Skriftuur: 2 Samuel 11:9-11
In ons vorige studie oor die lewe van Urija die Hettiet het ons na sy eerste groot teleurstelling gekyk.
Sy vrou op wie hy al sy vertroue geplaas het, het hom teleurgestel en ‘n buite egtelike verhouding met ‘n ander man aangegaan.
Hy het die keuse gehad om bitter te word. Hy kon die kerk vir die verbrokkeling van sy huwelik blameer het. Hy kon ook die Here blameer het dat Hy so iets toegelaat het.
Die ontrouheid van ‘n lewensmaat kon vir Urija ‘n bitter mens gemaak het. Maar Urija, die Hettiet, die dapper held, die Gibbor, het besluit om die teleurstelling toe te laat om van hom ‘n beter mens te maak.
Deur die genade van die Here stap hy uit sy verskriklike teleurstelling na die paleis van die koning.
Miskien het hy gewonder of hy vir die koning van sy verskriklike teleurstelling moes vertel? Miskien het hy gewonder hoe hy homself voor die koning onder hierdie omstandighede gaan handhaaf. Kom ons lees wat gebeur het.
2 Samuel 11:7 Urija het by hom gekom, en Dawid het hom gevra hoe gaan dit met Joab en die leër, en hoe vorder die oorlog.
Met groot skynheiligheid vra Dawid kamstig vir Urija hoe die geveg op die front verloop.
“Urija, sê my. Dink jy ons kan Rabba binnekort inneem? Hoe sien jy die verset van die vyand? Is Joab tevrede met die verloop van die geveg? Is die soldate se moraal nog goed?”
Urija probeer om die koning se vrae so goed as moontlik te beantwoord. Hy probeer ook so normaal as moontlik optree. Maar hier binne in hom is daar nie net ‘n ontsettende psigiese pyn nie, hy ervaar ook fisiese steke in sy hart.
Hy kan sy mooi Batseba net nie uit sy kop kry nie. Die hele tragedie bly net ‘n onverklaarbare misterie.
Kom ons hoor wat Dawid se volgende strategie gaan wees.
Vers 8 Hierna het Dawid vir Urija gesê: “Gaan nou maar huis toe en rus ‘n bietjie.”
Urija kyk vir Dawid stip in die oë en wonder.
“Sal ek vir die koning vertel dat ek nie meer ‘n huis het nie?
Sal ek hom vertel dat Batseba, dogter van die Sabbat, die heilige eg verbreek het? Sal ek vir koning Dawid sê dat die rus waarna ek verlang, nie fisiese rus is nie, maar rus van ‘n onbedaarde pyn wat in my binneste brand.”
Dink julle Urija het die koning se bevel gehoorsaam? Nee. Dit was onmoontlik.
Verse 8,9 …Toe Urija uit die paleis gaan, het die koning ook nog ‘n geskenk agter hom aangestuur. Maar Urija wou nie huis toe gaan nie en het by die paleisdeur gaan slaap saam met die slawe van die koning.
Urija stap met ‘n pakkie onder sy arm daar weg. Hy lees die boodskap: “Met beste wense aan Urija en Batseba van Koning Dawid.”
Hy stap na die slawe toe en praat met hulle.
“Kêrels. Hierdie generaal is doodmoeg. Sal julle omgee as ek sommer hier by julle slaap?”
“Wil generaal nie liewer by generaal se eie huis gaan slaap nie? Dis mos net hier langslaan?”
“Nee wat manne. Ek slaap sommer hier by julle. Vat net hierdie pakkie vir Batseba.”
Iewers in ‘n hoekie het Urija homself opgekrul soos ‘n fetus. Hy kan net nie aan die slaap raak nie. Die hele teleurstelling voel vir hom soos ‘n nagmerrie. Hy hoop hy gaan binnekort wakker word en dan gaan dit weer die ou Batseba wees wat hy geken het.
Maar Urija het nie gedroom nie. Alles was ‘n werklike, wrede gebeurtenis.
Die slawe praat suutjies onder mekaar. Miskien het een van hulle die hele storie geken en nou vertel hy vir ander hoe hy ‘n ruk gelede gesien het hoe Batseba stilletjies die paleis besoek het.
Urija sukkel om aan die slaap te raak. Kort-kort ruk hy soos hy snik.
Kom ons hoor wat die volgende oggend in hierdie roerende Bybelse drama gebeur het.
Vers 10 Hulle het vir Dawid gaan sê: “Urija was nie huis toe nie.” Dawid vra toe vir Urija: “Jy was mos lank weg, waarom gaan jy nie huis toe nie?”
Die slawe by die paleisdeur het vir die koning gaan sê dat Urija die nag saam met hulle geslaap het.
