19. JAKOB – JOSEF VOORSIEN KOS VIR MILJOENE
Nadat die farao vir ‘n ruk die aanstelling oorweeg het, het hy sy besluit om Josef tot die hoogste pos aan te stel, bekendgemaak. Josef groet sy vriende in die tronk. Hulle wens hom alle voorspoed toe.
Ek wonder of sommige van hulle hom gesmeek het om hulle uit hulle tronkselle te kom haal. Vir oulaas waai hy vir sy maats in hulle ellende.
Daar is met die inhuldigingseremonie begin. Eerstens was daar ‘n koninklike verklaring dat Josef as die onderkoning aangestel word.
Vers 42 Toe haal die farao sy seëlring af en steek dit aan Josef se vinger. Die farao het vir Josef linneklere laat aantrek en ’n goue ketting om sy nek gehang
Sien jy die glimlag op Josef se gesig? Mens sien prente van hooggeplaasde beamptes in die grafkelders wat met Josef se inhuldiging ooreenstem.
Dit toon die farao gewoonlik agter die “window of appearance” “venster van verskyning” wat ‘n bewys van waardigheidsoorhandi-diging voorstel.
Die seëlring wat aan Josef gegee is, het ‘n steen bevat in die vorm van ‘n kewer met die naam van die farao daarop. Dit was op al die koninklike dokumente geplaas.
Linneklere laat aantrek
Hy is in dieselfde klere geklee as die van die farao en die priesters. Dit was darem ‘n groot verskil van die tronkklere wat hy aan gewoond was.
Die Egiptiese verhaal van Sinuhe waarna ons vroër verwys het, (vers 14), het ook linneklere met sy terugkom na die paleis gedra. Die Bybel se beskrywings is so betroubaar.
Goue ketting
Grafprente wys hoe hooggeplaasde amptenare ‘n goue ketting om die hals ontvang. Sommiges word in museums uitgestal. Kunswerk met die naam van die farao daarop, is pragtig.
Kan jy vir Josef sien? Ek is aan die een kant so dankbaar dat sy broers hom verkoop het. Wag daar ook vir ons koninklike status in ‘n land sonder tronke?
Vers 43 en hom laat ry op die tweede beste wa van die farao. Daar is voor Josef uitgeroep: “Betoon hom eer!” So is Josef oor die hele Egipte aangestel.
Tweede beste wa.
Dis die eerste melding van ‘n wa en dit val saam met die Hieksos wat die wa vir die eerste maal in Egipte gebruik het.
Vers 44 Toe het die farao vir Josef gesê: “Ek bly die farao, maar sonder jou toestemming mag niemand in Egipte ’n vinger verroer of ’n voet versit nie.”
45. En Farao het Josef genoem Sáfenat-Panéag en aan hom Ásenat, die dogter van Potiféra, die priester van On, as vrou gegee. En Josef het uitgetrek oor Egipteland.
Van die tronk na die pragtige ooptes van Egipte. Hy ry met sy koninklike wa verby die piramiedes. Die perde draf met sy koets langs die pragtige Nyl. Wat gaan alles in Josef se gedagtes aan? Sy pa, sy broers, Potifar en sy slegte vrou?
Die naam wat farao vir Josef gegee het was lank as Egipties herken. Hy het sommer ook ‘n nuwe naam van die farao gekry.
Tydens due Bubastidtydperk (9de eeu)is ‘n inskripsie met die volgende woorde gevind: Djed–pa–netjer–iuf–ankh, “die god praat dat hy mag leef.”
Josef se naam moes na kontemporêre gebeure verwys dat God deur farao se droom en Josef se uitleg gepraat het. Dit het daartoe gelei dat lewens gespaar is.
Asenat
Josef se eerste baas Potifar, was die bevelvoerder van koninklike wag. Sy skoonpa die hoëpriester van On was. Sy sontempel was naby Memfis op die oostelike oewer van die Nyl.
Die Grieke het dit later Heliopolis genoem. Die sontempel van On en sy priesters het vir baie jare ‘n groot invloed op die Egiptiese godsdiens gehad.
Tydens die vyftiende eeu en eeue later het die aanbidding van Amun en later Amun-Ra die sonaanbidding van On oorskadu. Josef se sosiale stand asgevolg van sy troue met die dogter van die voorste Egiptiese families het groot gewig gedra.
