Skriftuur: Lukas 1:76-79
Kan jy nog die geboorte van jou eerste kind onthou? Ek sal nooit die dag vergeet toe die kraamsuster die groen doek opgemaak het en Laurettatjie vir my gewys het nie.
Dis ‘n blye dankbare emosie wat ‘n mens nie mooi kan beskryf nie.
JOHANNES SE GEBOORTE
Sagaria en Elisabet en Maria het begin opgewonde raak, want die geboorte van Johannes is net om die draai.
Al die ou kleertjies was gereed en die mannetjie se kamer mooi versier.
En toe breek die langverwagte dag aan.
Lukas 1:57 Toe die tyd gekom het dat Elisabet se kind gebore moes word, het sy ‘n seun in die wêreld gebring.
Volgens ‘n ou tradisie van die kerk in Alexandrië, is Johannes op 23 April gebore.
As dit die geval was, is Johannes in die fris, vars atmosfeer van die lente gebore.
Soos wat nuwe plante en blomme uit die winter te voorskyn kom, so het daar ‘n nuwe mensie uit die lang winter van Elisabet se kinderloosheid voortgekom.
En dis nog steeds die kern van die Eliaboodskap.
Na die mens se winter van sinloosheid en onverskilligheid bring die Eliaboodskap ‘n nuwe lente van hoop en sinvolheid.
Baie gou het die mense van die omgewing van die geboorte van die langverwagte ou kindjie gehoor. Kom ons hoor wat hulle toe gedoen het:
Lukas 1:58 Haar bure en familie het gehoor dat die Here aan haar groot ontferming bewys het, en hulle was saam met haar bly.
Later toe klein Johannessie groter was en kon verstaan, het sy ma hom van die mense vertel wat haar en haar man kom gelukwens het. Ek glo sy het vir hom ‘n belangrike les uit hierdie gebeure geleer.
“My kind al daardie mense was saam met jou ma bly toe jy gebore is.
“Johannes. Daar is een baie belangrike gawe wat die Here ons gegee het. Ons het die vermoë om saam met iemand anders bly te wees.
“Ons het ook die vermoë om saam met iemand anders hartseer te voel.
“En my kind, waarom dink jy het die God van Israel vir ons hierdie vermoë gegee?
Miskien het sy vir haar kind die volgende groot wet van geluk geleer:
Empatie teenoor iemand anders vermeerder hulle vreugde. Meegevoel met iemand wat seer kry, verminder daardue mens se hartseer.
Weet jy van iemand se blydskap? Gaan sê vir daardie persoon jy weet. Dit gaan nie net daardie mens se vreugde vermeerder nie, dit gaan ook jou vreugde vermeerder.
Doen wat Elisabet se vriende gedoen het. Kom wees saam met mense bly wat ‘n kindjie van die Here ontvang het.
Weet jy van iemand wat pyn het? Gaan simpatiseer met daardie mens. Dit sal nie net daardie mens help nie. Simpatie met iemand anders, is ‘n salf vir jou eie pyn.
Romeine 12:15 Wees bly saam met die wat bly is en treur saam met die wat treur.
Godsdiens is eintlik baie eenvoudig. Dit het meer met ander mense as met jouself te doen.
Wanneer jy net na jou pyn en jou vreugde kyk, is jou wêreld klein.
Maar wanneer jy na die pyn en vreugde van ander mense kyk, word jou eie ervaringswêreld van vreugde en pyn ‘n groot kosmos.
Vra die Here vir die begeerte om meer vir ander mense as vir jouself te leef.
SY NAAM IS JOHANNES
Kom ons keer terug na die bejaarde Sagaria en sy vrou Elisabet. Ek dink elke keer wanneer iemand haar geluk gewens het, het sy net begin huil en vir die mense vertel hoe goed die Here vir haar is.
Lukas 1:59 Op die agtste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaria noem na sy pa. Maar sy ma het gesê: “Nee! Hy moet Johannes genoem word.”
Dit was destyds die gebruik dat die vriende en die familie gehelp het om ‘n naam vir pasgebore babatjies te gee.
Ons lees in Rut 4:17 daarvan. Toe Rut se kindjie gebore is, het haar buurvroue vir hom die naam Obed gegee.
Sagaria en Elisabet se vriende en familie het gevoel dat Sagaria ‘n goeie naam vir die ou kleintjie sou wees.
Kom ons hoor wat die welmenende belangstellendes gesê het toe Elisabet nie die kindjie Sagaria wou noem nie:
Verse 61,62 Hulle sê vir haar: “Daar is niemand in jou familie wat die naam het nie!” Met gebare vra hulle toe sy pa hoe hy wil hê dat die kindjie genoem moet word.
Ek wens ek kon daar naby gestaan het toe die klomp mense oor die naam redeneer.
