1. Home
  2. Ecce homo
  3. VERTROU ONS DIE BOODSKAPPER

VERTROU ONS DIE BOODSKAPPER

“Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ‘n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die HERE van die leërskare. Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers. En Hy sal sit: ‘n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid ‘n offer sal bring.” — Maleagi 3:2–3

AGTERGROND VAN MALEAGI

Die naam Maleagi (Hebreeus: Mal’akhi) is afgelei van mal’akh, wat “boodskapper” of “engel” beteken.

Maleagi is die laaste Ou Testamentiese profeet en boodskapper van die Here om Sy volk terug te roep na getrouheid en hulle voor te berei vir die koms van die Messias. Na Maleagi volg daar sowat vierhonderd jaar van profetiese stilte.

Die tyd waarin Maleagi geprofeteer het, was een van teleurstelling en geestelike verval. Die volk het teruggekeer uit Babiloniese ballingskap na Jerusalem met groot verwagtings. Die tempel was herbou, maar die glansryke toekoms waarop hulle gehoop het, het nie aangebreek nie. Die nuwe tempel kon nie met Salomo se tempel se prag en glorie vergelyk word nie.

Die volk het gehoop op vinnige herstel, voorspoed en die vervulling van die profetiese beloftes, maar hulle realiteit was onvervulde verwagtinge, teleurstellings en armoede. Hulle het gevolglik die Here se liefde en geregtigheid bevraagteken. Volgens Maleagi 2:17 het almal begin vra: “Waar is die God wat reg moet laat geskied?”

Soos dikwels deur die geskiedenis gebeur, het teleurstelling gelei tot geestelike louheid. Israel se aanbidding het verval tot ‘n sinkretistiese vormgodsdiens waar die priesters hul heilige roeping verwaarloos en die volk minderwaardige offerandes gebring het. Tiendes en offers is teruggehou. Die geestelike verval was ook duidelik sigbaar in hulle huwelike waar ontrouheid, egskeiding en ondertrouing met heidense volke die Here se verbond geminag het.

Maleagi bring ‘n boodskap van waarskuwing om die volk terug te roep na ware aanbidding. Sy boodskap eindig nie in oordeel nie, maar in die belofte van hoop in ’n komende boodskapper waarna die Here self verskyn, die Messias, deur wie die Here se verlossingsplan vervul sou word. Daarom vorm Maleagi die belangrike brug tussen die Ou Testament en die vervulling van die Here se beloftes in die Nuwe Testament.

DIE TWEE BOODSKAPPERS

Maleagi 3:1 gee een van die mooiste Messiaanse profesieë van die Ou Testament:

“Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond na wie julle ‘n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die HERE van die leërskare.” — Maleági 3:1

Soos Maleagi se naam boodskapper beteken openbaar hierdie vers ook twee ander boodskappers, een wat die pad baan, en Een wat self die pad is.

• Hy profeteer van ‘n boodskapper, Johannes die Doper

“ ’n Stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit!” – Jesaja 40:3

• Daarna praat Maelagi van die tweede Boodskapper, die Engel of Boodskapper van die Verbond, Jesus Christus.

DIE EERSTE BOODSKAPPER: DIE STEM IN DIE WOESTYN

Johannes het die volk geestelik voorberei vir die Messias se eerste koms en wys na Jesus as: “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” — Johannes 1:29.

Jesus self identifiseer die eerste boodskapper as Johannes die Doper:

“Want dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig uit, wat u weg voor u sal berei” — Matteus 11:10

Johannes se boodskap:

Sy boodskap was radikaal, dit was een van ware bekering deur ’n lewe wat sigbare vrugte dra, vergifnis van sondes en sosiale geregtigheid.

Johannes se woorde as volg:

“Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele is naby!” — Matteus 3:2

Daarom het hy die volk tot praktiese gehoorsaamheid geroep: om met behoeftiges te deel, eerlik in geldsake op te tree, mag nie te misbruik nie, en met ’n regverdige loon tevrede te wees. Hy het die Fariseërs en Sadduseërs as ‘n “addergeslag” aangespreek en hulle gewaarsku dat hulle nie op hulle afkoms van Abraham as waarborg van verlossing kon staatmaak nie.

