“ Toe koning Dawid oud en ver op sy dae was, het hulle hom met komberse toegemaak, maar hy kon nie warm word nie. En sy dienaars sê aan hom: Laat hulle vir my heer die koning ‘n jongmeisie soek, dat sy voor die koning kan staan en vir hom ‘n verpleegster wees en in u skoot lê; dan sal my heer die koning warm word. Hulle het toe in die hele grondgebied van Israel ‘n mooi meisie gesoek en Abísag, die Sunamitiese, gevind en haar by die koning gebring. En die meisie was besonder mooi, en sy was vir die koning ‘n verpleegster en het hom bedien; maar die koning het geen gemeenskap met haar gehad nie. ” — 1 Konings 1:1-4
Die Bybel gebruik dikwels die beeld van ’n vrou om die kerk van die Here voor te stel, met Christus as die Bruidegom en Sy gemeente as die bruid. Daarom is dit nodig om te vra: Hoe moet hierdie bruid lyk?
Volgens 1 Samuel 16:7 sê die Here vir Samuel:
“Kyk nie na sy voorkoms of na sy hoë gestalte nie, want Ek het hom verwerp. Want nie wat die mens sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan.”
Die Here kyk na die toestand van die mens se hart. Sy bruid moet rein en heilig wees, “sonder vlek of rimpel” (Efesiërs 5:27), geheilig, afgesonder vir Hom alleen. Soos ’n aardse bruid haar voorberei vir die dag wanneer sy haar bruidegom ontmoet, word die kerk geroep om gereed te wees vir die wederkoms van Christus.
In hierdie lig word die beeldskone Abisag ook gesien as ’n tipe van die bruid van die Here. Die Bybel noem spesifiek haar reinheid, deurdat Dawid het geen intieme verhouding met haar gehad het nie. So is die ware bruid van Christus ook ’n volk wat nie kompromieë met die wêreld aangaan nie, hulle is rein in hulle aanbidding en dien hom heilig en toegewyd. Soos Abisag warmte en liefde bring, is die kerk as bruid geroep om liefde en vertroosting na ’n gebroke wêreld te bring.
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” — Matteus 11:28
“Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.” — Psalm 34:19
Hierdie mooi, jong maagd uit Sunem, is spesifiek gekies en na koning Dawid gebring om hom in sy swakheid te dien en versorg.
Sommige kommentare verbind ook Abisag uit Sunem met die Sulammitiese bruid van Hooglied. Volgens Eusebius kan “Sunem” en “Sulem” as verskillende name vir die dieselfde plek beskou word. Beide Abisag en die Sulammitiese bruid staan in ‘n besondere verhouding met die koning. Kon dit dalk wees dat Salomo haar as bruid geneem het na Dawid se dood?
Sunem is geleë in die gebied van Issaskar. Abisag se herkoms uit hierdie stam is ook relevant. In 1 Kronieke 12:32 word die mense van Issaskar beskryf as “die mense wat die tekens van die tye verstaan het en geweet het wat Israel te doen staan”. Daarom word Issaskar verbind met geestelike onderskeiding en insig wat die tekens en tye kon verstaan, nie net die blote kennis van gebeure nie, maar ook die nodige wysheid om dit reg te interpreteer en die toepaslik raad en te gee.
So moet die ware bruid, die kerk, ook oor die nodige wysheid en onderskeiding beskik om leiding te gee. Jesus self het gesê dat mense die uiterlike tekens van die weer kan lees, maar nie die geestelike tekens van die tyd kan verstaan nie:
“Julle kan die voorkoms van die hemel onderskei, maar julle kan nie die tekens van die tye onderskei nie?” — Matteus 16:3
So word die kerk vandag geroep om soos die stam van Issaskar te wees, mense met geestelike insig vir die eindtyd. Hulle is diegene wat die Skrif verstaan, profesieë reg lees en die moed het om volgens daardie insig op te tree. Hulle is nie bloot toeskouers nie, maar toegewyde volgelinge van Jesus wat, te midde van groot misleiding en verwarring, duidelik die regte pad kan aanwys.
Haar naam, Abisag, beteken “My vader dwaal” of “Vader van afdwaling”. Die Here neem wat gebroke is en gebruik dit in Sy heilige diens.
Dit is in hierdie tyd van Dawid se bejaardheid en die oorgang van die koninkryk dat Abisag na die paleis gebring word.
KONING DAWID:
Dawid word hier uitgebeeld as ’n bejaarde koning wie se liggaamlike krag besig was om te kwyn, terwyl Israel terselfdertyd voorberei het vir die oordrag van die troon na sy opvolger.
“Toe koning Dawid oud en ver op sy dae was, het hulle hom met komberse toegemaak, maar hy kon nie warm word nie. En sy dienaars sê aan hom: Laat hulle vir my heer die koning ’n jongmeisie soek, dat sy voor die koning kan staan en vir hom ’n verpleegster wees en in u skoot lê; dan sal my heer die koning warm word.” — 1 Konings 1:1–2
Binne hierdie konteks kan Dawid tipologies verstaan word as ’n beeld van ’n bedeling wat besig is om te eindig en plek maak vir die nuwe koningskap. Sy liggaamlike swakheid en die feit dat hy nie warm kon word nie, kan moontlik as die beperking van ’n stelsel wat nie self lewe kon gee nie, maar slegs kon vooruit wys.
