1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper
  4. Johannes Die Doper – Deel 13
  1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper – Deel 13

Johannes Die Doper – Deel 13

Skriftuur: Lukas 7:18-23

Twee van Johannes se disippels stap langs die dooie see in die rigting van Galilea. Die afstand van 125 kilomoters wat hulle moet aflê, sal hulle ongeveer drie dae neem.

‘n Mens wonder wat hulle alles met mekaar op die pad gesels het. Johannes het hulle met ‘n baie ernstige boodskap gestuur. Kom ons lees dit:

Lukas 7:18 Die volgelinge van Johannes het hom van al hierdie dinge vertel. Hy laat toe twee van sy volgelinge roep en stuur hulle na die Here toe om te vra: “Is  die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?”

BETABARA

Na ‘n paar uur kom hulle by die plek waar Johannes die Doper ‘n rukkie van te vore die skares toegespreek het en hulle van die koms van die Messias vertel het.

Ek dink hulle het vir ‘n paar oomblikke by die owers van die Jordaanrivier gaan stilstaan. Hulle praat met mekaar oor die magtige preke wat hulle profeet gepreek het.

Die een dissipel vra vir die ander een: “Kan jy nog die woestynprofeet se woorde onthou toe Jesus tussen die skare ingeloop het?”

“Ja,” sê die ander een. Hy het gesê:

“Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” Johannes 3:29

ARGEOLOGIE

Ek is so dankbaar vir die werk van die argeloë doen. Die plek waar Johannes die Doper gedoop is, is geïdentifiseer en ‘n sekere gedeelte van die gebied is nou vir die publiek oopgestel.

Wat baie interessant is, is die feit dat die plek van waar Elia na die hemel opgevaar het in die selfde omgewing is.

Terwyl ek die ruïnes van Betabara met sy ryke geskiedenis besoek het, het my gedagtes na hierdie twee dissipels uitgegaan.

Ek glo dit was met ‘n knop in die keel dat van Betabara met sy pragtige herinneringe weggestap het.

Vroeër was daar skare mense en gereelde doopdienste, nou het die Jordaanrivier geluidloos sy water na die dooie see geneem.

Nou is die stem van die magtige woestynprofeet stil en gedemp waar hy in die donker tronksel van Mukawir opgesluit is.

WARE REDE VIR DIE SENDING VAN DIE TWEE DISSIPELS

Daar was meer as een rede waarom Johannes die Doper twee van sy dissipels na Jesus toe gestuur het. Hy het in die eerste plek gehoop dat Jesus vir Hom ‘n persoonlike boodskappie sou stuur.

Dan het Johannes ook gehoop dat Jesus hom sou kom verlos. Maar die belangrikste rede het oor die twyfel van sy dissipels gegaan het.

Hy was ontsettend bekommerd oor hulle. As hulle in Jesus se Messiaskap twyfel watter hoop was daar dat die res van Israel in Jesus se sending sou glo.

Tenspyte van Johannes se twyfel oor die aard                              van Jesus se Messiaskap, het hy nie sy geloof in Jesus versaak nie.

Die stem uit die hemel het ‘n onuitwisbare stempel op hom gelaat. Hoe sal hy ooit Jesus se vlekkelose reinheid kan vergeet. Hy sal die krag van die Heilige Gees altyd onthou toe hy in die Verlosser se teenweerdigheid gekom het.

Johannes het besluit om vir ‘n week lank geduldig te wag om hoor met watter boodskap die dissipels sou terugkeer.

DIE AANKOMS

Na drie dae se stap het Johannes se twee dissipels by die pragtige see van Galilea uitgekom. Dit was nie moeilik om Jesus op te spoor nie. Die hele omgewing was met Jesus se doen en late bekend.

Kom ons hoor wat Dr. Lukas ons verder aangaande hierdie twee manne se ontmoeting met Jesus vertel:

Lukas 7:20 Toe die manne by Hom kom, sê hulle: “Johannes  die Doper het ons na U toe gestuur om te vra: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?”

Ek wonder of ons ooit die diepte van Jesus se seer sal begryp. Sy menslike natuur het ‘n ontsettend pynlike dolksteek gekry toe Hy van Johannes se twyfel verneem.

Jesus kon hulle skandelike twyfel bestaf het, maar hy het nie.

Om negatiewe optrede met negatiewe optrede te beatwoord, lewer nie altyd die beste resultate nie.

Ons gevalle nature is gedurigdeur gereed om die negatiewe optrede van mense te bestraf. Elke keer wanneer ek met  negatief, kritiese en veroordelend optree, wek ek rebellie in mense op.

Kom ons lees hoe Jesus opgetree het:

Lukas 7:21 Op daardie oomblik het Jesus juis baie mense gesond gemaak van siektes en kwale en bose geeste, en baie blindes het Hy laat sien.

Terwyl hulle vir Jesus wag om hulle te antwoord, sien hulle hoe die siekes na Hom aangestroom kom.

‘n Jong meisie lei haar blinde pa tot by Jesus. Met ‘n glimlag vol simpatie raak Jesus die blinde se oogholtes aan en die man sien.

