1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper
  4. Johannes Die Doper – Deel 4
  1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper – Deel 4

Johannes Die Doper – Deel 4

Skriftuur: Lukas 1:18-23

Het jy al in die verlede vir iets baie spesiaal gebid.  Jy het dit ‘n saak van erns gemaak en aangehou bid.  En toe op ‘n dag is jou gebed verhoor.  Hoe het jy gereageer?

Kom ons kyk hoe die Bybelkarakters op beantwoording van gebed gereageer het:

Genesis 45:26 Hulle het vir hom gesê: “Josef leef nog.  Hy regeer oor die hele Egipte.”  Jakob was stomgeslaan.  Hy het hulle nie geglo nie.

Vir 22 jaar het Jakob gebid:  “Here. Ek dink ‘n wildedier het my seun Josef opgevreet.  Maar as hy nog lewe, hou U hand oor hom en gee dat ek hom voor my dood weer sal sien.”

En die dag toe sy seuns hom kom vertel dat Josef nie net leef nie, maar dat hy oor Egipte regeer, kon hy dit nie glo nie.  

Dit was te goed om waar te wees.

Dis die Here wat ons dien.  Hy doen vir ons sulke wonderbaarlike dinge, dat dit vir ons te goed is om waar te wees.

Sagaria en sy vrou het baie jare vir ‘n kindjie gebid.  Die jare het verby gegaan, plooie het dieper geword, maar niks het gebeur nie.

Een oggend het Sagaria sy hand op Elisabet se hand gesit en met haar gepraat:

“Lizzie.  Abraham was ouer as ek, en Sara was ouer as jy.  En weet jy wat?  Die Here het ‘n wonderwerk verrig en Isak is gebore.

“My vrou ek glo die Here kan dit ook in ons geval doen.  Kom ons bly Hom vertrou.”

Is daar iets moois, iets kosbaars waarvoor jy bid?  Iets wat jy baie graag wil hê?  As jy in die wil van die Here is mag jy aanhou daarvoor bid.  Dis wat Abraham en Sara gedoen het, en dis wat Sagaria en Elisabet gedoen het.

Gebed bring God nie af na ons nie.  Gebed verhef ons na Hom.

En as dit waarvoor ek en jy bid die Here se wil is, sal Hy dit op ‘n wonderbaarlike, bonatuurlike wyse op die regte tyd vir ons gee.

SAGARIA SE REAKSIE

Kom ons luister hoe Sagaria gereageer het toe die engel Gabriël vir hom kom vertel het dat sy gebed vir ‘n kindjie verhoor is:

Lukas 1:18 Toe sê Sagaria vir die engel:  “Waaraan sal ek dit weet? Ek is ‘n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd.”

Sagaria se gebed was seker maar baie soos ons gebede.  Aan die een kant glo ons dat die Here vir ons ‘n wonderwerk kan verrig, maar aan die anderkant weet ons nie so mooi nie.

Ek het vir 9 jaar vir ‘n kindjie gebid.  Ek het geweet die Here kan ‘n wonderwerk verrig.  Maar ek het ook geweet dat ‘n botsing van bloedgroepe dit baie moeilik maak dat ‘n normale kindjie gebore kan word.

En toe op ‘n dag, ten spyte van my mengsel van geloof en ongeloof, het Laurettatjie aangekom.  Die kinderarts het vir my gesê sy gaan nie langer as 72 uur sal leef nie.

Ek het byna die hele 72 uur langs die broeikas gestaan en bid.

Sy lewe nou al 34 jaar en ek bid nog steeds vir haar.

Indien jou smeekbede ‘n mengsel van geloof en ongeloof is, hou moed.  Die Here luister ook na sulke gebede en op Sy tyd sal Hy antwoord.

Sagaria wou van die engel ‘n teken hê dat hy wel ‘n seuntjie gaan kry want die engel moet darem weet dat hy en tannie Lizzie op ver gevorderde leeftyd is.

Hoor hoe mooi praat die engel met die ongelowige Sagaria:

Lukas 1:19 Die engel antoord hom:  “Ek is Gabriël, wat in die diens van God staan.  Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie tyding vir jou te bring.

Gabriël is gewoond om met mense te praat.  Hy weet hoe hulle in sy teenwoordigheid reageer.  Miskien het hy sy hand op Sagaria se skouer geplaas en weer ‘n keer vir hom gesê dat hy goeie nuus bring.

Gabrieµl, kom van die Hebreeus GabriÕel, en dit beteken “man van God.” Die Hebreeuse woord vir “man” is geber, wat ‘n “man van krag” impliseer.

Kom ons kyk vir ‘n oomblik na presies wie hierdie engel Gabriël is wat die Here na Sagaria met goeie nuus gestuur het:

(1) In die eerste plek beklee hy die hoë posisie wat Lucifer voor sy val geklee het.  Die Koning van die Eeue bladsy 693.