Elisabet hou net aan om haar kop te skud. Die kind moenie Sagaria genoem word nie, maar Johannes. Toe begin hulle met allerhande gebare vir die pa te vra watter naam hy vir die kindjie wil gee.
Vers 63 hy vra toe ‘n skryfbordjie en skryf daarop: “Johannes is sy naam.” En almal was verbaas.
Hoekom dink u was almal skielik verbaas? Dit was nie net omdat hy dieselfde naam as Elisabet gekies het nie. Die volgende teks gee vir ons meer inligting:
Verse 64 Onmiddellik het Sagaria sy spraak teruggekry en begin praat en God geprys.
Sowat ‘n jaar vantevore het Sagaria sy ongeloof getoon toe die engel vir hom sê dat hy ‘n pa gaan word. Die engel het hom ‘n bietjie kortgevat en hom met doof-stomheid geslaan. Dis baie lelik om ‘n engel van God se woorde in twyfel te trek.
By die geleentheid van die besnydenis van klein Johannessie was Sagaria al amper ‘n jaar lank doof-stom.
Miskien sal dit goed wees as ek en jy ook vir ‘n ruk lank doof-stom sal raak.
Toe al die geluide om Sagaria stil geraak het, het Sagaria homself in stille nederigheid voor die Here verootmoedig.
Dit is in die stilte van siel dat die stem van God die duidelikste gehoor word.
KOM ONS SKAKEL AF
Miskien is dit nodig dat ek en jy van die geraas om ons afskakel. Is dit nodig dat die radio altyd moet speel?
Ons kan nie lekker op hemelse dinge konsentreer as daar ‘n gedurige geblêr in ons ore is nie.
Probeer om aanmekaar te bid wanneer jy in jou motor ry. Skakel die TV af en bepeins die ewige dinge. Gaan stap in die veld en luister vir ‘n slag hoe klink die stilte.
Want onthou: Dit is in die stilte van siel dat die stem van God die duidelikste gehoor word.
DIE REAKSIE VAN DIE BESOEKERS
Dis altyd interessant om na die reaksies van mense te kyk. Die Here het die wonderwerk van die geboorte asook die wonderwerk van Sagaria se spraak vir ‘n baie spesiale doel toegelaat.
Kom ons lees daaroor:
Verse 65,66 Almal wat dit gehoor het, het daaroor nagedink en gevra: Wat sal hierdie kindjie eendag word?” Dit was duidelik dat die Here by hom was.
Reeds vanaf sy geboorte het mense vir Johannes die Doper begin dophou. Kort kort het hulle na hom verneem en toe hy die dag begin preek, het hy alreeds ‘n gehoor gehad.
DIE LOFLIED VAN SAGARIA
Daar word drie lofliedere rondom die geboorte van Johannes die Doper gesing. Eers het sy ma onder inspirasie gesing, toe Maria wat daar kom besoek het, en laastens het sy pa ook ‘n loflied gesing.
Kom ons luister daarna:
Lukas 1:67,68 Sagaria, die kindjie se pa, is met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê: “Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk.”
Die lied bestaan uit twee dele. In die eerste gedeelte word die verlossingswerk van die beloofde Messiaas beskryf.
In die tweede gedeelte besing Sagaria die werk wat die voorloper van die Messias gaan doen.
Kom ons hoor wat Sagaria aangaande sy eie seun voorspel het:
Lukas 1:76 “En jy, kindjie, ‘n profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uit gaan om sy pad gereed te maak.
Later toe Johannes die Doper groot genoeg was, het sy pa hom op ‘n dag geroep en intiem met hom gepraat.
“My kind. Die Messias is reeds gebore. Hy woon in Nasaret waar sy godvresende ouers Hom grootmaak. Wanneer Hy 30 jaar oud is, gaan Hy sy verskyning aan Israel maak.”
Ek wonder of klein Johannessie vir sy pa gevra het of hulle vir Jesus in Nasaret kon gaan besoek.
Ek wonder watter effek dit op hom as jong seun gehad het.
Sy pa verduidelik verder:
“Johannes. Jesus gaan die Seun van die Allerhoogste genoem word. Dit beteken dat Yahwe Jesus se Vader is.
“Net soos wat ek jou pa is, net so is die Here in die hemel, Jesus se Pa.
“Toe jy gebore is het ek onder inspirasie ‘n lied geskryf waarin ek jou as die profeet van die Allerhoogste besing het. Jou werk sal wees om voor die Here uit te gaan en sy pad gereed te maak.”
“En weet jy wat my kind? Toe die engel in die tempel aan my verskyn het en my vertel het dat jy gebore gaan word, het hy iets baie belangrik gesê.
“Jy sal groot wees in die oë van die Here.”
