1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Mefiboset – Selfbeeld

Mefiboset – Selfbeeld

Skriftuur: 2 Sam 9:1-13

In 2 Samuel 4:4 lees ons die volgende: “Saul se seun Jonatan het ‘n seun gehad met gebreklike voete.  Hy was vyf jaar oud to die tyding oor Saul en Jonatan uit Jisreël gekom het, en die vrou wat hom versorg het, het hom opgetel en gevlug, maar in haar haas het hy geval en so kreupel geword. Sy naam was Mefiboset.”

Dis nie nodig om storieboeke te lees nie want daar is talle pragtige verhale in die Woord van die Here. Kom ons bestudeer die lewe van Mefiboset, seun van Jonatan, Dawid se boesemvriend.

Dis ‘n verhaal van diep smart en groot ellende, maar ook ‘n verhaal van groot blydskap. Dis ‘n verhaal van iemand met ‘n verpletterde selfbeeld en hoe hy weer ‘n gesonde selfbeeld ontwikkel het. Die verhaal van Mefiboset wil vir jou en vir my iets vertel. Kom ons luister versigtig.

KONINGSKAP

Saul was die koning van Israel. Volgens die gebruik van die antieke nasies, sou sy oudste seun Jonatan na hom die koning word. En die dag wanneer Jonatan sterf, sou sy oudste seun Mefiboset die koning word.  Wat ‘n rooskleurige toekoms het daar nie vir die jong Mefiboset gewag nie. Kom ons verplaas onsself na sy wêreld toe.

Miskien het hierdie 5-jarige seuntjie vir sy maatjies gesê: “Weet julle wat, ek gaan tog eendag koning word.”

Mefiboset het met groot selfvertroue opgegroei. Sy selfbeeld was bo gemiddeld. Hy was van weelde omring en hy het alles gekry wat ‘n jong seuntjie wou hê.

TRAUMA

Maar toe op ‘n dag gebeur iets vreesliks. Sy pa, Jonatan en sy oupa, koning Saul het op een dag gesneuwel. ‘n Boodskapper het uitasem by die koninklike paleis aangekom en die nuus vertel. Dit moes ‘n vreeslike skok vir sy jong kinderhartjie gewees het. Skielik besef hy sy pappie is dood. Die held van sy lewe is weg.

Jong kinderhartjies kry vandag nog groot skokke. Ek onthou nog hoe ‘n doktersvriend my gevra het om aan sy twee dogtertjies te vertel dat hy hulle mamma gaan los en met ‘n ander tannie gaan trou. Hy het nie die moed gehad om dit self aan hulle te sê nie.

Ek onthou nog baie goed die dag toe ek hulle stoep toe geneem het en die nuus gebreek het. Die oudste outjie het verskriklik begin huil.  Haar hele ou liggaampie het geruk. Snaaks genoeg, die jongste outjie het op daardie stadium geen emosies getoon nie. Maar ongelukkig het vertraagde skok haar later in haar tienerjare getref.

Dinge wat op ‘n vroeë ouderdom met ‘n kind gebeur, het ‘n geweldige effek op hulle wanneer hulle groter word. Miskien kan jy op hierdie oomblik terugdink aan iets wat lank gelede met jou as kind gebeur het?  Dit was miskien iets wat jou geskok het, of iets wat jou klein kinder-hartjie baie seergemaak het. En vandag raak daardie iets jou nog steeds.

TWEEDE SKOK

Behalwe vir die skok van sy pappa se dood, het daar nog ‘n tweede skok op klein Mefiboset gewag. Die gawe tannie wat hom opgepas het, het gou ‘n paar stukkies klere gegryp, kos ingepak en met Mefiboset weggevlug.

Terwyl hy nog snik oor sy pappie se dood, moet hy vaarwel sê vir sy speelgoed, vir sy lekker bed en slaapkamer en vir al sy gawe maatjies.  Skielik is hierdie ou seuntjie uit sy bekende omgewing geruk.  Weg is alles wat dierbaar vir hom was.

“Tannie,” vra klein Mefiboset, “waarnatoe moet ons so vinnig hardloop?” “My skat, daar is mense wat vir jou wil doodmaak, sommer sulke slegte mense, en ek en jy gaan vêr weghardloop dat hulle ons nie kan kry nie.”