(2) Wat rang en eer aanbetref, staan hy net onder Christus self.  (Koning van die Eeue, bladsy 98, Daniël 10:21)

(3) Dit was Gabriël wat aan Daniël verskyn het (Daniël 8:16; 9:21) om die koms van die Gesalfde, die Vors, aan te kondig. (Daniël 9:25)

(4)  In Nuwe Testamentiese tye het hy aan Sagaria verskyn. Toe aan Maria (Lukas 1:26,27) en heelwaarskynlik aan aan Josef (Matteus 1:20)

(5) Dit was Gabriël wat Christus in Getsemane versterk het. (Koning van die Eeue, bl.693) Dis ook hy wat tussen Jesus en die gepeupel verskyn het.

(6) Gabriël het die voorreg gehad om vroeg die Sondagoggend voor die verseëlde graf te gaan staan en Jesus uit die graf te roep. (Koning van die Eeue, 779,780).  Wat ‘n ondervinding!

(7) Gabriël was ook een van die twee engele wat Jesus deur Sy aardse lewe vergesel het. (KE 793)

(8) Die dag toe Jesus vanaf die Olyfberg hemel toe gevaar het, was dit Gabriël wat aan hulle verskyn het. (KE 832)

(9) Hy het ook aan Johannes op die eensame eiland van Patmos verskyn (KE 99; sien ook Openbaring 1:1) In Openbaring 22:9 verwys hy na homself as ‘n “mededienaar.”

DIE WERK VAN DIE ENGELE

Op hierdie einste oomblik is daar ten minste twee bewaar-engele by jou.  Jy kan hulle nie sien nie, maar hulle is vir ‘n baie spesifieke doel deur God self aangesê om by jou te wees.

Kom ons lees daarvan:

Hebreërs 1:14 Is hulle dan nie almal geeste in diens van God, wat Hy uitstuur om die te dien wat die saligheid gaan beërf nie?

Die engele wat aangesê is om vir jou en my op te pas, sal ons van gevaar waarsku.  Hulle sal boodskappe van bemoediging en waarskuwing in ons gedagtes plant.

Kom ons luister baie versigtig na die hemelse waarskuwings van ons bewaarengele.  Hulle sal dit vir ons moeilik maak om verlore te gaan.  Maar terselfdertyd sal hulle dit vir ons help moontlik maak om oorwinnings oor sonde en versoenings te behaal.

WANNEER BEGIN ENGELE ONS OPPAS

Van watter ouderdom begin engele ons oppas?  Kom ons hoor wat Jesus hieroor gesê het:

Matteus 18:10  Julle moet nooit een van hierdie kleintjies minag nie, want Ek verseker julle dat hulle engele in die hemel gedurigdeur by my hemelse Vader is.

Wat ‘n gedagte!  Ek en jy en ons kinders wat aan versoekings en beproewings blootgestel is, is baie kosbaar vir die Here.

In Sy groot liefde stuur die Here gedurigdeur engele om ons teer te versorg en te beskerm en te sorg dat ons in die hemel kom.

ENGELE HOU DIE BOSE MAGTE TERUG

Het u geweet dat magtige engele die bose engele van die duiwel van ons weghou sodat hulle ons nie vernietig nie. (MS 17, 1893)

BESKERM TEEN VERSOEKING

Wanneer die duiwel met sy subtiele versoekings na ons kom, en ons weier om toe te gee, sal die engele ons onmiddellik te hulp kom.

Saam met die Heilige Gees spoor die engele ons aan om nie onder versoekings te swig nie.  Kom ons gooi al ons gewig by die pleidstem van die Gees en die engele in en doen wat reg is.

TEREGWYSING

Kom ons luister na Gabriël se teregwysing omdat Sagaria getwyfel het:

Lukas 1:20 “Kyk, jy sal stom wees en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde, wat op die bestemde tyd vervul sal word, nie geglo het nie.”

Weet u wat vir my baie moeilike is om te hanteer?  Wanneer iemand my woorde in twyfel trek.

En ek is maar net ‘n mens.

En hier kom die magtige engel Gabriël direk van God se troon om vir Sagaria te sê dat sy gebed oor ‘n kindjie verhoor is.  En wat gebeur? 

Sagaria betryfel die boodskap.  Ek hoop die stomheid waaraan hy vir die volgende paar maande gely het, het hom gehelp om nooit weer die woord van die Here in twyfel  te getrek het nie.

Maar die Here is so goed vir ons.  In hierdie bestraffing van stomheid, is daar ook ‘n ingeboude seën.  Die feit dat hy stom is, is ‘n teken dat hy wel ‘n seën sal ontvang – die beloofde seun.

Dit maak nie saak watter straf ons tans verduur nie; dit maak nie saak wat die konsekwensies van ons oortreding is nie.  God se geseënde beloftes transendeer die vloek.

Die mooiste geskenk wat ons die Here kan gee, is om te glo dat Hy ‘n waarmaker van Sy beloftes is.

As Hy beloof het dat Hy al ons sondes sal vergewe as ons dit aan Hom sal bely, glo Hom.

As Hy beloof dat Hy ons uit al ons versoekings kan verlos, glo Hom.

DIE WAGTENDE VOLK

Die volk wat buite die tempel vir Sagaria gewag het, moes naderhand begin wonder het waarom hy so lank besig is.

