Skriftuur: Johannes 1:29-31
In ons vorige preek oor die lewe van Johannes die Doper het ons hom by Betabara besoek. Terwyl hy aan die anderkant van die Jordaanrivier gepreek het, het ‘n afvaardiging van die Sanhedrin hom besoek.
Hy was nog besig om hulle vrae te beantwoord, toe Jesus tussen die skare mense verskyn.
Die vorige keer toe Johannes Hom gesien het, was dit tydens Jesus se doopdiens. ‘n Stem uit die hemel het Hom as die geliefde Seun aangespreek en die Heilige Gees het in die vorm van ‘n duif op Hom neergedaal.
Alhoewel Jesus baie uitgeput was na ‘n vas van 40 dae, was Johannes oorstelp van vreugde om Hom te sien. Hy roep jubelend uit:
Johannes 1:26 “Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. Dit is Hy wat na my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.”
Die trotse volksleiers het na die skare mense gekyk. Toe hulle nie die Messias volgens hulle verwagtings sien nie, het hulle omgedraai en teruggegaan Jerusalem toe.
MESSIAANSE VERWAGTING
Toe ek onlangs hierdie omgewing besoek het, het ek aan hierdie tragiese voorval gedink. Die volksleiers kon daardie dag die God-mens ontmoet het en persoonlik met Hom gepraat het.
Maar omdat Jesus nie aan hulle verwagtings voldoen het nie, het hulle die grootste ondervinding van hulle lewens misgeloop.
Daar is ook in my lewe ‘n gevaar dat ek sekere glansryke verwagtings van Jesus koester. En sê nou Hy voldoen nie daaraan nie?
Miskien wil Jesus nie in ‘n Farari aan my verskyn nie maar eerder op ‘n fiets. Miskien wil Hy nie my gunstelling “After Shave” aan my gesig kom smeer nie. Miskien het Hy eerder ‘n ontsmettingsmiddel om ‘n septiese wond van selfsug te dokter.
DIE VOLGENDE DAG
Toe die son daardie dag sak, is Johannes terug na sy grot. Hy blaai deur die boek Jesaja en lees in hoofstuk 53.
Wat ‘n pragtige beskrywing van Jesus se nederige lewe. Wat Johannes die dag by die Jordaan gesien het, sien hy in Jesaja:
Jesaja 53:1 Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien? Die dienaar was soos ‘n loot wat voor die Here uitspruit, soos ‘n plant wat wortel skiet in droë grond. Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons van hom sou hou nie.
In sy geestesoog sien Johannes hoe die hoë afvaardiging omdraai en wegstap. Hy hoor hulle sarkastiese snedige opmerkings oor die sg. Messias en Sy voorloper.
Johannes sukkel om aan die slaap te raak want hy het Jesus nou al op twee geleenthede gesien. Wat ‘n God-mens! Daar is iets in Jesus wat hom fasinerend boei.
Wat ‘n voorreg dink hy, om die boodskap van Messias te kan verkondig.
Vroeg die volgende oggend is Johannes op sy pos. Die mense stroom van oral.
Kom ons lees van die nuwe verassing wat op die woestynprediker gewag het:
Johannes 1:29 Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!
U het sopas na een van die mooiste tekse in die hele Bybel geluister. Terloops. Dit is net Johannes die Doper wat hierdie term vir Jesus gebruik het.
Ek wil graag vir u die Grieks van hierdie teks lees. Daar is juwele in wat ‘n mens nie altyd honderd persent kan vertaal nie.
Ide (aanskou)
Wat ‘n voorreg om die heel eerste verkondiger van die aankoms van die Messias te wees.
Al die profete van die Ou Testament het aangaande die koms van die Messias geprofeteer. Elkeen van hulle het gehoop dat hy die voorreg sou hê om die Messias te kon verwelkom.
Johannes het daardie grootse voorreg gehad. En wat ‘n voorreg was dit nie! G’n wonder dat Jesus met dit in gedagte die volgende van die woestynprofeet gesê het nie.
Lukas 7:28 Ek sê vir julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter as Johannes is nie.
Johannes sien hoe Jesus na hom aangestap kom. ‘n Ontsettende entoesiasme en opgewondenheid pak hom beet. Hy roep hy uit volle bors. “Aanskou Hom! Aanskou Hom!”
Vers 29. Ide (aanskou) hô (die) amnos (lam) tou (van) Theou (God).
Een van Johannes die Doper se disippels se naam was ook Johannes. Later het hierdie selfde Johannes ‘n dissipel van Jesus geword.
Aanvanklik was hy die Seun van die Donder genoem maar sy omgang het Jesus het van hom ‘n lammetjie gemaak.
Johannes die geliefde apostel het die woorde van die woestynprofeet nooit vergeet nie. Lees maar gerus sy beskrywing van die Jesus die Lam in sy evangelie, sy sendbriewe en sy Openbaringboek. Dis ryk in simboliek.
