1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Onesimus – Die Weghardloop Slaaf

Onesimus – Die Weghardloop Slaaf

Toe ons kinders was het ons ‘n speletjie gespeel wat “wegkruipertjie” genoem is. Ken jy die speletjie? Een van die kinders tel tot 20 of 50 terwyl die ander kinders gaan wegkruip.

En dan begin die soektog. As jy “aan is” moet jy die ander kinders soek totdat jy hulle kry. En dan hardloop jy na die blok toe en jy skree: “One two free, block.” (Ons kon nie “three” gesê het nie, toe sê ons maar “free.”)

Dan was daardie kind weer aan en jy kon gaan wegkruip.

En toe ek groot geword het, het ek ontdek dat mense nog steeds wegkruipertjie speel. Baie keer raak dinge vir ons net ‘n bietjies te veel of ons doen iets waaroor ons skaam is, en dan gaan kruip ons weg. Ons kruip weg vir sekere mense, en ons probeer ook om met kere vir die Here weg te kruip.

ADAM

Kan u vir my sê wie die heel eerste was wat wegkruipertjie gespeel het? Adam en Eva. Ons lees daarvan in Genesis 3:8:

“Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin.”

Kan jy hulle sien wegkruip? Hulle trek so ‘n paar groot boomvarings oor hulle en loer deur ‘n klein gaatjie om te kyk of die Here hulle gaan raaksien.

Die eerste “wegkruiperspeletjie” het begin. Die mens kruip weg en die Here begin te soek.

Ek en my kind het ook wegkruipertjie gespeel. Partykeer het ek aspris lank na haar gesoek. En dan sal ek roep en sê:

“Laurettatjie, waar is jy?” En as sy dink ek het nou lank genoeg gesoek, dan het sy vir my ‘n leidraad gegee, deur te sê:  “Koe-ie”. En dan na nog ‘n rukkie se gesoek, het ek haar onder ‘n bed of in ‘n hangkas gekry.

Sy wou gehad het dat ek haar moes kry.

En toe Adam en Eva in hulle bikini vyeblaar kleertjies skaam-skaam tussen die bome en varings gaan wegkruip het, het hulle gehoop die Here sou hulle daar kry.

Vers 9 Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?”

Met trane in Sy oë stap die Here deur die tuin en hartseer roep Hy na Adam en Eva. “Koe-ie, waar is julle.”

Vers 10 En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.”

KAAL EN BANG

Die rede waarom Adam en Eva gaan wegkruip het, was omdat hulle kaal en bang was.

Kan jy raai waarom mense vandag nog wegkruip? Ons het ons kleed van onskuld verloor, ons is naak. En omdat ons nie klere aanhet nie nie, het ons vreesbevange geword.

ELIA

Baie eeue later het ‘n ander man ook sy kleed verloor, bang geword en gaan wegkruip. Sy kleed was ‘n pragtige univorm van durf en daad. Die knope het geblink en die balkies het op sy skouers gepryk.

Een koue nag, na ‘n dag van heerlike hoogtepunte het hy ‘n dreigement van Isebel gekry dat sy hom die volgende dag gaan doodmaak.

Hy trek sy waardige univorm net daar en dan uit en hy begin vreesbevange weghardloop. Die “wegkruipertjie” speletjie was aan die gang.

Gelukkig ignoreer die Here nie die wegkruipers nie. Nee, hy is te lief vir ons. Hy weet hoe skaam ons oor ons mislukkings is. Hy weet hoe ongemaklik ons vyeblaar kleed aan ons sit. Hy weet hoe krap en irriteer die hare van die vyeblare ons vel.

1 Konings 19:9 En hy het daar in ‘n spelonk gegaan en die nag daar oorgebly. En kyk, die woord van die Here het tot hom gekom en vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?”

