Josef Deel 1

My naam is Josef, die seun van Jakob. Ek is tans tweede in bevel oor die hele Egipte. Ek het my broers gevra om na my dood my gebalsede liggaam saam te neem na Israel wanneer hulle daarheen gaan trek.
My ma Ragel het sewe jaar lank vir my gewag om te kom, en ek het haar net vir ‘n kort rukkie gehad. Terwyl sy aan my boetie Benjamin geboorte gegee het, het sy gesterf.
Omdat my pa vir my baie jammer was het hy vir my mooi klere gemaak. My broers kon dit nie vat nie.
En toe kry ek nog boonop drome waar my broers voor my neerbuig en later nog ‘n droom waar nog meer mense voor my neerbuig.
Op 17 jarige leeftyd het my pa my na Sigem gestuur om vir my broers kos te neem.
Hulle was toe nie daar nie en uiteindelik het ek hulle by Dotan verder noord opgespoor.
Toe hulle my sien aankom, het hulle besluit om my dood te maak. Gelukkig het Ruben ‘n voorstel gemaak dat hulle met liewer in ‘n put moes gooi.

Weet jy. Dit was vir my ‘n bitter pill om te sluk. Ek het ongeveer ‘n 100 kilometers met ‘n swaar vrag kos gestap en toe beland ek in ‘n put sonder water om te sterf.

Ruben was van plan om my later te kom uithaal, maar toe hy weer daar aankom het my ander broers my reeds aan die Ismaeliete en die Midianiete verkoop.

Terwyl die verkoopstransaksie aan die gang was, het ek my broers met trane in my oë gesmeek om dit nie te doen nie.

Ek weet nie of jy al gevoel het hoe dit voel as jou geliefdes jou verwerp nie.

Toe die karavaan by Hebron verbytrek, het ek aan my pa gedink. Hy gaan vir my broers vra wat van my geword het. Ek kan al sien hoe dit hom gaan affekteer.

As jy al ‘n kind verloor het, sal jy so ‘n vae idee hê hoe Jakob moes gevoel het.

Soos ons almal in krissis tye besluite moes neem, moes ek ook ‘n baie belangrike besluit neem. Daar was net ‘n keuse tussen twee B’s. Of ek word bitter wat verskrilik baie maklik is. Of ek word beter wat bomenslik gaan wees.

Toe ek daardie keuse gemaak het, het die Here my geseën. Ek het nuwe energie gekry en drome gedroom hoe ek ‘n goeie slaaf gaan word.

Op ‘n slawe vendusie het Potifar ‘n hofdienaar van farao my gekoop.

Hy het nog nooit in sy hele lewe so ‘n slaaf gehad nie. Hy het my baie vinnig oor al sy belange aangestel.

Omdat hy in die farao se paleis gewerk het, was hy ontman.
G’n wonder die tannie het op my verlief geraak nie.

Op ‘n dag het sy my gegryp en my…maar ek het so vinnig as moontlik uit haar kloue gevlug. Sy het ‘n stuk van my klere afgeruk en geskreeu dat ek haar wou aanrand.

Die saak is na haar man verwys en hy was verplig om uitspraak te lewer. Hy was woedend want hy het twee en twee bymekaar gesit.

Ek is tronk toe gestuur vir ‘n misdaad wat ek nie gepleeg het nie. Dit was baie moeilik om oor hierdie onregverdige behandeling te kom, maar die Here het my gehelp.

Ek het probeer om die beste tronkvoël te word en kort voor lank het hulle my oor die ander gevangenisse aangestel.

Tydens die drie jaar in die tronk het ek met baie hooggelaasdes kennis gemaak en alles oor hulle administratiewe hoedanighede geleer.

Twee paleisbeamptes het ons tronk besoek en altwee het drome gedroom wat ek vir hulle uitgelê het. Die skinker se droom het ek reg uitgelê en hy is in sy pos herstel.

Die uitleg van die arme bakker se droom het op ‘n teregstelling gedui en dit het toe ook so uitgewerk.

Die skinker was baie dankbaar en ek het hom gevra om tog ‘n goeie woordjie vir my by die farao te doen.

Die man het van my vergeet totdat die koning ‘n droom gehad het. Daar was niemand wat die droom kon uitlê nie. Toe val dit die skinker by van my wat sy droom destyds uitgelê het.

Ek is laat roep om die koning se droom uit te lê. Dit het daarop neergekom dat Egipte vir sewe jaar rekord oeste gaan hê maar daarna sewe jaar droogte, sonder oeste.

Ek lê toe vir die farao presies uit wat hy moet doen. En raai wat, ek word aangestel om die plan uit te voer. Hy het vir sekere magte gegee wat my net verstom het.

Volgende keer gaan ek julle vertel van my werk as tweede in bevel in Egipte.

Maar ek wil net vir julle iets ten slotte sê. Die Here het die vloek wat my getref het, in ‘n heerlike seën verander.

As my broers my nie in die put gegooi en toe later verkoop het nie, sou ons almal ‘n hongerdood gesterf het.

Dink twee keer oor die rampe wat jou getref het. Die Here het ‘n plan met jou lewe. Vertrou Hom en doen net so bes.

 

Was this article helpful?

Related Articles