1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Jojagin – Toe Die Here Ons Lot Verander Het

Jojagin – Toe Die Here Ons Lot Verander Het

Skriftuur: Psalm 126:1-3

Ek was nog baie jonk gewees toe dit gebeur het. Dit was nog voordat daar ‘n Zimbabwe was.

Die land se naam was Rodesië en hulle het ‘n lotery bedryf.Kan iemand nog die naam daarvan onthou? “Rhodesian Sweepstake.”

‘n Arm tannie in die kerk het die “Rhodesian Sweepstake” gewen. Dit het destyds, in die vyftigs, £50,000 uitbetaal.

Hierdie arm tannie se lot het verander. Selfs familie baie verlangs se lot het ook verander. Ek sal nooit die dag vergeet toe een van hulle met ’n splinternuwe kar by ons kom spog het nie.

Ek wou ook baie graag die “Rhodesian Sweepstake” gespeel het maar my pa het gesê die tannie het ‘n verkeerde ding gedoen.

Maar ai. Die mooi nuwe karre wat hierdie familie gery het, het so geblink. En wanneer jy die deur oopgemaak het, het jy daardie bedwelmende reuk van nuutgeit gekry.

JOU LOT

Wat is jou lot in die lewe? Jy is miskien so arm dat jy nooit ‘n nuwe kar sal kan bekostig nie.

Pleks van die reuk van ‘n nuwe kar, sal jy maar moet verlief neem met daardie rookreuk wat die gevolg van geslyte ringe is.

Pleks van ‘n tyddeel by die see of naby die wildtuin, sal jy in jou ou plekkie moet bly totdat jy jou kop neerlê.

Pleks dat die pille jou pyne verlig, sal jou pyne net meer word.

En hoe meer verskillende rate jy vir jou rumatiek gebruik, hoe meer ander kwale en skete gaan hulle verskyning maak.

NIVEA

Kom ek vertel u van my lot. Nou dat ek ouer word, kry ek ewe skielik meer plooie op my gesig. Op my hande kom daar sulke bruin vlekke uit.

Een Vrydagmiddag toe ons inkopies doen, sien ek ‘n “special” raak. Twee bottels Nivea vir die prys van een.

Ek het al gesien hoe my plooiontwikkeling geïnhibeer gaan word.

By die huis gekom het ek baie vinnig die “Special” aangesmeer. Dit was vir my bietjie snaaks dat die room nie wou insink nie.

Later kom ek agter dat dit eintlik ‘n soort van ‘n seep is. En pleks dat die plooie verdwyn, het die seep hulle nog groter prominensie gegee.

Wat is jou lot? Armoede, siekte, ouderdom, sinloosheid, ‘n terminale sieke?

GOEIE NUUS

Die Woord van die Here het baie goeie nuus. Ons het reeds die “Rhodesian Sweep” gewen.

Ons lot is reeds verander. Die hemelse Lotto gaan binnekort uitbetaal.

WAG SO ‘N BIETJIE

Ons moet net nie ongeduldig raak nie – ons lot gaan binnekort verander word.

Hierdie lewe is met ons op pad na die ewige lewe.

Hierdie lewe is nie die einde van ons lewensboek nie. Dis net die voorwoord.

Ons verhaal gaan eintlik begin wanneer die dimensie van tyd binnekort eindig en ons die dimensie van die ewigheid binne gaan.

Hierdie lewe is net ‘n kleedrepetisie. Die konsert, die blyspel begin wanneer Jesus ons kom haal.

LOTSVERANDERINGE IN DIE OU TESTAMENT

Kom ons kyk vlugtig na ‘n paar ongelooflike lotsverander- ing die Ou Testament plaasgevind het.

Die vreeslikste vernedering wat die antieke beskawings kon tref, was die vernedering van ballingskap.

Ballinge het alles verloor. En as die koning besluit het, dat jy in sy paleis moet kom werk, het jy ook nog die vooruitsig om ‘n nageslag te verwek verloor.

Juda was vir ongeveer 70 jaar in Babiloniese gevangeskap. En toe kom Kores in 539 vC. en verlos hulle.

Kom ons luister na ‘n lied wat oor hierdie lotsverandering geskryf is:

Psalm 126:1 ‘n Pelgrimslied. Toe die Here die lot van Sion verander het, was dit vir ons soos ‘n droom.

Toe Kores die dekreet uitvaardig dat die ballinge na Jerusalem kan terugkeer, was dit vir hulle soos ‘n droom.

Vir dekades het hulle in ‘n nagmerrie van ballingskap geleef. Nou hoor hulle hulle is vry. Dit was vir hulle soos ‘n onwerklikheid, soos ‘n droom.

Dis hoe magtig die Here is. Hy is in staat om die slegste lot in die heerlikste droom te verander.

Toe die tannie destyds die “Rhodesian Sweep” gewen het, was dit vir haar soos ‘n droom.

