Jona

JONA

Skriftuur: Matteus 12:38-41

“En hier staan een wat groter is as Jona!”

In hierdie paar woorde gee Jesus vir ons ‘n sleutel om die betekenis van die Ou Testament te ontsluit.

Kom ons kyk na drie soortgelyke stellings wat Jesus in Matteus 12 maak:

Matteus 12:6 “Ek sê vir julle: Hier is Een wat groter is as die tempel.”

Jesus se vir Sy gehoor dat die boodskap van die tempeldienste eintlik na Hom verwys. Die hoëpriester wat in die tempel diens gedoen het, was ‘n tipe, ‘n voorbeeld, wat na Hom as die ware, die antitipiese Hoëpriester verwys het.

DIE VOORBEELD VAN SALOMO

Die ander pragtige voorbeeld wat ons kry, is die van Salomo. Kom ons hoor wat Jesus van hom gesê het.

Matteus 12:42 Die koningin van die suide sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te lusiter. En hier staan Een wat groter is as Salomo.

‘n Tipe is altyd ‘n kleiner werklikheid wat op die groter werklikheid wys. ‘n Geringer waarheid wat na die volmaakte waarheid wys.

Al die priesters, al die konings en al die profete van die Ou Testament was tipes van Jesus die Groot Antitipiese Priester, Profeet en Koning.

Wanneer mens al die mooi eienskappe van al die priesters, profete en konings van die Ou Testament saamvat, kry jy ‘n beter idee van die luister en liefde van Jesus.

JONA

Vandag kyk ons na die lewe van Jona. Ons gaan kyk hoe hy Jesus voorgestel het en hoe Jesus groter was as hy.

Jona 1:1 Die woord van die Here het tot Jona, seun van Amittai gekom.

Die naam Jona beteken “Duif”. Sy Pa Ammitai se naam beteken “waarheidliewend.”

Jona is die outeur van die boek en hy skryf sy eie verhaal in die derde persoon, soos wat baie antieke skrywers dit destyds gedoen het.

Jona het in die tyd van die grootste nasionale voorspoed in die geskiedenis van die tien stamme geleef.

Dit was ‘n tyd waarin Israel hulle koppe kon oplig en met ‘n soort van ‘n grootheidswaan op die volke om hulle neerkyk.

Kom ons lees meer hieromtrent.

2 Konings 14:23-28 In die vyftiende regeringsjaar van koning Amasia van Juda, seun van Joas, het Jerobeam seun van koning Joas van Israel op die troon gekom. Hy het een en veertig jaar in Samaria oor Israel geregeer en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het nie afgesien van enige van die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het nie. Hy het die grense van Israel herstel, van Lebo-Hamat af tot by die see in die Jordaanvallei. Dit was in ooreenkomstig met wat die Here die God van Israel gesê het deur sy dienaar Jona seun van Amittai, die profeet uit Gat-Gefer. Die Here het die bittere ellende van Isarel raakgesien: Israel was volkome weerloos en sonder enige helper. Die Here het nie gesê dat hy die naam van Israel onder die hemel sou uitwis nie, daarom het Hy hulle deur Jerobeam seun van Joas gered. Die ander verhale oor Jerobeam en alles wat hy gdoen het, oor hoe dapper hy geveg het en hoe hy Damaskus en Hamat weer onder die gesag van Israel gebring het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel.

PROFEET WAT VOORSPOED VOORSPEL HET

Dis ‘n baie interessante feit dat Jona vir sy volk nasionale voorspoed voorspel het.

Vir baie dekades het die tien noordelike stamme onder die verwoestende, vernederende invalle van vyandige buurlande gely.

Net voordat die tien stamme deur Assirië in ballingskap weggevoer is, het die Here vir oulaas hulle harte deur voorspoed probeer wen.

Hy wou vir sy rebelse, ongehoorsame kinders wys hoe voorspoedig hulle kan leef as hulle by Hom sou skuil.

DIE AANKONDIGING

Dit was seker vir Jona heerlik om met ‘n boodskap van voorspoed na koning Jerobeam II te stap.

Ek sien hom in verbeelding by die deftige ivoorpaleis instap wat destyds deur Agab gebou is.

