~ EN ELKEEN HET GEDOEN WAT REG IS IN SY EIE OЁ
Rigters 19:1-30
Rig 19:1 Toe die volgende gebeurtenis plaasgevind het, was daar nog nie ‘n koning in Israel nie. Daar was ‘n Leviet wat as vreemdeling gewoon het in die uithoeke van die Efraimsberge. Hy het vir hom ‘n byvrou gevat uit Betlehem in Juda…
29 Maar toe hy in sy huis kom, het hy ‘n mes geneem en sy byvrou gegryp en haar stukkend gesny volgens haar gebeente in twaalf stukke en dit in die hele grondgebied van Israel rondgestuur.
William Wallace was Skotse ridder in die Middeleeue waarop die film Braveheart gebaseer is. Wallace was bekend vir sy dapperheid en leierskap in die stryd teen Engelse onderdrukking, tydens die heerskappy van koning Edward I, in die laat 13de eeu. Sy moedige optrede by die slag van Stirling Bridge in 1297 maak hom ‘n simbool van vryheid. Koning Edward wen die Slag van Falkirk op 1 April 1298 waarna Wallace na die berge vlug om sy stryd voort te sit. William Wallace is deur een van sy mede-ridders aan die Engelse uitgelewer en is gruwelik tereggestel in 1305. Sy liggaam is in stukke opgekap en sy kop is op ‘n spies in London uitgestal as ‘n waarskuwing aan enige Skot wat sou rebelleer. Sy nalatenskap leef steeds voort in die hart van elke Skot en in die woorde van die pragtige lied “Flower of Scotland”.
In die tyd van die rigters lees ons van ‘n soortgelyke grusame verhaal. Vier keer in die boek van Rigters word genoem dat die mense nie ‘n koning gehad het nie en elkeen het net gedoen het soos hulle wou (17:6; 21:25; 18:1 & 19:1). Die Here self was hulle Koning, maar die volk het afvallig geword en nie Sy gebooie en voorskrifte nagekom nie. Elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë, en daarom het dinge in chaos verval. Dit lyk nie of die dinge vreeslik beter gegaan het onder bewind van ‘n koning nie.
KONING SAUL:
Saul as eerste koning van Israel het ook nie volgens die Here se voorskrifte gewandel nie. Die gevolge van sy ongehoorsaamheid het verreikende gevolge gehad. Dit het daartoe gelei dat vyf van sy kleinseuns en twee van sy seuns, wat hy by sy byvrou Rispa gehad het, deur die Gibeoniete tereggestel is.
Verder het Saul se ongehoorsaamheid later in die geskiedenis, in die tyd van koningin Ester, amper gelei tot die uitwissing van Israel deur die bose Agagiet, Haman.
Saul was uit Gibea, in die gebied van Benjamin afkomstig.
In hierdie studie gaan ons kyk na die stad Gibea en die tersaaklike Bybelse gebeure wat daar plaasgevind het, die invloed wat hierdie gebeure op Israel gehad het, asook die salwing van Saul as die eerste koning van Israel.
Verder gaan ons ook fokus op die herkoms van die Benjamiete, wie hulle was, en hoe hulle geskiedenis in die Skrif ontvou het, insluitend hul rol in belangrike gebeure soos die uitbreek van die burgeroorlog.
SAUL AS KONING GESALF:
Saul was twee keer tot koning gesalf. Die eerste keer was dit ‘n private salwing soos ons lees in 1 Sam 10:
1Sam 10:1 En Samuel het die kruik met olie geneem en dit op sy hoof uitgegiet en hom gesoen en gesê: Het die HERE jou nie gesalf as vors oor sy erfdeel nie?
In die volgende hoofstuk lees ons van sy publieke salwing in Gilgal. Kom ons kyk na die gebeure wat dit voorafgaan. Die begin van Saul se koningskap was egter meer belowend soos dit opgeteken is in 1 Samuel 11.
Die Ammonitiese koning, Nagas, het Jabes in Gilead beleër. Die inwoners het probeer om ‘n verbond met hom te sluit. Nagas het egter geantwoord dat hy slegs bereid sou wees om ‘n verbond te sluit op die voorwaarde dat hy elke persoon se regteroog sou uitsteek.
