Skriftuur: 2 Korintiërs 4:7-9
Het jy al getel hoeveel rampe en teleurstellings jy gehad het vandat jy die Here begin dien het?
Het jy miskien onder die verkeerde indruk verkeer dat jy sekere rampe sou vryspring as jy die dag jou hart aan die Here gee?
Luister wat sê Dawid:
Psalm 34:20 Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige…
Dis wat die Ou Testament sê. Wat het Jesus geleer? Het Hy gesê dat ons teleurstellings en teëspoede sal hê wanneer ons Hom dien?
Matteus 5:10-12 Geseënd is die wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.
Daar is net twee dinge wat ons kan doen wanneer ons deur beproewings gaan. Of ons kan bitter word, of ons kan beter word.
Ek en jy moet een van die twee B’s kies.
Watter een van die “B”’s het Jesus voorgestel? Bitter of beter?
Kom ons laat toe dat die beproewings en teleurstellings van die lewe of beter maak, pleks van bitter maak.
Terwyl ons deur die strate van die lewe loop, gaan ons oor en oor by die Cul-De-Sacs uitkom. Dis frustrerend teleurstellend.
Terwyl ons op die hoofpaaie van die lewe reis, gaan ons spoed keer op keer deur verleggings gebreek word. Dis irriterend teleurstellend.
Terwyl ons lewenskar deur die afgeleë gedeeltes van die lewe reis, gaan ons op sinkplaatpaaie afkom. Alles wat geskud kan word, sal geskud word.
Dis moontlik dat ‘n paar van ons spoggerige wieldoppe kan verloor. Dit mag ook wees dat ons ‘n skokbreker of twee in die slaggate van hierdie paaie kan verloor.
Wanneer ons op hierdie paaie verliese ly, dan vra ons hartseer waarom so iets met ons moes gebeur.
Luister hoe skryf Job hieroor.
Job 23:10-12 Hy ken my pad; as Hy my toets, is ek suiwer soos goud. Ek volg Hom waar Hy gaan, ek hou op sy pad en draai nie af nie. Sy bevel verontagsaam ek nie, ek heg meer waarde aan sy woorde as aan my eie begeertes.
HUWELIKSMAAT STEL TELEUR
Onlangs praat ek met ‘n vrou. Sy sê vir my dat sy met ‘n Christen getrou het. Nooit het sy gedink, die dag toe hulle voor die kansel gestaan het, dat hy haar eendag vir ‘n ander vrou sou los nie.
Sy was baie bitter. “Leraar. Dit was ‘n bitter teleurstelling wat my baie bitter gemaak het. As dit is hoe belydende Christene Adventiste is, sit ek nooit weer my voete in ‘n Adventiste nie.”
Sy het ‘n keuse gehad. Sy kon kies of die teleurstelling haar beter of bitter maak. Ongelukkig het sy gekies om bitter te word.
Het ‘n lewensmaat jou al teleurgestel?
Daar is net twee B’s om van te kies. Of ek word bitter of ek word beter. Die Heilige Gees is op gereedheidsgrondslag om ons te help om beter te word. Ek word alleenlik bitter wanneer ek Sy hulp moedswillig weier.
‘N PREDIKANT STEL TELEUR
Miskien het julle ‘n soortgelyke ondervinding gehad. Die man en vrou vertel my van hulle kind wat besig was om die pad beister te raak. Hulle het die predikant laat weet om asseblief tog hulle seun te gaan besoek.
Hy was glo te besig om daardie week te gaan besoek.
Die volgende week het hulle weer gevra en weer het niks gebeur nie.
Die uiteinde van die saak is dat hulle seun heeltemaal onverskillig geraak het en die pad beister geraak het.
Die hartseer ouers sê vir my dat hulle seun nooit weer sy voete in ‘n kerk sal sit nie. Toe hy die predikant die nodigste gehad het, was hy te besig met ander dinge.
Die seun het ‘n keuse tussen die twee B’s gehad. Ongelukkig het hy die verkeerde B gekies en bitter geword.
Dit kon vir hom en sy ouers ‘n pragtige ondervinding van groei geword het, maar hulle het die kans laat verbygaan.