“Koning Jerobeam. Die Here het my met ‘n baie goeie boodskap na u gestuur. Hy gaan u soldate sodanige seën, dat hulle selfs die magtige Damaskus gaan verower.

“Koning Jerobeam. Dink net daaraan. Ons as nasie gaan oor die Arameërs regeer. Vir baie jare het hulle ons land binneval en ons verneder. En nou het die Here beloof dat ons oor hulle gaan regeer.”

HEERLIKE BOODSKAP

Dis mos ‘n heerlike boodskap vir ‘n profeet om te gee. Jou nasie gaan verhef word. Jou nasie gaan oor die gehate vyand regeer.

Jona was ‘n profeet, maar Jona het nog ruimte vir groei in sy lewe gehad.

GAT-GEFER

Dis baie interessant om te sien waar Jona grootgeword het. Die dorpie se naam is Gat-Gefer. Wanneer mens net uit Nasaret uit ry, en net voor jy by Kana van Galilea kom, kry jy Gat-Gefer op linkerkant. Presies 4.4 kilometers noord-oos van Nasaret.

Die Arabiese naam is Kirbet ez-Zurra. ‘n Mens kan ‘n graf daar naby besoek wat volgens oorlewering aan van die profeet Jona behoort.

JESUS EN NASARET

Wat baie interessant is, is die feit dat Jesus, net soos die profeet Jona ook hier groot geword het. Jesus moes dikwels hierdie ou dorpie besoek het, en aan die verhaal van Jona gedink het.

Vir die mense van Gat-Gefer en vir die mense van Nasaret het hy gesê: “Hier staan iemand wat groter is as Jona.”

JONA SE OPDRAG

Jona 1:1,2 Die woord van die Here het tot Jona seun van Amittai gekom: “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.”

JONA WEIER

Soos ons in die verhaal gaan sien, het Jona, die duif, besluit om nie vir die Assiriërs te gaan preek nie. Waarom dink u was hy aan die bevel van die Here ongehoorsaam?

Ek weet nie of Jona regtig ‘n las vir die Assiriërs gehad het nie. Wanneer mens na die politieke situasie van die dag kyk, kan jy dit nogal verstaan.

In een van die Assiriese stede, Kalag, wat oorspronklik deur Nimrod gebou is, het die argeoloë ‘n baie interessant obelisk gevind.

Die Assiriese kunstenaars het Salmaneser III baie netjies op hierdie swart obelisk uitgebeeld. Hy sit ewe trots op sy troon en voor hom buig ‘n Israelitiese koning met die naam van Jehu.

Toe ek vir die eerste keer na hierdie swart obelisk van Salmaneser III in die Britse museum gekyk het, het ek so ‘n aardige gevoel op my maag gekry.

Wat ‘n vernedering. Die koning van Israel wat die kop moet wees, is nou die stert. Hier bring Jehu op sy knieë vir ‘n heidense Assiriese koning belasting.

Dis baie moontlik dat Jona van die die vernederende voorstelling op die swart obelisk bewus was. En as hy ‘n emosies soos enige ander mens gehad het, sou hy nie te positief teenoor die Assiriërs gevoel het nie.

NINEVE IS BAIE SLEG

Toe die Here vir Jona die opdrag gegee het om Nineve tot bekering te gaan roep, het hy die volgende iets gesê:

“Want Ek weet hoe sleg hy is.”

Wat ‘n fantastiese omgee God. Daar was destyds nie ‘n meer goddelose stad as Nineve nie.

Luister hoe word die stad deur een van die profeet beskryf:

Nahum 3:1 Ellende wag vir jou, bloedbevlekte stad; jy is vol bedrog, gevul met buit, jy hou nie op met roof nie!

Dit was my voorreg om na die oorspronklike oorlogrelief van die Assiriërs te gaan kyk. Ek het daaraan gevat. Dis iets vreesliks om te sien hoe hulle hulle militêre wreedhede uitstal.

Jy sien hoe hulle hulle vyande se hande en voete afkap. Dan sien jy weer hoe hulle die arme slagoffers se vel aftrek.

Dis iets vreesliks.

Ander gevangenisse het hulle weer aan hulle hande of voete opgehang dat hulle ‘n stadige dood moes sterf.