Die leiers van Jabes het Nagas versoek om vir hulle ‘n grasietyd van sewe dae te gee. In hierdie tyd het hulle die res van Israel vir hulp genader. Toe Saul hoor van koning Nagas se bedreiging het hy kwaad geword. Ons lees as volg:
1Sam 11:5 Toe kom Saul juis aan agter die beeste van die veld af, en Saul sê: Wat is dit met die volk, dat hulle ween? En hulle vertel hom die woorde van die manne van Jabes.
6 En die Gees van God het oor Saul vaardig geword terwyl hy dié woorde hoor, en hy het baie kwaad geword.
7 En hy het ‘n paar beeste geneem en hulle stukkend gesny en met boodskappers deur die hele gebied van Israel gestuur om te sê: Wie nie agter Saul en agter Samuel aan uittrek nie—so sal met sy beeste gedoen word. Toe val die skrik van die HERE op die volk en hulle trek soos een man uit.
Die naam Nagas [נָחָש] in Hebreeus beteken “slang” of “die blinkende een”. Dit herinner ons dadelik aan Satan in Eden. Soos koning Nagas almal se regteroë wou uitsteek sou hy die inwoners van Jabes almal sy slawe maak.
*** Satan wil ook van ons sy slawe maak en ons van geestelike visie ontneem. As die slang van ouds sê hy aan Eva:
Gen 3:5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.
Satan se taktiek het nog nooit verander nie. Hy wil ons afhanklik, hulpeloos en geestelik blind laat. Ons vermoë om die waarheid te onderskei word verdraai en vernietig. Hy laat ons in vrees en verwarring, presies soos die mense van Jabes.
SAUL:
Soos Saul die inwoners van Jabes uit die slawerny van Nagas bevry het, het Jesus die mensdom uit Satan se slawerny bevry.
Die beeld waar Saul die span osse in stukke opsny herinner ons aan die Ou Testamentiese offers en die verbond wat deur bloed verseël is.
Volgens Jeremia 34:18 lees ons dat die een wat die verbond breek, dieselfde uiteinde sal hê as die kalf:
Jer 34:18 En Ek sal die manne wat my verbond oortree het, wat die woorde van die verbond nie gehou het wat hulle voor my aangesig gesluit het nie, maak soos die kalf wat hulle in twee stukke gesny het en tussen die stukke waarvan hulle deurgegaan het:
Hiervolgens sou die verbreking van die verbond tot die volk se dood lei. Romeine 6:23 stel dit so duidelik:
“Die loon van die sonde is die dood.”
*** Soos die Israeliete in die tyd van Saul, staan ons ook vandag voor ‘n keuse: sal ons oorgee aan die dreigemente van Satan of sal ons op die Here vertrou om ons te help?
Ons lees in:
1 Sam 11:7 … Wie nie agter Saul en agter Samuel aan uittrek nie—so sal met sy beeste gedoen word. Toe val die skrik van die HERE op die volk en hulle trek soos een man uit.
Na die oorwinning van Nagas is Saul se koningskap publiek bevestig:
1 Sam 11:15 En die hele volk het na Gilgal getrek en daar Saul voor die aangesig van die HERE in Gilgal koning gemaak; en hulle het daar dankoffers voor die aangesig van die HERE geslag, en Saul met al die manne van Israel was daar uitermate vrolik.
Eskatologies lees ons:
Open 19:6-7: En ek het iets gehoor soos die stem van ‘n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar. 7 Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.
Hierdie vers beeld die finale oorwinning en die bruilofsfees van die Lam uit, wanneer Jesus as Koning oor die hele skepping kom regeer, soortgelyk aan Saul se bevestiging as koning in Gilgal waar almal vrolik was en fees gevier het. Saul was ‘n tipe Jesus. Net soos Saul oorwin het teen die vyande van Israel, het Jesus op Golgota Satan oorwin. Hy kom terug om as te kom haal en ewig as Koning van die heelal te heers. Gibea, in die land van Bejamin, die plek vanwaar Saul kom is waar die gebeure van Rigters 19 afspeel.