OP VLUG

Kan jy dardie bekommerde, bang, hartseer gesiggie van klein Mefiboset sien? Sy pappa is dood, hy weet nie waar sy mamma is nie, hy is weg van die huis, mense wil hom doodmaak en hy weet nie waarheen die oppassertannie hom na toe neem nie.

Iets het in daardie oomblikke met ‘n klein seuntjie gebeur wat sy selfbeeld ‘n geweldige knou toegedien het.‘n Vreeslike ongelukkigheid, vrees en eensaamheid het in Mefiboset se jong hartjie kom intrek.

PROBLEME

Die mens met die grootste probleme, is die mens wat sonder sekuriteit grootgeword het. Ek praat eenkeer met iemand wat my vertel hoe hy en sy twee boeties van huis tot huis geswerf het.

Uiteindelik het iemand hulle na ‘n weeshuis geneem. In die harte van  duisende mense is daar ‘n stuk onsekerheid, en ‘n stuk pyn en ‘n stuk vervolgingswaan agv. iets wat in hulle kinderjare gebeur het.

DERDE SKOK

Maar daar het ‘n derde skok op klein Mefiboset gewag. “Tannie, my beentjies is so seer, tannie. Tannie ek kan nie so vinnig loop nie.”  En ‘n baie simpatieke vrou tel die outjie op en vlug voort met ‘n seuntjie wat hopelik eendag nog koning kan word. ‘n Prinsie.

Terwyl sy vir klein Mefiboset styf teen haar vasdruk en voortvlug, struikel sy. Dit was ‘n vreeslike val gewees. Miskien was dit teen ‘n afdraende met baie klippe. Die Bybel sê vir ons dat albei voetjies gebreek het en dat Mefiboset vir die res van sy lewe gebreklik was.

Kan jy daardie ou seuntjie hoor huil? Sy snikke kom nie alleen uit ‘n gebroke onsekere hartjie nie. Sy gebreekte enkels en voete gee vir hom onsettende pyn. Ek wonder waar die twee daardie nag geslaap het?  Mefiboset se rampe het op een dag gekom. Hy het dit ‘n leeftyd lank gevoel.

TRANSJORDANIE

Die oppasser en Mefiboset het op die een of ander manier oor die Jordaanrivier gevlug en by ‘n dorpie met die naam Lodabar aangekom.  ‘n Baie gawe man met die naam Magir het hulle in sy huis opgeneem.

Wat sal ons ou wêreld sonder sulke ontfermende mense maak? Sien jy kans om ‘n kreupel kindjie van vyf jaar in jou huis te neem en die kind vir ‘n onbeperk tyd op te pas?

Dit was so ‘n mooi daad dat die Here besluit het om Magir se naam op die heilige bladsye van die Bybel te plaas.

MEFIBOSET SE SELFBEELD

Hoe dink jy, hoedanig is jou selfbeeld?

Na ‘n ruk het hy saans nie meer in sy eensame bedjie oor sy pappa en mamma gehuil nie. Met verloop van tyd het hulle uit sy gedagtes vervaag.

Die ding wat hom nou kwaad en hartseer gemaak het, was die feit dat hy nie saam met die ander kinders kon speel nie. En dan was daar natuurlik sommige kinders wat met sy gebreklike voete gespot het.

“Wê! Kyk tog ons mooi voete en kyk net hoe lelik lyk joune. Jy kan tog nie eers loop nie! “

Wat dink jy het in sy hart en gedagtes aangegaan wanneer hy so gespot is? As ons maar net kan besef hoe seer ons woorde somtyds maak. Was jy as kind gespot?

Mefiboset was magteloos, en dit het hom nog meer gefrustreer. ‘n Mens wonder of hy op sy hande en knieë  kon beweeg het?

Party aande het hy gedroom hy hardloop.  O  dit was so lekker. Maar wanneer hy wakker word, was hy net nog meer teleurgesteld.

MEFIBOSET BETEKEN SKANDE.

Dit was die gebruik in daardie dae dat jy ‘n naam gekry het wat jou karakter beskryf. Mefiboset beteken om skande te maak. Dit mag wees dat sy gebrek hom ‘n haatlike mens gemaak het.