Elia die man wat die boodskap van waarheid moes uitdra, sit skaam-kwaad agter in ‘n donker grot. Sy mooi univorm van durf en daad het hy in Jisreël agtergelaat. Al wat hy aan het, is ‘n paar vyeblare van moedeloosheid wat hom krap en irriteer.

En toe Elia daar in die donker spelonk sit waar hy met niemand meer iets te doen wou hê nie, hoor hy ‘n stem.  “Koe-ie. Elia, waar is jy?”

WEGHARDLOOP

Oorweeg jy miskien om soos Adam en Elia weg te gehardloop?  Miskien is dit dinge by die werk of die kerk. Miskien is dit by jou huis? Dan mag wees dat jy vir jouself net ‘n bietjies te veel geword het, en jy vir jouself wil wegvlug.

En miskien het jy alreeds na ‘n donker spelonk weggevlug waar jy niemand wil sien nie.

Elke mens speel “wegkruipertjie.” Maar gelukkig is daar ‘n hemelse Deelnemer in hier spel. Hy roep nog steeds. “Koe-ie” waar is jy?”

ONESIMUS

Die derde voorbeeld van ‘n weghardloper, kry ons in die pragtige boek van Filemon. Dit praat hier van ‘n baie goeie meester met die naam van Filemon, wat “Liefdevol” beteken.

Op ‘n dag het Filemon se slaaf Onesimus hom amper rot en kaal besteel. Met sakke vol geld het hy na die groot stad van Rome gevlug en vir hom ‘n woonstel naby die Koloseum gaan koop.

Maar die slim sakemanne van Rome het hierdie dom slaaf baie gou raakgesien en toe arme Onesimus sy oë uitvee, het hy niks gehad nie. Sy woonstel met die meubeltjies daarin is deur die Julius Ceasar vendusieafslaers vir ‘n appel en ui verkoop.

Weg was die dae toe hierdie watswonderse slaaf op die voorste sitplekke by die Koloseum gaan sit het. Weg was die dae toe hy vir die Italiaanse meisies kon pitsas en spaketti koop.

Met sy laaste paar lira in sy sak, stap hy na Kostas se Fast Foods winkel oorkant die koloseum. Hy het nie eers genoeg geld om iets anders saam met die slap chips te bestel nie.

Onesimus is so arm hy kan nie meer bekostig om by ‘n tafel te gaan sit nie. Met sy rug teen ‘n pilaar gaan sit hy op die sypaadjie. Hy lyk sleg. Sy baard is lank en sy babalas nog langer.

Met bewerige vingers eet hy die skyfies wat die Griek vir hom in ‘n ou Roman Times toegedraai het.

Soos die vetkolle op die papier uitslaan, so slaan sy verlede voor hom uit. En net so min as wat mens vet kolle uit papier kan verwyder, net so min kan jy die sonde vlekke van jou verlede verwyder.

OORBEGIN

Baie gedagtes maal deur Onesimus se kop. Dis beter om ‘n slaaf vir ‘n goeie baas te wees as hierdie gesteelde vryheid van hom. Nou het die lewe vir hom net te veel geword. Hy het so ‘n gemors van alles gemaak en hoe sal hy ooit weer voor kan begin.

En wat van die R500,000 wat hy van sy goeie baas Filemon gesteel het? Al wou hy dit terugbetaal, sal hy dit tog nooit kan regkry nie.

MODERNE FILEMONS

Ek wil vir jou vertel dat daar baie moderne Onesimusse is. Hulle sit op die sypaadjie voor Kostas se Fast Foods waar hulle besig is om hulle laaste bietjie skyfies van vreugde te geniet. Hierdie moderne Onesimusse het so ‘n mislukking van hulle lewens gemaak dat hulle nie weet hoe om ooit weer daar uit te kom nie.

Hoe help ons hulle?  En hoe kan ons gehelp word wanneer ons op die sypaadjie van die lewe pleks van in die restaurant beland het?