BENJAMIETE:
Benjamin was die jongste seun van Jakob en sy geliefde Ragel. Ragel het naby Betlehem, Efrat gesterf toe sy hom gebaar het. Ragel noem haar seun aanvanklik Benoni, “seun van my smarte”, maar Jakob het sy naam na Benjamin verander, wat “seun van my regterhand” beteken – ‘n simbool van eer en krag.
In Joshua 18 kry ons ‘n beskrywing van die Benjamiete se grondgebied. Dit was relatief klein, maar bergryk en vrugbaar. Dit het van Efraim in die noorde tot Juda in die suide gestrek. Benjamin het ‘n strategiese ligging gehad tussen die groter stamme van Israel gehad. Die gebied van Benjamin het groot handels- en reisroetes ingesluit, veral die pad na Jerusalem, het deur hierdie gebied geloop.
Die Benjamiete was dapper en strydlustig en bekend vir hul militêre vaardigheid, veral as skerpskutters met slingerstene.
Rig 20:16 Uit al hierdie manskappe was daar sewe honderd uitgesoekte manne wat links was; hulle almal het met ‘n klip op ‘n haar geslinger sonder om te mis.
Die rigter Ehud was ook ‘n linkerhandige Benjamiet, volgens Rigters 3:15 wat Eglon, die koning van die Moabiete vermoor het.
Rig 3:21 steek Ehud sy linkerhand uit en gryp die swaard van sy regterheup af en steek dit in sy buik, 22 sodat selfs die hef agter die lem ingedring het en die vet, want hy het die swaard nie uit sy buik uitgetrek nie, om die lem toegesluit en by die wond uitgepuil het.
GIBEA: DIE LEVIET EN SY BYVROU
In Rigters 19 lees ons van die verhaal van die Leviet en sy byvrou wat afspeel in Gibea, die gebied van die Benjamiete.
Dit is dalk nodig om te noem dat hierdie verhaal nie chronologies aan die einde van die rigters afspeel soos dit in die Skrif opgeteken is nie. Rigters 20:28 maak melding van Pinehas as hoëpriester. Hy was die kleinseun van Aäron.
Rig 20:28 en Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van Aäron, het in dié dae voor Hom gedien…
Dit plaas die gebeure van Rigters 19-21 vroeër in tyd, waarskynlik kort ná die dood van Josua, toe Pinehas nog geleef het, moontlik in die tydperk van Othniël. Die boek van Rigters is dus nie volgens die chronologiese gebeure geskryf nie. Othniël is opgevolg deur Ehud, ‘n Benjamitiese rigter wat die langste tyd van al die rigters oor Israel geheers het.
Volgens Rigters 19 was die Leviet en sy byvrou op pad van Bethlehem in Juda terug na sy huis in die Efraimsberge, deur die grondgebied van die Benjamiete. Teen skemeraand het hulle by die stad Gibea in die gebied van Benjamin aangekom. Omdat dit gevaarlik was om buite te oornag, het hulle in die dorpsplein gewag vir iemand om hulle in sy huis te neem.
‘n Ouer man, wat ook van Efraim afkomstig was het hulle daar ontmoet en vra:
Rig 19:17 … Waar gaan u heen, en waar kom u vandaan?
Hierdie is dieselfde woorde wat die Engel vir Hagar, Abraham se byvrou gevra het:
Gen 16:8 en gevra: Hagar, slavin van Sarai, waar kom jy vandaan, en waar gaan jy heen? En sy antwoord: Ek vlug van my meesteres Sarai af weg.
Net soos die Leviet se byvrou ook weggeloop het, het Hagar ook weggeloop.
In die antieke tye was byvroue baie algemeen, maar sy het nie dieselfde regte as die wettige vrou geniet nie. Hulle was dus minderwaardig en het gewoonlik ‘n slawestatus beklee. Hulle was soms ook baie swak behandel en het dan weg geloop.
*** Het ons dalk al weg geloop omdat ons stief behandel is? Hierdie woorde word ook aan ons gerig om ons uit te daag of ons dalk kan vergewe en weer probeer.
