JAKOB – DEEL 6
Skriftuur: Genesis 32:1-5
Het jy al agtergekom dat die lewenstoetse nie makliker word nie, maar moeiliker?
As ek en jy nalaat om die huidige krisis te oorleef, sal ons baie beslis ook nie die volgende krisis oorleef nie. As ons deur die genade van die Here die huidige krisis die hoof bied en as oorwinnaars uit die stryd tree, sal ons ook as oorwinnaars uit die volgende krisis tree.
Jakob het so pas deur ʼn groot krisis met Laban gekom en gewen. Terwyl hy nog in die strale van ʼn heerlike versoening gebaai het, het die volgende krisis sy verskyning gemaak. Wanneer ons deur die genade van die Here die een toets deurstaan het, sal Hy ons die genade skenk om ook die volgende toets te deurstaan. Daar was nog een groot toets wat Jakob moes slaag.
Hy moes leer om nie op sy eie slimheid staat te maak nie, maar om uitsluitlik op die hulp en genade van die Here staat te maak. Die grootste toets wat ek en jy sal moet slaag, is om ook uitsluitlik op die hulp en die genade van die Here vir oorwinning staat te maak.
JAKOB SE GEDAGTES OP PAD KANAÄN TOE
Kom ons kyk vir ʼn oomblik diep in Jakob se hart en dan ontdek ons watter emosies hy in hom ronddra.
Hoewel hy die gebied van Paddan-Aram en sy skoonpa Laban op bevel van die Here verlaat het, het hy nie heeltemal ontspanne teenoor sy pa en sy broer gevoel nie. Terwyl hy dieselfde pad loop wat hy 20 jaar vantevore as vlugteling geloop het, het hy aan die vreeslike bedrog gedink wat hy teenoor sy pa gepleeg het.
As gevolg van sy sondes het hy nou reeds 20 jaar in ballingskap deurgebring. Sukkel jy met die gevolge van die sonde wat jy in die verlede gepleeg het? Jakob se sonde het hom vir 20 jaar in ballingskap gedompel.
Hoe lank het die gevolge van jou sondes jou nou al in ballingskap gedompel? Dis partykeer baie moeilik om te aanvaar dat die Here jou vergewe het wanneer jy elke dag met die gevolge van jou sonde sukkel.
Ek het op ʼn keer vir ʼn man sterwensbegeleiding gedoen. Toe hy die Here aangeneem het, het hy opgehou rook maar dit was reeds te laat. Die gevolge was longkanker. In die laaste paar oomblikke het hierdie hygende man vir my gevra of die Here hom regtig vergewe het.
Een aand toe mnr. X dronk was het hy sy vrou met die vuis in die gesig geslaan. Ongelukkig het sy haar oog in die proses verloor. Jare later het hy tot bekering gekom. Hy sou altwee sy oë vir sy vrou wou gee, maar die skade was vir ʼn leeftyd.
Met kere wanneer hy so na sy vrou se geskende gesig gekyk het, het hy gewonder of die Here regtig so ʼn verskriklike lelike sonde kon vergewe.
Miskien het jy ook op een of ander manier jou geliefde ʼn wond toegedien. Die Heilige Gees het jou van daardie sonde oortuig en jy het dit bely. Die Here het jou vergewe.
Ongelukkig kan ons nie altyd die gevolge van sonde tot niet maak nie. Ons het mense kwaad gemaak wat vir altyd vir ons kwaad sal wees. Daar is mense wat ons deur ons woorde of dade baie seergemaak het wat ongelukkig lewenslank daardie pyn sal voel.
In die lewe van Jakob kry ons ʼn tipiese voorbeeld van hierdie worstelstryd in die hart van die kind van die Here. Die verskriklike, wrede, aanhoudende gevolge van ons sondes laat ons partykeer twyfel of die Here waarlik ons sondes vergewe het.
DIE PYN VAN ONVERGEWINSGESINDHEID
Een van die grootste sere wat ons mekaar kan aandoen, is om mekaar nie te wil vergewe nie.
Terwyl Jakob sy geboorteland nader, dink hy ook aan die seer wat hy sy broer Esau aangedoen het. Tot op hede het sy broer hom nog nie vergewe nie. Die bewys hiervoor is die feit dat hy tot op datum nog nie gevra is om terug te kom huis toe nie. Dis baie swaar vir Jakob om met hierdie gedagte saam te leef.