Oornag het sy uit haar staat van armoede wakker geword en die paleis van ongelooflike rykdom binnegestap.

Kan jy jou voorstel wanneer Jesus kom en ons lot verander? Die nagmerrie van sonde en benoudheid gaan skielik eindig.

Vir die eerste paar biljoen jaar gaan dit vir ons voel asof ons droom. Dit sal te goed wees om waar te wees.

Psalm 126:2,3 Ons het gelag en gesing. Onder die nasies het hulle gesê: “Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen. Die Here het groot dinge aan ons gedoen; ons was bly.”

Die eerste keer toe ek Istanbul besoek het, het ek met ‘n vreeslike geraas wakker geskrik. Ek het na die venster gehardloop en uitgekyk.

Net waar jy gekyk het, het mense gelag en gesing. Die toeters het geblaas. Ek het gedag dit sou net ‘n rukkie duur, maar dit het nie opgehou nie.

Ek het gaan slaap en die volgende oggend wakker word. En raai wat? Die Turke het nog steeds feesgevier.

Al wat gebeur het, was dat hulle ‘n voetbalwedstryd gewen het. Hulle kon nie ophou feesvier nie. Hulle het bly lag en bly sing.

DIE WEDERKOMS

Terwyl ek na hierdie juigende oorwinnende Turke gekyk het, het ek aan die dag gedink wanneer die fluitjie van hierdie wêreld vir die laaste keer gaan blaas.

Die skeidsregter, God die Vader, gaan ons as die wenners in die groot wedstryd van die lewe aanwys.

Ons gaan Jesus ons Kaptein wat die wedstryd namens ons gewen het, op ons skouers dra en juig en sing en lag.

Moenie sleg voel as jy in hierdie lewe alles verloor nie. Moenie sleg voel as jy in hierdie lewe onregverdig behandel is nie.

Hierdie lewe is maar net die begin van ‘n ewigheid.

Hierdie lewe is net ‘n kleedrepetisie. Die konsert, die blyspel begin wanneer Jesus ons lot by die wederkoms verander.

Hou moed! Ons lot gaan verander. En soos wat ons deur die ruimtes gaan beweeg, sal wesens van ‘n biljoen ander planete uitroep:

“Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen.”

WAT ONS EENS OP ‘N TYD GEHAD HET

Deur die jare het ek mense ontmoet wat spreekwoordelik “uitgeboer” het.

Hierdie mense het vroeër jare baie besit. Iets het gebeur en toe verloor hulle alles.

Party het vir iemand anders borg gestaan en toe alles verloor. Ander het weer gedobbel en alles weggedobbel. Dan het ek mense ontmoet wat deur drank alles verloor het.

DIE GESPREK VAN DIE BALLINGE

Ek dink as ons destyds in Babilon kon besoek het, sou ons gehoor het hoe die ballinge oor die goeie ou dae gesels het.

Die dae voordat hulle uitgeboer het.

JONA EN JEROBEAM II

Ek glo hulle het oor die profeet Jona en koning Jerobeam II gesels.

Hy was die magtigste koning wat die tien noordelike stamme nog gehad het.

Terwyl ek Damaskus besoek het, het ek aan die teks in 2 Konings 14:28 gedink. Dit sê hy het hierdie formidabele stad verower.

2 Konings 14:25 Hy het die grense van Israel herstel, van Lebo-Hamat af tot by die see in die Jordaanvallei.

Ek het Hamat langs die Orontos gaan besoek. Dit was vir my aangrypend om te dink dat Israel selfs hierdie antieke Siriese stad verower het.

Dieselfde het met Tadmor gebeur. Dis hier waar Salomo ‘n woestynstad gebou het en dit later verloor het.

Jerobeam II het selfs oor Tadmor, die moderne Palmira regeer.

NINEVE

Wanneer mens na die geskiedenis van Assirië in hierdie tyd kyk, merk jy iets baie interessants. Die profeet Jona, ‘n tydgenoot van Jerobeam II het vir die Ninevete kom preek.

Die Bybel sê dat die hele stad, insluitende die koning tot bekering gekom het.

Argeologie bevestig dit. Die Assiriese annale sê dat koning Adad-Nirari III ‘n monoteïs geword het en ‘n moratorium op alle militêre veldslae geplaas het.

DIE BALLINGE PRAAT

Die ballinge praat oor die goeie ou dae toe hulle nasie wêreldnuus gemaak het.

“By Karkar aan die Orontos het Salmaneser III van Assirië die veldslag teen koning Agab van Samaria verloor”, sê een van die ballinge.

JUDA

En dan praat die ballinge oor Juda en Jerusalem.  Hulle spog met Dawid en sy seun Salomo wat die ryk van Israel tot wêreldstatus opgebou het.

Hulle praat van Hiskia. Hulle onthou nog hoe hulle in die geskiedenisklas van Sanherib se aanval op Jerusalem geleer het.