“Vele het in die groot lewensstryd moedeloos geword en geknak. Een ou woordjie van vriendelike opbeuring sou hulle gehelp het om die stryd te kon stry. Moet nooit, nooit koud, onsimpatiek, onverskillig en veroordelend raak nie.  Moet nooit ‘n geleentheid verloor om ‘n woordjie te spreek wat iemand met moed sal besiel nie. Ons sal nooit kan sê hoe verreikend liefdevolle, vriendelike woorde strek nie, en hoe doeltreffend Christeleike pogings is om laste ligter te maak nie. Die mens wat geval het, kan op geen ander manier herstel en opgehef word as net deur ‘n gees van sagmoedigheid en tere liefde nie.”  5 T 612.

PAULUS KOM VERBY

Terwyl Onesimus die vetbesmeerde Roman Times koerant waarin die skyfies was, opfrommel en weggooi, stap Paulus daar verby.

Die Here stuur gewoonlik iemand na jou wanneer jy op jou laagste is. Paulus bekyk hierdie patetiese figuur uit die hoek van sy oog, en herken hom.

“Is jy nie Filemon se slaaf nie? Jy kom mos van Kolosse af.  Jy het na al my dienste geluister, maar vir een of ander rede nie ‘n besluit vir die Here geneem nie.”

Onesimus kyk eers op na Paulus, en toe kyk hy na die vuil straat hier voor hom. Paulus is reg. Hy het al die dienste bygewoon, maar tot sy spyt, nooit ‘n besluit geneem om die Here te volg nie. As hy dit maar gedoen het, was hy nie nou in hierdie ellende gedompel nie.

DIE EVANGELIE

Wat maak jy met iemand wat sy kans gehad het om die Here aan te neem, maar dit nie gedoen het nie? Wat maak jy met iemand wat jou onvermoeide liefdesarbeid versmaai het? Hoe tree jy teenoor iemand op wat sy eie ellende op homself gebring het?

Jy gee hom weer ‘n kans. Die boek Filemon sê vir ons dat jy nooit iemand moet afskryf nie. Ons moet aanhou om geestelike moontlikhede in mense te sien.

Ons moet na mense kyk, soos wat die Here na ons kyk. Ek het so ‘n begeerte, so ‘n geweldige behoefte om die geestelike potensiaal in mense te sien wat Jesus in hulle sien.
NIE TEVERGEEFS NIE

En Paulus vat daardie stink, vuil, babalasasem Onesimus saam met hom na sy gehuurder huis en vertel hom weer ‘n keer dat die evangelie ‘n krag van God is tot redding vir elkeen wat glo.

En Paulus sê vir hierdie slegte, skelm, weghardloper slaaf dat al was sy sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu. En al was dit rooi soos purper, dit sal wit word soos wol.

Paulus se arbeid was hierdie keer nie tevergeefs nie. Hy skryf in vers 10 “Hier in die gevangenis het ek sy geestelike vader geword.”

Dit was darem ‘n groot dag toe Onesimus sy hart aan Jesus gegee het. Ek kan my in Paulus se vreugde indink. Jy arbei so lank om vir iemand die mooi waarheid van die evangelie te bring en wanneer daardie persoon dit aanneem, is dit ‘n onbeskryflike vreugde.

NUTTIG GEWORD

Paulus skryf in vers 11 dat Onesimus bruikbaar, nuttig geword het. Voorheen was hy sleg, hy het niks beteken nie.  Maar die evangelie verander ‘n slegte mens en maak hom bruikbaar.

Paulus en Onesimus het baie geheg aan mekaar geraak en dit was moeilik vir Paulus om op ‘n dag vir Onesimus die volgende woorde te sê:

“My ou seun, oom Paulus wil hê jy moet teruggaan na jou baas Filemon. Dit gaan vir my bitter moeilik wees, want jy het vir my verskriklik baie in my boeie beteken. Maar as mens iemand benadeel het, moet jy gaan restitusie doen, jy moet gaan vergoed waar jy kan.”