“Koning Dawid. Ons dink daar is groot fout by generaal Urija. Ons het vir hom gesê om na sy eie huis toe te gaan, maar hy wou nie. Gedurende die nag het hy kort kort gehuil.”
‘n Benoude, bekommerde koning Dawid stuur een van sy slawe om vir Urija te gaan roep.
“Urija. Ek kan nie verstaan dat jy nie vannag in jou eie bed by jou eie vrou gaan slaap het nie? Jy was mos lank van jou vrou af weg?”
Urija moet besluit of hy bitter of beter gaan word. As hy voor die koning uitpak en van haar egbreuk vertel, gaan dit hom net bitter maak.
En Urija die dapper held besluit om nie sy vrou se skandes voor die koning uit te lap nie.
Jare later skryf Paulus oor hoe iemand hom gedra wat die liefde van die Here in sy hart koester.
1 Korintiërs 13:4-7 Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, hoop alles, verdra alles.
Inspirasie het dit goedgedink om net ‘n paar woordjies in die bybel te plaas: Urija die Hettiet, die dapper held.
Hierdie dapper held het een van die grootste oorwinnings behaal wat ‘n mens kan behaal. Hy het nie toegelaat dat die ontrouheid van ‘n lewensmaat hom bitter maak nie.
Hy het besluit om haar skandes met die kleed van sy stilswye te bedek. Urija het geweet dat hoe meer hy daaroor sou praat, hoe seerder dit hom sou maal.
Urija het geweier dat teleurstellings hom van die Here skei.
Min het Urija die Hettiet besef dat Batseba se toekomstige seun by haar tweede man die volgende woorde sou skryf:
Spreuke 17:9 Wie ‘n verkeerde optrede teenoor homself verontagsaam, soek goeie verhoudinge; wie ‘n saak bly ophaal, bring verwydering tussen vriende.
Urija die Hettiet, die dapper held, het in goeie en gesonde verhoudings belanggestel, en besluit om nie die onreg wat Batseba hom aangedoen het, met Dawid te bespreek nie.
Kom ons luister na die flou verskoning wat Urija vir Dawid gegee het toe Dawid wou weet waarom hy nie na sy vrou toe is nie.
Verse 10,11 …Dawid vra toe vir Urija: “Jy was mos lank weg, waarom gaan jy nie huis toe nie?” Sy antwoord was: “Sou ek huis toe gaan om te eet en fees te vier en by my vrou te slaap, terwyl die ark en Israel saam met Juda in hutte woon en my aanvoerder Jaob sowel as u soldate in die oop veld kamp opslaan? Dit sal ek beslis nooit doen nie.”
DOODMAAK
Die enigste uitweg uit Dawid se skandaal was om Urija dood te maak en dan met sy verwagtende vrou Batseba te trou.
Kom ons lees hoe laag Dawid nog verder geval het. En voordat ek en jy te veroordelend teenoor Dawid raak, laat ons maar gerus ons eie harte ondersoek en te kyk of daar nie ook by ons neigings tot die verkeerde is nie.
Vers 12,13 Dawid het Urija toe beveel: “Bly vandag nog hier! More stuur ek jou terug.” Urija het daardie dag en die dag daarna in Jerusalem vertoef. Toe het Dawid hom geroep en saam met hom geëet en gedrink. Hy het hom selfs dronk gemaak. Maar die aand het Urija uitgegaan om op sy gewone plek saam met die slawe van die koning te gaan slaap. Hy het nie huis toe gegaan nie.
Ek wonder hoe het Dawid dit reggekry om Urija die dapper held, dronk te maak? Wat dink u het Dawid hom tydens die partytjie aangemoedig om te doen? Om na sy vrou toe te gaan.
Na afloop van die besoek slinger Urija daar weg. Dawid hou hom dop. Sal hy na sy huis toe gaan? Nee. Hy gaan slaap maar weer tussen die slawe. In sy benewelheid hou hy nogtans kop. Die alkohol verdof nie sy intense pyn en vreeslike eensaamheid nie.
Die volgende oggend toe Urija met ‘n effense babalas gevoel wakker word, het hy begin om twee en twee bymekaar te sit.
Waarom hou die koning tot vervelens toe aan dat hy na Batseba toe moet gaan? Waarom het hy so ver gegaan om hom selfs dronk te maak om hom na sy huis te laat gaan?
DIE SKOKKENDE ONTDEKKING
Skielik dring die waarheid tot Urija deur. Dawid, die koning van Israel is die derde party.
Kan jy jouself voorstel hoe Urija die Hettiet, die dapper held, moes voel toe hy die skokkende ontdekking maak dat sy buurman, die psalmdigter, die liefling van die Israel die lae skurk is.