Johannes het mense in die Jordaanrivier gedoop, dit was bekeringsdoop vir die vergifnis van sondes. Dit was ’n uiterlike teken van innerlike reiniging en voorbereiding. Hy het duidelik gestel dat hy nie die Messias is nie, maar dat Een sterker as hy kom wat met die Heilige Gees en vuur sal doop (Matteus 3:11).

By Jesus se doop in die Jordaan bereik Johannes se bediening ’n beslissende hoogtepunt. Daar word die Drie-eenheid duidelik openbaar: die Seun kom uit die water, die Heilige Gees daal soos ’n duif op Hom neer, en die Vader se stem verklaar uit die hemel:

“Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het” — Matteus 3:16–17

Ek minder en Hy meer:

Vanaf daardie oomblik het Johannes se bediening al hoe meer na die agtergrond verskuif, want sy taak was vervul:

“Hy moet meer word, maar ek minder” — Johannes 3:30

Sy grootheid het nie in aardse status of wonderwerke gelê nie, maar in sy getrouheid as die profetiese voorloper van Christus. Daarom beskryf Jesus hom as meer as ’n profeet en verklaar:

“Onder die wat uit vroue gebore is, het daar niemand opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie” — Matteus 11:11

Volgens Lukas 1:17 het Johannes gekom in “die gees en krag as Elia”, om die volk terug te roep tot ware aanbidding. Hy is later deur Herodes Antipas te Mukawir tereggestel, maar sy getuienis leef steeds voort.

Die laaste Elia:

Net so word die eindtydkerk geroep om as die derde Elia op te tree, die laaste boodskapper wat deur die drie engele se boodskappe van Openbaring 14 die wêreld oproep tot bekering, ware aanbidding en getrouheid aan die Here se gebooie voordat Jesus weer kom soos ons kan lees in:

“Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die Here kom, die groot, die verskriklike dag.” — Maleagi 4:5

MALEAGI SE TWEEDE BOODSKAPPER

Engel van die verbond:

Die tweede Boodskapper: “…dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond” — Maleagi 3:1

Hierdie “Engel van die Verbond” is Jesus Christus. Dieselfde tema kom voor in Eksodus 23:20-21: “Kyk, Ek stuur ’n Engel voor jou uit… want my Naam is in Hom.”

In die Skrif verwys die Naam van die Here na Sy karakter, gesag en teenwoordigheid.

Toe die Here Homself by die brandende braambos in Eksodus 3:14 aan Moses openbaar as “EK IS WAT EK IS”, het Hy Sy goddelike wese bekend gemaak. Hierdie Engel is meer as ‘n gewone boodskapper, die Here openbaar homself hier aan die mens. Hy wys vooruit na Christus, die Engel van die Verbond, wat volgens Maleagi na Sy tempel sou kom.

Die Jode het uitgesien na ‘n Messias wat Israel van Romeinse oorheersing sou bevry, maar Maleagi voorspel dat Hy eers na Sy tempel sou kom.

Jesus reinig die tempel

Aan die begin van Jesus se bediening, Johannes 2:13-17 het Hy die tempel gereinig en daarmee Sy werk as Messias aangekondig. Die tempel was ’n beeld was van die menslike hart wat die Here wil bewoon en van sonde te reinig. — KE: 157.

Aan die einde van Sy bediening het Jesus die tempel weer gereinig, kort voor Sy kruisiging. Hierdie tweede reiniging was ernstiger, want na al Sy onderrig en wonderwerke het die Fariseërs en Sadduseër steeds die tempel ontheilig en Jesus as die Christus, die Messias verwerp. Die Here van die tempel het weer gekom, maar hierdie keer het Sy optrede voor uitgewys na die tempeldiens deur hom vervul sou word en die naderende oordeel oor Jerusalem deur die Romeine in 70 n.C.

