Skriftuur: Sagaria 8:22,23
Wat se soort ideale dink jy, koester die Here vir jou? En dink jy dis moontlik om dit bereik?
Kom ons verneem wat die Here deur Sy profeet Sagaria vir ons wil sê.
BETEKENIS VAN DIE NAAM
Die boek Sagaria is na die man vernoem wat die profesieë vir ons neergeskryf het. Sagaria beteken “Yahweh het onthou.”
Wat ‘n bemoedigende betekenis. So dikwels wanneer ons ons self of iemand anders teleurgestel het, voel ons dat die Here van ons vergeet het.
OUTEURSKAP
Sagaria se oupa se naam was Iddo. Hy het aan die hoof gestaan van die priesters wat onder Serubbabel na Jerusalem teruggekeer het.
Sagaria was dus ook ‘n Leviet en ‘n priester.
Tydens die ballingskap in Babilon het hy gesien hoe die Medo-Perse Babilon in die jaar 539 vC. verower het.
Die profeet Sagaria was deel van die groot groep Judeërs
wat volgens Kores se bevel na Jerusalem teruggekeer het.
In die jaar 520 vC., sestien jaar nadat Sagaria uit die ballinge vanaf Babilon in Jerusalem aangekom het, het hy sy profetiese bediening begin.
Wat het die profeet met sy aankoms in Jerusalem gesien? Die tempel was in puin. Maar voor sy dood het hy die voorreg gehad om die gerestoureerde tempel te sien.
HISTORIESE AGTERGROND
Destyds het die Medo-Perse die wêreldtoneel oorheers. Eers was dit Kores toe Kambyses. Daarna kry ons konings soos Darius, Ahasveros en Artasasta.
Dit was in hierdie tydperk dat die tempel onder moeilike omstandighede herbou is. Die Samaritane het dit vir die teruggekeerde bannelinge baie moeilik gemaak om te bou.
Met tye is dit moeilik om vir die Here ‘n huis te bou
Maar die TEMA van die boek Sagaria is tydloos. Dit praat vandag nog met ons.
Asgevolg van die druk van die opposisie het die Jode die bouwerk aan die tempel gestaak.
Wat het die Here gedoen toe Sy mense hulle visioen verloor het om vir Hom ‘n huis te bou?
Hy het Sagaria aangestel om die moedelose Jode weer tot heilige aksie aan te spoor.
Soos wat die Here destyds ‘n man geroep het om moedelose mense aan te moedig om vir Hom ‘n huis te bou, so roep Hy nog steeds optimistiese helde om Sy volk te bemoedig.
Die Here roep ons nie om tou op te gooi nie, maar om te bou.
En onthou. Ons word nie net geroep om fisiese huise vir die Here te bou nie. Ons word ook geroep om Sy kerk met bakstene van heilige motiewe en hoë standaarde te bou.
SAGARIA SE SUKSES
Sagaria se leierskap en besielende boodskappe het moedelose, verskoning-soekende Jode moet nuwe ywer besiel om te bou.
Esra 6:14,15 Die Judese leier het met die bouwerk aangegaan. Danksy die optrede van die profete Haggai en Sagaria seun van Iddo het hulle goed gevorder. So kon hulle die gebou klaar maak soos die God van Israel hulle dit opgedra het en soos konings Kores, Darius en Artassasta van Persië dit beveel het. Die temple is voltooi op die derde dag van die maand Adar, in die sesde jaar van die regering van koning Darius.
Pragtige besielende woorde. Die Here het vir hulle gesê om te bou en klaar te maak. Hulle luister en hulle slaag.
En dit is ook die plan van die Here vir ons lewens. Hy wil hê ons moet vir Hom ‘n huis bou. Meer as net ‘n fisiese huis. Hy stel net soveel belang in die bou van ‘n hartstempel.
