1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Jakob Deel 16 – Josef In Die Tronk (Deel 1)
  1. Home
  2. Jakob
  3. Jakob Deel 16 – Josef In Die Tronk (Deel 1)

Jakob Deel 16 – Josef In Die Tronk (Deel 1)

16. JAKOB – JOSEF IN DIE TRONK
Ek stap by Avaris in Egipte oor die terreine waar Josef se tweede toets plaasgevind het. Tronkstraf. Hy het nie bande daaroor gebrand nie. Iewers hier is hy onskuldig in ‘n trunk gegooi.

Genesis 39:19,20 Toe Josef se eienaar by sy vrou hoor wat sy slaaf alles aan haar gedoen het, was hy kwaad, 20en het hy vir Josef gevat en in die tronk gegooi waarin die mense was wat deur die koning gevange gehou is.
Potifar se vrou het haar man indirek vir die Josef sage blameer. Is dit normal
Vers 17 Die Hebreeuse slaaf wat jy hier by ons ingebring het, het by my kom aanlê.
Om Josef saam met politieke oortreders op te sluit, was die ligste straf wat hy kon toedien
Hoekom dink jy het hy Josef nie doodstraf gegee nie?
Later in die geskiedenis was ‘n poging tot owerspel ‘n duisend katshoue op die voetsole gestraf. Vir die verkragting van ‘n vrou was dit baie erger. (Diodorus i.78)
Wat het Potifar se optrede teenoor Josef weerspieël?
Sy vertroue in Josef se integriteit, in teenstelling met sy vrou se weergawe van die sogenaamde misdaad van die slaaf. Miskien het sy ‘n geskiedenis van ontrouheid gehad.
Psalm 105:18 Hulle het sy voete in boeie geknel, hy self het in die ysters gekom
They bruised his feet with shackles, his neck was put in irons NIV

Sien jy hom daar in die donker sel. Hulle het hom met ysters vasgemaak. Dit was baie seer. Maar selfs in die donkerte van daardie donker tronk, blink Josef se karakter.

En wanneer jy na sy gesigsuitdrukking kyk het, sien jy vrede.
Nurenberg se pynysters het my aan Josef laat dink

Wie nog het ‘n atmosfeer van vrede uitgestraal toe Hy geboei is?

Vers 21 Maar die HERE was met Josef, en Hy het goedertierenheid aan hom bewys en hom guns verleen in die oë van die owerste van die gevangenis.

Wat ‘n mooi gedagte! Die Here was met Josef in die tronk. Ek dink dis heerliker met die Here in ‘n tronk as in luuksheid sonder Hom. Was jy al in ‘n tronk? Het die tronkbewaarders jou met respek behandel?

Ofskoon sy jare van troue diens wreed beloon was, het hy nie nors of wantrouig geword nie. Hy het die vrede van bewuste onskuld geken en sy saak aan God toevertrou. Hy het hom nie oor sy ramp verknies nie, maar eerder die ander gevangenisse se leed verlig.

Selfs in die trunk het hy iets gevind om te doen. Die Here was besig om hom in die skool van beproewing vir groter bruikbaarheid voor te berei. Hy het hom nie teen die nodige dissipline verset nie.

In die tronk het hy die geleentheid gekry om die gevolge van onderdrukking en tirannie en misdaad te aanskou. Hier het hy die lesse van regverdigheid, medelyde en genade geleer wat hom voorberei het om sy toekomstige mag met wysheid en deernis te beoefen.

Is daar lesse wat ek en jy in ons tronk van beproewing en swaarkry kan leer. Die Here wil mooier mense van ons maak.

Vers 21 En die owerste van die gevangenis het almal wat in die gevangenis opgesluit was, aan Josef toevertrou; en alles wat daar te doen was, het hý gedoen

Dieselfde liefdevolle God wat Josef in Potifar se huis ondersteun het, het hom guns in die oë van die tronkbewaarder laat geniet. Josef het geleidelik die vertroue die vertroue hoofbewaarder gewen en uiteindelik was hy as die opsigter van die tronk aangestel.

Dit was sy gedrag in die gevangenis – die onkreukbaarheid van sy daaglikse lewe en sy medelyde met die wat in die moeiliheid was – wat die weg vir sy toekomstige voorspoed en eer berei het.

Elke straal van lig wat ons op ander laat skyn sal na ons reflekteer word. Elke simpatieke woord vir ‘n treurende, elke poging om die verdrukte mens op te beur en elke geskenk aan ‘n beoeftige, wat met die regte motief gegee word, sal tot ons seën strek.

Vers 23 en die tronkbewaarder het nie meer na iets omgesien nie; alles was in Josef se hande, want die Here was by hom. Wat Josef ook al aangepak het, die Here het dit laat slaag.

DIE SKINKER EN DIE BAKKER

Op ‘n dag het daar twee interessante mense in die tronk beland. Ek glo nie Josef het besef watter effek een van hulle nog op sy lewe gaan uitoefen nie.

