1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper
  4. Johannes Die Doper – Deel 5: Sagaria Op Pad Huis Toe.
  1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Johannes Die Doper – Deel 5: Sagaria Op Pad Huis Toe.

Johannes Die Doper – Deel 5: Sagaria Op Pad Huis Toe.

Skriftuur: Lukas 1:80 Die kindjie het opgegroei en sterk geword deur die Gees en het in die woestyn gebly tot op die dag van sy openbare verskyning in Israel.

SAGARIA OP PAD HUIS TOE

Sagaria is op pad huis toe.  Baie gedagtes flits deur sy brein.

Hy sien nog duidelik die engel wat aan hom verskyn het.  En dan die woorde:

Lukas 1:12 “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor.  Jou vrou, Elisabet, sal aan jou ‘n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem.”

Hy wonder hoe sy vrou op hierdie opwindende nuus gaan reageer!  Om te dink dat hulle uiteindelik die ou kindjie gaan kry wat hulle ‘n leeftyd lank so graag wou hê.

AANKOMS

Elisabet sien haar man vinnig aangestap kom.  Sy wonder wat in sy lewe gebeur het.

“Sagaria.  En as jy vandag so opgewek lyk.  Het jy van ons ou vriende raakgeloop?  Is jy as die nuwe hoëpriester aangestel?  Kon jy gereël het dat ons ‘n kindjie deur die welsyn kon aanneem?

Hy skud sy kop.

“Hoekom praat jy nie met my nie?”

Hy beduie vir haar dat hy stom is en dat sy vir hom ‘n skryfding moet bring.

Met groot nuuskierigheid kyk Elisabet hoe haar man die gebeurtenisse van die afgelope paar uur neerskyf.  Toe hy die goeie nuus van die komende kindjie Johannes neerskryf, het sy net in trane uitgebars.

‘n Droom en gebed van ‘n leeftyd is bewaarheid.  Saam kniel die twee neer terwyl Elisabet die Here vir Sy onbegryplike goedheid bedank.

Weet u wat?  

In die hemel gaan al ons bebede en versugtinge bewaarheid word.  In die hemel gaan al ons diepste verlangens bevredig word.

Die verhale van wonderwerke waarvan ons in die Bybel lees, is bedoel om ons aandag na die hemel te neem.  Die dag wanneer Jesus kom en ons hemel toe neem, sal die een wonderwerk op die ander een plaasvind.

En deur die eeue sal ons nuwe geluksfonteine ontdek wat nooit sal opdroog nie.

Lukas 1:24,25 Na daardie tyd het sy vrou Elisabet swanger geword en haar vyf maande lank afgesonder.  Sy het gesê:  “Die Here het dit vir my gedoen.  Nou het Hy na my omgesien om my smaad onder die mense weg te neem.”

Waarom dink u het Elisabet haar self vir vyf maande lank afgesonder? 

Dit kan wees dat sy haarself in daardie tyd van alle wêreldse invloede wou isoleer.  Sy wou nie met mense kontak maak wat ‘n negatiewe invloed op haar en haar ongebore kind sou hê nie.

Sy wou nie in stad toe gaan en iets daar sien wat negatief op haar en haar kind sou inwerk nie.

Dit is miskien baie nodig dat verwagtende moeders in hierdie laat uur hulle en hulle ongebore baba baie versigtig teen die negatiewe invloede van die samelewing moet beskerm.

Verwagtende moeders moet miskien baie meer tyd in gebed en peinsende studie van die Woord van die Here deurbring.

DIE GEBOORTE VAN JESUS AANGEKONDIG

Lukas 1:26 In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël gestuur na ‘n maagd in Nasaret, ‘n dorp in Galilee.

Op ‘n dag het God die Vader en God die Seun vir Gabriël nadergeroep en vir hom die heerlikste opdrag van alle tye gegee.

“Ons wil hê jy moet na ‘n plekkie met die naam van Nasaret toe gaan.  In die heel armste gedeelte van die dorp bly daar ‘n jong maagd met die naam van Maria.  Ons wil hê jy moet vir haar ‘n belangrike boodskap gee.”

Miskien het Jesus op hierdie stadium met Gabriël begin gesels.

“Gabriël jy moet vir haar sê dat Ek, die tweede Persoon van die Godheid, as ‘n klein selletjie in haar baarmoeder geplant gaan word.” Gebriël skud net kop. Jesus gaan voort:  “Sy sal my vir 9 maande moet dra en daarna  sal sy geboorte aan my skenk.  Sal jy hierdie allerbelangrikste boodskap reg kan oordra?”

GABRIëL SE REAKSIE

‘n Mens wonder wat alles deur Gabriël se gedagtes geflits het.  Lucifer, Gabriël se voorganger het homself verhef en gestreef om Christus se verhewe plek in te neem. 

En hier kom Christus, die magtige God van die kosmos, en Hy reduseer Homself, en verneder Homself tot ‘n klein selletjie in ‘n donker baarmoeder van ‘n jong, onervare, arm meisie.