Dis moontlik dat jy ook soos Jakob ʼn familielid te na gekom het – onlangs, of miskien lank gelede. En tot op datum het julle nog nie by mekaar uitgekom nie. Indien dit met jou die geval is, sal jy verstaan en waardeer deur watter sielewroeging Jakob gegaan het. Dis nie lekker om te weet dat iemand ʼn permanente wrok teenoor jou koester en jou nie wil vergewe nie.
DIE MOONTLIKE GEVOLGE AS ESAU VIR JAKOB WEER SIEN
As Esau hoor dat hy terugkom, kon hy miskien dink dat Jakob op die erfporsie van Isak kom aanspraak maak. Esau kon dus vir Jakob om twee redes doodmaak. Eerstens om sy besittings te beskerm en tweedens om hom op Jakob te wreek.
Net die gedagte aan Esau bring so ʼn beklemming oor Jakob se hart. Het jy al so iets ondervind? Wanneer ʼn mens aan die onverbiddelike onvergewensgesindheid van sekere mense dink, kom daar so ʼn ongemaklike, bang gevoel oor jou hart.
GEDAGTES AAN DIE HERE SE LEIDING BRING TROOS
Maar Jakob se gedagtes gaan ook terug na die droom van die leer en die Here se versekering dat Hy by Jakob sal staan. Sal hy ooit die aand vergeet toe die Here so intiem naby hom gekom het?
Dis baie belangrik dat ons die Here se leiding in ons lewe vars in ons gedagtes hou. Wanneer ons te veel aan die negatiewe ondervindings in ons lewens dink, sal dit ons heeltemal verpletter.
Genesis 32:1,2 “Jakob het sy koers gegaan, en engele van God het hom teëgekom. Toe Jakob hulle sien, sê hy: Dit is ʼn leër van God, en Jakob het die plek Maganajim genoem.”
BESKERMING VAN ENGELE
Dis net wat Jakob nodig gehad het. ʼn Bevestiging dat die Here nog steeds in sy lewe lei, ten spyte van al sy tekortkominge. Maar daar is nog ʼn ander pragtige les wat ons uit hierdie verhaal leer. Dit was nadat Jakob met Laban versoen het, dat engele hulleself aan hom geopenbaar het.
VERSOENING
Die hele verlossingsplan handel oor die kwessie van versoening. En in hierdie hele proses het die Here self die versoeningsinisiatief geneem. Hoewel ek en jy die skuldige party was, het Hy Hom met ons kom versoen. Moenie wag dat mense met jou moet kom regmaak nie. As die verhewe Skepper van hemel en aarde eerste met ons kom regmaak het, wie gee ons dan die reg om te wag dat ander mense met ons moet kom regmaak.
DIE BETEKENIS VAN MAGANAJIM
Dis baie interessant om na die betekenis van die Hebreeuse woorde te kyk. Terwyl Jakob met sy groot leer op pad was na die Jabokrivier, het engele skielik helder oordag aan hom verskyn. Dit was die tweede keer dat hy engele gesien het. Die eerste keer was by Bet-el.
Daar het hy gesien hoe engele op en af met ʼn leer beweeg het. Die leer stel Jesus voor. Deur middel van Jesus neem engele ons behoeftes na God se genadetroon, en met behulp van Jesus daal hulle na ons toe neer met boodskappe van vertroosting en beskerming.
Toe Jakob die engele vir die tweede keer sien, noem hy die plek MAGANAJIM. Dit beteken in Hebreeus “twee kampe.” Die Bybel sê nie vir ons in watter formasie die twee kampe engele Jakob en sy mense beskerm het nie. Miskien was daar ʼn halfmaan-formasie aan die voorpunt en ʼn halfmaan-formasie op hulle agterhoede.
JAKOB STUUR ‘N BOODSKAP AAN ESAU
Hoe sou jy die konflik met jou verwoede broer hanteer het as jy in Jakob se posisie was? Hy het ʼn paar opsies gehad: Eerstens kon hy sy broer summier geïgnoreer het en Kanaän binnegegaan het. Ignoreer jy mense wat in konflik met jou is?
Tweedens kon Jakob ʼn kleed van “Ek is heiliger as jy” aangetrek het, en die volgende boodskap vir sy broer Esau gestuur het: “Geagte broer Esau, die Here wat my uitverkies het om die seën en verantwoordelikhede van die eersgeborene te ontvang, het vir my gesê om na Kanaän terug te keer en dit in besit te neem. Moenie eers probeer om my leed aan te doen nie. Die God wat my bo jou uitverkies het, sal self met jou afreken. Vind gerus uit wat met Laban gebeur het toe hy dit probeer doen het. Groete, jou geredde, wedergebore broer, Jakob.” Met ʼn naskrif:
“Wanneer ek by Berseba aankom, sal ek die dubbele erfporsie wat my regmatig toekom, in besit neem. Moenie dat hierdie saak hof toe gaan nie. Ek sal jou heeltemal uitroei.”