Hy was kwaad omdat hy  gebreklik was en ander nie. Dis miskien ‘n wrok wat groter en groter in sy binneste opgebou het. En as ek ‘n wrok koester, gaan ek baie beslis skande maak. ‘n Wrok kom uit en wanneer hy uitkom, maak ek skande. Ek is Mefiboset. Ken jy so iemand?

Dit mag wees dat hy afgunstig was op koning  Dawid omdat hy gevoel het  dit was sy reg om die koning van Israel te wees. ‘n Afgunstige mens kan sy afguns nie vir altyd wegsteek nie, en wanneer die afguns uitkom, maak jy skande. Mefiboset! Ken jy so iemand?

En elke keer as Mefiboset skande gemaak het, soos sy naam beteken, het sy selfbeeld net meer en meer versleg.

VERONTREG

Dis moontlik dat Mefiboset gevoel het dat hy verontreg was. Waarom moet hy in ander mense se oë kyk? Waarom moet hy sy voete onder iemand anders se tafel sit? Waarom is hy op so baie gebiede verontreg?  Iemand wat voel hy is verontreg is iemand wat skande maak. Mefiboset.  Ken jy so iemand?

Voel jy miskien verontreg? Dis ‘n gevaarlike tydbom wat jy ronddra.  Een of ander tyd gaan hierdie tydbom van verontregting af, en dan maak ons skande. Mefiboset.

SWAK SELFBEELD

Soos die jare verbygeloop het, het Mefiboset, die skandemaker, se selfbeeld meer en meer versleg. “Kyk hoe lyk my voete! Ander mense se voete is so mooi! Ek is niks werd nie.”

Elke keer wanneer Mefiboset in ‘n geselskap gekom het, het hy homself met die ander vergelyk en dan in sy swak selfbeeld weggekrimp.

‘n Swak selfbeeld maak ‘n mens dikwels agressief. En wanneer iemand net iets sê wat soos ‘n aanval klink, vererg jy jouself, en maak jy skande. Mefiboset.

Aan wie laat Mefiboset jou dink?

PARANOIA

En dan was daar ook nog ‘n moontlike probleem wat Mefiboset gehad het.
As kind  moes hy vlug omdat sy oppasser vir hom gesê het dat hulle vyande hom wou doodmaak. En dit was moontlik dat Mefiboset met ‘n vervolgingswaan, ‘n paranoia groot geword het. So iemand dink gedurigdeur dat almal teen hom is. So iemand vertolk ander se motiewe verkeerd.

Dis een van die vreeslikste vloeke wat ‘n mens kan tref. Jy vertrou naderhand niemand meer nie en dit lyk of so te sê die hele wêreld skandelik teen jou is. Mefiboset.

Aan wie laat Mefiboset jou dink? Onthou die naam beteken  “Skandemaker”. Is daar iets wat ons vir Mefiboset kan doen? Is dit moontlik dat ‘n mens hom sovêr kan kry om op te hou om skandes te maak? Is dit moontlik dat hy kan regkom?  Wat se raad is daar?

Tot dusvêr was Mefiboset se lewe ‘n reeks ongelukkigheid en skande.   Maar nou gaan ons na die laaste gedeelte van sy lewe kyk, die gelukkige gedeelte. Ek hou van die Bybel se boodskappe.
Dit het sulke mooi eindes.‘n Mens se optrede is ‘n  uitvloeisel van jou selfbeeld. Die evangelie bied vir ons ‘n oplossing vir ons probleem.

DAWID  SE  OPTREDE

2 Samuel 9:1  Op ‘n dag het Dawid gevra: Het daar nie miskien  iemand uit Saul se familie oorgebly nie? Ek sou hom graag onder my sorg wil neem terwille van Jonatan.”

Hier kry ons die klanke van die evangelie. Om vir ‘n onverdiende mens goed te wees terwille van iemand anders. Die evangelie leer dat God die Vader vir ons goed is terwille van Jesus.

Vandat Dawid die troon bestyg het, het dit baie moeilik gegaan. Dit was een oorlog op die ander en dan nog die laste van die administrasie van die koninryk. Nou was sy koninryk gevestig en het hy ‘n blaaskans gekry. Sy gedagtes het na sy oorlede boesemvriend, Jonatan, uitgegaan.

