JAKOB – DEEL 7
Skriftuur: Genesis 32:9-12
Wat sou jy maak as die volgende met jou gebeur: Jy het van jou kant af alles gedoen om met iemand te versoen. Dit was moeilik en vernederend. Nou ignoreer daardie persoon jou pogings om te versoen en beplan boon-op om jou skade aan te doen. Moet jy jouself nog ʼn keer verneder en maar probeer versoen, of moet jy jou van die versoeningsproses ontrek?
Daar is ʼn spreekwoord wat sê dat jy nie van jouself ʼn vloerlap moet maak nie. En dan is daar verbitterde mense wat die volgende teks aanhaal:
Matteus 7:6. “Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.”
JAKOB SE OPTREDE
Kom ons leer ʼn groot les uit die geskiedenis van Jakob. In die vorige preek het ons gehoor hoe hy ʼn afvaardiging na sy broer Esau gestuur het. Kom ons verfris net weer ʼn keer ons gedagtes met betrekking tot die boodskap wat hy aan Esau gestuur het:
Genesis 32:4,5. Jakob het vir hulle gesê: “So moet julle vir my geagte broer, vir Esau sê: So sê Jakob wat aan u onderdanig wil wees: Ek het tot nou toe by Laban gebly. Ek besit beeste, donkies, kleinvee, slawe en slavinne. Ek laat u dit weet om te verneem of ek by u welkom sal wees.”
Terwyl Jakob se boodskappers weg was, het hy baie ure in gebed deurgebring. “Ag Here. U het beloof om met my op die pad te wees. U het beloof om my na Kanaän terug te bring. Asseblief. Ek smeek U. Raak my broer Esau se hart aan sodat hy my sal vergewe en sodat ons weer goeie vriende kan wees. Amen.”
Het jy al vir ʼn saak gebid en dan gebeur net die teenoorgestelde? Jy vra vir Here om iemand se hart sag te maak, dan word daardie mens se hart net nog harder.
DIE SLEGTE NUUS
Na ʼn paar dae het die benoude boodskappers wat hy na Esau gestuur het, uitasem by Jakob aangekom. Hy kon sommer op hulle gesigte sien dat daar groot moeilikheid was. Vers 6. Die boodskappers het na Jakob toe teruggekom en kom sê: “Ons het by u broer Esau aangekom, maar toe was hy al op pad na u toe met vier honderd man by hom.”
ʼn Baie bekommerde Jakob praat met die boodskappers. “Het my broer niks gesê nie? Was daar nie eers ʼn tikkie welwillendheid by hom nie? Wil hy ons regtig kom uitwis?”
Die boodskappers gee vir Jakob ʼn baie akkurate beskrywing van Esau se onverbiddelike houding. Hulle sê ook vir Jakob dat hulle die duiwel in Esau se oë gesien het. “Jakob, jou broer het net een ding in sy kop. Hy wil jou kom doodmaak.”
VREES REAKSIE
Hoe sou jy in ʼn soortgelyke situasie opgetree het? Sou jy nog met versoening voortaan? Vers 7. “Jakob het baie bang geword, angs het hom oorval.” Enige mens word bang wanneer hy weet iemand haat hom en dreig om hom te kom doodmaak. En dan wonder jy nog boonop of jou saak honderd persent met die Here reg is.
Een van die moeilikste emosies om te hanteer, isme haatgevoel teenoor jou.
DIE DIABOLIESE AARD VAN HAAT
Wanneer laas het jy ʼn manifestasie van haat en woede teenoor jou ervaar? Wat het jy in daardie persoon se oë gesien? Watter effek het sy woede-uitbarsting op jou gehad? Dit mag wees dat jy self onlangs in ʼn woedebui teenoor iemand uitgebars het. Het jy daarna beter gevoel? Of het jy vuiler en meer besoedel gevoel? Was jy agterna vreedsamer of wreder?
Wat woede-uitbarstings en haatgevoelens betref, het die Bybel vir ons skokkende nuus. 1 Johannes 3:15. “Elkeen wat sy broer haat, is ʼn moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie.”
Het u miskien na sommige van die verslae van die destydse Waarheids-enVersoenings Kommissie geluister? Was u saam met my geskok oor sommige van die grusame moorde wat gepleeg is?
Waar het hierdie dade hulle oorsprong? In die haatgedagtes van die mens. As jy op hierdie oomblik sulke gedagtes teenoor iemand anders koester, bid ek dat die Heilige Gees u met die gevaarlike diaboliese aard daarvan sal skok.
