gesien hoe ‘n priester en ‘n Leviet by hom verbygeloop het. Net soos ons, het hulle hom ook seker vir dood aangesien.

5. “Ons het met baie misdade weggekom, maar hierdie een was laaste.. Ons is gearresteer, skuldig bevind en tot dood veroordeel.”

Die boek, Die Koning van die Eeue, gee vir ons die volgende karakterskets van die man op bladsy 617. Dis skokkend:

6. “Onder die dekmantel van godsdienstige ywer was hy ‘n geharde en desperate kwaaddoener wat uit was op rebellie en wreedheid.”

Dis laakbaar. Jy gebruik godsdiens om mense te benadeel. By die plek waar hulle ou tweedehandse motors verkoop, het die eienaar ‘n Bybel op sy lessenaar.

7. ‘n Gebroke man vertel my hoe die ouderling vir sy vrou kom Bybelstudies gee het en met haar weggeloop het.

Wie is Barabbas wat godsdiens gebruik om selfsugtige doelwitte te bereik?

8. DIE BETEKENIS VAN BARABBAS

Toe ek die eerste keer die naam Barabbas gelees het, het ek oor die betekenis van die naam gewonder:

9. “Bar” in Hebreeus beteken “Seun”. Die woord “Abba” beteken “Vader.”

‘n Mens kry die gebruik van die woord “Bar” in ‘n gesprek tussen Jesus en Petrus. Kom ons lees dit:

Matteus 16:17 Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.

10. Simon Petrus se pa se naam was Jona. Maar wanneer ons by Barabbas kom, is dit ‘n bietjie vreemd. “Seun van Pa”. Watter pa?

UNIVERSALITEIT VAN DIE NAAM BARABBAS

Daar is ‘n soort universaliteit aan die naam van Barabbas gekoppel. Die naam verwys na jou en my. Ons is almal die kind van een of ander pa.

11. Die sondes wat Barabbas gepleeg het, pleeg ons nog steeds. En die vrylating wat Jesus vir Barabbas, die slegste mens in die geskiedenis bewerkstellig het, doen Hy nog steeds vir jou en my.

VRYDAGOGGEND

12. Dis Vrydagoggend. Dis die dag van teregstelling vir Barabbas en sy twee mede-misdadigers. Hulle was daarvan bewus dat die wrede kruisdood deur die Romeine gebruik is om misdadigers af te skrik.

13. ‘n Sleutel word in die slot van die tronkdeur gedruk. Vir Barabbas is dit die geluid van die dood. In sy geestesoog sien hy hoe die Romeinse soldaat hom na Golgota lei en kruisig.

14. Maar ‘n snaakse ding gebeur.

Hy word weer ‘n keer na Pilatus se geregsaal gelei waar hy vroeër die doodsvonnis opgelê is.

15. Die plek is gepak met woedende mense.

Langs hom en die goewerneur staan ‘n stukkendgeslaande Man.

16. Dit het hom nie lank geneem om agter te kom wat presies aan die gang was nie. Kom ons luister wat Matteus hieroor geskryf het:

Matteus 27:20,21 Maar die owerpriesters en die ouderlinge het die skare oorgehaal dat hulle Barábbas moes begeer en Jesus ombring.

17. BEGEER tairew Barabbas hoor die vreemdste, maar die heerlikste woorde wat hy nog ooit in sy hele lewe gehoor het. Die geestelike leiers oorreed die massas om hom, die onbegeerlike te “begeer”. tairew

Het die Jesus hier langs hom miskien iets hiermee te doen?

18. Almal het hom asgevolg van sy gedrag verafsku en nou ewe skielik begeer hulle hom. Met groot entoesiasme skreeu die skare sonder ophou: “Ons begeer Barabbas.”

19. Die een oomblik was hy in die dodesel. Die samelewing wou hom deur kruisiging verwyder. Die volgende oomblik begeer die mense hom. Iets baie eienaardig is aan die gang.

Het hy miskien begin huil?

Maar as Barabbas gedink het dis die enigste goeie nuus, het hy ‘n groot fout gemaak.

20. Terwyl hy in die dodesel gesit het, het hy na vrylating verlang. As hy net weer in die ruimtes van vryheid kon stap. As hy tog net weer ‘n keer ‘n nuwe begin kon kry.

Met ‘n harde stem roep Pilatus die volgende hemelse woorde uit:

21. Matteus 27:21-23 Toe antwoord die goewerneur en sê vir hulle: Wie van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat? En hulle antwoord: Barábbas! Pilatus sê vir hulle: Wat moet ek dan doen met Jesus wat genoem word Christus? Hulle sê almal vir hom: Laat Hom gekruisig word! En die goewerneur sê: Watter kwaad het Hy dan gedoen? Maar hulle skreeu nog harder en sê: Laat Hom gekruisig word!

22. Barabbas hoor die mooiste woord in die woordeboek – Loslaat! Dit beteken mos vryheid. Is dit moontlik dat hy die skurk asgevolg van Jesus losgelaat kan word?

Kom ons kyk vir ‘n oomblik na die betekenis van die grondteks.