Is dit miskien hoe ek en jy by tye optree? Ons staan op ons reg. Ons voel dat mense wat oortree het, op hulle plek gesit moet word.
Jakob het ʼn derde opsie gekies om die konflik tussen hom en sy broer te hanteer. Wat Jakob eintlik gedoen het, is presies wat Jesus vir ons gesê het om te doen.
Matteus 5:38-42 “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘‘n Oog vir ʼn oog en ʼn tand vir ʼn tand.’ Maar Ek sê vir julle: julle moet julle nie teen ʼn kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”
ʼn Gesindheid van kwaadwillige konfrontasie is nie terapeuties nie. In plaas daarvan dat ou probleme opgelos word, word nuwes geskep.
Galasiërs 6:1. “Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ʼn gees van sagmoedigheid reghelp. En pas o: jy kan self ook in versoeking kom.”
Terwyl Jakob so oor alles peins, kry hy ʼn blink idee. Hy gaan deur die genade van die Here in ʼn gesindheid van hemelse hoflikheid en versoening optree. Hy besluit dat hy die minste gaan wees. Op ʼn mooi manier gaan hy vir Esau laat weet dat hy terugkom en dat hy weer eens baie jammer is oor die onaangename insident van 20 jaar gelede.
Genesis 32:3,4. “Daarna het Jakob boodskappers vooruitgestuur na sy broer Esau toe, na die Seïrstreek toe, die gebied van Edom. Jakob het vir hulle gesê: So moet julle vir my geagte broer, vir Esau sê: So sê Jakob wat aan u onderdanig wil wees: Ek het tot nou toe by Laban gebly. Ek besit beeste, donkies, kleinvee, slawe en slavinne. Ek laat u dit weet om te verneem of ek by u welkom sal wees.”
Hoe sou jy gereageer het as jy so ʼn boodskap ontvang het? Sou jy vir Jakob laat weet het dat hy welkom was om terug te kom? Miskien is daar iemand wat weer jou vriendskap opsoek. Miskien is daar iemand wat jammer is oor wat hulle aan jou gedoen het. Miskien het hulle al reeds vir jou gevra of hulle maar kan terugkom.
Voordat ons na Esau se antwoord op hierdie mooi versoek luister, verneem ons net so een of ander oor die plek waar hy op daardie oomblik gewoon het.
PETRA EN DIE SEïRGEBERGTES
Hoewel Esau nog belange in Berseba gehad het, het hy tydelik na die Seïrgebergtes toe getrek. Later het hy permanent daarheen verhuis en die destydse inwoners, die Horiete, verdryf. Elke keer wanneer ek die stad van Petra in die suide van Jordanië besoek, doem die verhaal van Esau by my op.
Die hoë kranse en die 1000 tempels en paleise wat uit die pragtigste kleurvolle roesrooi-rots gebeitel is, herinner mens aan die trots van Esau. Wanneer mens die geskiedenis van Esau en sy nageslag, die Edomiete lees, ontdek jy dat hulle tot niet gegaan het as gevolg van hulle verwaande trots. Dit was ook verwaande trots wat die Koning van Tirus, en die Duiwel, tot ʼn val gebring het. En verwaande trots bring nog steeds mense tot ʼn val.
Terwyl ek in een van die valleie in Petra, Wadi Farasa, gestap het, het ek aan die ernstige waarskuwingsboodskap van die profeet Obadja, gedink. Luister wat hy vir die Edomiete, die afstammelinge van Esau geskryf het:
Obadja 1:2,3. “Die Here het gesê: Edom, ek maak jou ʼn klein volkie onder die volke, jy sal glad nie meer gereken word nie. Jy is deur jou vermetelheid mislei, jy wat daar in die klipskeure sit, wie se woonplek hoog in die berge is, jy wat dink: wie sal my hier afkry grond toe?”
Die Edomiete, Esau se afstammelinge, het hulle verbeel dat hulle ʼn baie groot volk is. Mense wat dink hulle is belangriker as wat hulle regtig is, maak van hulle ʼn spektakel. Sulke gedrag maak van jou ʼn klein volkie, sê die teks.
Vers 2. “Jy sal glad nie meer gereken word nie.”
Ons wil so graag “gereken” word. Ons wil hê dat mense ons in sake moet ken. Ons wil soos aandele op die aandele beurs net hoër en hoër in die oë van mense styg.