Genesis 40:1 ’n Ruk nadat Josef in die tronk gesit is, het ’n skinker en ’n bakker van Egipte se koning verkeerd opgetree teenoor hulle koning.

Die skinker was verantwoordelik om alles in die paleis te proe om seker te maak dat daar nie gif in die drinkgoed van die koning was nie.

Die bakker moes seker maak dat kos op die koning se tafel veilig is.

“Verkeerd opgetree teenoor hulle koning.”

Die farao was suspisieus dat hierdie twee hooggeplaasde hom wou veergif. Die ondersoek het aan die lig gebring dat een skuldig en die ander een onskuldig was.

Die geregtelike Papirus van Turin vertel ook van ‘n skinker en ‘n bakker wat die argwaan van die koning op die hals gehaal het.

Verse 2 Die farao het kwaad geword vir sy twee amptenare, die hoof van die skinkers en die hoof van die bakker. 3 Hy het hulle in dieselfde tronk laat sit waarin Josef opgesluit was, in die gebou van die koninklike lyfwag.
Dis baie interessant hoe die Here verskillende mense bymekaar bring om Sy mooi plan vir ons uit te werk. Ons moet elke ontmoeting met ‘n vreemdeling as ‘ potensiële wonderwerk beskou.

Waar is hierdie twee hooggeplaasde amptenare geplaas? Onder toesig van die hoof van die koninklike lyfwag. En raai wie was hy?

Genesis 37:36 Die Midianiete het vir Josef in Egipte verkoop aan Potifar. Hy was aan die farao se paleis verbonde as hoof van die lyfwag.

Genesis 39:1 Josef is na Egipte toe gebring. Potifar, ’n amptenaar van die farao en hoof van die lyfwag

Ek stap hier oor die sand waar alles gebeur. Baie interessant. Potifar plaas hulle in dieselfe regeringstronk waar hy Josef geplaas het. Hy het Josef opdrag gegee om na hulle om te sien. Ek wonder of Potifar en Josef nog oor ander sake ook gesels het?

Genesis 40:4 En die owerste van die lyfwag het Josef by hulle aangestel om hulle te bedien. En hulle was ’n tyd lank in bewaring.

‘n Mens wonder hoe lank die twee in die tronk gesit. Hoe dikwels het Josef met hulle gesels? Wat het hulle hom van die paleislewe vertel?

Vers 5 En hulle het altwee ’n droom gehad, elkeen sy droom, in dieselfde nag, elkeen ’n droom met besondere betekenis, die skinker en die bakker van die koning van Egipte, wat in die gevangenis gevange gesit het.

Die ongelooflike ooreenkomste van hulle drome het hulle laat dink dat dit miskien met hulle lot te make het.

Hulle het natuurlik besef dat die ondersoek van hulle sake enige tyd afgehandel kon word. Hulle was bekommerd en gefrustreerd omdat hulle nie toegang tot die profesionele droomuitleërs gehad het nie.

Dit was op hierdie kritieke oomblik dat Josef die volgende oggend hulle sel binnestap.

Verse 6,7 Josef het die volgende môre by hulle gekom en opgemerk dat hulle bedruk was. 7Hy het vir die twee wat saam met hom in die tronk was, die amptenare van die farao, gevra: “Waarom lyk julle vandag so bedruk?”

Vers 8 Hulle het hom geantwoord: “Ons het elkeen ’n droom gehad en ons weet nie wat dit beteken nie.” Toe sê Josef vir hulle: “God ken julle drome se uitleg. Vertel die drome vir my.”

Josef het seker aan die twee drome gedink wat hy gehad het. Alhoewel dit nog nie bewaarheid was nie, het Josef vas geglo dat die Here nog in sy lewe werksaam was. “Manne ek is so jammer dat julle so verslae lyk. Ek sal julle graag wil help. Kom ons gesels oor julle drome.”

Josef se passie om mense te help het daartoe gelei dat hy ‘n ruk later uit die tronk ontslaan is. Miskien is hier vir jou en my wat in die tronk van ellende sit. Is dit moontlik dat die belangstelling wat ons in ons mede gevangenisse stel, ons uiteindelike ontslag sal bewerkstellig?

Omdat Josef al deur soveel diep waters geloop het, het hy simpatie met ander gehad wat ook besig was om swaar te kry.

Kan jy die vriendelike simpatieke Josef in die tronksel langs hierdie twee sit en gesels. Hy wou so graag gehad het dat hulle nuwe moed moes skep. En toe vertel Josef hulle van sy God wat drome kan uitlê. Maar nie net dit nie. Dis die God wat die bron van sy troos en krag geword het. Wat mense ‘n nuwe sin van die lewe kan gee.

Ons wêreld het baie meer Josefs nodig om mense in die tronke van ellende te kom bemoedig.