RESTITUSIE

Onesimus het spierwit bleek geword. Hoe kon hy ooit weer sy goeie baas in die oë kyk? En sê nou maar Filemon pas die wet op hom toe? Die ligste straf wat ‘n slaaf destyds kon ontvang, was iets vreesliks.

Met ‘n warm yster het hulle die letter “F” op sy voorkop ingebrand. Daardie letter wat vir Fugitivus gestaan het, was ‘n simbool van veragting omdat die slaaf gedros het.

Kan jy raai wat die ergste straf was wat die Romeinse wet vir hierdie soort misdaad opgelê het? Die kruisdood. En omdat Onesimus sy baas besteel het, kon hy hom klaarmaak vir ‘n kruisdood.

ONS EN DIE VADER

Wie dink jy stel wie in hierdie verhaal voor? Ek en jy is  die slegte weghardloper slaaf Onesimus. Ons het ons goeie hemelse Vader van baie dinge beroof en die pad van ons eie begeertes ingeslaan.

En toe op ‘n dag het ‘n Paulus in ons lewens gekom en vir ons weereens die mooi boodskap van die evangelie vertel.  Ons harte het sag geword en ons lewens het verander. Maar nou moet ons gaan regmaak, gaan restitusie doen. En dis baie swaar om ekskuus te gaan sê.

DIE KRUISDOOD

Net soos daar vir Onesimus net een ding gewag het, en dit was die dood, so wag daar ook vir ons net een ding, en dit is die dood. Die tweede dood, die ewige dood.

Maar gelukkig het Paulus vir Onesimus ‘n brief gegee wat hom van ‘n gewisse kruisdood gered het. En gelukkig het ons Paulus, Jesus Christus ook vir ons ‘n brief gegee om aan ons hemelse Vader te gee wat ons van ‘n gewisse dood sal red.

DIE BRIEF

Dis ‘n pragtige brief. In vers 9 skryf Paulus vir Filemon, die ‘liefdevolle’ om die weghardloper slaaf Onesimus ter will van die liefde terug te neem.

Paulus kon niks anders sê nie. Hy kon maar net op die liefde van Filemon aanspraak maak.

En Jesus pleit ons saak by die Vader terwille van die liefde. En ek wil vir jou sê as dit nie vir daardie goddelike liefde was nie, het ons geen kans gestaan om teruggeneem te word nie.

In vers 12 kry ons hierdie pragtige woorde: “Maar neem jy hom aan, dit is my eie hart.” Met ander woorde Paulus sê dat as hy Onesimus terugstuur, stuur hy ast’ ware sy eie hart saam.

Die nuwe vertaling sê “My hart gaan saam met hom.” Wat ‘n pragtige simfonie van liefde en genade. Wanneer ek as sondaar berouvol na die Vader terugkeer, kom ek met die hart van Jesus by Hom aan. Kan Hy ooit so ‘n offer wegwys?  Nooit!

Vers 17 “Neem hom aan net soos vir my.” NV “Ontvang hom net soos jy my sou ontvang.”

DIE ONTVANGS

Hoe dink jy sou die goeie Filemon Paulus ontvang het as hy daar sou aankom? Dit sou ‘n omhelsing uit ‘n ander wêreld wees. Glimlagte en trane van blydskap sou nie ontbreek nie.

En wanneer ek en jy met die evangeliebrief van Jesus na die Vader gaan, sal daar ‘n verwelkoming tydens die wederkoms wees wat ons nooit sal kan begryp nie.

DIE SKULD

Maar wat van daardie verskriklike klomp geld wat Onesimus van sy baas Filemon gesteel het?  R500,000 plus die rente.  Hoe sou hy dit ooit kon terugbetaal?

En dis nie al nie. Wat van al die ure wat hy van die werk af was. Hoe sou hy ooit daardie tyd kon inwerk?