Kom ons luister na die Here se boodskappe aan Israel van ouds en ook aan ons wat vanoggend bymekaar is:
Sagaria 8:1,2 Die woord van die Here die Almagtige het tot my gekom. So sê die Here die Almagtige: Ek is hartstogtelik begaan oor Sion, ek het woedend geword vir sy vyande, so begaan is ek oor hom.
Voor die oë van die teruggekeerde ballinge lê daar ‘n verwoesde, verlate stad.
Die eerste 8 verse vertel van God se verlange en belofte om saam met Sy volk in ‘n herstelde, bevolkte Jerusalem te bly.
Die uitdrukking “So sê die Here die Almagtige,” kom 10 keer in hoofstuk 8 voor.
Besielend! Dis nie ‘n gewone mens wat met die moedverlore, visielose mens praat nie. Die teks sê dis die Here self wat met ons praat.
Hy wil nie hoor hoe gevalle of swak ons is nie. Hy wil nie na ‘n klomp geldige en ongeldige verskonings luister nie. Hy wil vir ons vertel hoe goed en sterk Hy is en watter groot werk Hy deur ons wil verrig.
Kom ons lees weer ‘n keer hierdie kragwoorde:
So sê die Here die Almagtige. Ek is hartstogtelik begaan oor Sion.
BEGAAN OOR ONS
Daar is sekere dinge wat met ons gebeur wat vir ons die idee kan gee dat die Here nie meer vir ons omgee nie.
Eerstens is dit ons gedrag. ‘n Mens voel so sleg wanneer jy die een of ander verkeerde ding gedoen het dat jy in moedeloosheid dink dat die Here nie meer vir jou omgee nie. Dis mos hoe ons as mense mekaar behandel.
Die tweede rede waarom ons partymaal voel dat die Here nie vir ons omgee nie, is omdat die een ramp na ander ons my tye tref.
Dit maak ons emosioneel so verward dat ons tot die verkeerde gevolgtrekking kom dat die Here van ons vergeet het en nie meer omgee nie.
Moenie jouself of die duiwel se influistering glo nie: Hoor wat sê die Here vir ons in Sagaria 8:2:
Ek is hartstogtelik begaan oor Sion.
Ek is so dankbaar oor hierdie mooi woorde. Die “Clear Word” vertaal vers 2 soos volg:
“I don’t need to be persuaded to love my people because I have always loved them. I have always been jealous for Jerusalem. I am not pleased with the way her enemies have looked down on her and mistreated her.” Zahariah 8:2.
JERUSALEM SE TOESTAND
Wanneer mens Jerusalem vandag besoek, wys die argeoloë vir jou die spore van die Romeinse verwoesting van 70 nC.
Op party plekke sien mens die swart spore van die vuur wat alles behalwe die klippe verteer het.
Op ander plekke gebreekte mure en stukkende kruike. Die lyk nie so goed nie.
In die verhaal van Sagaria kyk die Here na die stad Jerusalem wat in 586 vC deur Nebukadnesar verwoes is. En wat sien hy? Puin en rommel. Dit lyk nie so mooi nie.
En Hy kyk na jou en my wat ook deur ‘n vyand in die paradys beleër en verwoes is. En hoe lyk ons nou vir Hom?
Nie so mooi as wat Adam in die Paradys gelyk het nie. Ons dra die lelike letsels van verwoestende sonde op ons lyf.
IS DAAR HOOP?
Was daar hoop vir die verwoesde stad van destyds? Is daar hoop vir jou my wat tot ‘n groot mate deur sonde verwoes en geskend is? Baie beslis. God is altyd op pad na ons:
Vers 3 So sê die Here: Ek gaan na Sion toe terugkom, Ek gaan in Jerusalem woon. Jerusalem sal genoem word Stad van Trou, Berg van die Here die Almagtige, Heilige Berg.
Wat ‘n onbeskryflike bemoedigende gedagte! God is op pad na ruïnes. Hy is op pad na ons stukkend lewens.
