Jojagin

Ek sit hier in die eetsaal van die mooiste paleis van die magtigste moontheid ter wêreld.
Die magtigste heerser op aarde het my genooi om permanent langs hom te sit wanneer die koninklike personeel kom eet.
As ek deur die paleisvenster kyk, sien ek my luukse spoghuis langs die Eufraatrivier.
Kan jy die mooi kabbellende klanke van vrede hoor wat hierdie rivier maak?
Ek woon net ’n paar treë van die Isjtarpoort – die wêreld se mooiste wat die wêreld nog ooit gesien het. Alles uit blou geglasierde teëls gemaak.
Ek kry nie genoeg van die mooi patrone op die blou geglasierde teëls nie. Dan is hier ook die tempels en paleise met rooi en wit teëls versier.
BEKENDSTELLING
My naam is Jojagin en dit beteken “Die Here bevestig.” En dis presies wat Hy met my gedoen het.
Ek het vir drie maande en tien dae as koning in Jerusalem regeer. Ek was ‘n slegte koning en in die jaar 597 het Nebukadnesar my stad verower en my saam met Esegiël en 10,000 Judeërs in ballingskap geneem.
Aanvanklik het dit redelik goed met ek en my vrou en ons vyf kinders gegaan en ons rantsoene het uit die koninklike kombuis gekom.
Vir ‘n tyd lank kon ons vrylik in Babilon rond beweeg. Ongelukkig het ek so ‘n lelike fout begaan dat ek in die tronk beland het.
As jy al opgesluit was, sal jy weet waarvan ek praat.
Die lang jare in die tronk het my gees verpletter. Ek het geen doel meer in die lewe gehad nie. My donker sel het my gemoed net verder verdonker.
Baie keer wanneer ek so deur die tralies na buite gestaar het, het ek gewonder of ek tog nie weer eendag in vryheid sal kan rondbeweeg nie.
En toe gebeur die onmoontlike. ‘n Nuwe koning, Amel-Marduk het die troon bestyg.
Ek sal daardie dag nog vergeet nie. Die regeerder van die hele wêreld het sy troon verlaat en my in die tronk kom besoek.
En toe doen hy die volgende ongelooflike dinge.
1. Hy praat mooi met my. Ek kan nie vir jou sê watter kontras dit van die geskreeu van die tronkbewaarders was nie.
2. En toe kondig hy my vrylating aan. Dit was ‘n ongelooflike geskenk. As daar een iets is wat ons tronkvoëls met ons hele hart na verlang het, was dit ‘n ontslag uit die donker tronk.
3. En toe gee hy vir my ‘n koninklike kleed. Wat ‘n oomblik! Van verslete, stink ou tronkklere na klere wat konings dra.
4. Nadat ek in my koninklike spogklere gekleed was, het hy my na die koninklike eetsaal geneem. Wat ‘n kontras tussen koninklike kos en tronkkos.

Weg was my ‘n lelike ou bord en lelike ou lepel.

Weg was die spul misdadigers met hulle besoedelde ou stories en galbitter uitkyk op die lewe.
5. En toe plaas koning my langs hom aan die tafel. Hy het my bo al die ander vasale konings en hooggeplaasdes verhef.

Ek kan nie vir jou vertel hoe dit gevoel het om langs die magtigste, rykste regeerder van die planeet te gesit en eet nie.

Die spyskaart was so lank as my arm. Ek het name van kosse gelees waarvan ek nog nooit eers gehoor het nie. Dit het my lank geneem om net eers te weet wat op die spyskaart staan.

BANK VAN BABILON

Na daardie eerste ete neem die koning my na die Bank van Babilon, stel my aan die bestuurder voor en tref die volgende finansiële reëling.

Ek kry onbeperkte kredietbemagtiging by die bank.

“U majesteit verstaan ek u reg?” Kan ek…

ESEGIëL

Ek het Esegiël gaan opsoek, my sonde bely en ‘n lam geslag.

Die profeet het weer ‘n keer vir my die verlossingsplan verduidelik.

TIPOLOGIE

Wat die magtige wêreldheerser vir my gedoen het, is presies wat die komende Messias vir en vir elkeen van ons as sondaars wil doen.

Ons bevind onsself almal in die een of ander ongemaklike tronk en ons weet nie hoe om daar uit te kom nie.

Dis miskien skuldgevoelens. ‘n Tronk van bitterheid en haat. ‘n Tronk van onvergewensgesindheid en ‘n tronk van foutvindery. Ontrouheid en liefdeloosheid.

Ons is ook vasgevang in die tronk van ons sondige, gevalle nature.

En dan op ‘n dag kom die Heerser van die heelal na ons tronksel toe en Hy praat mooi met ons. Sy woorde gee ons nuwe moed, ‘n nuwe toekoms, ‘n nuwe kans.

Hy neem ons ou vuil tronkklere weg en klee ons met klere wat uit die boutiqu van die hemel kom. Skoon rein wit en welriekend.

En dan neem Hy ons na Sy banketsaal. Terwyl ons langs Hom sit word ons met die heerlikste kos van vergifnis bedien.

Ons eet sommer ‘n klomp porsies van trooskos van die Heilige Gees.

Borde vol liefde word vir ons aangedra. En elke dag ontdek ons nuwe disse van die Rykdom van Sy spens van genade.

En wat ‘n voorreg om dit daagliks te mag geniet.

Verskoon my ek wil net ‘n bestelling by die kelner plaas:

Bring vir my van die vye van Libanon. Druiwe van die Eskol vallei in Palestiena en olywe van die Persiese stad van Susan.

Jammer vir die onderbreking. Ek sal moet gaan. Ek het twee nuwe kamele bestel en my seilboot word vanmiddag afgelewer.

Maar lees gerus my verhaal in die laaste hoofstuk van die boek van Jeremia.

Was this article helpful?

Related Articles