1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Die Vrou By Die Put

Die Vrou By Die Put

Skriftuur:  Johannes 4:35-42

‘n Vrou was besig om met ‘n leë waterkruik op haar skouers na ‘n put in Sigar te stap. Sy stap op die warmste gedeelte van die dag sodat sy kontak met die ander dames van die dorp kon vermy.

PROBLEEM

Hoekom doen sy dit? Wat is verkeerd? Sy was al vyf keer getroud en vyf keer geskei. Asgevolg van die stygende egskeidingsfooie het sy besluit om nie met hierdie sesde man te trou nie. En omdat hulle saambly, het die inwoners van Sigar haar so gestigmatiseer dat sy maar uit hulle pad bly.

Kan jy haar sien stap? Selfs die manier waarop sy stap vertel die verhaal van haar mislukking. Die mense by Famsa het haar opgegee. Die leë kruik op haar skouers is simbolies van die leegheid van haar lewe.

Sy het gedag dat geluk in ‘n verhouding met ‘n man gelê het. Sy het dit vyf keer probeer en nie die geluk gevind wat sy gesoek het nie. En dit lyk vir haar of hierdie sesde verhouding ook op ‘n mislukking gaan uitloop.

In haar soektog na geluk het sy vyf mans in ongeluk gedompel. In haar soektog na geluk het sy omtrent al haar vriendinne verloor. In haar soektog na geluk het sy haar reputasie verloor.

Sy het alles alles opgeoffer om geluk te vind en byna alles in die proses verloor.

TIPIES VAN BAIE MENSE

Die ongelukkige vrou met die leë kruik op haar skouers wat eensaam op die hitte van die dag na ‘n waterput stap, is so tipies van so baie mense.

Pas na ons geboorte begin ons om geluk op verskillende plekke te
soek. Ons soek dit in sinvolle verhoudings en so dikwels ontdek ons ‘n hartseer misverstand.

Ek gesels met ‘n baie suksesvolle man. Hy sê vir my hy het ‘n leeftyd gestreef om bymekaar te maak wat hy nou besit, maar hy kan dit nie geniet nie.

Geluk kan nie deur soeke gevind word nie, geluk is ‘n newe produk van iets anders wat ek doen. Geluk lê in die geluk wat ek aan ander mense bring.

Ek wonder wat alles deur hierdie vrou se gedagtes gemaal het toe sy by daardie put aangekom het. Miskien het sy saggies gehuil terwyl sy aan haar ongelukkige lewe gedink het. Miskien het sy spyt gevoel oor die hartseer wat sy ander mense aangedoen het.

JESUS

Kom ons bring Jesus in hierdie droewige kleurlose prentjie in.  Kom ons gee hierdie hartseer verhaal die vrolike kleurskakerings van die hemelse verlossingsplan vir sondaars.

Johannes 4:1-6 Die Fariseërs het gehoor dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes. Eintlik was dit nie Jesus wat gedoop het nie, maar sy dissipels. Toe Jesus dit verneem, het Hy Judea verlaat en weer na Galilea toe gegaan. Hy moes deur Samaria gaan. Hy kom toe by ‘n dorp in Samaria met die naam Sigar, naby die stuk grond wat Jakob aan sy seun Josef gegee het. Die fontein van Jakob was daar, en Jesus het toe, omdat Hy moeg was van die reis, sommer by die fontein gaan sit…”

Waarom MOES Jesus deur Samaria gaan? Watter dringende werk moes Hy daar gaan verrig het? O,die evangelie is so pragtig. Dit gee my moed om maar elke keer weer te glo dat die Here regtig vir ons omgee.

Jesus moes deur Samaria gaan sodat hy die slegste van die slegte vroue in Sigar kon gaan vertel dat daar groot geluk vir haar beskikbaar is.

Hoe moes vir haar van die lewenswater van geluk vertel waarmee Hy die leë kruik van haar lewe wou volmaak.

AFSTAND VAN JUDEA NA SAMARIA

Terwyl ek onlangs met die steil opdraendes vanaf Jerigo na Sigar gereis het, het ek aan Jesus gedink wat met Sy disippels hierdie pad per voet moes aflê.

Kan jy Jesus en Sy 12 dissipels teen die stowwerige steiltes sien uitbeur. Die sweet tap hulle af en hulle begin stadiger loop. Die manne wil langs die pad vertoef, maar Jesus is haastig. Hy spoor hulle aan om ‘n bietjie vinniger te loop.