Johannes se dissipels sien hoe ouers hulle doofstom seun na Jesus bring. Die stem van die magtige Geneesheer penetreer die dowe ore en die seun hoor en praat.

Vier jongmans bring hulle sterwende moeder op ‘n draagbaar daar aan. Jesus kyk in daardie dowwe, moeë oe vol pyn en wek haar op.

Hulle sien hoe Jesus die duiwels uit ‘n maniak dryf en hoe hy voor Jesus se voete neerval en Hom loof en prys.

‘n Melaatse kom skaam skaam nader na Jesus. Die mense staan bangerig terug. Hoe hoor hoe hierdie verminkte, geskonde man met ‘n skor stem praat:

“Meester. Kan U my genees?”

Trane van desperaatheid rol oor sy lelike gesig.

Jesus gryp hom in Sy arms en hou hom baie styf vas. Die skare sien hoe die man se neus weer gevorm word. Hulle sien hoe hy nuwe tone en vingers kry. Hulle sien hoe sy ore weer uitkom.

Hulle sien hoe die man homself uit Jesus se arms loswikkel en aan Sy voete val en Hom loof.

Die twee dissipels van Johannes vee saam met die dankbare skare hulle trane af wat net nie wil ophou vloei nie.

Hulle luister hoe Jesus die skare mense van Sy hemelse Vader se leifde vertel. Hulle sien hoe skugter armes nader en nader aan Jesus skuif. Die rabbis het hulle as onrein verklaar maar hier was Iemand wat hulle aanvaar.

Laat daardie middag roep Jesus die twee boodskappers van Johannes nader en begin met hulle praat:

Lukas 7:22 Sy antwoord aan die boodskappers was: “gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dower hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig.

Jesus het nie vir die dissipels gesê dat Hy die Messias is nie. Jesus het dit vir hulle gewys.

Die bewys van Jesus se Godheid word in Sy tere versorging  van die lydende mensdom se behoeftes gesien.

Jesus se goddelike glorie word terselfdertyd in Sy neerbuigende liefde vir gevalle sondaars geopenbaar.

Die glans van Jesus se Messiaskap skitter wanneer Sy optel-liefde by ‘n gevalle sondaar uitkom.

Het jy al die Messias in jou lewe ervaar? Hy is nie daar ver in die skitterende glorie van die hemel nie. Hy is by die stukkende mens wat na ‘n salfie van troos verlang.

Jesus plaas Sy arms op die skouers van die twee dissipels. Wat gaan Hy vir hulle sê? Terwyl hulle in Sy oë vol liefde kyk, gee Jesus die volgende sagte berisping:

Lukas 7:23 En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie.”

Het jy aan die Here se liefde begin twyfel toe ‘n mooi verhouding opgebreek het?

Het jy aan Hom begin twyfel toe iemand jou teleurgestel het?

Het jy aan Sy liefde begin twyfel toe jy vir genesing gebid het en niks gebeur het nie?

Het jy die Here begin wantrou toe Hy niks omtrent jou verleentheid gedoen het nie?

Die boodskap wat Hy destyds vir Johannes in die tronk by Mukawir gestuur het, stuur Hy ook vir jou in jou tronk van pyn en waaroms:

Lukas 7:23 En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie.”

Ek wil jou nooi, indien jy ‘n bietjie met die Here vasgesit het, om Hom weer te vertrou.

Indien jy kwaad is vir die Here oor een of ander ramp wat jy dink Hy kon verhoed het, maar nie verhoed het nie, wil ek jou vra om maar weer vrede met Hom te maak.

Job 22:21 Sluit tog vriendskap met Hom, sodat jy vrede kan hê; daardeur sal goeie dinge oor jou kom.

Hoe lyk dit? Wil jy nie vanoggend opnuut met Hom ‘n vriendskap aanknoop nie?  As jy dit doen, gaan jy groot vrede ervaar.

JOHANNES SE REAKSIE OP DIE BOODSKAP

‘n Week later word Johannes een oggend wakker. Terwyl nog so wonder wanneer sy twee getroue dissipels sou terugkeer, toep die bewaarder na hom:

“Johannes. Twee van jou dissipels wil met jou praat. Kom staan by die tralies.”

Johannes sien ‘n nuwe blydskap op hulle gesigte terwyl hulle van al die wonderwerke vertel wat hulle gesien het.

‘Het Jesus miskien vir my ‘n boodskap gestuur?” vra die woestynprofeet versigtig.

“Ja meneer. Maar dit was eintlik ‘n bestaffing. Nie net vir meneer nie, maar ook vir ons. Jesus het laat weet:

“Gelukkig is die man wat nie aan my begin twyfel nie.” Lukas 7:23

Johannes bedank hulle en stap terug na die strooibed in die hoek van die sel. Ek dink hy het sy hart uitgehuil en vir die Here om verskoning gevra.