Miskien het Gabriël gepleit en gevra of hy nie maar die vernedering van vleeswording in Jesus se plek kon  gaan deurmaak het nie.

En toe Jesus vir hom beskryf hoe Hy uiteindelik aan ‘n wrede kruisdood gaan sterf, wou Gabriël ook weet of hy nie ook dit in die plek van sy Meester kon gaan deurmaak het nie.

Maar Gabriël kon Jesus nie oorredd nie. 

Daar was net een Offer wat vir die sondes van die mensdom kon betaal, net een Offer wat goed genoeg sou wees, en dit was die offer van die vleesgeworde Jesus, die God-mens.

Soos ‘n blits beweeg Gabriël na ‘n klein spikkeltjie in God se groot heelal.  In die verte bespeur hy planeet aarde.

Ek wonder waarmee Maria besig was toe Gabriël by haar uitgekom het?  Ek wonder waaraan sy gedink het?

Een van die belangrikste oomblikke in die geskiedenis van die heelal en die mensdom het aangebreek.

Gabriël verskyn aan die verskrikte Maria en breek die verstommendste nuus wat nog deur ‘n engel aan ‘n mens gebring is.

Lukas 1:28-30 Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde!  Die Here is by jou.”  Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou.”

Gabriël sien hoe die ou meisietjie hier voor hom begin bewe.  So iets het nog nooit met haar gebeur nie.  Sy is nie ‘n vlekkelose, ongevalle wese nie.  Sy is ‘n gevalle sondaar soos al die ander mense.  Maar tenspyte hiervan staan daar nou ‘n heilige engel voor haar.

Sy wag in spanning om te hoor watter genade die Here aan haar wil bewys.

Vers 31-33 “Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee.  Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word.  Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid.  Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

Maria was ‘n Bybelstudent en het presies geweet waaroor Gabriël praat. Maar daar was iets wat sy nie verstaan het nie.  Sy waag dit om vir die engel ‘n vraag te vra:

Vers 34 Maar Maria sê vir die engel:  “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog noooit omgang met ‘n man gehad het nie?”

Die duiwel en sy engele luister na hierdie gesprek.  Hulle kan hulle ore nie glo nie.

Saam met Maria wil hulle weet hoe die vleeswording gaan plaasvind.

Vers 35 Die engel antwoord haar:  “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek.  Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God.”

Vir die eerste keer na die val van Adam luister die heelal na die goeie nuus dat daar weer ‘n sondelose mens tevoorskyn gaan kom.  Jesus se sondelose natuur sou geen natuurlike neiging tot die sonde hê nie.

Ek dink Maria het vir ‘n lang tyd sprakeloos gestaan.  Om te dink dat die Heilige Gees op ‘n onverklaarbare wyse haar sou bevrug en dat Sy die draer van die langverwagte Messias gaan wees.

Miskien het trane van verbasing, onwaardigheid, blydskap en dankbaarheid oor haar trane begin rol.

Daar is iets wat Gabriël vir Maria gesê het wat my baie diep getref het.  Dis net ‘n paar woorde, maar dit spreek volumes:

Lukas 1:37 “Niks is vir God onmoontlik nie.”

“Maria”, sê Gabriël “Ons dien ‘n Almagtige, Alomteenwoordige en Alwetende God.  Hy hou biljoene sterre op hul wentelbaan deur die heelal.

“Maar weet jy wat Maria.  Hy kan selfs sondaars red.  Die geboorte van Johannes oor drie maande en die geboorte van Jesus oor nege maande gaan alles net oor een saak – die redding van sondaars. 

“Maria.  Onthou jy moet hom Jesus noem, want dit is Hy wat Sy volk van hulle sondes sal verlos.

Maria moes ‘n besluit neem.  Gaan Sy toelaat dat die Messias uit haar gebore word, of gaan sy terugdeins?

Lukas 1:38 Maria sê toe:  “Ek is tot beskikking van die Here.  Laat met my gebeur wat u gesê het.”  Toe het die engel van haar af weggegaan.

Wat ‘n pragtige reaksie:  Ek is tot beskikking van die Here.

Wil jy nie ook soos Maria tot die beskikking van die Here  wees nie?

Toe Maria haar self aan die Here beskikbaar gestel het, het sy geboorte aan Jesus geskenk.

Wanneer ek en jy onsself onvoorwaardelik tot beskikking van die Here stel, sal die mooi karakter van Jesus ook in ons gebore word.  Ons sal dan bedagsaam met mense omgaan.

MARIA BESOEK ELISABET

Hoe sou jy gereageer het as jy Maria was?  Om te dink dat die Messias in jou sou groei en dat jy uiteindelik geboorte aan die Verlosser van die wêreld sou skenk.

By wie kon Maria gaan hulp soek hoe om tydens haar swangerskap te leef? Met wie kon Maria hierdie ongelooflike geheim deel?

