Jojagin 2

Miskien het koning Jojagin op ‘n keer met die ballinge kom gesels. Hy het ‘n baie tragiese verhaal gehad om te vertel.

Dis kortliks wat die Bybel van hom sê:

2 Kronieke 36:9,10 Jojagin was agtien jaar toe hy koning geword het en het drie maande en tien dae in Jerusalem geregeer. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Met die wisseling van die jaar het koning Nebukadnesar hom na Babel toe laat haal saam met die kosbare goed in die huis van die Here, en sy broer Sedekia koning oor Juda in Jerusalem gemaak.

Vanaf die magtige konings van Juda, kom ons by die ou geringste goddelose koninkie. Hy het skaars op die troon geklim, toe moes hy afklim.

Saam met ‘n klomp ander vernederde ballinge stap hy oor die lang woestynpad van skande na ‘n leeftyd van ballingskap.
Aanvanklik het hy koninklike behandeling gekry. Later is hy in die tronk gegooi.

DIE LOT VERANDER

En dis die tragiese verhaal van Juda en Israel. Van ‘n soewereine staat na ‘n toestand van knegskap.

En nou vir ongelooflike! Kom ons lees dit:

Jeremia 52:31 In die sewe en dertigste jaar van die ballingskap van koning Jojagin van Juda, op die vyf en twintigste van die twaalfde maand, het Ewil-Merodak wat pas koning van Babel geword het, vir koning Jojagin van Juda uit die gevangenis vrygelaat.

Verse 32-34 So het hy hom begenadig en hom hoër status gegee as die ander konings wat by hom in Babel was. Jojagin kon sy tronkklere uittrek en het so lank hy gelewe het, aan die koning se tafel geëet en Jojagin het tot sy dood toe van die koning van Babel ’n permanente toelae ontvang vir sy daaglikse behoeftes.

Wat ‘n onbegryplike toneel!

Die magtigste koning van die antieke wêreld, Ewil-Merodak, die Babiloniese Amel-Marduk, doen iets ongehoord.

Hy haal koning Jojagin uit die tronk. Hy gee vir hom ander klere. Maar dis nie al nie. Hy ontvang hoër status as al die ander konings in die Babiloniese ryk.

Maar dan die toppunt van ‘n nagmêrie wat skielik in ‘n mooi droom verander. Hy word genooi om saam met die magtigste heerser van die destydse wêreld aan tafel te sit.

JEREMIA SE SLOT

Jeremia die profeet van trane, eindig sy boek met hierdie ongelooflike segelied oor die herstel van koning Jojagin. Skielik word sy lot verander.

Die een oomblik sit Jojagin in die tronk, die volgende oomblik sit hy langs die koning van die hele wêreld.

Die een oomblik loop hy in tronk klere rond, die volgende oomblik gee die koning hom die mooiste klere in die hele wêreld.

Die een oomblik sit hy statusloos, tussen ‘n klomp tronkvoëls. Die volgende oomblik geniet hy die hoogste koninklike status van sy tyd.

Hy slaap nie meer op ‘n vuil matjie in die tronksel nie. Nee. Hy slaap in die paleis waar hy van baie diensknegte omring is.

KONINGS SE SLOTLIED

Dis nie net Jeremia wat met hierdie lied van lotsverandering eindig nie.

Wanneer mens die tragiese verloor verhaal van die konings in 2 Konings lees, maak jy dieselfde ontdekking. Die boek eindig met die emansipasie, die bevryding van koning Jojakin.

GOEIE NUUS

En dis die goeie nuus van die evangelie. Ons lot gaan binnekort verander.

Binnekort gaan ons uit die tronk van ons sondige DNA verlos word. Binnekort gaan ons uit die tronk van misverstand en pyn verlos word.

Binnekort gaan ons ander klere kry. Ons sondebesoedelde kleed van gevallenheid gaan met die koninklike kleed van koning Jesus se volmaakte geregtigheid vervang word.

Binnekort gaan ons nie meer slappap van eie konsekwensies op die koue selvloer van hierdie lewenstronk eet nie.

Binnekort gaan ons langs die Koning van heelal sit. Saam met Hom gaan ons deur die ewigheid feesmaal hou.

Psalm 126:1 ‘n Pelgrimslied. Toe die Here die lot van Sion verander het, was dit vir ons soos ‘n droom. Ons het gelag en gesing. Onder die nasies het hulle gesê: “Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen. Die Here het groot dinge aan ons gedoen; ons was bly.”

Was this article helpful?

Related Articles