‘n Stem praat met hom. “Urija. Dis nie net jou vrou wat jou teleurgestel het nie, dis nou ook jou koning. Dink jy dit kan die regte kerk wees as leiers dit aan jou doen. Los hierdie spul skeinheiliges, raak verbitterd en gaan terug na die Kubaba kerk.”
Maar dan hoor die stukkende, verdwaasde Urija ‘n ander stem.
“My seun bly in hierdie waarheid al stel almal in die kerk jou teleur. Urija. Laat toe dat hierdie verskriklike teleurstelling jou ‘n beter en nie ‘n bitter mens maak nie. Urija. Bly getrou tot die dood toe en ek sal jou die kroon van die lewe gee.”
Urija is my held. Toe sy geestelike leier sy huwelik opbreek, het hy besluit om deur die genade van die Here ‘n nog beter mens te word.
Iewers vorentoe mag ‘n geestelike leier jou teleurstel. In die verlede het ek sulke mense ontmoet. Predikante het hulle huise opgebreek en op ander gebiede hulle te na gekom. Meeste van hulle het bitter pleks van beter geword.
Wat gaan jy maak wanneer die geestelike leier in wie jy vertrou het, jou gaan teleurstel? Gaan jy bitter of beter word?
DIE DOODSVONNIS
Dawid kon nie daarin slaag om Urija by sy huis en by Batseba te kry nie. Die enigste uitweg was om die onskuldige Urija om die lewe te bring. Hoe vermoor jy iemand sonder dat dit lyk of jy die moordenaar is?
Verse 14,15 Die volgende oggend het Dawid ‘n brief aan Joab geskryf en saam met Urija gestuur. In die brief het hy geskryf: “Gee tog aan Urija ‘n plek op die voorpunt waar die geveg kwaai is. Val dan terug sodat hy in die slag kan bly en sneuwel.”
Die volgende oggend maak een van die slawe vir Urija wakker waar hy tussen die paleisbediendes slaap. “Die koning roep jou.”
‘n Stukkende Urija met ‘n dubbele pyn en ‘n dubbele gevoel van teleurgesteldheid, stap na die paleis waar hy ‘n dokument van die koning ontvang.
“Urija. Ek is jammer dat jy nie van die voorreg gebruik gemaak het om hierdie paar dae by jou vrou deur te gebring het nie. Ek stuur jou terug na die front. Pas hierdie brief aan Joab goed op en maak seker dat dit veilig in sy hande beland.”
Vir oulaas kyk Urija in die oë van die skuldige Dawid. Vir oulaas kyk hy na sy eie spoghuis langs die paleis. En dan durf Urija die lang pad na Rabba toe aan.
Tydens die oordeel in duisendjaar gaan ek ‘n video oor die lewe van Urija trek. En gaan versigtig na die ondraaglike emosies kyk wat hy op die pad tussen Jerusalem en Rabba in sy hart gedra het.
Hy stap en stap en stap. Somtyds word die pad hier voor hom dof soos wat sy oë vol trane skiet. Sy liefling vrou het hom verwerp. Sy beminde koning het hom tot die dood toe geskok. Met tye ruk Urija se hele lyf van ontsteltenis.
Die bybel noem Urija die Hettiet ‘n dapper held. Hy het homself nie alleen op die fisiese slagveld van die lewe bewys nie, hy het homself ook op die geestelike slagveld van die lewe as een van die grootste helde bewys.
Toe hy al die rede gehad het om bitter te word, het Urija deur die genade van die Here beter geword.
URIJA DRA SY EIE DOODSVONNIS
Wat dink jy? Het Urija die brief wat Dawid aan Joab geskryf het, oopgemaak en gelees? Was dit nodig? Het hy geweet dat hy sy eie doodsvonnig gedra het?
Urija was besig om op ‘n dramatiese wyse die komende Messias se hantering van lyding, verwerping en uiteindelike dood te illustreer.
Johannes 5:39 Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig.
Jesus self het gesê dat die verhale van die Ou Testament op Hom betrekking het. Alles wat positief in die lewe van die karakters van die Ou Testament was, het die komende Verlosser uitgebeeld.
Ek waardeer Jesus op ‘n baie besondere wyse wanneer ek Hom in die lewens van Ou Testamentiese karakters ontdek.
Kom ons lees wat Jesus aan die twee Emmausgangers aangaande Homself en die Ou Testament gesê het.
Lukas 24:27 Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê
Daar bestaan dus ‘n baie groot moontlikheid dat Jesus Sy verwerping, lyding en dood, uit die ondervinding van Urija verduidelik het.