Daar was net een plek waarheen hierdie jong onervare meisie kon gaan en dit was na haar tannie Elisabet. 

Waarom?  Omdat die engel vir haar vertel het dat daar ook ‘n groot wonderwerk met haar gebeur het.  Al was dit genokologies onmoontlik het sy nou ‘n kindjie in haar  hoë ouderdom verwag.

Daar is nog ‘n ander rede waarom sy na haar tannie Elisabet toe wou gaan.  Sy het nie meer ouers gehad om hierdie geheim mee te deel nie.

Van al haar familie was tannie Elisabet die toegewydste en het die naaste aan die Here geleef.

MARIA SE BESOEK AAN ELISABET

Lukas 1:39,40 Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na ‘n dorp in die bergstreek van Juda gegaan.   Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet.

Kan u die jong maagd vanaf Nasaret in Galilee na Juda sien stap?  Die gedagtes wat deur haar kop maal is onbeskryflik. 

“Kan dit waar wees?” prewel sy kort-kort. “Waarom het die Here iemand soos ek gekies om die Verlosser van Israel in die wêreld te bring.  Sal tannie Elisabet glo wat ek vir haar gaan vertel?  Sal sy vir my kan sê wat ek alles moet doen?”

Kom ons hoor wat gebeur het die oomblik toe haar tannie haar stem hoor:

Lukas 1:41,42 Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul en het hard uitgeroep:  “Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot!

Hier is iets baie besonders.  Waarom is Elisabet met die Heilige Gees vervul?  En waarom het sy Maria as geseënd onder die vroue genoem?  En waarom het sy die vrug van haar moederskoot geseënd genoem?

Kom ons hoor hoe die Bybel homself in hierdie verband verduidelik:

Lukas 1:43,44 “Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom?  Kyk, net toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my van vreugde beweeg.”

Niemand het vir Elisabet vertel dat Maria die langverwagte Messias in die wêreld sou bring nie.  Maar hierdie vrou het so ‘n toegewyde lewe gelewe, dat die Heilige Gees dit aan haar geopenbaar het.

Terloops.  Dit is net die Heilige Gees wat aan iemand kan openbaar dat Jesus die Here is.  Kom ons lees dit:

1 Korintiërs 12:3 “Niemand kan sê: “Jesus is Here” nie behalwe deur die Heilige Gees.”

Dis ‘n baie groot gedagte!  En net soos die Heilige Gees destyds vir Elisabet van Jesus oortuig het, net so wil Hy vandag nog vir nietige mense soos ek en jy van die werklikheid van Jesus oortuig.

Kom ons neem meer tyd in gebed en bepeinsing sodat die Heilige Gees Jesus in groter diepte aan ons kan openbaar.

DIE LOFLIED VAN MARIA

So ‘n paar kilometers suid-oos van Jerusalem is daar ‘n plekkie met die naam van Ein Karem.  Dis hier waar ‘n mens die loflief van Maria in pragtige mosaiek in baie tale  kan lees.

Neem tyd en lees hierdie loflied oor en oor.

Skielik kom die Heilige Gees wat die bevrugting van Jesus in Maria bewerkstellig het oor haar, en sy bring die verhewenste poëtiese gedagtes oor die Here voort.

Maria se loflief word as die keurigste en mooiste in heilige literatuur beskou.

Die eerste helfte van haar lied vertel van haar persoonlik dankbaarheid teen die Here:

Verse 46-48  En Maria het gesê:  “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het . . .

Dis baie nodig dat ons soos Maria meer tyd neem om die Here se groot goedheid oor ons te besing. 

Die grootste loflied wat ons kan sing, is die loflief wat oor die vleeswording van Jesus handel.

Die grootste loflied wat ons kan sing, is die loflied dat Jesus vir ons sondes aan die kruis kom sterf het.

Die grootste loflied wat ons kan sing, is die loflied dat Jesus op hierdie oomblik ons getroue Hoëpriester is en dat hy spoedig gaan kom om ‘n einde aan sonde, dood en ellende te maak.

Lukas 1:56 Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.

DRIE MAANDE SAAMKUIER

Ek sal nie omgegee het om te hoor wat Maria en Elisabet alles in hierdie drie-maande kuier gesels en gedoen het nie.

Ek wonder hoeveel tyd het hulle in gebed deurgebring?

En toe word Johannes gebore.  En Maria kyk na die wonder-kindjie wat eendag die voorloper van haar seun Jesus gaan wees wat sy in haar ronddra.

Die ses-maande-lange verwagtende Maria is terug Nasaret toe.  Kort daarna is sy met Josef die wewenaar getroud.

Volgende keer gaan ons met Johannes kennis maak.  Ons  gaan na die boeiende verhaal oor die grootste van alle profete luister.

Mag die Woord van die Here vir ons altyd deur die grootste bekoring van alle bekorings inhou.

Was this article helpful?

Related Articles