Waarom? Om voor 12 by die put van Jakob uit te kom. Watter belangrike afspraak moet Hy daar nakom. Dit was ‘n afspraak met ‘n vrou. Die slegste vrou in Sigar.

Dis eintlik ‘n baie ou afspraak wat voor die grondlegging van die wêreld gemaak is. Wat ‘n onbeskryflike belangstelling in die gevalle, onwaardige mens.

Met die opgehoopte liefde van die ewigheid stap Jesus die opdraendes uit. Kort kort vee Hy die sweet van Sy voorkop af. Hy is op pad om Sy liefdevolle vergifnis op die slegste vrou in Sigar te gaan uitstort. Hy is pad om vir haar te vertel dat Hy al haar sondes op Homself gaan neem.

DIE VROU

Net voor 12 het Jesus en Sy dissipels daar aangekom. Stokflou en dood van die honger en dors het Jesus langs die put gaan sit. Sy dissipels kon nie meer uithou nie, en hulle is gou winkel toe om te gaan kos koop.

Vers 7 Daar kom toe ‘n Samaritaanse vrou water haal, en Jesus sê vir haar: “Gee My ‘n bietjie water om te drink.”

VIER STAPPE

Daar is vier stappe waarop ons moet let in Jesus se benadering van hierdie vrou. Eerstens het Hy in haar lewe ‘n BEGEERTE vir iets beters opgewek (7-15); tweedens het Hy haar OORTUIGING dat sy ‘n sondeprobleem het (6-20)

Derdens was daar die OPROEP om ‘n besluit te maak om Jesus as die Messias van haar lewe te ekren (28-30, 39-42). En die laaste stap was om die vrou tot OPTREDE te laat oorgaan. Ons sal hierdie stappe versigtig bestudeer.

DIE TONEEL

Kom ons drink hierdie baie unieke toneel in. Jesus sit moeg langs die put. Hy was skaars daar of die slet van Sigar kom skaam skaam aangestap. Sy maak of sy nie vir Jesus raaksien nie en begin om haar leë kruik met water te vul.

Jesus praat. “Verskoon my, ek is dood van die dors. Kan jy my nie asseblief ‘n slukkie water gee nie?” Wat ‘n pragtige benadering, gebore uit ‘n hart wat sondaars wil red.

Dit was destyds die gebruik in die Midde-Ooste om nie te weier as iemand vir water vra nie, nie eers vir jou grootste vyand nie.

Vers 9 vertel ons van hoe hierdie gevalle vrou van Sigar op Jesus se versoek gereageer het.

Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat ‘n Jood is, vir my, ‘n Samaritaanse vrou, water om te drink?”

Johannes verduidelik in vers 9 waarom sy so verbaas oor Jesus se versoek was. Vers 9 Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie.”

MINDERWAARDIGHEIDSGEVOEL

Die gevalle vrou van Sigar het aan ‘n verskriklike minderwaardigheidsgevoel gely. In die eerste plek was sy ‘n gehate Samaritaan. In die oë van die Jode was hulle laer as honde.

En dis nou vir haar onverklaarbaar dat ‘n Jood homself verwerdig om met haar, ‘n uitgeworpe Samaritaan te praat. En miskien het sy vir haarself gesê: “As hierdie man maar net geweet het met watter besoedelde vrou Hy nou praat, sou Hy nooit eers met my kontak gemaak het nie.”

Maar Jesus se versoek is met soveel diepte en liefde gelaai. Die vrou voel dat al is sy so ellendig sleg, sy nogtans vir iemand iets kan beteken al is dit ‘n vyand soos in hierdie geval.

MAAK VRIENDE VAN VYANDE

Kom ons leer hierdie waardevolle les van Jesus. As jy ‘n vyand se vriendskap wil wen, vra hom of haar ‘n guns. En as jy iemand met ‘n swak selfbeeld wil opbou, vra die persoon om vir jou ‘n guns te doen.

Wat ‘n toneel. Die Monarg van die sterre, sit langs ‘n put en Hy vra die slegste vrou in Sigar vir ‘n bietjie water.

En Hy kom na elkeen van ons toe en Hy vra ook vir ons om vir Hom ‘n gunsie te doen. Wat ‘n voorreg om dit vir Hom te kan doen.

