Saggeus

So ‘n ruk gelede was ek seker die rykste man in ons dorp, maar terselfdertyd ook die ongelukkigste.
Nou is ek baie armer maar baie gelukkiger as ooit van te vore.
Ek het nooit gedink dat ‘n mens meer geluk met minder aardse rykdom kan ervaar nie.
Ek wil baie graag vir jou vertel wat met my gebeur het want miskien is jy ook ‘n ongelukkige mens. Miskien soek jy ook die resep van ware geluk in jou lewe.
My naam is Saggeus dit beteken “onskuld”. Maar ek was baie ver van hierdie mooi karaktertrek af.
TOLGELD
Met omkoopgeld het ek die lisensie by die Romeinse owerheid gekry om ‘n tolhuise in Jerigo te bedryf.
Die verkeer uit die ooste het die Jordaanrivier naby Jerigo oorgesteek, en dis hier waar ek die meeste geld gemaak het.
DIE JODE SE GEVOEL OOR MY
Hoe dink jy het die Jode oor my gevoel? Ek was ‘n dief en verraaier in hulle oë want ek het hulle geld gevat en dit vir die Romeine, die heidene gegee.
Maar dis nie al nie. Ek en my agente het ons eie belasting geld bepaal. Ons het altyd meer gevra as wat ons moes.
Byna elke mense wat by ons tolhek aangekom het, het ons gehaat. Daar was so baie mense wat op my gevloek het.
Dit was nie lekker om onder sulke omstandighede ‘n besigheid te bedryf nie.
DIE KINDERS UIT DIE SKOOL EN SINAGOGE VERBAN
Ek het my kinders baie jammer gekry. Hulle was glad nie in die skole toegelaat nie. Maar wat my die hartseerste gemaak het, was die verbod om die sinagoge by te woon.
Almal het op ons neergekyk. Ons was gestimatiseer. Af en toe het ons na ons vakansiehuis langs die see van Galilea gegaan. Dit was bietjie beter want daar was ‘n kosmopolitiese gemeenskap.
JOHANNES DIE DOPER
Op ‘n dag het ‘n ander tollenaar my van Johannes die Doper vertel wat by die Jordaanrivier gepreek en gedoop het.
“Ou Saggie ek wil jou net waarsku. Die ou praat baie reguit. Hy spaar nie die roede nie. Hy het ons tollenaars bygekom en gemaan dat ons nie meer mag vra as wat ons tans doen nie.”
Op ‘n dag het ek ook na die man gaan luister. Sjoe. Wat ‘n spreker.
RESTITUSIE
Die Heilige Gees het met my begin praat. Waar ek kon het ek die mense eerlik begin behandel maar die agterdog was nog daar.
Jy kan nie skade wat jy oor die jare aangerig het, binne ‘n paar weke uitwis nie.
LEVI
Op ‘n dag het ek ‘n onverwagse besoek van Levi, ‘n ou kollega van my gekry. Die man het anders gelyk en anders gepraat. Ek wou by hom weet wat het oor sy lewe geloop.
VERKEERDE BEROEP
“Man ou Sagie, ek wil jou nie in die gesig vat of aanstoot gee nie. Maar die werk wat ons doen, gaan ons nie in die koninkryk van die hemel bring nie.
Wat help dit dat ons sakke vol geld maak en die samelewing verag ons. Ons is permanent gestigmatiseer en dis ons eie skuld.
Sagie. Op ‘n dag het ek na die jong rabbi van Nasaret gaan luister.
Ek was vasgenael aan Sy preke. Miskien kon Jesus die geestelike honger in my raaksien.
Kom ek vertel jou wat ‘n week of wat daarna gebeur het.
Hy het by my tolhuis in Kapernaum aangekom en my vol in my oë gekyk. Met ‘n sagte glimlag het Hy vir my gesê. Levi volg my.
Ek werk nou voltyds saam met Hom.

GELUK
Ek was nog nooit so gelukkig in my hele lewe nie.
TOLLENAARSFEES
Onlangs het ek ‘n fees ter ere van Jesus gehou en ‘n klomp ander tollenaars genooi om by te woon.
Man ou Sagie dit was wonderlik. Hy het van tollenaar tot tollenaar gestap en met die manne gesels.
Jy moes hulle gesigte gesien het. Ek wens jy kan hierdie Jesus ontmmoet”
Levi is daar weg en ek het baie gehad om oor te dink.
JESUS SE BESOEK AAN JERIGO
En toe op ‘n dag hoor ek die gedreun van baie stemme in Jerigo. Baie gou het ek vasgestel dat Jesus Jerigo kom besoek het.
Hulle het my vertel van hoeveel mense wat vir jare lank siek was, oombliklik genees is.
Omdat ek klein van postuur was,kon ek hom nie baie mooi sien nie. Net so nou en dan so ‘n glimsie van Hom gekry.
DIE VYEBOOM
Toe kry ek ‘n plan. Ek draf vinnig na die naaste boom en in ‘n japtrap sit ek in ‘n gemaklike mik.
Die prosessie kom nader en nader. En toe sien ek Jesus. Wat ‘n oomblik. Ek het so ‘n dringende behoefte aan Hom gehad.
Maar dit het nie net by sien gebly nie. Toe hy by die boom kom waarin ek sit, het Hy gaan stilstaan. En toe kyk Hy op.
Wat ‘n grootse oomblik in my lewe. Hy kyk vir my en ek lees aanvaarding in sy oë, iets waarna ek vir jare na verlang het.
In daardie blik het ek liefde en vergifnis sien uitstraal.
Hy noem my naam. Hoe het Hy geweet wat my naam is?

KLIM AF
Hy sê vir my ek moet afklim want Hy wil by my kom eet.
Hoe het hy geweet van ons verlange dat iemand vir ons moet kom kuier? Die mense het ons soos die pes vermy.
Gelukkig het ons die vorige dag vars dadels en vye en druiwe gekoop.
RESTITUSIE
Net daar en dan het ek my lewe finaal aan Hom toegewy. Voor almal het ek verklaar dat ek die helfte van my besittings vir die armes gee en as ek iemand te na gekom het, dit vierdubbel teruggee.
VANDAG HET DAAR REDDING VIR HIERDIE HUIS GEKOM
Ek sal Jesus se woorde nooit vergeet toe Hy gesê het: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom nie.
Soos ek aan die begin gesê het, ons was eers ryk maar bitter ongelukkig. Nou is ons arm maar ontsettend gelukkig.
My liewe vriende ek herhaal ook die ander woorde van Jesus wat Hy daardie dag in ons huis gesê het:
Die Seun van die mens het gekom om te soek en red wat verlore was.
Ek was hopelose verlore en Jesus het my raakgeloop toe ek Hom soekend vanuit ‘n boom gesoe het.
Hy wil jou ook raakloop. Hy wil ook vir jou sê dat Hy vandag by hou wil tuisgaan.
Ek nooi jou uit om Hom toe te laat om jou te vind en die grootste van alle vreugdes te kom geniet.
In ruil vir jou bagasie skenk Hy jou Sy volle vergifnis, sy volle vreugde en al Sy liefde.

Was this article helpful?

Related Articles