Judas Iskariot

Ek het grootgeword in ‘n dorpie naby Berseba met die naam van Keriot. Mense ken my as Judas Iskariot.
Ek het ongelukkig aan die einde van my lewe gekom. Ek het die een punt van die tou reeds aan ‘n sterk tak vasgebind en die ander punt sal ek aanstonds om my nek vasmaak.
Oor ‘n rukkie gaan ek selfmoord pleeg en ‘n bietjie later sal Jesus onder leiding van die Romeinse soldate my oopgebarsde lyk op die pad sien.
Ek en Jesus gaan so ‘n paar uur uitmekaar sterf.
Maar voordat ek die daad pleeg wil ek jou net so ietsie van my lewe vertel. My bede is dat jy dit wat ek gedoen het, nie sal doen nie.
En as my lewensverhaal iets vir jou kan beteken, dan was my lewe eintlik tog nie te vergeefs nie.
KINDERJARE
Toe ek klaar was met skool, het my ouers my laat leer. Een van my hoofvakke was ekonomie. Ek wou nie net ‘n gewone lewe leef nie, ek het na uitdagings gesoek.
DIE NUUS ONS BLINDE OMIE
Op ‘n dag het een van die blind ou omie van ons dorp ‘n besoek aan Galilea afgelê. Sy dogter het hom vergesel. Hulle het van ‘n jong rabbi gehoor wat blinde mense weer kan laat sien.
Ek was by die hy sy verhaal vertel het.
Hy sê hulle het Jesus uiteindelik langs die see van Galilea opgespoor. Daar was vreeslik baie mense, siekes en nuuskieriges wat om Jesus gedrom het.
BETESDA
Die oom sê vir ons dit het omtrent soos die klomp siekes by Batesda gelyk.
Uiteidelik kon sy dogter hom by Jesus uitkry. Jesus het hom toe gevra wat hy vir hom kon doen. En dis nie nodig om te vertel wat dit was nie.
”Ou seun,” sê die oom vir my, “dit was ‘n ongelooflike ondevinding. Ek het besef dat ek in ‘n goddelike teenwoordigheid was.
Die mooi manier waarop Hy met my gepraat het, kan ek nie vir iemand beskryf nie. Hy het toe aan my oogholtges gevat. Dit het gevoel asof daar ‘n krag deur my vloei en toe kon ek sien.
OOGKONTAK
Toe ek in Sy oë kyk het ek iets gesien wat ek nog nooit voorheen beleef het. Hy het my met soveel liefde aangekyk dit het gevoel of ek die enigste een op daardie oomblik vir Hom saakgemaak het.”
Dis nie net my fisiese blindheid wat genees is, Hy het ook my geestelike blindheid genees.”
OP SOEK NA JESUS
Ek het my CV gevat en die man wat die wonderwerke doen, gaan opsoek. My studies in die sielkunde het my geleer dat iemand wat buitengewone dade verrig, ‘n toekoms het.
Dit was my grootste begeerte om vir myself ‘n naam te gaan maak. En miskien kan ek hierdie man so ‘n paar dinge leer wat ek in my studies opgedoen het.
My ouers het my alle sukses toegewens en ek is daar weg. Keriot sal my sien, maar eers wanneer ek vir myself beoemdheid verwerf het.
JESUS EN SY DISSIEPELS GEVIND
Na ‘n taamlike gesoek het ek by uiteindelik by Jesus uitgekom. Sy dissiepels het my nie beïndruk nie. Dit het nie gelyk of hulle skool klaargemaak het nie. Ek dink Jesus sou beïndruk wees as Hy my CV sien.
Nadat ek Hom van my ambisies vertel het om een van Sy dissiepels te word het hy my bietjie afgesit.
Die metafoor wat Hy gebruik het baie vertel:
“Judas”, sê Hy vir my, “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.”