“As Hy sê ‘n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning.” — Hebreërs 8:13
Hierdie vers noem dat die aardse tabernakel en seremoniële wette en offersisteem net ‘n skadu was van die hemelse realiteit. Dit was slegs ‘n vooruitskouing na Jesus se bediening in die hemelse heiligdom. Die uitdrukking “oud gemaak” dui nie op ’n verandering in die Here se morele wette nie, maar op die vervulling daarvan deur Christus se kruisoffer wat ons verlos en Sy bediening as priester wat ons met die Vader versoen.
Soos Dawid se koningskap oorgaan na Salomo, beweeg die verlossingsplan van ’n skadu na ’n meer volmaakte openbaring van koningskap en vrede, wat uiteindelik in Christus sy volle vervulling vind, soos as volg gelees kan word:
“Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet.” — Romeine 3:31
SALOMO AS DIE TROONOPVOLGER:
Salomo word binne hierdie studie gesien as ’n beeld van ’n nuwe bedeling van vrede, wysheid en vervulling. As tipe van Jesus verskyn hy veral as die koning van vrede, die bouer van die tempel en die erfgenaam van Dawid se troon. Anders as Dawid, wie se veertigjarige regering grootliks deur bloedvergieting en stryd gekenmerk is, het Salomo gedurende ’n tyd van vrede, politieke stabiliteit en ekonomiese voorspoed regeer. Sy naam kom van die Hebreeuse woord shalom, wat “vrede” beteken.
Gedurende sy regering is die tempel in Jerusalem opgerig as ’n vaste woonplek vir die Here se Naam onder Sy volk. Volgens 1 Konings 11:42 het Salomo veertig jaar lank in Jerusalem oor Israel geregeer. Die Skrif beskryf hierdie tyd as een van veiligheid en oorvloed:
Die Bybel beskryf dit as volg: “20 Juda en Israel was talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte; hulle het geëet en gedrink en was bly. …25 Juda en Israel veilig gewoon het, elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, van Dan tot Berséba, al die dae van Salomo.” — 1 Konings 4:20,25
Onder sy bewind het Israel ’n invloedryke koninkryk geword met sterk handelsbetrekkinge en groot aansien onder die nasies. Sy wysheid en rykdom het mense van oral gelok. Tog toon sy lewe ook die swakheid van die mens en die onvolmaaktheid van aardse konings. Daarom wys sy regering ook vooruit na die volmaakte Koning en die vervulling van die nuwe verbond in Christus.
Terwyl Salomo se koningskap gevestig word, word Abisag weer in die verhaal ingesluit wanneer Adonia versoek om met haar te trou.
ADONIA: Adonia, Dawid se vierde seun, was die seun van Haggit en die jonger broer van Absalom. In die Skrif word hy beskryf as ’n aantreklike en invloedryke prins in Dawid se koningshuis.
Sy naam beteken “die Here is my Heer” of “my Here is Jahweh”, maar sy lewe en optrede het nie hierdie betekenis weerspieël nie. Soos in die patroon van broederlike spanning wat ons reeds in die Skrif sien tussen Kain en Abel, en Jakob en Esau, ontstaan daar weer ’n konflik oor posisie, erfreg en heerskappy.
Toe Dawid oud en swak geword het, het Adonia begin optree asof hy reeds koning was. Hy het vir hom strydwaens, ruiters en vyftig manne aangestel om voor hom uit te hardloop — ’n openbare vertoon van koninklike aanspraak, nog voordat Dawid hom amptelik as opvolger aangewys het. Ná die dood van sy ouer broers, Amnon en Absalom, het Adonia homself as die natuurlike troonopvolger beskou en openlik sy aanspraak op die koningskap gemaak. Soos sy broer Absalom voor hom, het hy probeer om die troon vir homself te neem.
In wese sien ons dus hoe beide broers die koningskap probeer toe-eien nog voordat die Here se aanwysing deur Dawid bevestig is. Hy het die steun gekry van twee invloedryke manne: Joab, die leërhoof, en Abjatar, die priester uit die geslag van Eli. Joab was ’n ervare en magtige militêre leier wat baie jare lank getrou aan Dawid se sy geveg het, maar hy was ook bekend vir sy bloedvergieting en sy eie selfsugtige ambisies.
Hy was onder meer verantwoordelik vir die dood van Absalom. Abjatar het Adonia waarskynlik ondersteun uit vrees vir sy eie posisie en politieke oorlewing, eerder as om die Here se wil te volg.
Adonia het toe ’n groot koningsfees by die Sogeletrots (slangklip) langs En-Rogelfontein, (Vollerfontein of die Wolwassersfontein) gereël. Hy het skape, beeste en vetgemaakte kalwers geslag en baie mense uitgenooi om sy kroning te vier. Al sy ondersteuners, waaronder Joab en Abjatar, was daar, maar hy het doelbewus nie vir Salomo, die profeet Natan en Benaja, die leier van Dawid se lyfwag, genooi nie.