Het ‘n predikant jou al teleurgestel?
Jy en ek het ‘n keuse. Of ons laat toe dat teleurstellings ons beter maak of ons laat toe dat teleurstellings ons bitter maak.
GEESTELIKE LEIER
Die mense het groot respek vir hulle geestelike leier gehad. Hulle het die grond aanbid waarop hy geloop het. En toe gebeur daar ‘n baie onsmaaklike iets.
Vandag is hulle bitter telergestelde mense wat nie meer kerk toe kom nie.
Hulle moes tussen die twee B’s gekies het. Bitter of beter. Ongelukkig het hulle verkies om bitter te word.
Het ‘n geestelike leier in die kerk jou teleurgestel? Dis ‘n troumatiese skok.
Wanneer die een of ander ramp ons tref, het ons die keuse om of beter of bitter te word. Mag die Here ons help om beter te word.
URIJA SE HANTERING VAN TELEURSTELLINGS
Kom ons kyk na die lewe van ‘n Bybelkarakter wat drie verskriklike teleurstellings agtermekaar gehad het en hoe hy dit hanteer het. Pleks dat hy bitter geraak het, het hy beter geword.
2 Samuel 23:8 Dit is die name van die helde wat Dawid gehad het…
Die Hebreeuse woord vir “held” is GIBBOR. Die Ou Testament het holisties na die mens gekyk. Met ander woorde ‘n held was nie net ‘n held op die fisiese slagveld nie. Hy was ook ‘n held op die slagveld van die lewe waar ‘n mens deur die missiele van teleurstellings aangeval word.
Die lys van Dawis se dapper helde, die Gibbors, eindig in die naam van ‘n uitlander.
Vers 39 Urija, die Hetiet…
Net ‘n paar woorde, Urija die Hetiet, die dapper held. Wie was hierdie man? Waarom het inspirasie dit goed gedink om hom in die bladsye van die Bybel te plaas.
HETTIET
Kom ons kyk net vlugtig na die oorsprong van Urija, nl. Hettities. Dis betreklik onlangs dat die wetenskap van die argeologie vir ons inligting oor hierdie antieke nasie begin gee het. Volgens die bronne was hulle een van die grootste beskawings van antieke tye.
SUPILILIUMAS
Na die dood van Tutankamun het sy weduwee, Ankensenamun ‘n versoek aan die Hettietise koning gerig? Raai wat het sy gevra?
Sy het vir koning Supiluliumas van Hattusas gevra of sy met een van sy seuns kon trou.
In antieke tye het so ‘n versoek op die superioriteit van die moontheid gedui.
Urija die Hettiet, soos die Bybel hom noem, moes met hierdie trotse geskiedenis vertroud gewees het. Dit was een van die vakke in die graad oor Volkekunde wat hy by die Hetitiese Universiteit bestudeer het.
EMIGREER
Voordat Urija hierdie Hebreeuse naam gekry het, (Dit beteken Yahwe is Lig) moes hy ‘n Hettitiese naam gehad het. Kom ons noem hom “Umas”.
Op een of ander manier het Umas van Israel en sy koning Dawid te wete gekom. Hy ontdek toe dat hierdie volk monoteïsties is. Mense wat net een God aanbid. Die Kubaba kerk van Umas was poloteïsties. Hulle het sommer baie verskillende gode aanbid.
Nadat Umas baie oor Israel en hulle godsdiens nagelees het, en met sy plaaslike priester oor die saak gepraat het, het hy sy land en sy dierbares verlaat en na Israel geïmigreer.
KERK BYWONING
Die eerste sabbat toe Umas kerk toe gaan, het hy ‘n vriendelike man ontmoet. “Goeie more mnr. My naam is Eliam. Is u ‘n besoeker by ons? Waar kom u vandaan?”
Umas vertel vir Eliam van sy soeke na waarheid. Net op daardie oomblik kom sy pa en sy dogter daar aan.
“Umas. Ontmoet my pa Agitofel en my dogter Betseba.”
“Vertel my. Wat doen julle en wat beteken julle name?”