GOD VOORSIEN DIE LAM
Vir baie eeue het die boetvaardige sondaar ‘n lam vir die oortreding van sy sondes gebring. Daardie lam het vooruitgewys na die Lam van God wat eendag na ons sondige die wêreld sou kom.
Johannes die Doper bring die beste nuus ooit toe hy vir die skare vra om na die Lam te kyk wat God voorsien het.
DIE FUNKSIE VAN DIE LAM
Wat sou die lam kom doen? Kom ons hoor wat sê Johannes:
Vers 29 Hô (die) airoun (wegneem) tyn (die) hamartian (sonde) tou (van die) kosmos (die wêreld).
Worstel jy met ‘n sonde probleem? Het sonde jou so moedeloos gemaak dat jy wonder of jy ooit in die hemel gaan kom?
Tweeduisend jaar gelede het Johannes die Doper die goeie nuus verkondig dat die Lam van God die sonde van die wêreld wegneem.
Indien daar vanoggend sonde in jou lewe is, nooi ek jou uit om van die dienste van die Lam gebruik te maak. Hy spesialiseer in die verwydering van sonde. Gee Hom net die toestemming om dit vir jou te doen en kyk wat gebeur.
Terwyl Johannes Jesus as die Lam van God aankondig, dink hy terug aan die gebeure wat tydens Jesus se doop plaasgevind het.
Kom ons lees daarvan:
Johannes 1:32-34 Verder het Johannes getuig: “Ek het duidelik die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly. Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.”
JOHANNES SE LAASTE KONTAK MET JESUS
Johannes het net vier ontmoetings met Jesus gehad. Die eerste een was tydens Jesus se doop. By hierdie geleentheid het God die Vader onomwonde vir Johannes die Doper getoon dat Jesus die Messias was.
Die tweede keer wat hy Jesus gesien het, was na Sy 40 dae vas in die woestyn. Dit was tydens die Sanhedrin se ondervraging.
Die derde keer was net die volgende dag. Daar was ‘n effense verbetering in Jesus se fisiese voorkoms. Toe Johannes Hom sien, het sy gesig opgehelder. Met groot entoesiasme het hy uitgeroep: “Daar is die Lam van God.”
Voordat ons van die vierde en laaste keer lees wat Jesus aan Johannes verskyn het, wil ek net so ‘n bietjie agtergrond gee.
VOLG JESUS
Johannes het net een groot obsessie gehad. Jesus die Messias moes al die aandag kry. Sy groot missie was om Jesus op te hef en mense na Hom te lei
Op ‘n dag het Johannes sy disippels bymekaar geroep en met hulle gepraat:
“Manne. Die Messias sal binnekort na disippels begin soek. Ek weet nie van meer toegewyde mense as julle nie. Ek wil julle vandag aanmoedig, indien die Heilige Gees julle in hierdie verband oortuig, dat julle Jesus se disippels sal word.”
EMOSIES
Die aankondiging moes baie beslis hartseer emosies by Johannes en sy disippels ontlok het. Dis nie maklik om van iemand afskeid te neem vir wie jy baie lief is.
Maar daar kom ‘n tyd wanneer ons van mekaar gradueer en meer intens met iemand anders moet bind. Dit is dringend noodsaaklik vir ‘n mens se groei.
Die oomblik van skeiding het miskien baie vinniger aangebreek was wat Johannes en sy disippels verwag het:
Johannes 1:35-37 Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom. Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Daar is die Lam van God!” Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg.
Dis nou al ‘n hele paar keer wat Johannes se disippels hierdie beskrywing van Jesus hoor.
Terwyl hulle na Jesus kyk, sien hulle iets wat Sy eenvoudige kleredrag en voorkoms transendeer.
Goddelike meegevoel en krag wat nie verberg kan word nie, straal uit Jesus. Elke gelaatsuitdrukking word deur onbeskryflike liefde en nederigheid gekenmerk. Dit is asof Jesus met hemelse atmosfeer omhul is.
Johannes en Andreas word met onweerstaanbare bande na Jesus getrek en begin agter Jesus aanstap.
En terwyl Johannes die Doper dit sien, wel daar ‘n onbeskryflike vreugde in sy binneste op. Hy wou Jesus aan sondaars bemark en hier sien hy hoe dit gebeur.
Maar Jesus se volgelinge het nie net by twee gebly nie. Petrus, Filippus en Natanael het ook nog bygekom.
Johannes 1:43,44 Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea toe te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!” Filippus was van Betsaida afkomstig, van dieselfde dorp as Andreas en Petrus.
Hoe het Johannes die Doper dit reggekry om te sien hoe sy volgelinge hom verlaat en by Jesus aansluit.
Hoe kry ‘n mens dit reg om nie jaloers te raak as mense iemand anders bo jou verkies?
Wat het verhoed dat Johannes die Doper nie depressief geraak het toe sy volgelinge hom verlaat het nie?
Dit was in die woestyn dat hy ‘n ontmoeting met sy hemelse Vader gehad het.
Hy het die Koning in Sy heerlikheid aanskou, en homself vergeet. Die Koning van die Eeue, bld. 72.