BEGEERTE

Ek het vroeër na die vier stappe in die redding van die vrou verwys.  Kom ons kyk versigtig na die eerste een, nl. BEGEERTE.

Jesus wou by die vrou ‘n begeerte vir ets beters opwek. Kom ons lees vers 10:

Jesus het haar geantwoord: “As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: Gee My ‘n bietjie water om te drink, sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou LEWENDE WATER gegee het.”

Jesus maak haar nuuskierig.  “As jy maar net weet wat God vir jou wil gee. En as jy maar net geweet het wie ek is.” En Jesus kyk met Sy rein, eerlike oë in die skaam, skuldbelaaide oë van hierdie gevalle vrou.

LEWENDE WATER

Hierdie vrou het begin agtergekom dat Jesus nie van die letterlike water van die put praat nie, maar van ‘n ander dorslessende water wat sy nog nie gedrink het nie.

Verse 13,14  Maar Jesus antwoord haar:  “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid NOOIT DORS KRY NIE.
Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die EWIGE LEWE GEE.”

Kan jy haar verbaasde, verslae gesig sien terwyl sy na Jesus luister. Sy het al kruike en kruike vol mansmense opgedrink maar die dors van haar siel is nie bevredig nie. En pleks dat hierdie buite egtelike verhoudings vir haar lewe gebring het, het dit vir haar die dood gebring.

Maar dit waarvan hierdie Man praat, is die dinge waarna sy soek. Hy bied haar waters van geluk waar sy na hartelus kan gaan drink en drink en hierdie vreeslike dors in haar binneste les.

Jesus het in die eerste van vier oogmerke  geslaag. Hy het in hierdie vrou se hart ‘n begeerte vir iets beters opgewek.

DIE EVANGELIE BIED IETS BETERS

Dis die heel eerste iets wat die evangelie doen. Hy bied vir ons iets beters aan. Iets wat bevredig. Terwyl die genietinge van die sondes van die vlees bitter tydelik is, is die satisfaksie wat die evangelie bring, ewig heerlik en bevredigend.

Vers 15  Die vrou het vir Hom gesê “Meneer, gee vir my van daardie water, sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.”

Kan jy haar sien?  Sy het vergeet watter slegte vrou sy is. Die gedagte aan iets beters laat haar spontaan daarna vra.

Sy steek haar hande uit om die water van die lewe te vat wat Jesus vir haar aanbied, maar Hy hou dit terug. Waarom? Sy was dan gereed om dit te neem?

Ek onthou hoedat ek op ‘n keer saam met iemand anders ‘n spesifieke dame in Pietermaritzburg gaan besoek het. Ons het in haar vuil deurmekaar kombuis gesit. Op die tafel was daar ‘n slapband boek met ‘n vreeslike titel wat wydsbeen oor die broodkrummels neergesit was.

Sy het ons vertel hoedat sy onlangs tot bekering gekom en met die Heilige Gees gedoop is. Dit was glo ‘n verskriklike lekker gevoel.
Toe sy klaar gepraat het, het sy ‘n diep trek aan haar Lexington gegee en die assies in die vuil  piering bo op haar Engelse Bybel afgetik.

Die Here wil nie net ‘n begeerte vir die lewende water by ons opwek nie. Nee, Hy wil vir ons baie meer doen. Hy wil die titels van die boeke wat ons lees verander. Hy wil vir ons ‘n vadoek gee om die krummels van die tafel af te vee. Hy wil vir ons ‘n asem gee wat nie soos ‘n asbakkie ruik nie.

OORTUIGING VAN SONDE

Kom ons bestudeer die tweede stap in Jesus se goddelike plan om hierdie vrou te red.

Vers 16 Hy sê vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.” Waarom doen Jesus dit? Dit was ‘n verskriklike teer saak. Wat wou Hy hierdeur bereik?

As Hy vir my sou vra om my begroting vir Hom te wys, wat sou Hy daardeur bereik? Of as Hy vir my sou vra om vir Hom ‘n lys van al die items in my kombuis, my boekrak, my slaapkamer en my garage moet gee, wat sou Hy daardeur bereik?

Voordat Jesus die rein water van die evangelie in hierdie vrou sy siel kon instort, moes Hy eers die vrou vra om die prop uit te trek sodat die vuil stout waters van moedswillige sondes by die drein van belydenis kon uitloop.