Terwyl Adonia nog uitbundig feesvier het by die Slangklip, het Natan die profeet en Batseba Dawid ingelig. Die koning het dadelik opdrag gegee dat Salomo by die Gihonfontein gesalf moet word. Salomo is daar, by Jerusalem se lewensgewende fontein, as koning van Israel gesalf en gekroon. Terwyl Adonia by die Slangklip ’n vals kroning probeer vier het, het die Here se keuse by die fontein van seën en lewe plaasgevind.
In ’n oomblik het die vrolike atmosfeer van Adonia se fees in skok en vrees verander. Die musiek het gestop, en al die gaste het haastig en verward gevlug toe die boodskap deurkom dat Salomo reeds koning is. Die hele sameswering het skielik ineengestort.
Adonia self het na die altaar gevlug en die horings daarvan vasgegryp in ’n desperate poging tot genade en beskerming. Hoewel sy lewe gespaar is, het hy nie sy ambisie om koning te word laat vaar nie.
Later het Adonia probeer om die troon te usurpeer deur die hand van Abisag, die pragtige Sunamitiese vrou wat Dawid in sy laaste dae versorg het, te vra. In die antieke Nabye Ooste is so ’n versoek as ’n ernstige politieke daad beskou. Om aanspraak te maak op enige vrou uit die harem, was ’n direkte eis op die troon. Adonia het Absalom se voorbeeld gevolg, wat ook vroeër Dawid se byvroue geneem het om sy koningskap te bevestig. Hierdie daad het uiteindelik sy einde beteken. Salomo het dit as verraad beskou en Adonia is tereggestel. So het sy onversadigbare ambisie uiteindelik sy lewe gekos.
In Adonia sien ons ‘n tipe van die Antichris, die klein horinkie mag soos dit in Daniël 7 en 8 beskryf word.
Adonia verhef homself sonder aanstelling. Terwyl Dawid nog geleef het, het hy openlik verklaar: “Ek sal koning word” (1 Konings 1:5). Hierdie daad van selfverheffing stem ooreen met die klein horinkie wat “groot woorde spreek” en homself bo die Here verhef.
Adonia was Dawid se vierde seun, net soos die vierde koninkryk wat in Daniël 2 en 7 beskryf word as ’n magtige Romeinse wêreldryk, waaruit die klein horinkie mag voortgekom het.
Hy het steun verkry van Joab (militêre mag) en Abjatar (godsdienstige gesag). Hier sien ons reeds die vermenging van kerk en staat, presies soos die Antichris stelsel deur die eeue, veral soos dit in die pouslike Rome na vore getree het, waar politieke en godsdienstige mag saamgesmelt het.
Adonia het ’n groot fees by die Vollerfontein gehou en baie mense bymekaargemaak om sy koningskap te vier, maar hy het doelbewus die ware gesalfde, Salomo, sowel as Natan die profeet en ander getroue dienaars van Dawid, uitgesluit. So werk die Antichris ook wat ’n vals aanbiddingstelsel bevorder en die ware aanbidders vervolg. Die klein horinkie in Daniël 7 voer immers oorlog teen die heiliges.
In Adonia se poging om Abisag as vrou te neem dui ook op Satan se bedrieglike poging om die koningskap en eer vir homself in te palm en die kerk as tipe van die bruid van Christus te probeer verlei en wegrokkel.
Agter Adonia se aantreklike voorkoms skuil rebellie en selfsug wat dieselfde karakter van Satan openbaar.
Volgens Esegiël 28:17: “Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp, Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien.”
Uiteindelik het Adonia se selfverheffing en rebellie gelei tot sy oordeel en teregstelling deur Salomo so sal die Antichris ook deur die rots deur eeue, Jesus vergruis en vernietig word.
“net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ‘n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het…” — Daniël 2:45.
EPILOOG:
In die laaste dae van misleiding en geestelike afdwaling roep die Here steeds ’n rein bruid uit die wêreld wat nie deur die gees van die Antichris verlei word nie, maar vasstaan in die waarheid van Jesus Christus. Soos Abisag mooi en rein was word die ware kerk geroep om getrou te bly aan haar hemelse Bruidegom, sonder kompromie met die wêreld se verleidings, vals aanbidding of menslike selfverheffing.
Die eindtyd eis geestelike insig en daarom moet die bruid van Christus soos die stam van Issaskar wees wat die profesieë verstaan, die tekens van die tye onderskei en getrou bly aan Sy Woord. Jesus waarsku self:
“Pas op dat niemand julle mislei nie.” — Matteus 24:4
Die ware bruid word deur die Heilige Gees voorberei vir Sy wederkoms. Soos Daniël die se rots wat in Nebukadneser se droom beskryf wat uiteindelik al die aardse koninkryke verbrysel, sal Christus finaal oorwin en Sy ewige koninkryk oprig.
“Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.” — Openbaring 19:7
Mag die Here ons in hierdie laaste dae bewaar as ’n wyse en getroue bruid, rein in aanbidding, standvastig in waarheid en die liefde en karakter van Jesus Christus reflekteer. Dr. Saartjie Eksteen