Maar Maleagi se profesie eindig nie by Jesus se eerste koms na die aarde nie, maar hy stel die vraag wat elke mens moet beantwoord:

“Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers. ” — Maleagi 3:2

JESUS SE REINIGINGSWERK

Die fokus verskuif na Jesus se werk ter voorbereiding van Sy tweede koms as “die vuur van ’n smelter en die loog van wassers.”

Jesus se twee rolle as Reiniger is die van:

• Die Smelter en

• Die Bleiker (loog van die wassers)

Die doel van hierdie reinigingswerk word verder verduidelik:

“En Hy sal sit: ‘n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid ‘n offer sal bring.” — Maleagi 3:3

Die fokus is hier ter voorbereiding van die volk. Voor die Here oordeel as Regter, tree Hy eers as ‘n Reiniger op om Sy kinders te help om te “kan standhou as Hy verskyn”.

Soos vuur edelmetaal van onsuiwerhede suiwer en loog vuilheid uit klere verwyder, werk Christus om sonde uit die lewe van Sy volk te verwyder en Sy karakter in hulle te herstel.

1. Die Smelter wat Sit

Die eerste beeld is besonder betekenisvol: “En Hy sal sit as ’n smelter en reiniger van silwer…” — Maleági 3:3

‘n Smelter steek nie bloot die vuur aan en loop weg nie. Hy sit langs die smeltoond en hou die metaal voortdurend dop. Die vuur moet warm genoeg wees, sowat 1000 °C om die onsuiwerhede te verwyder, maar nie so warm dat die edelmetaal vernietig word nie. Tydens die verhitting styg die onsuiwerhede en ander metale na die oppervlak, wat dan verwyder word. Met elke verhitting word dit suiwerder, totdat die smid se eie beeld daarin reflekteer.

Hierin sien ons Christus se geduldige en persoonlike werk in die lewe van elkeen van Sy kinders. Hy laat nie toe dat beproewings verder gaan as wat nodig is nie. Elke toets, teleurstelling en stryd word deur Sy liefde beheer met die doel om die karakter te suiwer.

Die doel van die vuur is nie vernietiging nie, maar reiniging.

Die “kinders van Levi” verwys eerstens na die priesters van Israel. In Maleagi se tyd was juis hulle geestelik verval. Hulle het die volk verkeerd gelei, gebrekkige offers gebring en die heilige dinge van God gering geag.

Maar die profesie reik verder as die letterlike Leviete. In die Nuwe Testament word God se volk beskryf as:

“’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom…” — 1 Petrus 2:9

Die reiniging van die Leviete simboliseer daarom ook die Here se werk om Sy volk gereed te maak vir Sy teenwoordigheid.

Goud en silwer verteenwoordig geloof en karakter wat deur beproewing gelouter word. Petrus gebruik dieselfde beeld:

“sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan…” — 1 Petrus 1:7 5

Daniël se drie vriende

“Daarop het die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs en die raadsmanne van die koning vergader en aan daardie manne gesien dat die vuur geen mag oor hulle liggame gehad en die hare van hulle hoof nie geskroei het nie, en dat hulle mantels geen verandering ondergaan en die reuk van die vuur nie aan hulle gekom het nie.” — Daniël 3:7

’n Treffende voorbeeld in die skrif is Daniël 3, waar Sadrag, Mesag en Abednego geweier het om voor Nebukadnesar se goue beeld te buig en die vuuroond sewe maal warmer gemaak as gewoonlik. Die manne wat hulle in die vuur gegooi het, is dood gebrand, maar die Here se getroue kinders het staande gebly. Die vuur het hulle nie gebrand nie, hulle klere het nie eers na rook geruik nie, maar slegs die toue wat hulle vasgebind het is verbrand. Selfs dit wat bedoel was om hulle te vernietig, het die Here tot Sy eer gebruik