En as ek en jy met die vuil water van sonde in ons lewe sit, vra Hy ons ook om die prop uit te trek sodat die vuil water kan uitloop en Hy ons met die skoon water van verlossing kan vul.

Dis onmoontlik om die waters van die lewe met die waters van sonde te meng.

Jakobus 3:11,12 ‘n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie. ‘n Vyeboom my broers, kan tog nie olywe dra nie, of ‘n druiwestok vye nie. ‘n Brak fontein kan mos nie vars water gee nie!

Kan jy die vrou se gesig sien toe Jesus vir haar vra om haar man te gaan roep? Haar gesig word bleek en haar mond verdroog. Dis ‘n baie pynlike kritieke oomblik in die gesprek tussen die sondares en Jesus. Maar ongelukkig is daar nie ‘n ander manier om van sonde ontslae te raak nie.

Vers 17 sê vir ons hoe sy gereageer het. “Die vrou het Hom geantwoord: Ek het nie ‘n man nie. En Jesus sê vir haar:  Dis reg wat jy nou gesê het: Ek het nie ‘n man nie! Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Jy het die waarheid gepraat.”

Sy kon op hierdie stadium haar gewip en opgespring en weggeloop het, maar sy het nie. Jesus het oor dit gepraat wat haar so ongelukkig gemaak het.

Sy lig haar oë van die grond af op en kyk verleë na Jesus. Kom ons hoor wat Johannes vir ons in vers 19 gaan vertel:

“Die vrou het vir Hom gesê: Meneer, ek sien dat u ‘n profeet is.” Die proses van verlossing vorder pragtig, sy erken haar probleem.

Voordat ek en jy nie erken dat ons ‘n probleem het nie, kan die Here ons nie red nie.

OORTUIGING VAN SONDE

Een van die grootste geskenke wat die Here ons gee, is die geskenk van die oortuiging van sonde. Wanneer die Heilige Gees soos ‘n skerp flits op ons sonde skyn, kan ons duidelik sien hoe aaklig dit regtig is. En wanneer ons sien hoe liederlik sonde regtig lyk, sal ons graag daarvan ontslae wil raak.

En as die Heilige Gees met jou oor sonde in jou lewe praat, sal Hy jou ook help dit uit jou lewe te verwyder. Jy kan dit nie doen nie, maar die Heilige Gees kan.

BESLUIT

Kom ons doen net vlugtig ‘n herhaling van die stappe waardeur Jesus hierdie vrou tot dusver gelei het.

Eers het Hy die sondares die begeerte vir die lewende waters opgewek. Tweedens, soos ons sopas gesien het, het Hy haar sondes uitgewys. En nou volg die derde stap. Sy moet ‘n besluit neem.

Kom ons lees die laaste gedeelte van die gesprek tussen die vrou en Jesus in verse 20-26:

Ons voorouers het God op hierdie berg aanbid, en tog sê julle die plek waar ‘n mens God moet aanbid, is in Jerusalem. Jesus sê toe vir haar: Glo My, Mevrou, daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode.

Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. God is Gees, en die wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid. Die vrou het vir Hom gesê: Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak. Toe sê Jesus vir haar: Dit is Ek, Ek wat met jou praat.”

DRAMATIESE OOMBLIK

Wat ‘n dramatiese oomblik. Kyk net na die  verbaasde uitdrukking op die vrou se gesig. Die Man hier voor haar sê vir haar dat Hy die Messias is. Die magtige God van ‘n biljoene galaksies, konstelasies en kwasars, heelalle, sit hier voor haar in Sy vleesgeworde menslike gedaante en sê vir haar, “Ek is die Messias!”

Vanuit die hoogste hemele het ‘n God van liefde na die laagste plek in die heelal afgedaal. En hier sit Hy langs ‘n vrou wat verskriklik laag in sonde afgesak het.

Wat ‘n toneel! Die hoogste langs die laagste; die skoonste langs die vuilste. En dis die prentjie wat God die Vader wil hê ons moet sien. Jesus het afgekom om sondaars te red.

Hy sê vir daardie slegte vrou. “Ek stel opreg in jou belang; Ek gee vir jou om; ek wil jou van die ewige dood red; en bied jou die mooiste, die reinste en die mees bevredigende vriendskap aan. Ek bied jou My onvoorwaardelike liefde aan.”