En wat van al ons skuld aan die Here? Daar is miskien kosbare ure wat ons aan Hom kon gewei het, maar wat ons selfsugtig op onsself verkwis het.

Ons skuld by die Here is onberekenbaar.

“Oom Paulus, ek het nie geld om vir Filemon terug te betaal nie. Ek sou dit baie graag wou doen, maar ‘n slaaf kan buitendien niks verdien nie. Dis onmoontlik vir my om terug te betaal.”

EK SAL BETAAL

En toe skryf Paulus iets in die brief wat al Onesimus se probleme opgelos het.

Vers 18,19  “En as hy jou benadeel het of iets skuld, sit dit op my rekening – ek, Paulus, het dit met my eie hand geskrywe:  ek sal betaal.”

Paulus skryf in Filippense 4:12 “Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om honger te ly.”

Terwyl Paulus in Rome as gevangene aangehou was, het hy sy eie huis gehuur. Toe hy Onesimus ontmoet het, het hy ‘n tydperk van finansiele voorspoed geniet. Miskien het iemand ‘n ontsaglike som geld in sy rekenening inbetaal.

En Paulus is bereid om met elke sent wat hy besit, Onesimus se skuld af te betaal.

EVANGELIE NUUS

En dis die goeie nuus van die evangelie. Ek en jy het ‘n verskriklike skuld by ons hemelse Vader opgebou. Dis so groot dat ons dit nooit sal kan vereffen nie.

Maar Jesus kom met ‘n fantastiese aanbod. “Sit dit op My rekening, Ek sal betaal.”

Wat ‘n aanbod. Ek en jy wat asgevolg van ons sondeskuld gelikwideer is kan met vrymoedigheid met die evangeliebrief na die Vader toe gaan. Hy sal onmiddellik ons skuld op Jesus se rekening plaas, en Jesus se krediet op ons rekening plaas.

Die boekhoustelsel van die hemel, is die wonderbaarlikste boekhoustel in die hele heelal. Wanneer ons met ons bankrotskap by die Ouditeur aanklop, maak Hy ons oombliklik miljoeners.

ONESIMUS EN FILEMON

Die Bybel vertel nie vir ons wat gebeur het toe Onesimus by Filemon aangekom het nie. Maar gelukkig het die oorlewering dit dat hy baie goed ontvang is.

Toe Filemon die brief van sy vriend Paulus lees, het hy Onesimus se skuld kwytgeskel en hom sy vryheid gegee. Hy is nie met ‘n warm yster as droster gemerk nie. Hy is nie aan ‘n kruishout vasgenael nie.

Onesimus is ontvang soos Paulus ontvang sou word.

En dis die goeie nuus van die evangelie, my mede vlugtelinge. Kom ons gaan weer terug na ons Vadershuis met die evangeliebrief wat Jesus geskryf. Ons gaan die beste ontvangs denkbaar ontvang.

TSAAR NICOLAS II

Laat een nag het Tsaar Nicolaas II inspeksie in ‘n militêre basis gedoen. In een van die kantore het ‘n man met sy kop op sy arms aan die slaap gelê. Toe die Tsaar naderkom, sien hy die volgende woorde langs die kasboek. “So ‘n groot skuld, wie kan betaal.”

Langs die slapende dief het ‘n Russiese pistool gelê. Net voor hy homself wou skiet, het hy aan sy lewe van korrupsie en diefstal gedink en toe aan die slaap geraak.

Langs die woorde: So ‘n groot skuld, wie sal betaal, het die Tsaar geskryf. “Ek sal betaal, Nicolaas II van Rusland.”

Het jy skuld? Wonder jy wie vir jou sal kan betaal? Jesus is Sy Naam. Hy wil langs jou skuld en my skuld die volgende woorde skryf:  “Ek Jesus sal betaal. Ek het dit met my eie hand geskryf.”

e-pos Navrae na questions@amazingdiscoveries.co.za

Was this article helpful?

Related Articles