Johannes het aangaande die nederigheid van die komende Messias studeer en hy het homself vergeet.
Hy het gelees hoe die Skepper van ‘n kosmos soos ‘n lam na Sy dood gelei gaan word sonder dat Hy Sy mond sou oopmaak.
Toe Johannes die heerlikheid van God se neerbuigende optel liefde raakgesien het, is hy permanent van jaloesie en na-ywer genees.
Johannes 1:45,46 Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.” Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goed kom?” “Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord.
AANVAARDING VAN DIE BOODSKAP VAN JOHANNES DIE DOPER
‘n Mens ontdek iets baie interessants wanneer jy die lewe van Johannes die Doper bestudeer.
Voordat mense Jesus kon aanvaar, moes hulle eers die boodskap van Johannes die Doper aanvaar.
Indien Andreas en Filuppus en die ander disippels nie Johannes se profetiese boodskap aangaande die komende Messias in die eerste plek aanvaar het nie, sou hulle nie Jesus aanvaar het toe Hy Homself bekend gemaak het nie.
DUIWEL SE WEDERKOMS
Het u geweet dat die duiwel binnekort die wederkoms van Jesus gaan namaak? Het u geweet dat miljoene Christene mislei gaan word?
In die boek, “Hiervandaan tot in die Ewigheid” kry ons die volgende beskrywing:
“As kronende bedryf in die groot drama van bedrog, sal die Satan hom as Christus voordoen. Die kerk sien lank reeds uit na die koms van die Heiland as die verwesenliking van sy hoop. Nou sal die bedrieër dit laat skyn asof Christus gekom het. Die Satan sal hom voordoen as ‘n majestueuse wese van skitterende voorkoms wat aan die beskrywing van die Seun van God in Openbaring voldoen (Openbaring 1:13-15). Bld. 283.
Daar is geen verskil tussen die heerlikheid waarmee Jesus in Openbaring 1:13-15 beskryf word, en die heerlikheid waarmee die duiwel binnekort gaan verskyn nie.
Op daardie dag sal ons nie op ons gevoel kan staatmaak nie. Die Sataniese mag gaan die mense massas in die greep van hipnose vasvang.
“Geen menseoë het nog ooit groter heerlikheid gesien as die wat hom omring nie. Daar gaan ‘n groot kreet op: ‘Christus het gekom!’ Die mense val voor hom neer. Hy lig sy hande en seën hulle. Sy stem is sag, maar welluidend. In sagte, medelydende woorde spreek hy sommige van die hemelse waarhede wat die Heiland gespreek het. Hy genees siektes.” Bld. 284.
Die grootste misleiding wat die wêreld nog ooit gesien het, gaan binnekort gesien word. Hoe gaan ek en jy reageer wanneer die Satan in goddelike glans gaan verskyn?
Paulus vertel vir ons presies watter soort mens binnekort mislei gaan word:
2 Tessalonisense 2:9,10 Deur die werking van die Satan sal die verskyning van die wettelose gepaard gaan met groot magsvertoon en allerhande valse tekens en wonders en met gruwelike misleiding van die wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie.
VERLORE GAAN
Toe Johannes die Doper die profetiese waarheid aangaande die komende Messias verkondig het, het sommige dit aangeneem. Toe Jesus gekom het, het hulle Jesus volgens die waarheid herken wat die woestynprofeet verkondig het:
Johannes 10:41 Baie mense het na Hom gekom. Hulle het gesê: “Johannes het wel geen wonderteken gedoen nie, maar alles wat Johannes oor hierdie man gesê het, is waar.”
Wat doen ons omtrent die waarheid van Jesus Christus wat ons gehoor het? Het ons die waarheid lief wat tans deur die antitipiese, eindtydse Johannes die Dopers verkondig word?
Verloën ons onsself? Voeg ons onsself by die nederige? Word Jesus se waarheid meer in ons lewe en word ons eie selfsugtigheid minder?
JOHANNES SE WENRESEP
Johannes sien hoe nog meer volgelinge hom verlaat en by Jesus aansluit. Hy vergeet van homself en straal van nuwe blydskap omdat Jesus meer word en hy minder.
Johannes is nie hieroor bedruk nie. Hy verheug hom in dit wat hy sien? Hoekom?
Hy het die Koning in Sy heerlikheid aanskou, en homself vergeet. KE 72.
Hoe kan ek myself vergeet, my selfsugtige gevalle self? Ek moet na die Jesus die Koning in al sy nederigheid kyk.
Dit vat ontsettende baie energie om jouself te verhoog en om jou dan op daardie hoë posisie te probeer hou.
Om moet toelaat dat die swaartekrag van die evangelie ons na die vlak van nederigheid aftrek. Waarom? Omdat Jesus op ‘n baie intieme wyse op die vlak van nederigheid ontmoet.
Volgende keer gaan ons hoor hoe Johannes die grootste van alle oorwinnings behaal het.
Mag die Here gee dat ek en jy soos Johannes te wees omdat ons die lewe van Jesus intens bepeins.