Baie van hulle het die verdedigingsmuur gesien wat Hiskia vinnig gebou het toe hy gehoor het dat die magtige Sanherib op pad was om hom en sy stad te verwoes.

Hulle praat van die tonnel wat Hiskia inderhaas laat grawe het om die Gihon fontein se water in die stad in te lei.

JOJAGIN

Miskien het koning Jojagin op ‘n keer met die ballinge kom gesels. Hy het ‘n baie tragiese verhaal gehad om te vertel.

Dis kortliks wat die Bybel van hom sê:

2 Kronieke 36:9,10 Jojagin was agtien jaar toe hy koning geword het en het drie maande en tien dae in Jerusalem geregeer. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Met die wisseling van die jaar het koning Nebukadnesar hom na Babel toe laat haal saam met die kosbare goed in die huis van die Here, en sy broer Sedekia koning oor Juda in Jerusalem gemaak.

Vanaf die magtige konings van Juda, kom ons by die ou geringste goddelose koninkie. Hy het skaars op die troon geklim, toe moes hy afklim.

Saam met ‘n klomp ander vernederde ballinge stap hy oor die lang woestynpad van skande na ‘n leeftyd van ballingskap.
Aanvanklik het hy koninklike behandeling gekry. Later is hy in die tronk gegooi.

DIE LOT VERANDER

En dis die tragiese verhaal van Juda en Israel. Van ‘n soewereine staat na ‘n toestand van knegskap.

En nou vir ongelooflike! Kom ons lees dit:

Jeremia 52:31 In die sewe en dertigste jaar van die ballingskap van koning Jojagin van Juda, op die vyf en twintigste van die twaalfde maand, het Ewil-Merodak wat pas koning van Babel geword het, vir koning Jojagin van Juda uit die gevangenis vrygelaat.

Verse 32-34 So het hy hom begenadig en hom hoër status gegee as die ander konings wat by hom in Babel was. Jojagin kon sy tronkklere uittrek en het so lank hy gelewe het, aan die koning se tafel geëet  en Jojagin het tot sy dood toe van die koning van Babel ’n permanente toelae ontvang vir sy daaglikse behoeftes.

Wat ‘n onbegryplike toneel!

Die magtigste koning van die antieke wêreld, Ewil-Merodak, die Babiloniese Amel-Marduk, doen iets ongehoord.

Hy haal koning Jojagin uit die tronk. Hy gee vir hom ander klere. Maar dis nie al nie. Hy ontvang hoër status as al die ander konings in die Babiloniese ryk.

Maar dan die toppunt van ‘n nagmêrie wat skielik in ‘n mooi droom verander. Hy word genooi om saam met die magtigste heerser van die destydse wêreld aan tafel te sit.

JEREMIA SE SLOT

Jeremia die profeet van trane, eindig sy boek met hierdie ongelooflike segelied oor die herstel van koning Jojagin. Skielik word sy lot verander.

Die een oomblik sit Jojagin in die tronk, die volgende oomblik sit hy langs die koning van die hele wêreld.

Die een oomblik loop hy in tronk klere rond, die volgende oomblik gee die koning hom die mooiste klere in die hele wêreld.

Die een oomblik sit hy statusloos, tussen ‘n klomp tronkvoëls. Die volgende oomblik geniet hy die hoogste koninklike status van sy tyd.

Hy slaap nie meer op ‘n vuil matjie in die tronksel nie. Nee. Hy slaap in die paleis waar hy van baie diensknegte omring is.

KONINGS SE SLOTLIED

Dis nie net Jeremia wat met hierdie lied van lotsverandering eindig nie.

Wanneer mens die tragiese verloorverhaal van die konings in 2 Konings lees, maak jy dieselfde ontdekking. Die boek eindig met die emansipasie, die bevryding van koning Jojakin.

GOEIE NUUS

En dis die goeie nuus van die evangelie. Ons lot gaan binnekort verander.

Binnekort gaan ons uit die tronk van ons sondige DNA verlos word. Binnekort gaan ons uit die tronk van misverstand en pyn verlos word.

Binnekort gaan ons ander klere kry. Ons sondebesoedelde kleed van gevallenheid gaan met die koninklike kleed van koning Jesus se volmaakte geregtigheid vervang word.

Binnekort gaan ons nie meer slappap van eie konsekwensies op die koue selvloer van hierdie lewenstronk eet nie.

Binnekort gaan ons langs die Koning van heelal sit. Saam met Hom gaan ons deur die ewigheid feesmaal hou.

Psalm 126:1 ‘n Pelgrimslied. Toe die Here die lot van Sion verander het, was dit vir ons soos ‘n droom. Ons het gelag en gesing. Onder die nasies het hulle gesê: “Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen. Die Here het groot dinge aan ons gedoen; ons was bly.”

e-pos Navrae na questions@amazingdiscoveries.co.za

Was this article helpful?

Related Articles