En toe onthou hy van die eed wat hy afgelê het. Ons kry dit in 1 Samuel 20:15-17 En jy moet jou trou nooit aan my familie onttrek nie. Selfs wanneer die Here die vyande van Dawid een vir een van die aarde af wegvee, mag Jonatan nie deur die familie van Dawid uitgeroei word nie want dan sal die Here dit vergeld deur Dawid se vyande. Jonatan het Dawid dit met ‘n eed vir hom laat belowe vanweë sy liefde vir hom, want hy het hom liefgehad soos vir homself.

En terwyl Dawid aan hierdie gelofte dink, het hy besluit om dadelik iets vir Jonatan se afstammelinge te doen.

Salomo sê in Spreuke 3:27 Hou ‘n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen  nie. Ek is seker Salomo het dit by sy pa Dawid gesien.

Hier is ‘n groot les vir ons. As daar ‘n begeerte opkom om iemand te bel, ‘n kaartjie, SMS, epos te stuur doen dit dadelik. Dit is iets wat die Heilige Gees in ons harte gesit het. As ons talm kan die geleentheid of die begeerte vervaag.

Kom ons lees wat toe gebeur het:

2 Samuel 9:2  Hulle het toe vir Siba, ‘n amptenaar van Saul se hofhouding, na hom toe laat roep. “Is jy  Siba?” vra die koning hom.  Hy antwoord: “Ek is u onderdaan.”

Ek dink Siba was so effens senuweeagtig. Maar die koning het hom gou op sy gemak laat voel.

Vers 3 “Is daar nie miskien iemand uit Saul se familie oor nie?” wou die koning weet. “Ek wil hom ‘n besondere guns bewys.” “Daar is nog ‘n kreupele seun van Jonatan,” was Siba se antwoord aan die koning.

Dawid is nou die ene ore.  Baie herinneringe kom by hom op.

Verse 4 en 5 “Waar is hy?” vra die koning toe, en hy het geantwoord:  ‘Hy is in die huis van Ammiël se seun Makir in Lo-Dabar.” Koning Dawid het hom toe laat haal uit Makir se huis in  Lo-Dabar.

MEFIBOSET

Ek wonder waarmee was die arme, verstote, verslae, verontregte Mefiboset besig toe hy die tyding gekry het dat Dawid se soldate hom kom haal. Daar was nie tyd om te vlug nie, en wie sou hom nou dra.  Hy was te swaar. Dit was nou te laat. En die ding wat hy al die jare gevrees het, het nou waar geword. Dawid wil hom natuurlik doodmaak.

Terwyl Dawid se soldate vir Mefiboset uit sy woonplek wegneem, het hy teruggedink aan daardie dag toe sy oppasser met hom uit die paleis moes vlug. Dis toe dat sy met hom geval het en hy gebreklik geword het. Hy wonder wat gaan hierdie keer gebeur. Dis seker maar die einde van alles.  Hy dink terug aan sy lewe. In sy hart wel daar ‘n wrewel teen Dawid op.

Wat wil Dawid met hom maak? Het hy nie al swaar genoeg gehad nie. Was sy skande nie reeds genoeg nie? Gaan Dawid hom in ‘n tronk stop of gaan hy hom met die swaard in  stukkies kap? Toe Mefiboset na ‘n lang en vermoeide reis uiteindelik in Jerusalem aankom, was sy senuwees klaar.

2 Samuel 9:6 “Toe Mefiboset seun van Saul se seun Jonatan by Dawid kom, het hy op sy knieë geval voor Dawid en gebuig. “Mefiboset?” vra Dawid. “Ek is u onderdaan.” antwoord hy.

Arme Mefiboset! Sy swak selfbeeld en sy minderwaardigheids gevoel laat hom voor Dawid neerval. Pateties sê hy: “Ek is u onderdaan”. Hy kan nie meer fisies of psigies regop staan nie.

Hy kom uit ‘n huis, ‘n koningshuis, ‘n prins, maar nou lê hy in ‘n patetiese bondel voor die koning. Kan jy hom daar sien? Hy bewe van vrees en hy verwag die ergste. Ag ek kry hom so jammer. Ek dink hy het nogal ‘n mooi gesig gehad. Hy dra ander mense se ou klere.