Hy is die groot argeoloog wat op soek is na die mens wat stukkend en gebreek onder die sand van skande begrawe lê
Dis nie almal wat met die wrakke van die samelewing bemoeid wil wees nie.
Ons dien ‘n God wat ‘n obsessie het om sondaars te red. Ons dien ‘n Verlosser wat ‘n soort van ‘n oorlas van Homself maak om sondaars te red.
Al wat die vervalle sondaar kan doen is om sy gevallenheid aan die Here bekend te maak. Ons kan nie die puin en die rommel van die verlede verwyder nie. Ons kan ons self nie met eie krag en mag herbou nie.
Kom ons hoor hoe die Here ‘n individu of ‘n kerk suksesvol maak:
Sagaria 4:6 “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.”
Die Bybel gee nie vir ons baie inligting oor die aard en die natuur van die Heilige Gees nie. En miskien is dit onveilig om hieroor te spekuleer.
Die Bybel praat egter baie oor dit wat die Heilige Gees in ons lewens kan doen. In hierdie teks lees ons dat die Heilige Gees ons in staat stel om geestelik suksesvol te wees.
Sagaria 10:1 Vra vir die Here reën in die tyd wanneer die laat reëns moet kom. Hy maak die reënwolke en laat die stortreëns val, Hy gee vir die mense die groen plante in die veld.
Ons leef baie beslis in die tyd van die laat reëns. Die einde het gekom en daar wag vir ons ‘n baie besondere werk. Ons moet die beeld van Jesus se karakter soos nog nooit van te vore weerkaats nie.
Kom ons bid vir die reëns van die Heilige Gees sodat die groen van nuwe omgee, die groen van nuwe oorwinnings, die groen van nuwe toewyding die landskap van ons vaal lewens kan verfraai.
“Touch your people once again.”
STAD VAN TROU
Vers 3 sê dat Jerusalem die “STAD VAN TROU” genoem gaan word.
Die Hebreeuse woord vir trou, is EMETH. Dit beteken onder andere STABILITEIT. Die Here wil ons wankelbaarheid in stabiliteit omskep.
GOD SE PLAN MET JERUSALEM
Vanaf vers 4 tot by vers 15 kry ons ‘n beskrywing van God se geweldige hoë ideaal wat Hy vir Jerusalem gehad het:
Verse 4,5 So sê die Here die Almagtige: Daar sal weer bejaarde mans en vrouens, ryp in jare, op die pleine in Jerusalem sit, elkeen met ‘n kierie in die hand. Die pleine in die stad sal vol seuns en dogters wees wat daar speel.
Die beeldspraak wat hier gebruik word vertel van God se mooi planne van voorspoed vir Sy volk wat in ‘n vervalle en verlate Jerusalem woon.
Hoë ouderdom was destyds die gevolg van gehoorsaamheid aan God se wette. Dood op ‘n vroeë ouderdom was ‘n teken van ongehoorsaamheid.
Daar is nie speelparke nie en daar is ook nie kinders wat speel en lag en gelukkig te kere gaan nie.
Orals sien hulle net die rommel en puin van die Babiloniese verwoesting.
Ek glo die klompie bannelinge wat na Sagaria se toekomsprojeksie geluister het, het dit moeilik geglo.
Party keer wanneer dit baie sleg met ons gaan, is dit moeilik om te glo dat dit weer met ons sal goed gaan.
Luister na die mooi drome wat die Here vir die twyfelende groepie mense van Jerusalem gedroom het:
Vers 6 So sê die Here die Almagtige: As dit vir die oorblyfsel van hierdie volk vandag onmoontlik lyk, moet dit dan ook vir My onmoontlik lyk? Die Here die Almagtige het dit gesê.
So dikwels luister ons na die mooi beloftes van die Here, maar dan wonder ons.
Is dit moontlik om van ou griewe ontslae te raak? Is dit moontlik om my humeur te beteuel? Is dit moontlik om ten alle tye hoflik teenoor onbeskofde mense te wees?