Op hierdie woorde, Waar gaan u heen, en waar kom u vandaan?, het die Leviet die ou man geantwoord dat hulle reis vanaf Betlehem-Juda tot agter in die gebergte van Efraim. Die ou man het hulle huis toe geneem waarna hulle geëet het en reg gemaak het om die aand daar te slaap. Volgens Rigters 19:22 lees ons as volg:
Rig 19:22 Terwyl hulle hul hart vrolik maak, omsingel die manne van die stad, slegte manne, meteens die huis en klop hard aan die deur; en hulle spreek met die ou man, die eienaar van die huis, en sê: Bring die man uit wat in jou huis ingekom het, dat ons hom kan beken.
‘n Vrolike oomblik van gasvryheid word vinning verander in ‘n nagmerrie toe die bose manne van Gibea hul wrede bedoelings kommunikeer. Die gasheer bied sy dogter aan, maar die Leviet het sy byvrou aan die manne gegee wat haar die hele nag mishandel het en sy die volgende oggend gesterf het met haar hande op die dumpel van die deur.
Die drumpel, ’n plek van oorgang, word ’n simbool van haar hoop op redding wat nooit vervul word nie. Hierdie beeld van ’n weerlose vrou op die drumpel kan gesien word as ’n metafoor vir Israel se geestelike toestand. Die volk wat geroep was om die Here se karakter te weerspieël, het in daardie tyd so ver afgedwaal dat selfs gasvryheid, geregtigheid en beskerming van die weerloses verdwyn het..
Hy het haar op sy donkie getel en by sy huis haar liggaam in twaalf stukke gekap en na die twaalf stamme van Israel gestuur.
Uiteindelik het hierdie gruwelike gebeure op ‘n verwoestende burgeroorlog uitgeloop waar die volk die reg in eie hande geneem het.
Dit is baie interessant om daarop te let dat toe Moses aanvanklik die stam van Benjamin geseën het, het hy die volgende woorde voorwaardelik oor die Benjamiete uitspreek:
Deut 33:12 Oor Benjamin het Moses gesê: “Wie deur die Here bemin word, is veilig by Hom, skuil altyd by Hom en leef onder sy beskerming.”
Die seëning is egter teenstrydig met die gebeure in Rigters 19, siende dat die Benjamiete elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.
PARALELLE MET SODOM EN GOMORRA:
Die geskiedenis het die neiging om homself te herhaal, en in Gibea het dieselfde skokkende gebeure afgespeel as in antieke Sodom en Gomorra. Uiteindelik lei die morele verval van die stede tot die vernietiging van die stede. Baie interessante parallelle kan geïdentifiseer word:
- In beide gevalle het die reisigers teen skemeraand by die stadspoort aangekom.
- Lot in Sodom, en die ou man in Gibea was vreemdelinge in die stede waarin hulle gewoon het.
- Tog was hulle was gasvry en het die reisigers die aand gehuisves, waar hulle saam geëet het.
- In albei verhale het die manne van die stad om die huis saamgedrom en geëis dat die besoekende man(s) na buite gebring word om hulle te beken.
- Beide Lot en die ou man het die inwoners van die onderskeie stede probeer ontmoedig en hulle dogter(s) aangebied om die sondige begeertes van die skare te bevredig.
- Ongelukkig wou die inwoners nie na rede luister nie.
- Uiteindelik het die openlike promiskuïteit tot oordeel, die totale vernietiging van die stede, gelei.
- Gíbea, Sodom en Gomorra is vernietig en het in vlamme opgegaan, waarvan net die pui en as oorgebly het as herinnering aan hulle sonde.
- Na die uitwissing van die stede was daar in beide gevalle vreemde planne, buite die Here se voorskrifte gemaak, om die inwoners van totale uitwissing te red. Ons ken die verhaal van Lot se twee dogters wat hom dronk gemaak het en elkeen ‘n kind by hom gebaar het, Moab en Ammn. Op ‘n soortgelyke wyse lees ons die verhaal in Rigters 20 en 21 toe die Benjamiete feitlik uitgewis is en Israel se absurde planne om die stam se voortbestaan te verseker.
Die morele verval het ‘n blywende simbool van Israel se boosheid en sonde geword het:
Hos 9:9 Hulle het baie, baie verkeerd gehandel soos in die dae van Gíbea. Hy sal dink aan hulle ongeregtigheid, besoeking doen oor hulle sondes.
Dit het ‘n groot skok deur Israel veroorsaak en het die morele verval van die tyd beklemtoon.