Eliam verduidelik vir Umas dat sy naam beteken “Yahwe is my Verlosser” en sy dogter Batseba se naam naam beteken dogter van die Sabbat.
Agterna het Umas uitgevind dat Agitofel, koning Dawid se persoonlike raadgewer is.
VRIENDSKAP
Na die erediens het Eliam vir Umas (onthou) dis Uria se vorige naam) uitgenooi om by hulle te kom eet. In die Kubaba kerk waar hy in Hattusas aanbid het, het die mense nie so iets gedoen nie.
Umas was baie beïndruk met die soort hoflikheid wat hy van die Jerusalemgemeente ontvang het.
Dit het nie lank geneem voordat Umas en Batseba, op mekaar verlief geraak het nie.
Maar voordat hulle kon trou moes Umas by die koning-Dawid- hospitaal besny word en dan gedoop word.
DIE DOOPDIENS
Dit was ‘n onvergeetlike dag. Die musiekitems was van die beste. Die preek was onvergeetlik. Maar die beste van alles wat Umas se getuienis. Hy het ook vir die gemeente gesê dat hy vir homself ‘n nuwe naam aangeneem het – Urija, Jahwe is my lig.
DIE TROUE
Tydens die troue was koning Dawid en sommige van die hooggeplaasdes in die regering ook teenwoordig.
Urija het vir sy bruid ‘n spoghuis net londerkant die koning se paleis gekoop. In vier spogstalle het hy van die duurste kamele aangehou. Hulle was net vir lang afstande bedoel.
En dan was daar nog ‘n paar baie duur donkies wat vir kort afstande in die stad gebruik was.
BAIE GELUKKIG
Saans wanneer hulle op die dak van hulle dubbelverdieping na die liggies op die Olyfberg gekyk het, het hulle van hulle groot huweliksgeluk gepraat.
“Batseba. Ek dink die rede waarom die Here ons so seën, is omdat ons elke oggend uit die Bybel lees. Die selgroep op Woensdagaande beteken vir my net soveel.”
“Urija. Weet jy waarom dink ek is ons so gelukkig? Ons mis nooit ‘n Sabbatskool of ‘n erediens nie. Ek het nooit gedink ‘n vrou kan ‘n man so lief kry nie. En al is jy ‘n uitlander met jou snaakse Hebreeuse aksent, bly ek mal verlief op jou. Ek sal jou nie eers vir ‘n koning verruil nie.”
DAPPER HELD – URIJA DIE HETTIET
Die Bybel het net vir ons ‘n paar woordjies gegee: Urija, die Hettiet. Die dapper held.
In ‘n betreklike kort tydjie het hy homself as een van die dapperste helde in Dawid se weermag bewys. Hy word tot een van die top generaals bevorder.
Elke keer voordat hy aan ‘n geveg gaan deelneem, sak hy en Betseba op hulle knieë en bid vir die Here se bewarende hand oor hulle albei.
En wanneer Urija weer veilig by die huis aankom, kniel hulle weer saam en dank die Here vir Sy beskerming.
RABBA WORD BELEER
Daar was nog net een vyand wat Israel moes verslaan, en dan sou hulle ‘n tydperk van vrede binnegaan. Nog net een vyande en dan kon Urija en Betseba rusting met ‘n gesin begin.
Kom ons lees van daardie laaste vyand en hoe die koning opgetree het:
2 Samuel 11:1 In die lente, die tyd waarin die konings gewoonlik optrek om oorlog te maak, het Dawid op ‘n keer vir Joab en sy soldate en die hele Israel uitgestuur. Hulle het die Ammoniete verslaan en Rabba beleër, maar Dawid het in Jerusalem agtergebly.
MODERNE AMMAN
Die moderne Amman was vroeër die Ammon Rabba waarvan ons in die Bybel lees. Elke keer wanneer ek die Jordaniese hoofstad Amman besoek, gaan my gedagtes onwillekeurig na Urija die Hettiet uit.
Met al sy toewyding veg hy en sy manne teen hierdie magtige vesting.