Volgens die Joodse Babiloniese Talmud moes die priester wat die reukwerk op die goue altaar geplaas het, dit baie vinning doen, en uitkom.

Daarna moes hy iets baie spesiaals vir die wagtende volk doen. Hy moes sy hande ophef en die volgende seën op die volk uitspreek:

Numeri 6:24-26 Die Here sal jou seën en jou behoed; die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.

Die volk wat vir Sagaria gewag het, wou nie weggaan voordat hulle hierdie spesiale seën ontvang het nie.

Die Here sal jou seën en jou behoed

Wat is kosbaarder as die seën van die Here op ‘n mens se lewe?

En dis wat Hy graag vir jou en vir my wil gee.  Kom ons wag op Hom vir hierdie spesiale seën.

Hy wil ons ook behoed.  Daar is soveel duisende gevare.  Daar is soveel duisende gevaarlike versoekings.  Ons het nodig dat die Here ons behoed.

Ons moet daagliks bid:  Ag Here.  Lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.

Die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn.

Wat beteken hierdie gesegde?  Kom ons vra die Bybel om  dit vir ons te verduidelik:

Psalm 16:11 U sal my die pad van die lewe bekendmaak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig.

BRING MEER VREUGDE

Wat ‘n pragtige teks!  Wanneer die aangesig van die Here oor ons skyn, maak Hy vir ons die pad van die lewe bekend.  Maar dis nie al nie.

Wanneer Sy aangesig oor ons skyn, is daar versadiging van vreugde.  Ons vreugde neem toe.

Word jou vreugde minder en minder?  Word jou hartseer groter en groter?  Wanneer die Here se aangesig oor jou skyn, word jou vreugde groter as jou ongelukkigheid.

BRING HERSTELLING EN VERLOSSING

Die volgende iets wat die aangesig van die Here vir ons bring, is uitsonderlik.  Kom ons lees dit:

Psalm 80:4 O God, herstel ons, en laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word!

Wat ‘n gedagte!  Ons is almal soos gestampe motors wat na die paneelklopper ingesleep word.  Iemand het teen ons gestamp en ons het baie seergekry.

Maar wanneer die Here se aangesig oor ons skyn, word ons herstel, word ons weer heel gemaak.

Het jy vanoggend herstelwerk in jou lewe nodig?  Gee die Here toestemming om die duike van teleurstelling uit jy lewe te klop.  Hy weet presies hoe om ‘n sutkkende lewe weer heel te maak.

Daar is nog ‘n ander mooi iets wat met ons gebeur wanneer die aangesig van die Here oor ons skyn.  Die teks sê ons word verlos.

Is daar een of ander ketting van sonde wat jou aan vernietigende skuldgevoelens vasbind?  Wil jy verlos word?

Wanneer die Here se aangesig oor jou skyn, breek die kettings van knegskap en word jy vrygestel.

SAGARIA EN DIE WAGTENDE SKARE

‘n Groep skuldbelaaide mense wag dat Sagaria uit die tempel moet kom en hulle moet seën.

Hulle het kerk toe gekom sodat hulle groot geestelike behoeftes vervul kon word.

Na ‘n lang gewag, maak Sagaria sy verskyning.  Die wagtende volk wag gretiglik dat hy die volgende seën oor hulle moet uitspreek:

Numeri 6:24-26 Die Here sal jou seën en jou behoed; die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.

Maar niks gebeur nie.  Daar kom geen klank uit sy keel nie.  Wat ‘n teleurstelling.

Het jy al met groot verwagtinge kerk toe gekom en toe geen seën ontvang nie?  Dit het ook daardie dag met die volk van die Here gebeur.

Dit het gebeur omdat Sagaria die Woord van die Here deur die engel Gabriël gbtwyfel het.

Weerhou ek en jy seëninge van mense omdat ons aan die Woord van die Here twyfel?

Lukas 1:21-23 Intussen het die volk vir Sagaria gestaan en wag en begin wonder waarom hy so lank in die tempel bly.  Toe hy uitkom, kon hy nie met hulle praat nie.  Hulle kom toe agter dat hy in die tempel ‘n gesig gesien het.  Hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly.  Toe die tyd van sy tempeldiens verby was, het hy huis toe gegaan.

Ek is so danbaar vir Jesus ons Hoëpriester wat ons nooit teleurstel nie.   Ek is so dankbaar dat Hy vanoggend hier is om ons te seën.  Ek is so dankbaar dat Hy vanoggend Sy aangesig van verlossing oor ons wil laat skyn. 

Mag ek ‘n oproep op u doen?  Wanneer u vanoggend die Huis van die Here verlaat, laat u aangesig van vrede en vergifnis oor jou huis-mense skyn.

Verlaat die kerk vanoggend en laat jou aangesig van hoflikheid en begrip oor die mense skyn met wie jy saam werk.

Stap die nuwe week binne en laat jou aangesig van teerheid en begrip oor elke mense skyn met wie jy in aanraking kom.

Moenie toelaat dat die geringste twyfel aan die beloftes van die Here jou verhoed om ‘n seën vir ander te wees nie.

Was this article helpful?

Related Articles