23. LOSLAAT apolouw

Letterlike betekenis. Om jouself deur ‘n bad skoon te was.

Metafories. Om van sonde gereinig te word

24. Ons kry ‘n voorbeeld hiervan in die boek Openbaring:

Openbaring 1:5 Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed.

25. Barabbas was ‘n baie intelligente mens. Professionele kriminele is briljant. Hy het die betekenis van loslaat apolouw verstaan.

Sou dit gebeur dat Barabbas daardie Vrydagoggend losgelaat word?

Ja. Wanneer iemand in Jesus se teenwoordigheid kom, is daar altyd onverdiende vrylating.

DIE MENSE IN DIE GEHOORSAAL – JESUS EN BARABBAS

26. Wanneer ek Jerusalem besoek, gaan peins ek vir so ‘n oomblikkie by die Ecco Homo boog.

Dis die Latyn vir die woorde wat ons in die evangelie van Johannes kry. Kom ons lees dit:

Johannes 19:5 En Jesus het uitgekom buitentoe en die doringkroon en die purperkleed gedra. En Pilatus sê vir hulle: Dáár is die mens.

27. In my geestesoog sien ek hoe Pilatus met deernis na Jesus wys en vir die skare sê: “Daar is nou ‘n Man. Aanskou Hom. Sien julle Sy reinheid? Sien julle sy onbevlekte liefde en integriteit?”

En langs hom staan Barabbas. Die nr. een skurk. Die lelikste in die land.

Watter kontras sou daar vandag tussen jou en Jesus wees indien jy en Hy langs mekaar moes staan?

28. Ek wonder hoe die besoedelde Barabbas langs die rein Jesus moes voel?

29. Die Koning van die Eeue, bld. 619 gee vir ons hierdie pragtige woordskets van iemand wat die toneel gesien het:

 Sy gesig was bloedbevlek en het die spore van uitputting en pyn verraai; maar nooit het Hy skoner gelyk as nou nie. Elke gelaatstrek het sagmoedigheid en berusting en deernis vir Sy wrede vyande uitgedruk. Tenspyte van die verminkte, bloedbevlekte liggaam van Jesus, sien Barabbas ‘n reinheid wat hy nie kan beskryf nie.

30. Wat sou jy gesien het en jy daar gestaan het? Die volgende paragraaf skets vir ons die kontras tussen Barabbas se voorkoms en die van Jesus:

BARABBAS SE VOORKOMS EN DIE KONTRAS

31. “‘n Treffende teenstelling was die gevangene langs Hom. Elke plooi op Barabbas se gesig het getuig van die geharde skobbejak wat hy was. Elke oog kon die kontras sien. Party toeskouers het geween. Toe hulle na Jesus kyk, het hulle innig jammer vir Hom gevoel. Selfs die priesters en owerstes was oortuig dat Hy alles was waarop Hy aanspraak gemaak het.”

32. DIE OOMBLIK VAN VRYHEID VIR BARABBAS EN DIE OOMBLIK VAN DOOD VIR JESUS

En nou breek die oomblik van vryheid en die oomblik van dood vir Barabbas en Jesus aan.

Matteus 27:26 Pilatus het Barabbas toe vir hulle losgelaat; maar Jesus het hy laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word.

TWEE MENSE

33. Dis Vrydagoggend net voor 0900. Twee mense verlaat die geregsaal van Pilatus.

34. Barabbas met ‘n dokument van vrylating, Jesus met ‘n dokument van teregstelling.

35. In Barabbas se hart is daar ‘n onbeskryflike verlossingsvreugde; in Jesus se hart die pyn van verwerping en veroordeling. Die rolle is omgeruil.

DIE REDDINGSBOODSKAP

36. Wat is die reddingsboodskap in hierdie geïnspireerde gedeelte van die Bybel?

Ek is Barabbas, jy is Barabbas. Ons sit in die dodesel omdat ons die heilige wet van God oortree het. Ons het moord gepleeg toe ons iemand doodgewens of gehaat het.

37. Ons het owerspel gepleeg toe ons in die geheim ‘n ander lewensmaat begeer het.

Ons het ander mense se reputasie gesteel toe ons van hulle geskinder het. Ons het gelieg toe ons ons skouers opgetrek het.

38. Die wet het ons in die dodesel laat opsluit want ons het hom oortree.

DIE GEREGSAAL

Tydens vanoggend se Nagmaal word ons geroep, nie om aan die kruis te sterf nie, maar om na die geregsaal van die hemel te besoek. Daar is weer ‘n Regter wat ‘n vraag vra:

39. “Wie moet vrygelaat word, en wie moet sterf?” Hy antwoord self die vraag: “Jesus moet sterf en Barabbas, al die kinders van al die aardse vaders moet vrygelaat word.”

40. Vanoggend verlaat Jesus weer die geregsaal waar Hy tot die dood veroordeel is, en hy stap Golgota toe. Ek en jy stap as vry mense uit die geregsaal na die wye land van God se vergifnis.

24. Johannes 3:16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Was this article helpful?

Related Articles