Wanneer ek haatgedagtes teenoor iemand anders koester, laat ek toe dat die duiwel my met sy eie gees van wraaksug besoedel. Een of ander tyd mag hierdie opgehoopte, onopgeloste aggressie tot ʼn lelike uitbarsting kom.
VOOR DIE SON ONDERGAAN
As ons negatiewe gedagtes van woede teenoor iemand koester, gee die Bybel vir ons ʼn spertyd om daarvan ontslae te raak. Daardie spertyd is nie ʼn jaar of ʼn maand of selfs ʼn week nie.
Weet jy hoe lank is die spertyd wat die Bybel toelaat vir jou woede om te bedaar? Efesiërs 4:26,27. “ As julle kwaad word, (en daaraan kan ek niks doen nie, dis toelaatbaar) moenie sondig nie, (ek sondig wanneer ek die onreg wat teenoor my gepleeg is, begin koester en toelaat dat dit in wrokke omsit) en moenie ʼn dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel ʼn vatkans gee nie.”
Dit is moontlik om vandag se ontsteltenis voor sononder deur die genade van die Here onder die knie te kry. Ons moet dadelik op ons knieë val en met die Here en die betrokke persoon oor die saak begin praat:
“Ekskuus. Maar toe ek jou vanoggend by die kerk gegroet het, het jy ander pad gekyk en gemaak of jy my nie raaksien nie. Is my waarneming verkeerd of is daar miskien iets wat ek gedoen het wat jou ontstel het?” Nege uit die tien kere sal ons ontdek dat dit wat ons dink ʼn probleem is, eintlik nie is nie. Moenie toelaat dat die son oor jou toorn ondergaan nie. Dis moontlik dat gister en eergister se onopgeloste ontsteltenis vandag se bitterheid geword het.
In die pragtige boekie, “Die Meester se Onsterflike Rede” het ek die volgende gedagte op bladsy 37 gelees:
“Die gees van haat en wraaksug het sy oorsprong by die Satan, en dit het hom daartoe beweeg om die Seun van God dood te maak. Wie ook al kwaadwilligheid of onvriendelikheid koester, koester dieselfde gees, en sy vrugte lei na die dood. Soos wat daar ʼn plant in elke saad opgesluit is, so is daar ʼn bose daad in elke wraakgierige gedagte opgesluit.”
As ek en jy ʼn saadjie van boosheid teenoor iemand in ons hart toelaat, gaan daardie saadjie ontkiem en binnekort gaan mense sy haak-en-steekdorings raaksien.
HAAT VERWEK HAAT
Behalwe vir die vrees wat Jakob oorval het, het daar ook ʼn ander negatiewe emosie hom oorval. Onthou Esau het Jakob se versoek om te versoen ,geïgnoreer en besluit om hom te gaan uitmoor?
Watter emosie dink u, het dit by hom ontlok? Dis ʼn wet van die gevalle hart dat ʼn negatiewe prikkel ʼn negatiewe reaksie ontlok. Haat verwek haat. As iemand op jou skreeu en jou beledig, gebeur daar onwillekeurig iets negatief in jou binneste. Jy mag ook beledig en begin terug skreeu.
Jakob kon miskien die volgende donker gedagtes gekoester het: “Wel, as Esau dan nie wil versoen nie, is dit sy saak. Daar is niks wat ek meer aan die saak kan doen nie. Ek gaan myself nie weer ʼn keer verneder om met hom te probeer versoen nie.
Miskien moet ek met die weermag van Damaskus reël om hom op sy plek te kom sit. As ek vinnig ʼn duisend Aramese soldate huur, sal hulle Esau en sy 400 man so ʼn pak slae gee dat daar niks van hulle sal oorbly nie. Dis miskien net wat hierdie harde, onbeskofte broer van my nodig het.”
Maar net soos ek en jy nie sielsrus in weerwraakgedagtes kry nie, net so het Jakob ook nie rus vir sy siel in die bepeinsing van hierdie soort gedagtes gekry nie. Daar is geen sielsrus in gedagtes van aggressie en weerwraak nie.
POSITIEWE OPTREDE IS BELANGRIK IN KRISISTYE
Daar is ʼn baie groot les wat ons uit Jakob se ondervinding in hierdie krisistyd leer. Hy het iets positief gedoen. Hy het ʼn plan uitgewerk wat sy skade tot ʼn minimum sou beperk. En as jy vanoggend ʼn krisis in die gesig staar, doen wat Jakob gedoen het. Moenie toelaat dat depressie jou oorweldig nie. Doen iets, en doen iets positief.
Vers 7. “Toe deel hy die mense by hom, en die kleinvee, die beeste en die kamele in twee groepe, want hy het gedink: as Esau by die eerste groep kom en dit uitwis, kan die ander groep dalk wegkom.”