“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” — Romeine 8:28

Nebukadnesar het ook ’n vierde Persoon saam met hulle in die vuur gesien. Die Here belowe nie dat Sy kinders nooit deur die vuur van beproewing sal gaan nie, maar Hy belowe dat hulle nooit alleen daardeur sal gaan nie. Soos Jesaja skryf:

“As jy deur die vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.” — Jesaja 43:2

Dieselfde boodskap word deur Jakobus bevestig:

“Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.” — Jakobus 1:2–3

Verskeie beproewinge word gebruik om ons te louter, soms is dit siekte; ’n teleurstelling; moeilike omstandigheid of finansiële uitdagings, ‘n ontroue huweliksmaat, maar wat vir ons soos ’n struikelblok lyk kan die Here uiteindelik gebruik tot Sy eer.

2. Die Bleiker (Wolwasser)

Die tweede beeld van Jesus as reiniger is die van die bleiker of wolwasser, ’n proses van intense suiwering deur water, seepagtige oplossings en harde fisiese arbeid.

In antieke Israel was die bleiker ’n onmisbare ambagsman. Rou wol was vuil, soms deur sweet, bloed, grond en lanolien. Die bleiker het dit geneem en omskep in skoon, sterk, spierwit materiaal geskik vir klere of ander gebruike.

Selfs nadat die wol gespin en geweef is, moes dit nog deur ’n deeglike reinigingsproses gaan om dit te verfilt en so sterkter te maak.

Die Hebreeuse woord vir “bleiker” is afgelei van סַבָּכ (kābas), wat beteken om te om te was en te reinig deur druk en intense beweging. Dit was geen sagte proses nie, maar een wat krag en volgehoue arbeid geverg het. Die wolstof is eers in klipkuipe naby waterbronne geweek in ’n sterk alkaliese mengsel van houtas, potas, natron of kalk – ’n primitiewe seep wat vet en vuil afbreek, geensins sagte chemikalie soos ons vandag gebruik nie. Soms is selfs urine gebruik vir die ammoniak daarin. Klei soos fuller’s earth het ook gehelp om onsuiwerhede te absorbeer.

Daarna het die moeilikste deel gekom: die nat materiaal is ure lank getrap, geknie en geslaan om die vuilheid uit te werk en die stof digter, sterker en sagter te maak. Uiteindelik is dit herhaaldelik deeglik gespoel in skoon water en oopgesprei in die son om spierwit te bleik.

Die Bleikveld:

In die Skrif word spesifiek verwys na die Bleikveld waar die wolwassers gewerk het. Dit was ’n bekende plek net buite die mure van Jerusalem, naby die waterleiding van die Boonste Dam.

Die Bleikveld word ook ’n simboliese plek van toetsing. Daar is twee kere in die Skrif waar konings in ’n oomblik van krisis getoets word of hulle die woord van die profeet gaan vertrou en of hulle op menslike hulp en mag gaan staatmaak.

Koning Agas en Jesaja

Koning Agas se ontmoeting met die profeet Jesaja en sy seun, by die Bleikveld, is een van Juda se groot geloofstoetse. Jerusalem was bedreig deur die gesamentlike magte van Aram en Israel, en die koning Agas was deur vrees oorweldig en in groot benoudheid gedompel. Die Here het egter nie sy volk aan hul lot oorgelaat nie. Hy stuur die profeet Jesaja en sy seun om koning Agas te ontmoet by die waterkanaal van die Boondste Dam, op die pad na die Bleikveld, met die volgende bemoedigende boodskap:

“…Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie! Moet jou nie ontstel oor hierdie twee stukke brandhout nie, hulle rook net. Moenie bang wees vir die dreigemente van Resin en sy Arameërs en van Peka seun van Remalja nie…7 Maar so sê Ek, die Here jou God: Dit sal nie plaasvind nie, dit sal nie gebeur nie.” — Jesaja 7:4,7

Maar hierdie boodskap het ook ’n ernstige waarskuwing bevat:

“As julle nie glo nie, sal julle nie standhou nie.” — Jesaja 7:9

Vrees het koning Agas se hart oorheers, die Here het aan Hom ‘n uitkoms gegee en sy geloof getoets. Die ware probleem was nie die vyande buite Juda nie, maar sy ongeloof. Agas het nie die Here se belofte geglo nie. In plaas daarvan om op die Here te vertrou en die Woord van Jesaja te glo, het hy hulp gesoek by die koning van Assirië, Tiglat-Pileser III en ’n verbond met hulle gesluit. Wat na ’n slim politieke oplossing gelyk het, het Juda uiteindelik onder Assiriese invloed gebring.