HY PRAAT MET JOU EN MY

En dieselfde Jesus is weer hier. Hy praat met jou en my wat met ons leë kruike by aardse putte sit. Hy bied ons hemelse water aan wat uit hemelse putte kom. Hy vertel ons van spesifieke sondes wat ons kan verwoes, en Hy sê vir ons Hy is die Messias, die Verlosser, die sondaarsvriend.

DIE DERDE STAP – DIE VROU NEEM JESUS AAN

Dit was my voorreg om die put van Jakob te kon besoek het. Maar ek sou nie omgegee het om daardie warm middag die gesprek tussen Jesus en die gevalle vrou te kon waarneem nie. Ek dink sy het aan Sy voete neergeval en net gehuil en gehuil.

Die gedagte dat Jesus, die Herder van Psalm 23, haar na waters van rus gelei het, was dorslessend. En om te dink dat sy hierdie waters van bevrediging sonder verdienste by Jesus gekry het, was heerlik onbegryplik.

En die besef dat sy die Messias gevind het en al haar sondes aan Hom kon beley het, was heling vir haar stukkende siel. Sy het die grooste vreugde van alle vreugdes ervaar, die vreugde van verlossing.

Die derde stap in die proses van verlossing het in die vrou se lewe plaasgevind. Sy het die verlossing wat daar net in Jesus is, ontdek en aangeneem. En weet jy wat? Hierdie verlossing is nog steeds vir elke sondaar beskikbaar.

OPTREDE – DIE VIERDE STAP IN VERLOSSING

Kan jy die blydskap in Jesus se oë sien toe hierdie vrou die verlossing aanneem wat Hy haar gebied het. Wat‘n gedagte! Om te dink sondaars soos ek en jy, bring Hom blydskap deur Hom as ons Verlosser aan te neem.

Kom ons lees watter reaksie het op die derde punt gevolg het.

Vers 28,29 Die vrou het toe haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: Kom kyk, hier is ‘n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Chistus nie?”

Wat was die mense se reaksie op haar uitnodiging om na Jesus te kom kyk, die Man wat haar vertel het hoe sleg sy is?

Vers 30 Die mense het toe uit die dorp uit na Jesus toe begin kom.

JESUS SE WAARNEMING

Die arme Jesus, Hy het nog nie eers ‘n slukkie water gekry nie.  Die geredde vrou het skoon vergeet om aan Jesus se versoek te voldoen. Maar Jesus het met ‘n groot glimlag van tevredenheid die toneel gade geslaan.

Eers het hy die skuldbelaaide vrou na die put sien aanloop. Haar lyftaal het van groot ongelukkigheid getuig.

En toe sien Hy hoe Sy met ‘n spoed daar weghardloop om vir mense van haar nuwe Vriend te gaan vertel. En nou sien Hy haar vir ‘n derde keer in aksie. Sy is opgewonde en beduie met die arms terwyl sy ‘n groep mense na Jesus bring.

DIE OES IS RYP

Net nadat die dissipels van die dorp af terugkeer het, het die vrou met haar mense na die put aangestap gekom. Dit was Januariemaand en die oes op die lande sou hier iewers in April ryp wees.

Luister wat sê Jesus vir Sy dissipels en vir ons:

Vers 35. “Sê julle nie: nog vier maande, dan is die oes daar nie? Maar Ek sê vir julle: Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes.”

Jesus het vir hulle probeer sê dat ‘n siele-oes baie vinniger kan gebeur as wat die mens mag dink.

OPROEP

Dit mag net wees dat jy soos daardie leë vrou met die leë kruik voel. Onthou, diesefde Jesus is op hierdie oomblik beskikbaar.

Dit mag wees dat Hy ‘n BEGEERTE vir iets beters by jou opgewek het.  Dit mag ook wees dat Hy deur Sy Heilige Gees jou sonde uitgewys het en jou OORTUIG het dat jy ‘n sonde probleem het.

En dit mag wees dat jy vir Jesus as jou beste Vriend en Redder wil aanneem. Miskien vir die heel eerste keer, miskien vir die hoeveelste keer. Doen dit gerus.

Die vierde stap sal dan spontane reaksie by jou word. Jy sal graag jou ondervinding met iemand wil deel.

Mag dit wees dat ek en jy, as geredde sondaars, sal uitgaan en  ongeredde sondaars na Jesus sal bring.

e-pos Navrae na questions@amazingdiscoveries.co.za

Was this article helpful?

Related Articles