Ek wou eers omdraai en wegstap, maar toe dink ek tweekeer. Met my finansiële kwalifikasies sal ek hom in ‘n japtrap skatryk maak.
As ‘n mens byvoorbeeld tien sjekels vir elke genesing vra, kan jy binnekort ‘n fortuin in die bank hê.
TESOURIER
Asgevolg van my ekonomiese kwalifikasies het hulle my gevra om die tesourier te wees. Met my vernuf het ons baie vinnig genoeg fondse gegenereer om elke dag ordentlike kos te eet en gereeld sandale te kon koop.
DIEF
Kom ek vertel jou van die eerste fout wat gemaak het. Ek het geld gesteel. Ek het my gewete probeer stil deur vir my self te sê dat ek as tesourier besoldiging moes kry.
Uiteindelik het gierigheid my oorrompel. Geld het my afgod geword.
Die ander disieppels was te onnosel om te sien dat ek geld verduister het.
Hulle het ongelooflike respek vir my gehad.
POGING OM JESUS KONING TE MAAK
Kom ek vertel jou van die eerste groot poging wat ek aangewend het om Jesus met geweld as Koning van die Joodse nasie te kroon.
Hierdie spesefieke dag het die skares vroeg die oggend gekom om na Jesus te luister. Die manier waarop Hy gepraat het, en die manier waarop die hoorders aan sy lippe gehang het, het my vertel dat die tyd ryp was om hom as koning uit te roep.
Laat daardie middag was die skare dood van die honger. Jesus het toe vir een van Sy dissiepels gesê dat hulle vir die skare moes kos gee.
Maar hierdie ouens was so toe en hulle het nie besef dat Jesus enige plek kos kan voorsien nie. Ons het ‘n klein seuntjie in die hande gekry met vyf brode en twee vissies.
Dit was ‘n onvergeetlike dag. Die vyfduisend mans met hulle vrouens en kinders moes ordelik gaan sit het.
Jesus het oor die kos gebid en dit begin breek en ons gegee om dit uit te deel. Ons het met vol mandjies geloop en uitdeel. Die mense was verstom.
Terwyl ek besig was om kos uit te deel, het ek vir die mense gevra of hulle dink ons kan Jesus die nuwe koning van Israel kan maak.
Ek het vir hulle verduidelik dat Hy vir ons kos kan voorsien wanneer ons gaan oorlog maak. Indien daar van ons soldate gewond word, kan Hy hulle gesond maak.
Hy kan ook mense lewendig maak wat op die slagveld sou sterf.
Ek het die saak ook met die dissiepels bespreek en hulle het lig daarin gesien.
Maar Jesus het deur my planne gesien. Terwyl ons nog besig was om die skares te mobiliseer om Jesus met geweld koning te maak het Hy ons aangesê om in die boot te klim en na die oorkant van die meer te roei.
Die skare was reg om Jesus as koning te kroon maar nadat Hy ons beveel het om skip toe te gaan, het Hy die skare met gesag huistoe gestuur.
MY PLAN VIR JESUS EN SY PLAN VIR MY HET GEBOTS
DIE BEGIN VAN MY ONTTREKKING
Die volgende dag die skare hom aan die oorkant van die meer kom opsoek. Hulle wou weet hoe Hy daar uitgekom het.
Maar Jesus het hulle motiewe gelees en vir hulle vertel dat hulle Hom net soek omdat hulle die brode en die visse geëet het.
Hulle het nie ‘n koning gesoek om op die troon van hulle harte te regeer nie, maar ‘n Koning wat hulle kon ryk maak.
Mense wat Hom soek, moes sy vlees en Sy bloed drink.
Dit beteken om Hom as ‘n persoonlike Verlosser aan te neem en te glo dat Hy ons sondes kan vergewe en dat ons in Hom volmaak is.
Ek het baie lief vir Jesus geword en Hy vir my. Maar ek was nie gewillig om ‘n totale oorgawe aan Hom te maak nie.