NIE DIE LIEFDE VAN DAWID BESEF NIE

Daar is een iets wat Mefiboset nie besef het nie, en dit was die liefde van Dawid vir sy vader Jonatan. As Mefiboset dit maar net geweet het.

Daar is een iets wat die sondaar met sy verwoeste selfbeeld nie altyd mooi besef nie, en dis die Vader se liefde vir Jesus Christus. My redding lê in God die Vader se liefde en agting vir Jesus.

DAWID SE OPTREDE

Kom ons lees hoe Dawid opgetree het:

2 Samuel 9:7 Dawid sê vir hom: “Moenie bekommerd wees nie, want ek het besluit om jou onder my sorg te neem ter wille van Jonatan jou pa. Ek gaan al die grond van jou oupa Saul aan jou terug gee, en boonop sal jy van nou af by my aan huis eet.”  Klanke van Johannes 14: 1-3

DAWID HUIL

Ek dink Dawid se gemoed het volgeskied. Hy dink aan Jonatan sy boesemvriend. Hy dink daaraan hoe lief hulle vir mekaar was. En hier voor hom lê die patetiese figuur van sy vriend se kind. Hy moet in ander mense se oë vir ‘n stukkie brood kyk. As hy iewers wil wees, moet mense hom daarheen dra.

En Dawid buk langs die stuk menslike wrak met al sy komplekse en sê vir Mofiboset. “Moenie so bekommerd wees nie”. En hy sit sy hand op sy bewende skouer. “Ek en jou oorlede pappie was boesemvriende en van nou af gaan ek mooi vir jou sorg. Jy gaan hier in die paleis bly. Dis nou jou huis. En Mefiboset, jou oupa het ‘n pragtige plaas gehad. Dis nou alles joune. Jy hoef nooit weer in iemand anders se oë vir iets te kyk nie.”

Kan jy die klanke van die evangelie hier hoor?  Johannes 14:1-3. Dis ook wat die Vader vir ons sê.

Wat dink jy het hierdie woorde vir die arme Mefiboset, die  skandemaker beteken? Hy verwag die dood, en toe kry hy ‘n koninklike lewe vol status. Hy het teëspoed verwag en toe ontvang hy ‘n boedel wat miljoene Rand werd is. Dis die evangelie.

2 Samuel 9:8 sê vir ons die volgende:

Hy het weer voor Dawid gebuig en gesê: “Wat is ek tog dat u aandag gee aan ‘n dooie hond soos ek?”

Die arme Mefiboset. Watter swak selfbeeld! Die wilde honde van daardie dae het aas gevreet en mense het met walging op hierdie honde neergesien. Maar Mefiboset sien homself nog laer. Hy sien homself as ‘n dooie hond, veragtelik.

Daar is duisende Mefibosette rondom ons. Hierdie skandemakers het hulle selfbeeld verloor. Hulle voel so onwaardig om te leef. Hulle is wanaangepas. Hulle is aggressief, onverskillig, hulle is of meerwaardig of minderwaardig. Baie is depressief.

So dikwils kyk ons na iemand se lelike gedrag sonder om ‘n stukkende hart agter die optrede raak te sien.

MENSWAARDIG

Dis ons taak om mense weer menswaardigheid te gee. En die beste manier om dit te doen, is deur die blye boodskap van Jesus se groot liefde.  Ons kan mense help om weer ‘n gesonde selfbeeld te kry deur hulle te behandel soos Dawid vir Mefiboset behandel het.

DIE  GESKENK

Kom ons lees weer watter geskenk Dawid aan Mefiboset gegee het:

2 Samuel 9:9-11 Dawid het vir Siba die amptenaar van Saul geroep en hom beveel; “Alles wat aan Saul en sy familie behoort het, gee dit aan sy kleinseun. Jy en jou seuns en jou slawe moet vir hom die lande bewerk en die oes insamel sodat daar kos kan wees vir sy huishouding, en sodat hulle kan eet. Maar Mefiboset die kleinseun van Saul sal van nou af by my aan huis eet.” Siba het vyftien seuns en twintig slawe gehad. Hy het die koning geantwoord: “Ek is u onderdaan, ek sal doen  net soos die koning my beveel het, en Mefiboset sal by u aan huis eet soos u eie kind.”