Dikwels is ʼn krisis so intens dat dit ʼn mens heeltemal kan uitput. Hoe meer mens daaraan dink, hoe magteloser en meer verward raak jy. Kom ons doen wat Jakob gedoen het. Dink aan hoe jy jou verliese kan verminder. Dink positief en tree positief op.
Dit was seker ʼn groot werk om al die mense en al die diere in twee kampe te verdeel.
JAKOB SE GEBED
Kom ons lees die pragtige gebed wat Jakob gebid het nadat hy alles menslik moontlik in hierdie krisis gedoen het. Gebed mag ʼn mens nooit lui maak nie.
Genesis 32:9,10 “Daarna het Jakob gebid: Here, God van my voorvader Abraham, God van my vader Isak, U wat vir my gesê het om terug te gaan na my land en my familie toe en U sal goed doen aan my, ek is al U gunsbewyse nie werd nie, ook nie die trou waarmee U my versorg het nie. Toe ek destyds deur die Jordaan is, het ek net my kierie gehad, en nou het ek hierdie twee groot groepe.”
Verse 11,12. “Red my tog uit die mag van my broer Esau, ek is bang vir hom. Hy kan dalk kom en my doodmaak, en ook die moeders en kinders. U het my tog beloof: Ek sal beslis goed doen aan jou, ek sal jou nageslag so baie maak soos die sand van die see, wat nie getel kan word nie.”
JAKOB SE MODEL GEBED
Wanneer ʼn mens die gebede bestudeer wat in die Bybel opgeteken staan, maak jy pragtige diep ontdekkings. Lees gerus Daniël se gebed in hoofstuk 9 en Hiskia se gebed in Jesaja 37.
Kom ons ontleed Jakob se gebed. Die eerste komponent wat ons kry is NEDERIGHEID. “Ek is al U gunsbewyse nie werd nie.” (Genesis 32:10)
En mag ons dit onthou wanneer ons bid. Nie een van die goeie dinge wat die Here oor ons lewens laat kom het, het ons verdien nie. Al die mooi dinge wat met ons gebeur is onverdiende liefdegawes uit Sy milde hand.
Die tweede komponent van Jakob se modelgebed is
ERKENNING VAN GOD SE GENADE
“Toe ek destyds deur die Jordaan is, het ek net my kierie gehad, en nou het ek hierdie twee groot groepe.” (Genesis 32:10)
Jy besit miskien vandag ʼn universiteitsgraad, ʼn motor wat blink sonder dat jy “Carnu” waks hoef te gebruik, ʼn huis wat byna afbetaal is, ʼn rekenaar, ʼn video-, DVD- en CD-speler. Maar moenie vergeet nie.
Eergister het jy ook maar net ʼn kierie soos Jakob besit. Moet nooit vergeet om vir die Here dankie te sê vir al jou tydelike seëninge nie. Voordat jy vir Hom iets vra, sê net eers vir Hom baie dankie.
Onlangs toe ek ʼn sterwende mens besoek het, het ek gewonder wat om vir hom te sê. En toe flits dit in my gedagtes om vir Hom te sê dat die Here baie goed is. En met ʼn flou glimlag en ʼn swak stem het hy dit beaam en vertel van hoeveel jare die Here vir hom goeie gesondheid gegee het.
Die derde komponent is ʼn
VERSOEK OM BESKERMING
“Red my tog uit die mag van my broer Esau, ek is bang vir hom.” (Genesis 32:11)
Vertel gerus vir die Here van al jou vrese. Hy mag dit maar hoor. Vra hom om jou te bewaar.
ʼn Vierde komponent in Jakob se gebed is
WAARDERING VIR DIE HERE SE BELOFTES EN LEIDING IN DIE VERLEDE
“U het my tog beloof: Ek sal beslis goed doen aan jou.” (Genesis 32:12)
Hoe meer ons die pragtige beloftes van die Here in ons gedagtes ronddra, hoe sterker word ons geloof. Memoriseer die honderde beloftes wat vir elke lewensomstandigheid geskryf is. Ons het niks te vrees vir die toekoms as ons net sal onthou hoe die Here ons in die verlede gelei het.
Wanneer ons negatiewe gedagtes koester, word ons immuunstelsel afgebreek. Wanneer ons positiewe gedagtes koester, gee die brein elektriese impulse af wat genesend vir die liggaam is.