As ek Hom destyds ten volle aangeneem het, sou ek nie nou op die punt gestaan het om selfmoord te pleeg nie.
Ek was nie gewillig om met my sonde van gierigheid en diefstal af te sien nie.
BY SIMON SE FEES
Maria het met duur nardussalf ingesluip en Jesus se voete daarmee gesalf. Ek het toe beswaar gemaak want ek wou die geld liewer in my beursie gesit het as om dit op Jesus voete te mors.
Jesus het my liggies bestraf toe Hy sê gesê het dat Sy dit met die oog op sy begrafnis gedoen het.
Ek het toe weggeglip en Hom gaan verraai. Oorspronklik wou ek 40 silwerstukke vir Sy uitlewering hê, maar hulle het my nie ‘n sjekel meer as 20 silwerstukke geöffer nie.
Ek wil net vir jou sê dat ek ‘n groot fout gemaak het. Jesus kan nie verkoop word nie. Daar is nie prys op Hom nie.
Daardie hele week het ek probeer om Hom te laar arresteer maar sonder sukses.
Die Fariseërs het my gedreig dat ek die verraadgeld sal moet terugbetaal as ek Hom nie uitlewer nie.
VOETEWASSING
Uiteindelik het Hom by die Bovertrek gekry waar ons die pasga gevier het.
Jesus het al die jare wat ek by Hom was, my nie een dag ontbloot nie. Hy is so ‘n wonderbaarlike Verlosser. Hy het alles gedoen om my hart te probeer verower maar ek het Hom weerstaan.
Moenie die fout maak wat ek gemaak het nie. As Hy deur die Heilige Gees pleit om jou lewe aan hom oor te gee, sal jy nie soos ek nou met ‘n tou gaan selfmoord pleeg nie.
Jesus se liefde is so ongelooflik groot. Toe die Siriese slaaf wat ons voete by die pasgatafel moes was, nie opdaag nie, het Jesus dit gedoen.
Kan jy raai waar Hy begin het? Met die opgehoopte liefde van die ewigheid het Hy my twee voete in Sy goeie hande geneem en dit styf vasgehou.
Daar was iets in daardie aanraking. Dit was asof Hy my nie wou los nie.
En toe maak Hy oogkontak. En wat ek in daardie oë gelees het, sal saam met my die dood binnegaan.
Sy oë het vir my gesê: moenie My verraai. Ek wil jou nie verloor nie. Ek wil die ewigheid saam met jou deurbring.
Vir ‘n oomblik het ek ‘n ontsettende drang gehad om my lewe aan Hom toe te wy. Maar toe verset ek my.
Ek is ‘n verlore mens.
MET ‘N SOEN VERRAAI
Daardie Donderdagnag het ek met sowat duisend mense Hom in Getsemane vasgetrek. Ek het so laag gedaal dat ek Hom met ‘n soen verraai het.
Hy het nie weerstand gebied nie. Al wat Hy vir my gesê: my liewe vriend, verraai jy my met ‘n soen.
O ek is ‘n verlore mens. Die Heilige Gees praat nie meer met my nie.
Die nag tydens Sy verhoor het ek die verraaiergeld voor die skelm Kajafas kom neergooi. Ek het uitgeroep dat ek ‘n onskuldige mens verraai het.
Die skurk het net vir my gesê dis nie sy besigheid nie.
Hier sit ek in die boom waar ek my eie lewe gaan neem.
Ek wou Hom ‘n letterlike koning gemaak het; Hy wou vir my ‘n Koning van vergifnis op die kruis kom word
Ek het ‘n plan vir Sy lewe gehad en Hy vir my.
Ek kon vir die wêreld van die ongelooflike liefdevolle reddende liefde vertel het. Ek kon vir ewig saam met Jesus in die hemel gewees het.
Dis nie vir jou te laat nie. Wanneer daardie stem met jou praat gee Hom jou hart.

Was this article helpful?

Related Articles