Gelukkig het hierdie huwelik nie sy lojaliteit aan die Here beïnvloed nie. Sy twee seuns, Efraim en Manassa is in die Hebreeuse godsdiens grootgemaak en later twee van die stamhoofde in Israel geword.
Hulle het op gelyke status met hulle ooms, Josef se broers, gestaan. Ek glo Josef se lojaliteit aan die Here het tot die bekering van sy vrou Asenat gelei.
Ons moet ook onthou dat die Here wat hom so hoog verhef het, hom ook teen afgodery, politeïsme bewaar het. Die Here het darem baie groot dinge vir Josef gedoen. Sy boeie was met ‘n goues ketting vervang.
Sy tronkklere met duur fyn linne. Van ‘n ingehokte tronsel na ‘n reis op sy strydwa. Hy trek uit die tronk en gaan woon in ‘n paleis. Om te dink dat Potifar se slaaf het toe sy baas geword. Die gekletter van kettings en die geskreeu van bewaarders, word met uitroepe van “Betoon hom eer!” vervang.
Verering het op vernedering gevolg; diens en lyding was die trappe na ongekende gesag. Hoe ongelooflik is God se dienskneg nie vir sy lojaliteit en geduld beloon nie.
Dis wat met Josef gebeur het. Dink net hoe dit gaan wees wanneer ons uit ons tronk in die Vryheid van onsterflikheid gaan instap? Wanneer ons vernedering met die verering van God se verwelkoming vervang gaan word.
Wanneer ons tronkklere van ons gevalle nature in ‘n sondelose onsterflike liggaam gaan instap.
Just think of stepping on the shore and find heaven, of touching a hand and finding it God’s, of breathing new air and finding it celestial, of waking up in glory and finding it home
Vers 46,47 En Josef was dertig jaar oud toe hy voor Farao, die koning van Egipte, gestaan het; en Josef het van Farao af weggegaan en die hele Egipteland deurgetrek.47 Tydens die sewe jaar van oorvloed het die land ’n buitengewone groot oes gegee,
Ek dink almal was verstom toe Josef se profesie in vervulling gegaan het. Egipte het nog nooit voorheen so iets beleef nie. Josef het 20% van die oeste in die pakkamers geberg. Die oes het alle verwagting oortref en die personeel kon net nie tred hou nie. Ekstra personeel en pakkamers moes voorsien word.
Vers 48 en Josef het al die graan wat daar in hierdie jare in Egipte was, bymekaargebring en in graanskure gebêre: in elke stad is die graan uit die lande van daardie omgewing gebêre.
Vers 49 Josef het so baie koring bymekaargemaak dat dit net soveel was as die sand van die see. Hy het later opgehou om aan te teken hoeveel daar was, want dit was te veel om te tel.
Vers 50 Reeds voor die jare van hongersnood begin het, is daar vir Josef twee seuns gebore. Sy vrou Asenat, dogter van Poti-Fera priester van On, het hulle vir Josef in die wêreld gebring.
Die name wat Josef vir sy twee seuns gegee het, besing die oorvloedige voorsiening van God.
Vers 51 Hy het die oudste Manasse genoem, “want,” het hy gesê, “God het my alles laat vergeet: al my swaarkry en alles wat my familie my aangedoen het.”
Die naam wat Josef vir sy eersgeborene gegee het, dui op sy dankbaarheid teenoor God wat daartoe gelei het dat hy sy swaarkry vergeet het en sy intense verlange na sy vader se huis laat afneem het.
Hy was dankbaar dat die Here weer vir hom ‘n huis gegee het, al was dit in ‘n land van verbanning. Sy vroeëre ellende kon net nie sy huidige geluk vergal nie want: Teëspoed is in voorspoed verander.
Hoekom dink jy het Josef versuim om met sy pa kontak te maak toe hy sy verhewe posisie ontvang het? Het hy van sy pa se tere liefde vergeet en het hy geen behoefte gevoel om sy pa te laat weet dat hy nog lewe nie?
In die volgende paar oomblikke sal ons sien dat dit nie geval was nie wanneer hy homself aan sy broers openbaar en sy pa na hom toe te laat kom. Nog ‘n rede waarom hy nie kontak gemaak het nie was omdat hy nie die wrede optrede van sy broers vir sy pa wou ontbloot nie.
Dit kan ook wees dat dat hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het dat die tyd om die onthulling te maak, nog nie aangebreek het nie. Josef se optrede druis nie in teen sy vrome godswandel nie. As die Here Hom in Egipte wou hê dan is dit die plek aar hy wil wees.