Die Messiaanse boodskap van die profeet Jesus kom in sy gedagtes op:

Jesaja 61:1,2 Die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om die wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir die wat opgesluit is, om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon, die dag waarop ons God sy vyande straf maar almal wat treur, vertroos.

Daar in die tronksel het Johannes ‘n nog mooier definisie van die Messias gekry. Hy het nie gekom om die Romeinse verdrukking met geweld te beëindig nie.

Jesus het gekom om ‘n ander soort verdrukking en verslawing te beëindig. Hy het gekom om die mensdom van die bande van sonde en sondeskuld te kom bevry.

En die manier waarop Hy dit kom doen het, was so pragtig. Hy het dit nie met militêre mag en vertoon kom doen nie.

Hy het dit nie met verhewe koninklike waardigheid en glans kom doen nie. Nee.

Hy het nederig langs stukkende mense kom staan en vir hulle kom sê dat Hy vir hulle omgee.

DIE HERE PRAAT MET ‘N STIL GESUIS

Johannes die Doper, die tweede Elia moes die les geleer het wat die eerste Elia geleer het.

Die eerste Elia het verwag dat die Here hom in sy moedeloosheid met sensasie en vertoon sou kom antwoord.

Die eerste Elia het bonatuurlike goddelike aksie in sy donker grot op die berg Sinai verwag.

Miskien vewag ek en jy as die eindtyd Eliaboodskappers dat die Here ook op dramatiese wyse met ons moet praat.

 Kom ons hoor hoe die Here met Elia in sy grot van depressie gepraat het:

1 Konings 19:11,12 Maar die Here sê vir hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, ek wil verbygaan.” Skielik was daar ‘n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ‘n aardbewing. Maar in  die aardbewing was die Here nie. Na die aardbewing was daar ‘n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ‘n fluistering in die windstilte.

Skielik, na al die geraas van wind en vuur en aarbewing, is daar ‘n doodse stilte. En in daardie doodse stilte hoor Elia ‘n baie sagte fluistering. Dis die fluisterstem van God.

Vers 13 Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy ‘n stem wat vir hom sê: “Wat maak jy hier, Elia?”

AANVAARDING

Terwyl ek tussen die ruïnes van Makuwir rondstap en ver oor die dooie see kyk, dink ek aan Johannes die Doper. Jesus se ligte bestraffing:

“En gelukkig is die man wat nie waan My begin twyfel nie” Lukas 7:23

het ‘n verandering in Johannes se lewe gebring.

Hy het die aard van Jesus se sending nou beter begryp. As hy die saak van die Here wat hy so liefgehad het beter kon dien deur daarvoor te sterf, was hy gewillig om self onthoof te word.

VRAAG

Elke mens beland die een of ander tyd soos Johannes die Doper in ‘n Mukawir tronk.

Ons beland onskuldig in moeilike situasies waarvoor ons nie gevra het nie en wat ons regtig nie verdien het nie.

Johannes was die vryheid van ooptes gewoond en skielik bevind hy homself in die noute van ‘n tronksel.

Is dit waar jy op die oomblik is?

FINANSIEEL

Haar man was een van die rykste mense in hulle dorp. Sy het in die mooiste en die grootste huis gebly. Die nuwe blink motors wat sy gery het, was die duurste op die mark.

En toe gaan hy dood en omstandighede verander sodanig dat die boedel haar nie ‘n sent uitbetaal nie.

Ons het met haar gepraat. Ons het van haar pyn verneem. Sy het op die oop vlaktes van finansieële vryheid gelewe. Nou was sy in beknopte tronksel van armoede.

Is dit waar jy op die oomblik is?

Die man het op die oop vlaktes van blankende gesondheid geleef en toe kry hy asbestose, longkanker. Ek het hom gereeld in sy hospitaalkamer besoek. In sy tronksel van siekte het hy al minder asem gekry totdat hy dood is.

Is sy op die oomblik in die tronksel van siekte? Hoe hanteer jy dit?

PERSOONLIK

Die dermatoloog het die groeisel wat onder my linkeroog uitgekom het, as ‘n gevaarlik kanker gediagnoseer. Ek is van die oopvlaktes van ‘n mooi loopbaan na ‘n donker sel van onsekerheid geneem.

Terwyl ek soos Johannes die Doper begin wonder het, het die Here die hoofouderling se vrou vier uur die oggend wakker gemaak. Sy het vir haar man gesê om saam met die ander ouderlinge vir my te gaan bid.

Elfuur die oggend was hulle by my. Nadat hulle gebid het, het daar ‘n vrede oor my gekom. Dit het nie meer saak gemaak of ek sou leef en of ek sou sterf nie.

Soos Elia en Johannes het ek die stil stem van die Here tot my hoor spreek en dit was vir my genoeg. Hy het besluit om my aan te raak en ek is volkome genees.

Die selfde boodskap wat Jesus vir ‘n twyfellende Johannes in die tronk by Mukawir gestuur het, stuur Hy nog Hy vanoggend na jou en my:

Lukas 7:23 “En gelukkig is die man wat nie aan my begin twyfel nie.”

Was this article helpful?

Related Articles