“Ag, Here,” bid hy. “Seën ons terwyl ons U oorloë veg. Gee ons die oorwinning oor U vyande. Bewaar my ook in die oorlog van versoekings. Hou my aan my vrou Betseba getrou soos wat sy aan my getrou is.”
JOAB
Om verskeie redes is Urija ‘n baie dankbare man. Joab is ‘n leërowerste met integriteit. Hy werk so lekker saam met hom. Dit het nie aan Joab saakgemaak dat Urija ‘n uitlander was nie. Toe hy sy bekwaamhede ontdek, het hy hom tot die hoogste militêre pos bevorder.
Joab staan vir wat reg is. Joab sal ‘n man nooit in die rug steek nie.
Elkeen van ons hou van heldeverering.
Wanneer ek in die jongmense se kamers instap, sien ek net prente van mense. Jare terug was dit Elvis Presley. Toe het ander gewilde openbare figure gevolg.
Ons wil graag mense vereer waarna ons opsien.
Luister na hierdie waarskuwing.
Psalm 146:3,4 Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ‘n mens nie; hy kan jou nie red nie. Sy asem verlaat hom, hy word weer grond en sy planne is daarmee heen.
Die muurprente van die helde in die kamers van die jongmense verblyk. En die baie dwels maak die mooi helde lelik en wreed.
En dan kom die dood en die held word ‘n klompie stof.
En wanneer dit met jou held gebeur, gaan dit nie goed met jou nie. Jou hoop en verwagting word dikwels saam met daardie mens begrawe.
Luister na hierdie goeie raad.
Psalm 146:5 Dit gaan goed met die mens wat sy hulp van die God van Jakob ontvang, die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God.
DAWID
Daar was nog ‘n held in Urija se lewe. Sy buurman, Koning Dawid. Hy het hom as een van die grootste militariste van alle tye beskou.
Met ‘n beperkte weermag het hy die grootste gedeelte van die midde ooste verower. Dit is ongekend in militêre geskiedenis.
Urija het ‘n geweldige bewondering vir Dawid. Hy is gewoonlik saam met sy manne op die oorlogsfront. Dit is die eerste keer wat Dawid nie saam met hulle veg nie. Hy mis hom nogal. Waarmee sou die koning hom besig hou? Miskien met die skryf van nog ‘n psalm.
As Urija maar geweet het waarmee die koning op daardie tydstip besig was.
Urija dink aan ‘n paar van Dawid se pragtige psalms. Dis poësie van die hoogste literêre gehalte. Veral sy 23ste psalm oor die Here wat ons Herder is.
Terwyl Urija in sy offisierstent ontspan, sê hy die psalm uit sy kop uit op.
Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen wievelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil. Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf die vertroos my. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van Here bly in lengte van dae.
Die koning is ‘n mens op wie jy kan staatmaak en met jou hele hart kan vertrou.
BATSEBA
En dan is hy so dankbaar oor die eerbare, getroue vrou wat die Here hom gegee het. BATSEBA, dogter van die Sabbat!
Sal hy ooit daardie lied oor getrouheid vergeet wat sy by sy doop gesing het?
Geestelik beteken sy geweldig baie vir hom. Hy dink hoe hulle saam die Sabbatskoolstudiegids bestudeer; saam bidure en selgroepe toe gaan.
Onlangs het een van die offisiere vir Urija ’n baie hartseer verhaal kom vertel. Terwyl hulle besig was met ‘n militêveldtog teen die Filistyne het sy vrou owerspel gepleeg. Die man was verpletter. Hy het gevoel die Here het van hom vergeet.
Een van hulle kinders moes sielkundige behandeling ontvang.
Volgende keer gaan ons ontdek hoe Urija die Hettiet een van die grootste Bybelhelde word. Ons gaan ontdek hoedat hy ‘n tipe van Jesus geword het wat tot die dood toe getrou gebly het.
En mag dit wees dat sy hantering van teleurstellings vir jou en my gaan help met die hantering van ons eie teleurstellings.
Mag ons die Here toelaat om die teleurstellings van die lewe te gebruik om ons beter pleks van bitter te maak.
e-pos Navrae na questions@amazingdiscoveries.co.za