Filippense 2:5-7 sê dat ons dieselfde gesindheid as dié van Jesus moet hê. Dit was ʼn gesindheid van leegmaak. ʼn Gesindheid wat na die pynvlak van mense afgedaal het en wonde genees het.
Terwyl ek met Wadi Musa in Petra afstap, het ek in verwondering na ʼn aantal reuse-paleise gekyk. Al vyf van hulle is uit die soliede rots van die berg Jabal Khubtha gekap. Vroeër jare het mense in hulle trotse waan daar gewoon en vas geglo dat niemand hulle uit hulle valse sekuriteit sal neem nie.
In hulle harte het die afstammelinge van Esau gesê: “Wie sal my hier afkry grond toe?” Kom ons luister na die woorde van die Here aan die trotse Edomiete. En as ek en jy vanoggend ʼn probleem met valse trots het, praat Hy ook met ons. Vers 4. “Al bou jy daar in die hoogte soos ʼn aasvoël, al sit jy nou nes tussen die sterre, ek sal jou daar afhaal” sê die Here.
DIE GESKIEDENIS VAN DIE EDOMIETE
Wanneer ʼn mens die geskiedenis van Esau se afstammelinge, die Edomiete lees, ontdek jy dat hulle gedurig in oorlog met Israel gewikkel was. Toe Israel deur die Babiloniërs op hulle knieë gedwing was, het Edom hulle verder verneder en vervolg. Uiteindelik het hierdie nasie met sy valse trots uit die geskiedenisboeke verdwyn.
Terwyl ek teen die steiltes van die Seïrgebergte na die tempel van Ed Deir geklim het, het ek vir ʼn paar minute langs ʼn Beduïne koeldrankverkoper gaan sit. Haar voorgeslagte was die Edomiete. Hulle het later met die Nabateërs vermeng geraak. Die bruingebrande Beduïne vrou hier voor my, het nog so ʼn paar druppels Edomitiese bloed in haar gehad. Sy het my gedagtes na haar voorvader Esau se optrede teenoor Jakob teruggeneem.
ESAU TREK UIT
Op ʼn dag het iemand vir Esau laat weet dat Jakob op pad is na Kanaän. Dadelik het hy 400 van sy beste vegters bewapen en koers gevat noorde toe. Voordat Jakob se dienaars by Petra kon aankom, het Esau se weermag hulle iewers op die Koningshoofweg ontmoet.
Jakob se diensknegte buig laag voor Esau en sy soldate. “Esau, u onderdanige broer Jakob, stuur baie groete. Die God van Abraham en Isak het hom met baie beeste, donkies, kleinvee, slawe en slavinne geseën. Hy sal graag van sy rykdom met u wil deel. U onderdanige broer wil net weet of hy guns in u oë gekry het en of hy welkom is om weer terug te kom?”
Terwyl ek onlangs deur Wadi Mujib, die groot Bybelse Arnon gereis het, het ek gewonder waar Jakob se manne vir Esau en sy soldate ontmoet het. Miskien was dit nog heel onder in hierdie geweldige groot canyon.
BLY DOODSTIL
Terwyl Jakob se gesante hoflik hulle versoek aan Esau rig, bly hy net doodstil. ʼn Mens wonder wat alles deur Esau se gedagtes geflits het. Miskien het hy gedink dat Jakob weer met ʼn slenter kom om hom te bedrieg en hom uit al sy besittings te beroof. Kan ons van Esau verwag om weer vir Jakob te vertrou?
Kan ons van iemand verwag om ons weer te vertrou nadat ons hulle vertroue in ons geskok het? Is jy gewillig om iemand wat jou teleurgestel het, iemand wat jou seergemaak het, weer te vertrou? Wat verwag die Here van jou?
Esau moes ʼn besluit neem. Of hy gaan Jakob weer ʼn kans gee, of hy gaan hom op Jakob wreek.
En ek en jy moet ook ʼn besluit neem. Of ons gaan iemand wat ons seergemaak het, weer ʼn kans gee, of ons gaan onsself op daardie persoon wreek. Terloops, die kragtigste wapen om jouself teen iemand te wreek, is om jou vergifnis van daardie persoon te weerhou.
Die mooiste wat die Here aan sondaars soos ek en jy kan gee, is om ons, ons oortredinge te vergewe. Die mooiste geskenk wat ons aan mekaar kan gee, is ʼn gesindheid van vergewensgesindheid.
In ons volgende aflewering gaan ons kyk hoe Jakob, Esau se onvergewensgesindheid hanteer het. Ons gaan sien hoe die Here self ʼn pragtige versoening tussen twee broers bewerkstellig het.