Verse 9-11 Die hoof van die skinkers het sy droom vir Josef vertel. Die skinker het gesê: “In my droom het ek ’n wingerdstok voor my gesien, en aan die wingerdstok was daar drie lote. Dit het kwalik gebot of daar was al blomme, en toe is die trosse druiwe ryp. 11Ek het die farao se beker in my hand gehad en ek het die druiwe gepluk en daarin uitgedruk. Toe gee ek die beker vir die farao.”
Verse 12-14 Josef het vir die skinker gesê: “Dit is die uitleg: die drie lote is drie dae. 13Oor drie dae sal die farao aan jou aandag gee en jou in jou amp herstel. Jy sal weer vir die farao sy beker aangee soos vroeër toe jy sy skinker was. 14Maar wanneer dit goed gaan met jou, moet jy aan my dink en moet jy my ’n guns bewys. Jy moet my saak vir hom stel en sorg dat ek uit hierdie plek uitkom.

Josef het sy saak deur die skinker aan farao gestel. Hy is uit die land van die Hebreërs ontvoer en dis waarom hy nou in Egipte is.

Hy is onskuldig tronk toe gestuur. Omdat die Hieksos destyds regeer het, was die skinker nie ‘n Egiptenaar nie. Josef sou beslis meer hulp van hom kon verwag as van Potifar wat ‘n Egiptenaar was.

Vers 15 Ek is uit die land van die Hebreërs gesteel en ook hier het ek niks gedoen waaroor hulle my in hierdie gat kon gooi nie.”

Dit was omtrent ‘n gat waarin arme Josef gegooi is. Net ‘n ander naam vir die tronk.

Vers 16 Toe die hoof van die bakkers die gunstige uitleg hoor wat Josef gegee het, sê hy vir hom: “En nou ek! In my droom was daar drie mandjies met brood op my kop.

Na die goeie nuus van die skinker, was die bakker baie opgewonde om vir Josef van sy droom te vertel.

Die prentjie wat hy beskryf, is tipies Egipties. Mens sien hoe mandjies en skottels op die kop gedra word wanneer jy Egipte besoek.

Vers 17 In die boonste mandjie was daar ’n geurige baksel vir die farao. Maar die voëls het dit so uit die mandjie uit op my kop kom opvreet.”

Dis dood gewoon dat voëls van die kos sou kom oppik. Die bakker wag dat Josef die droom moet uitlê. Ek wonder hoe het Josef dit reggekry en met stemintonasie het hy dit oorgedra?

Verse 18,19 Josef het vir die bakker gesê: “Dit is die uitleg: die drie mandjies is drie dae. 19Oor drie dae sal die farao aan jou aandag gee, maar vir joú sal hy aan ’n paal laat ophang en die voëls sal jou vleis van jou afvreet.”

Verse 20-23 Drie dae later was dit die farao se verjaarsdag en hy het al sy amptenare op ’n groot ete onthaal. Daar voor sy amptenare het hy aandag gegee aan die saak van die skinker en die bakker. 21Hy het die hoof van die skinkers in sy amp as skinker herstel, en die skinker het weer vir die farao sy beker aangegee, 22maar hy het die hoof van die bakkers laat ophang. Dit alles het gebeur soos Josef vir die twee hulle drome uitgelê het.23Maar die hoof van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, hy het van Josef vergeet.

Mens wonder wat alles deur Josef se kop gemaal het toe hy die twee manne gegroet het.

Het iemand jou al iets beloof, maar dit nooit nagekom nie? Dis wat met Josef gebeur het. Ek dink hy was so dankbaar dat hy weer sy werk teruggekry het en dat sy lewe gespaar is, dat hy skoon van Josef vergeet het.

Terwyl die maande stadig verbysleep het Josef miskien gewonder of hy nog eendag in die tronk sou sterf. Later was dit twee jaar.

Behalwe vir die beproewings wat hy in die tronk moes deurmaak was daar ook nog die bitter emosie van ondankbaarheid wat die skinker hom aangedoen het. Die hoop op bevryding was besig om stadig te sterf.

Moenie vergeet om dankie te sê wanneer iemand aan jou goed gedoen het nie. Sit jy al ‘n lank ruk in die tronk van pyn en waaroms met kanse op bevryding wat baie skraal lyk?

Vers 23 Maar die hoof van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, hy het van Josef vergeet

Volgende keer gaan ons kyk hoe die tronkdeure vir Josef oopgegaan het.

Miskien het Josef weer aan die drome gedink wat hy nog in sy vader se huis gehad het. Miskien het daar weer ‘n vlammetjie van hoop in sy hart begin brand.

Die Here sal ons nooit bokant ons kragte toets nie. Hou moed. Bly glo en kyk wat die Here gaan doen wanneer jy nie meer ‘n uitkoms kan sien nie.

Was this article helpful?

Related Articles