EER IN DIE PLEK VAN SKANDE

Kan u vir Mefiboset aan die koninklike tafel sien sit en eet? Aan die begin was hy maar ‘n bietjie skamerig en onseker vir die messe en servette. Maar koning Dawid het hom so opreg tuis laat voel, dat Mefiboset al hoe meer ontdooi het.

Elke maand het Siba, sy nuwe plaasbestuurder vir hom ‘n klomp geld van die plaas se inkomste gebring. Mefiboset het vir hom ‘n bankrekening by die Jerusalem Bank gaan open. By die deftigste manswinkel het hy vir hom die duurste sybokhaar pak klere gekoop.

Hy kon nooit eens ‘n donkie bekostig  nie, maar nou het hy sommer vir hom ‘n spog muil aangeskaf. Kan u vir Mefiboset sien? Hy het nog nooit so baie in sy lewe geglimlag en gelag nie. So nou en dan het hy selfs ‘n grappie vertel.

Die prag van die verhaal is net dit. Die man wat geen selfbeeld gehad het nie, het een gekry. Hoe het dit gebeur? Iemand het vir hom omgegee, en iemand het dit met liefdesdade gedoen. Dis die evangelie.

VERLOSSINGSPLAN

In die verhaal van Dawid en Mefiboset kry ons ‘n pragtige illustrasie van hoe die verlossingsplan werk. Koning Dawid stel die Here voor.  Mefiboset, die skandemaker, die sondaar.

Toe ons oupa Adam, net soos Mefiboset se oupa Saul, in die paradys gesneuwel het, moes ons, sy nageslag vlug. Maar in hierdie vlugproses het ons geval en invalides geword. In ons gebroke toestand het ons geestelik verarm en allerhande soorte komplekse ontwikkel. Ons het haatlik geword en ons leef in vrees en agterdog en neurose.

Maar luister na hierdie duidelike evangelie klanke in 2 Samuel 9:7  Ek sal jou nie doodmaak nie. Dawid sê vir hom: “Moenie bekommerd wees nie, want ek het besluit om jou onder my sorg te neem TERWILLE van Jonatan jou pa. Ek gaan al die grond van jou oupa Saul aan jou terug gee en boonop sal jy van nou af by my aan huis eet.”

Kan jy die evangeliesmelodie in hierdie pragtige simfonie hoor? Die Vader sê vir my, die skandemaker. Mefiboset. “Moenie bekommerd wees nie want ek het besluit om jou terwille van Jesus in My sorg te neem.”

Alles wat Adam verloor het, sy sondeloosheid, sy regverdigee karakter, sy heerskappy oor die aarde, die ewige lewe, gaan Ek vir jou teruggee. TERWILLE  van Jesus. Ek dank hom vir Jesus.

En dan kom Dawid met die grootste en heerlikste van alle aanbiedinge.  HY sê vir Mefiboset dat hy sal voortaan in sy paleis bly en saam met hom aan tafel eet. Nie omdat hy hierdie grootste voorreg verdien het nie, maar terwille van Jonatan. Dawid bied homself aan Mefiboset. Wat ‘n aanbod.

In die huis van God die Vader is daar  ‘n  blyplekkie vir jou en my. Maar dit is nie al nie.  Daar is ‘n groot banketsaal. Daar is tafels wat met die heerlikste genadedisse gelaai is. Ons word uitgenooi om vir ewig saam met die Vader te woon en saam met Hom maaltyd te hou.  Nie omdat ons enigiets verdien het nie, maar TERWILLE  van Jesus.

Waar is jy op hierdie oomblik?  Iewers in die ellende van selfverwyt en skulgevoellens? Of is u in die Koning se paleis waar jy heerlik aan Sy genadegawes smul?

Is jy besig om fees te vier of is jy besig om te kripeer. Indien jy nog nie by die feesmaal van genade TERWILLE van Jesus uitgekom het nie, nooi ek u om op die volgende uitnodiging te reageer:

Openbaring 3:20 Kyk ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.

Kan jy die geklop hoor? Swaai die deur wyd oop en begin met die fees.

e-pos Navrae na questions@amazingdiscoveries.co.za

Was this article helpful?

Related Articles