Vers 52 Josef het sy ander seun Efraim genoem, “want,” het hy gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek verneder is.”
Efraim beteken “dubbele vrugbaarheid.” ‘n Pragtige naam vir sy seun uit dankbaarheid vir wat die Here vir hom gegee het. Uit ‘n permanente knegskap; ‘n gelukkige gesin en twee seuns. Die naam openbaar ‘n hart vol vreugde en dankbaarheid.
Verse 53,54 Na die sewe jaar voorspoed in Egipte 54het die sewe jaar hongersnood begin. So het Josef dit destyds aangekondig. In al die lande was daar hongersnood, maar in die hele Egipte was daar kos,
Net soos Josef voorspel het, het daar hongersnood na die sewe vrugbare jare gevolg. Dit het nie net Egipte getref nie maar ook die omliggende nasies. Gebrek aan reënval in die hooglande van Abissinië het die die droogte in die hele streek ten gevolg gehad
Vers 55 want toe die hongersnood Egipte tref en die mense vir die farao kos vra, het hy vir al die Egiptenaars gesê: “Gaan na Josef toe en doen wat hy sê.”
“Mense julle moet met Josef die minister van voedsel gaan praat. Die graanskure is oop vir Egipte en vir buitelanders.” Mens lees op verskeie hiërogliewe verslae wat na hongersnood verwys. Daarin vertel dit dat hoë amptenare in die voedselbehoeftes van armes voorsien het.
“Ek het vir die hongeres brood gegee, vir die dorstiges water, vir die nakes, klere en boot vir hulle wat sonder ‘n boot was.”
‘n Amptenaar van die Twaalfde Dinastie (2000 vC) beweer: “Toe die hongersnood kom het ek die landerye van die Oryxdistrik omgeploeg,…die mense van die dood gered, vir hulle kos gegee en niemand onder hulle was honger nie.” Mense het besef watter ramp Josef verhoed het. Die hele Egiptiese dinastie van desyds kon eenvoudig net verdwyn het.
Hierdie jong Hebreër, ‘n voormalige slaaf, het die redder van Egipte en die omliggende nasies geword. Dit is ongelooflik hoe die Here iemand wat aan Hom getrou bly, kan gebruik.
Vers 56 Oor die hele wêreld was daar hongers-nood, en toe dit straf word in Egipte, het Josef die graanskure oopgesluit en wat daarin was, aan die Egiptenaars begin verkoop.
Vers 57 En toe die hongersnood straf word in die ander lande, het die mense van die hele wêreld Egipte toe gekom om koring te koop by Josef.
Waarom het Josef die graan verkoop? Die bevolking is voor die tyd gewaarsku dat ‘n sewe jaar droogte op pad is en hulle moes voorsorg getref het. Aangesien die mense vir die kos betaal het, het dit hulle aangemoedig om versigtig te wees en nie die kos te mors nie.
Wat het Josef in staat gestel om so ‘n mooi karaktererfenis na te laat? As jongmens het hy plig, eerder as ingewing geraadpleeg. Integriteit en getrouheid, ‘n mooi geaardheid het sy vrugte in die lewe van ‘n volwasse Josef gedra.
Eenvoud het tot die ontwikkelling van die fisiese en die intellektuele kragte gelei. Omgang met God deur Sy handewerk en die bepeinsing van heerlike waarhede, verhef en veredel die geestelike natuur.
Dit het hom verbreed en versterk soos geen ander studie dit kon doen nie. Pligsgetrouheid in nederigste ou takie, tot die mees verhewe plig, het elke vermoë van Josef ontwikkel.
Moenie te belangrik voel om die geringste, die vuilste werk te doen nie. Dit ontwikkel ‘n mens. Hy wat volgens die wil van die Skepper leef, kry ‘n skoon en edel karakter. “Die vrees van die Here is wysheid, en om van die kwaad af te wyk, is verstand.” Job 28:28. (Om die Here te dien, dit is wysheid, om die kwaad te vermy, dit is insig.) {PP 222.2}
Josef het baie aan sy pa en sy ongeskikte, wrede en ontoewyde broers gedink. Miskien het hy gewonder of hulle nie al jammer gekry het oor wat hulle aan hom en hulle pa gedoen het nie.
Volgende keer kyk ons na een van die mees dramatiese verhale in die Bybel.