Die boodskap wat die Here destyds deur Sagaria aan Sy volk gebring het, eggo deur die eeue:
Vers 6 As dit vir die oorblyfsel van hierdie volk vandag onmoontlik lyk, moet dit dan ook vir My onmoontlik lyk?
Ons leef in ‘n samelewing met die slagspreuk: “Do it yourself.” Daar is ‘n handleiding vir elke ding onder die son.
En nou dink ons dat ons ons eie probleme ook kan oplos. Ons moet een ding onthou. Wanneer dit by die kompleksitiet van die sondeprobleem kom, bestaan daar nie ‘n “Do it youself” nie. Dis uitsluitlik God se werk.
Moenie na die onmoontlikheid van die sondeprobleem kyk nie, kyk na die moontlikheid van God om jou probleem op te los.
SKEP MOED
Daar is nie tyd om al die mooi beloftes in hoofstuk 8 oor ‘n suksesvolle bouprogram te lees nie. Ek noem net enkeles:
Vers 9 So sê die Here die Almagtige: Skep moed!
Wanneer jy na jou mislukkings kyk, wanneer jy na die ontmoeldigende omstandighede kyk, sal jy moedeloos word en nooit bou nie.
Kyk liewer na die beloftes van die Here, skep moed en bou aan die Huis van die Here.
Vers 13 Moenie bang wees nie, skep moed!
Wanneer ons na rampe en potensiele rampe kyk, gaan ons bang word en nooit die troffel opneem nie.
Wanneer ons na ons eie swakhede en onvermoëns kyk, gaan ons ook bang word en ophou bou.
Die Here roep ons om na Sy beloftes te kyk, moed te skep en aan Sy gemeente te bou – aan gebreekte mense te bou.
IDEALE EN VOORWAARDES
Dit was die Here se plan om Jerusalem die koningin van die koninkryke te maak. Dit moes die mooiste en rykste en magtigste stad ter wêreld wees. Jerusalem moes vir ewig in die vryheid van haar Godgegewe krag oor die aarde reeg.
Sy volk moes die ganse mensdom vir die eerste koms van Messias vertel en voorberei.
Kom ons hoor wat die voorwaardes vir aardse en geestelike grootheid was:
Vers 16,17 Wat julle moet doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar, laat die waarheid en die reg geld in julle regspraak sodat daar vrede onder julle kan wees. Moenie bose planne teen mekaar bedink nie, moenie vals ede bly aflê nie. Ek haat sulke dinge, sê die Here.
Weet jy wat die grootste sonde onder die son is? Ons onmenslikheid teenoor mense.
Weet jy wat die grootste argument ten gunste van die waarheid, is? ‘n Liefdevolle, liefhebbende Christen.
Daar is te veel onaangename, onvriendelike, ongeskikte, onvergewensgesinde en selfsugtige mense in die wêreld.
In die kerk van die Here moet dit anders lyk en kan dit anders lyk.
Sagaria sluit God se droom vir Sy volk met die volgende woorde af:
Verse 22,13 Baie volke sal kom, groot nasies, om in Jerusalem na die wil van die Here die Almagtige te vra, om Hom te raadpleeg. So sê die Here die Almagtige: Daardie tyd sal uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle”
Die ideaal wat God vir elkeen van ons het, is onbeskryflik groot. Hy wil ons ‘n sondaarvriendelike mense maak. Hy wil met Sy goedheid en vergifnis, met Sy omgeehouding, tussen ons kom woon.
Mense sal daarvan kennis neem, ons kom opsoek en sê:
“Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle”
Ek wil vanoggend vir die Here vra om by my te wees en vir my ‘n mooi, toegewyde mens te maak. Ek wil eerlik en opreg teenoor Hom en teenoor jou leef. Ek wil in elke opsig aan Hom getrou bly.
Wil jy nie die selfde besluit saam met my neem nie?
“Touch your people once again.”
e-pos Navrae na questions@amazingdiscoveries.co.za