GROOT WEES IN DIE Oë VAN DIE HERE
“Pa. Wat beteken dit?” wou Johannes weet.
“My kind jou grootheid gaan in die boodskap lê wat jy gaan verkondig. Jy gaan die goeie nuus van Jesus se spoedige koms verkondig.”
PAD GEREED MAAK
“En daar is nog iets wat jy eendag sal gaan doen. Jy sal die pad voor die Here gelykmaak.”
Ek dink Johannes het soos alle nuuskierige seuntjies vir sy pa gevra wat dit beteken om ‘n pad vir die Messias gereed te maak.
“My kind. 700 jaar gelede het Jesaja voorspel dat ‘n profeet net voor die verskyning van die Messias op die toneel gaan verskyn. Kom pappa lees dit vir jou:
Jesaja 40:3 Iemand roep: “Maak vir die Here ‘n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ‘n grootpad vir ons God!
Die jong Johannes is verstom.
“Pappa. Praat die profeet regtig van my? Ek kan dit byna nie glo nie.”
“Glo dit my kind. Toe ek ongelowig was, het die engel my met doof-stomheid geslaan. Dit praat regtig hier van jou. Terwyl jy vir die Joodse volk wat in hierdie barre wêreld van sonde leef van die koms van die Messias gaan vertel, gaan jy baie van hulle tot bekering roep.”
“Maar my kind. Dis nie al profeet wat oor jou toekomstige werk geprofeteer het nie. Kom ek lees vir jou uit Maleagi:
Maleagi 3:1 Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom. Ja, die Verbonds-engel na wie julle met soveel vreugde uitsien, gaan nou kom, sê die Here die Almagtige.
OUER ONDERRIG
Ek wens ek kon daar naby wees om te gehoor en te gesien het hoe die bejaarde Sagaria sy ou seuntjie onderrig. Ek wens ek kon Johannes se gesigsuitdrukking sien.
Daardie onderrig het goeie vrugte afgewerp. Johannes het ‘n magtige boodskapper van die eerste koms van Jesus geword.
UITDAGING VIR HEDENDAAGSE OUERS
Mag ek ‘n beroep op hedendaagse ouers doen? Bring meer tyd met julle kinders deur. Vertel hulle van die groot taak wat op hulle wag.
Vertel jou kind dat Jesus binnekort gaan kom en dat dit hulle taak is om mense daarvan te vertel.
En mag dit wees dat jou seun of dogter binnekort dieselfde groot werk as die van ‘n Johannes die Doper gaan doen.
Mag jou kind die Adventboodskap met groot toewyding en entoesiasme gaan verkondig.
DIE LOFLIED VAN SAGARIA
Ons beweeg terug na Sagaria en sy seuntjie Johannes wat baie aandagtig sit en luister.
“Kom Pappa lees weer ‘n keer die lied wat ek oor jou geskryf het:
Lukas 1:76-79 “En jy, kindjie, ‘n profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uit gaan om sy pad gereed te maak (en nou vir ‘n verduideliking van pad-gereed-maak) om kennis van verlossing aan sy volk mee te deel: verlossing deur veregifnis van hulle sondes, danksy die genadige ontferming van ons God. Soos die môreson sal hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal, om lig te bring aan die wat in duisternis en in die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede.”
Sagaria trek sy seuntjie nader aan hom.
“My kind het jy al opgemerk hoe donker dit word wanneer onweerswolke saampak?
“Vandat Adam en Eva gesondig het tot nou, het daar ook donker wolke van sonde en dood oor ons wêreld toegesak.
“En my kind, dan wil Pappa ook net vir jou sê dat vanaf die profeet Maleagi was daar nog nie weer ‘n profeet wat die donkerte met ‘n profetiese lig kon penetreer nie.
“Die rustelose mensdom slinger oor die woestyne van tyd op soek na die Prins van Vrede.
“Johannes. Die Here het jou gekies om vir Israel te gaan vertel dat Jesus die Môreson binnekort met al Sy glans deur die donker wolke van sonde en mistroostigheid gaan deurbreek. My kind. Jy het die grootste boodskap van alle tye. Besef jy hoe belangrik dit is om nougeset, toegewyd te lewe?”
In my geestesoog kan ek sien hoe die bejaarde Sagaria en sy jong seuntjie neerkniel en smekend saam bid.
Lukas 1:30 Die kindjie het opgegroei en sterk geword deur die Gees en het in die woestyn gebly tot op die dag van sy openbare verskying in Israel.”
Volgende keer gaan ons hoor van die dood van Johannes se ouers en waarom hy net daarna woestyn toe is.
Mag die Here ons help terwyl ons hierdie belangrike geskiedenis bestudeer. Mag Hy vir ons wys watter soort lewens ons moet leef terwyl ons die wêreld moet vertel dat Jesus binnekort gaan terugkeer.