SY BRUID VERWERP HOM
Net soos Urija het Jesus ook Sy verhewe tuiste verlaat en vir Hom ‘n bruid, Batseba, dogter van die Sabbat, geneem. En wat gebeur? Presies wat met Urija gebeur het. Batseba, die kerk van die dag, pleeg owerspel en verwerp haar Minnaar, Jesus, die hemelse Urija en trou met iemand anders.
Soos wat Urija na Sy verwerping die doodsvonnis van Dawid, die geestelike leier van Israel ontvang het, so het Jesus ook die doodsvonnis van Kajafas, die geestelike leier van Israel ontvang.
Soos wat Dawid vir Urija na Joab gestuur het om tereggestel te word, so het Kajafas Jesus na Pilatus gestuur om tereggestel te word.
URIJA EN JOAB
Terwyl Urija met sy doodsvonnis na Joab stap, wonder hy hoe Joab gaan optree.
“Gaan my getroue leeraanvoerder in wie ek soveel vertroue het, toelaat dat Dawid se moordplan geimplimenteer word, of gaan hy reg laat geskied en my laat lewe?”
In die lig wat Batseba en Dawid gedoen het, het Urija nie baie hoop nie. Maar Urija die Hettiet, die dapper held, besluit om aan die Here tot die dood toe getrou te bly. Hy besluit om sonder voorwaarde in diens van sy Hemelse Koning te bly.
Urija kon sy doodsvonnis opgeskeur het, maar hy oorhandig dit aan Joab. Urija hou vir Joab fyn dop terwyl hy die dokument lees. Hy wonder hoe Joab gaan optree.
Die leerowerste begin praat.
“Urija. More-oggend wil ek hê jy en jou manne moet die hoofpoort van Rabba gaan aanval. Doen julle bes om die oorwinning te behaal.”
Met seer en verbasing na kyk Urija na Joab. “Wil u regtig hê ons moet die gevaarlikste poort van alle poorte gaan aanval? Dis die poort van die dood.”
Die twee mans se oë ontmoet mekaar. Die grootste oomblik van waarheid het in Urija se lewe aangebreek. Die oomblik van die dood.
Daardie nag worstel Urija. “Here, die beker wat ek moet drink, is bitter. As dit moontlik is laat hierdie beker by my verbygaan. Nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied. My vrou was ontrou teenoor my. My koning het my in die rug gesteek. Hy was kop en een mus met my bedrieglike vrou. En nou gaan Joab my doodsvonnig voltrek. More moet ek in ‘n geveg met die vyand voor die oë van almal in skande gaan sterf.
“Ag liewe Heer. Vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. Net soos wat ek U aan die begin van my lewe aangeneem en gedien het, net so wil ek u ook aan die einde van my lewe dien. Maak my getrou tot in die dood. Help my om nie bitter te sterf nie, maar beter. Amen.”
STERF ALLEEN
Die verhaal van Urija, die Hettiet, die dapper held, eindig met die volgende paar woorde:
Vers 16,17 Terwyl Joab die stad beleër, het hy Urija op ‘n plek gesit waar hy geweet het daar is dapper teenstanders. Die burgers van die stad het uitgekom en teen Joab geveg. Daar het van Dawid se soldate gesneuwel, en Urija die Hetiet het ook omgekom.”
Ek staan tussen die antieke ruïnes van Amman, die Bybelse Rabba. En in my geestesoog sien ek hom.
Hy en sy manskappe veg op die akropolis, op die heuwel, op die voorste linie. In sy hart is daar een van die ontsettendse menslike pyne wat bestaan, die pyn van totale verwerping.
Op ‘n stadium toe die geveg op sy hewigste was, het sy manskappe padgegee en hom alleen tussen die vyande agtergelaat.
Terwyl die vyand se spiese Urija se lyf inboor, roep hy uit: “Batseba waarom het jy my verlaat. “Dawid waarom het jy my verlaat. Joab waarom het jy my verlaat.”
Terwyl hy op die slagveld inmekaar sak, bid hy vir oulaas.
“Here vergewe hulle, hulle weet nie wat hulle gedoen het nie. Help my om selfs in my sterwensoomblik beter, pleks van bitter te word.”
Op die slagveld van Rabba het ‘n miniatuur voorstelling van Jesus se totale verwerping op Golgota afgespeel. Ek en jy word ook geroep om in ons totale verwerping net soos Uriah en Jesus, beter pleks van bitter te raak.
Inspirasie het dit goed gedink om vir ons drie woordjies in 2 Samuel 23:38 te gee: “Urija, die Hetiet.”
e-pos Navrae na questions@amazingdiscoveries.co.za