Die ergste wat ek gesien het is ‘n relief waar hulle skerp pale in die lewendige Israeliete ingedruk het. Jy sien hoe hulle koppe vooroor hang.

VERWAAND EN SELFVOLDAAN

Kom ons hoor wat nog ‘n profeet van Nineve geskryf het.

Sefanja 2:15 Dit is wat sal word van die uitgelate stad wat so onbesorg daar lê, wat dink: daar is nie nog ‘n stad soos ek nie…

Dis nie maklik om positief teenoor iemand te voel wat ‘n oordrewe opinie van homself het nie. Dis moeilik om met iemand te identifiseer wat dink daar is niks met hom of haar verkeerd nie.

En nou vra die Here vir Jona om na so ‘n klomp selfvoldane mense te gaan en vir hulle te gaan preek.

Die verhaal van Jona sê vir ons dat God diep begaan is oor mense wat selfvoldaan is. Mense wat glo daar is niks met hulle verkeerd nie.

Hoedanig voel jy teenoor verwaande mense? Beskou jy hulle as mense wat buite die bereik van die Here se genade is?

Vlug jy na Tarsis as die Here jou vrou om na die verwaande mense van Nineve toe te gaan?

JONA SE REAKSIE

Jona 1:2 “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.”

Iets hier binne in Jona kom in opstand. “Nooit. Ek sal nooit die Woord van die Here na hierdie wrede klomp barbare neem nie. Hulle is g’n mense nie, hulle is ‘n spul diere.”

GEMAKLIKER MET MY EIE MENSE

Jona voel dat hy liewer die evangelie aan sy eie mense kan bring. Hy verstaan tog immers hulle taal en kultuur.

“Ek is mos geroep om vir die uitverkore volk te werk. Van wanneer af wil die Here heidene tot bekering roep? Ek het nie ‘n las vir mense wat hulleself van die more tot die aand met geweld besig hou nie. Ek kan hierdie soort krimineel nie vat nie.”

‘n Mens wonder watter soort gedagtes alles in Jona se gemoed omgegaan het.

Maar behalwe vir die feit dat Jona met die kennis van hierdie wrede nasie sit, is die afstand daarheen iets verskrikliks.

Dit sal hom tenminste drie maande neem om die amper 1000 kilometers deur die onherbergsame Arabiese en Siriese woestyne te stap voor hy by die verpeslike, goddelose Nineve uitkom.

Ek is so dankbaar dat daar ‘n plekkie in God se hart vir die slegste mense onder die son is. Ek is so bly dat Hy destyds besluit het om vir Nineve tot bekering te gaan roep.

Die verhaal van Jona gee vir my as swakke sondaar baie moed.

JONA SE UITEINDELIKE REAKSIE

Die Bybel sê nie vir ons hoe lank Jona met die opdrag van die Here geworstel het, voordat hy ‘n besluit geneem het nie.

Hoe langer Jona aan die menslike onmoontlikheid van die opdrag gedink het, hoe moedeloser het hy geword.

Jona het moedeloos geword omdat hy meer aan sy eie onvermoë en minder aan God se vermoë gedink het.

Ek en jy word ook gevra om een of ander taak by Nineve te gaan uitvoer. Dit wat die Here ‘n mens vra om te doen, sal altyd menslik onmoontlik lyk. Moenie dat dit jou moedeloos maak nie.

Vra die Here om jou help om dit te doen wat Hy vir jou gevra het om te doen.

Kom ons lees wat Jona self geskryf het.

Vers 3 Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en daar het hy ‘n skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning Tarsis toe te gaan, weg van die Here af.

Toe die oproep na Jona kom om Nineve te gaan bearbei, het hy gevlug.

Jesus staan tussen ‘n groep mense wat met die verhaal van Jona goed bekend is. Mense wat sy tuisdorp Gat-Gefer, net bokant Nasaret geken het, en Hy sê vir hulle:

“Hier staan Een wat groter is as Jona.”

Toe God die Vader vir Jesus, Sy Jona, vra om na Nineve, na jou en my te kom, het Hy gekom. Hy het nie na die anderkant van die kosmos, na Tarsis gevlug nie. Ek is so dankbaar Hy het ons kom red.