Rig 17:6 In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë.
Volgens die eerste verse in die hoofstuk was hierdie byvrou ontrou aan haar man en moes sy gestenig word volgens Levitikus 20:10. Die Leviet het haar vergewe, maar haar sonde het haar ingehaal toe die mans van Gibea haar misbruik het. Haar aanvanklike sonde, wellus, was ook uiteindelik die rede vir haar dood. Hoe hartseer haar uiteinde.
*** Die mens kan nie net doen soos hyself goeddink nie. Ons het ‘n koning, Jesus, wat wel die standaard stel. Elkeen van ons word ook steeds gewaarsku deur die woorde soos opgeteken in die Skrif.
2 Pet 2:6: Die stede Sodom en Gomorra het Hy tot verwoesting veroordeel en tot as verbrand, en met hierdie voorbeeld het Hy getoon wat oor die goddelose mense gaan kom.
DIE BENJAMIETE WORD UITGEWIS
Ons merk hier ook ‘n parallel tussen die Leviet se optrede en Saul wat die span osse in stukke opkap het en na Israel stuur om die volk tot aksie op te roep. Dit is ironies dat albei insidente in Gibea, die land van die Benjamiete afspeel. Beide hierdie optredes het Israel deur vrees tot aksie gemotiveer.
Die uiteinde van die Leviet se byvrou was dat die volk die reg in eie hande geneem het, “elkeen het gedoen wat reg was in sy oë”. Die hele Israel, met uitsondering van Jabes-Gilad, het teen die Benjamiete geveg. Dit was nooit die Here se doel dat Israel teen hulle broers moes oorlog maak nie. Die stam is feitlik uitgewis, met net 600 oorlewendes wat na Rimmon gevlug het.
*** Hoe hanteer ons krisisse? Raadpleeg ons die Here of doen ons wat reg is in ons eie oë?
Later het Israel berou gehad dat hulle Benjamin uitgeroei het, soos ons lees in:
Rig 21:6 Toe het die kinders van Israel hulle broer Benjamin jammer gekry en gesê: Daar is vandag een stam uit Israel afgesny. 7 Wat kan ons doen vir hulle wat oorgebly het, wat vroue aanbetref? Want ons het by die HERE gesweer dat ons nie van ons dogters aan hulle as vroue sal gee nie.
In ‘n poging om die stam van Benjamin te red neem die Israeliete weer die reg in eie hande, en elkeen doen weer wat reg is in hul eie oë.
DIE INWONERS VAN JABES-GILEAD WORD UITGEWIS:
Verdere onskuldige bloed word vergiet het en Israel moor ook die inwoners van Jabes-Gilead uit, behalwe vir 400 maagde wat gegee was aan die oorlewende Benjamiete om mee te trou.
Hierdie gewelddadige optrede het die morele verval van die volk verder blootgelê, aangesien “elkeen het gedoen wat reg was in sy oë”, eerder as om die Here te raadpleeg.
Steeds was daar nie genoeg vroue vir al die Benjamiete nie. Die Israeliete het ‘n verdere plan beraam. Hulle het die 200 Benjamiete wat nog vrouens kort gesê om na Silo te gaan, waar ‘n jaarlikse fees vir die Here gevier is. Tydens hierdie fees het die jong dogters van Silo tradisioneel uitgegaan om te dans. Die Benjamiete moes hulself in die wingerde versteek en, wanneer die meisies uitkom om te dans, kon die Benjamiete een van die dogters gryp en haar as vrou neem. So kon die Benjamiete vroue kry sonder dat hulle direk teen die eed gesondig het wat die Israeliete afgelê het. “Want ons het by die HERE gesweer dat ons nie van ons dogters aan hulle as vroue sal gee nie.
Saul, as ‘n Benjamiet, help ons dalk nou om sy besondere verhouding met die inwoners van Jabes-Gilead beter te verstaan. Ons kan sy sentimente duideliker begryp. Die slagting van beide die Benjamiete en die inwoners van Jabes-Gilead was uiteindelik die gevolg van die oorspronklike boosheid, waar die Leviet sy byvrou in stukke gesny het weens die skandelike optrede van die manne van Gibea. Miskien was Saul se voorsate ook van Jabes-Gilead afkomstig. Interessant genoeg sien ons ook dat na Saul en sy seuns se dood, dit die mense van Jabes-Gilead was wat hulle lyke in Bet-San gaan haal het. Saul se verhaal eindig ook tragies, omdat hy ook net gedoen het wat reg was in sy eie oë.