DIE POSITIEWE EFFEK VAN JAKOB SE GEBED
Kom ons lees hoe Jakob na hierdie ernstige gebed opgetree het:
Verse 13-15. “Jakob het daar oornag en die volgende môre vat hy toe uit sy besittings ʼn geskenk vir sy broer Esau: twee honderd bokooie en twintig bokramme, twee honderd skaapooie en twintig ramme, dertig kameelkoeie met kalwers, veertig koeie en tien bulle, twintig donkiemerries en tien hingste.”
Vers 16 “Hy het elke trop aan ʼn slaaf gegee en gesê: Trek vorentoe, maar hou ʼn afstand tussen elke trop.”
Pleks dat hy ʼn duisend soldate van Damaskus huur om sy broer uit te wis, besluit hy om eerder ʼn geskenk van ongeveer 600 stuk vee te gee. Jakob volg die raad waarvan ons in Romeine 12:21 lees:
“Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”
Dink u Jakob se optrede gaan werk? Onthou hy het reeds probeer om ʼn versoening tussen hom en sy broer te bewerkstellig. Dit het nie gewerk nie. En onthou, jy het seker ook al probeer om met iemand te versoen en dit het nie gewerk nie.
Verse 17,18. “Hy het die voorste slaaf beveel: Wanneer my broer Esau jou kry en jou vra: ‘Wie is jy? Waarvandaan kom jy en aan wie behoort al hierdie goed voor jou?’ moet jy sê: Dit behoort aan Jakob wat aan u onderdanig wil wees. Dit word as geskenk aan Meneer gestuur, en hy kom self ook agter ons aan.”
Terwyl ʼn verbitterde Esau op pad is om sy broer te gaan uitwis, sien hy ʼn herder met ʼn trop van 200 bokooie aankom. “Haai kêrel. Wie is jy en waar kom jy vandaan? En sê my: Wie se klomp bokooie is hierdie”?
Die slaaf buig eerbiedig voor Esau. Hy het sy praatjie oor en oor geoefen en nou praat hy met ʼn groot glimlag.
Vers 18. “Dit behoort aan Jakob wat aan u onderdanig wil wees. Dit word as geskenk aan Meneer gestuur, en hy kom self ook agter ons aan.”
Die slaaf draai om en hardloop terug om aan Jakob te rapporteer. Terwyl Esau nog wonder oor die geskenk en oor wanneer Jakob sy verskyning gaan maak, kom die volgende slaaf met 20 bokramme daar aan.
Na ʼn ruk kom daar nog ʼn slaaf met 200 skaapooie. Dieselfde vraag word gevra, dieselfde antwoord word gegee. Terwyl Esau nog so wonder wat hy van sy broer Jakob moet dink, kom ʼn slaaf met 40 kameelkoeie en 10 bulle daar aan. Dieselfde gebaar van versoening word met 20 donkiemerries en tien hingste herhaal.
Verse 17,18 “Wie is jy? Waarvandaan kom jy en aan wie behoort al hierdie goed voor jou?…Dit behoort aan Jakob wat aan u onderdanig wil wees. Dit word as geskenk aan Meneer gestuur, en hy kom self ook agter ons aan.”
Jakob wag dat die laaste en sewende slaaf vir hom moet kom sê dat Esau hom vergewe het en graag sal wil versoen, maar daar is nie goeie nuus nie.
Vers 20. ”…Jakob het naamlik gedink: met die geskenk wat voor my uit gaan, sal ek probeer om hom in ʼn goeie bui te kry. Dan sal ek na hom toe gaan en miskien ontvang hy my dan vriendelik. So is die geskenk voor Jakob uit gestuur, maar hy het die aand in die kamp oorgebly.”
Die verhaal van Jakob se onvermoeide poging om te versoen, word ʼn tipe, ʼn voorbeeld van hoe die Here onvermoeid met ons probeer versoen. Soos wat Jakob sewe slawe met ongeveer 600 stuks vee na Esau gestuur het om te pleit “Versoen met my”, so stuur die Here elke dag van ons lewens vir ons ʼn oorvloed van seëninge om te sê: “versoen asseblief tog met My.”
JESUS HET KOM VERSOEN
Vir drie en ʼn half jaar loop Jesus tussen mense en Hy oorlaai hulle met Sy genesing en liefde. Met trane en deernis in Sy stem pleit Hy: Laat julle met God versoen. Hy hang aan ʼn kruis en Hy pleit: Laat julle met God versoen.
Is daar op hierdie oomblik iets in jou lewe wat jou verhouding met die Here vertroebel? Wil jy nie asseblief tog weer ʼn keer met Hom daaroor praat nie? Sodra ons met Hom versoen het, sal ons die moed hê om met ander mense te versoen.
Mag ons soos Jakob en soos Jesus alles in ons vermoë doen om versoening tussen ons en ons kwaadwillige broer te bewerkstellig.