ONGEHOORSAAMHEID LEI AFWAATRS

Dis interessant om te sien hoe Jona en die wet van gravitasie, die afdraendes, saam gewerk het.

Hy is AF na Joppe toe. Toe het hy AF in die skip geklim. Toe het hy AF ondertoe gestap en gaan slaap. Toe het die bemanning hom van die skip AF gegooi. Hy is toe AF in die see. Toe het ‘n vis hom ingesluk en hy is AF in die maag van die vis. Die vis het toe AF geswem tot onder op die see bodem.

Daar is baie lesse wat ‘n mens uit die lewe van Jona leer. Een daarvan is dat die pad van ongehoorsaamheid taamlik styl afdraende loop.

In die begin is die afdraende heerlik. Maar ongelukkig word die afdraende al hoe moeiliker en gevaarliker. Die pad van ongehoorsaamheid eindig by sulke diep afdraendes dat jy uit eie krag nooit weer daar kan uitkom nie.

KOM NIE BY TARSIS UIT NIE

Elke keer wanneer ek Joppa besoek, dink ek aan Jona. In my verbeeding sien ek hom by die kaartjiekantoor staan. Die meisietjie vra hom waarheen hy wil gaan.

En Jona sê vir haar hy wil na Tarsis toe gaan, die Griekse eilande van daardie tyd.

Met ‘n spoggerige oopslaanhemp en ‘n paar donkerbrille, as daar destyds so iets was, het Jona met sy akte tas vol brosjures van Tarsis op die dek gaan sit en ‘n heerlike glas koue vrugtesap bestel.

Mense! Dit was ‘n heerlike ondervinding toe die skip uiteindelik in die rigting van Tarsis begin beweeg. Die geleerdes sê vir ons dat Tarsis die klassieke Tartessus aan die suidkus van Spanje was.

GELUKKIG, ONTSPANNE

In my verbeelding kan ek die man op die dek sien sit. As ‘n mens oppervlakkig na hom kyk, lyk hy gelukkig en ontspanne.

So nou en dan loer hy na die ander passasiers op die skip. Hy is so bly hy loop nie nou iewers oor die klipperige Arabiese woestyn na Nineve toe nie.

Hy wink vir die kelner om vir hom nog ‘n koue vrugtesappie te bring terwyl hy ‘n ander brosjure van Tarsis deurblaai.

TARSIS IS ‘N LEUN

Daar is nog ‘n les wat ek uit die lewe van Jona geleer het. Tarsis is ‘n leuen. Daar bestaan nie so ‘n plek nie. Jona het nooit daar uit gekom nie.

As die Here jou na Nineve toe roep, sal die duiwel voorstel dat jy Tarsis toe gaan. Onthou net. Tarsis is ‘n leuen. Tarsis bestaan nie. Jona het nooit by Tarsis uitgekom nie. Jy sal ook nooit by Tarsis uitkom nie.

DOBBEL

Terwyl ons in Oos-London was, het ons van ‘n vreeslike skandaal gehoor. Dit was ‘n baie vooraanstaande, bejaarde dame wat vir bedrog gearresteer was.

Sy het oor ‘n tydperk van ‘n paar jaar etlike miljoene rande uit haar seun se besigheid verduister. Ongelukkig moes die polisie haar arresteer.

Sy het gehoop die kasino by Bisho sal haar by Tarsis uitbring. Maar toe bars daar ‘n groot storm op haar kalm lewensee los. En pleks dat sy by Tarsis uitkom, beland sy in die tronk.

EGSKEIDING

Ek het haar persoonlik geken. Sy het vier mans gehad.
Elke keer het sy gehoop om by Tarsis uit te kom. Maar elke keer het daar ‘n storm op haar lewenssee losgebars. Pleks van by Tarsis uit te kom het sy elke keer by die egskeidingshof uitgekom.

Jona het nie kans gesien om met seer en die ellende van die mense van Nineve bemoeid te raak nie. Hy het na Tarsis gevlug.

Jesus het nie na ‘n Tarsis gevlug toe die Vader Hom na die Nineve van my ellende en verlorenheid gestuur het nie. Hy het my kom red.

Mag die Here ons help om dieselfde te doen.

Was this article helpful?

Related Articles