As ons die verhaal van die Leviet en sy byvrou lees lyk dit op die oog af net soos ’n gruwelike gebeurtenis, maar by nadere ondersoek ontdek ons dat vol simboliek en dieper parallelle is.
VEDERE SIMBOLIEK:
Efraim: Die Leviet was afkomstig uit die bergland van Efraim en hy sê aan die ou man in Gibea dat hy op pad is om te offer by Silo, wat ook in die grondgebied van Efraim lê. Die tempel was in die tyd van die rigters in Silo. Dit laat ons wonder of hierdie Leviet moontlik ’n priester was, aangesien Efraim simbolies is van die Here se woning. Die Leviet kan as ‘n tipe Jesus gesien kan word. Soos Jesus gesê het:
Matteus 12:6: En Ek sê vir julle: Een wat groter is as die tempel, is hier.
Dit wys op die groter geestelike betekenis van die Leviet se rol, wat ’n vooruitskouing kan wees van Christus, wat die ware offer bring.
Heb 9:11 Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, 12 ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.
Betlehem: Hier kry Betlehem ‘n besondere simboliese betekenis. Betlehem, wat “Huis van Brood” beteken, is nie net die plek waar die Leviet sy byvrou gaan haal nie, maar ook die plek waar Jesus later gebore sou word. Vanuit ‘n eskatologiese perspektief is Betlehem dus ’n plek van verlossing en ’n nuwe begin. Soos die Leviet sy ontroue byvrou vergeef en haar gaan haal, het Jesus sy kerk, sy afvallige byvrou, vergewe en gaan haal, deurdat Hy as mens gebore is in Betlehem om vir ons sondes te kom sterf.
Daar is verskeie beelde van die ontroue vrou in die Skrif, onder meer dink ons aan die profeet Hosea se prostituutvrou, Gomer wat hy moes gaan haal en weer liefhê, net soos Christus ook ons, sy kerk, liefhet.
Efe 5:25 Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het
Betlehem, Efrat is ook waar Ragel gesterf het toe Benjamin gebore is volgens Genesis 35:19. Betlehem was dus ook die begin van die Benjamiete. Vanuit Betlehem sou die Leviet na Gibea, stad van die Benjamiete reis wat uiteindelik sy byvrou se dood sou beteken.
Die Leviet het sy byvrou vergewe, maar haar nie gevrywaar van die oordeel van haar sonde nie. Al is daar nie ‘n koning in die land nie en elkeen doen wat reg is in sy eie oë, sal die Here toelaat dat reg en geregtigheid geskied.
Hoewel die bedoeling van die Leviet was om die byvrou terug te neem na Efraim en hulle sou aan die Here ‘n offer bring, het die genadedeur vir haar gesluit en alvorens sy haar saak kon regmaak het sy gesterf. Ons sien die waarskuwings in die tekens van die tye. Laat ons nie soos die byvrou wees en aanhou sondig nie.
As kerk, die byvrou, moet ons ook vir onsself dieselfde vraag as Hagar beantwoord: Wie is jy en waarheen is jy op pad?
In Openbaring lees ons die eskatologiese weergawe van Sodom en Gomorra, die Rigters 19 verhaal:
Open 20:7 En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word;
8 en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. 9 En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.
*** Ons Leviet en Hoëpriester, Jesus, tree self vir ons in en sal nie toelaat dat hierdie gruwelike gebeure herhaal word aan die einde van tyd nie. Hy sal ons nie oorgee in die hande van die sondige skare as ons ons sondes bely en ons bekeer van ons ontrouheid aan Hom nie.
Die verhaal van Gibea is ’n ernstige geestelike waarskuwing. Wanneer ’n mens aanhou sondig en nie meer na die Here luister nie, raak die gewete stil en vervaag die onderskeid tussen reg en verkeerd. Ons moet waak dat ons nie so verval nie—dat dit nie ook van ons gesê word soos in daardie dae nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë.
Dr Saartjie Eksteen