Koning Hiskia, Agas se seun, en die tweede toets

Paar dekades later word dieselfde plek weer die toneel van ’n dramatiese konfrontasie. Koning Hiskia, Agas se seun, word nou op presies dieselfde plek getoets. Ironies genoeg, Assirië waar Agas hulp gesoek het, word nou die vyand wat Juda wil verwoes. Koning Agas se verkeerde keuse word nou sy seun se krisis.

Sanherib, die koning van Assirië, het reeds groot dele van Juda verower. Hy stuur sy hoofadjudant, Rabsake, met ’n groot leër na Jerusalem. Rabsake gaan ook na die Bleikveld, soos dit staan in 2 Konings 18:17:

“… Hulle het na Jerusalem toe opgetrek en toe hulle daar aankom, het hulle posisie ingeneem langs die kanaal van die boonste dam, langs die pad na die Bleikveld toe.”

Koning Hiskia stuur drie van sy hoogste amptenare om Rabsake te ontmoet. Rabsake rig sy dreigende boodskap doelbewus in Hebreeus aan die mense op die stadsmure, met die doel om vrees in hulle harte te wek, hulle moed te breek en hulle vertroue in die Here te laat bevraagteken. Hy bespot Egipte as ’n “geknakte riet”, en gaan selfs so ver as om te beweer dat die Here self hom gestuur het om Jerusalem te vernietig.

Hiskia kies egter ’n heel ander weg as sy vader Agas. Waar Agas in vrees op menslike hulp gesteun het, verneder Hiskia hom voor die Here. Hy skeur sy klere, trek rouklere aan en gaan na die huis van die Here. Daar lê hy Sanherib se lasterlike brief voor God oop en bid in diepe afhanklikheid:

“Here, red ons tog uit sy mag, sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U alleen die Here is” — 2 Konings 19:19.

Hy stuur ook sy amptenare na die profeet Jesaja om die Here se raad en leiding te soek. Jesaja bring die versekering dat die Here in beheer is, Hiskia se gebed verhoor het en die lasterlike dreigemente van Assirië gehoor het.

Daardie selfde nag tref die Here die Assiriese leër deur sy engel, sodat 185000 soldate sterf. Sanherib vlug verneder terug na Nineve, waar hy later deur sy eie seuns vermoor word. Jerusalem is wonderbaarlik deur die Here gered, omdat Hiskia op die Here vertrou het en in sy profete geglo het.

So word die Bleikveld, waar Agas gefaal het, onder Hiskia ’n getuienis van geloof en Goddelike uitkoms.

** So roep die Here ons ook in moeilike tye tot vertroue en geloof in Hom. Juis in krisistye word ons geloof getoets. Kies ons om op ons eie planne en menslike oplossings staat te maak, of vertrou ons die Here se Woord en die boodskap van Sy profete?

“Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Stel julle vertroue in die Here julle God, en julle sal vas staan. Stel julle vertroue in sy profete, en dit sal goed gaan met julle.” — 2 Kronieke 20:20

EPILOOG: GLO ONS DIE BOODSKAPPER?

Maleagi eindig met die belofte: “Kyk, Ek stuur vir julle die profeet Elia voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek” — Maleagi 4:5

Soos Johannes die Doper in die gees van Elia gekom het om die weg vir Christus se eerste koms voor te berei, kom dieselfde Elia-boodskap weer tot die eindtydkerk: Bekeer julle, maak gereed, keer terug na die Here.

Dit is ook die boodskap aan Laodicea, waar Jesus sê: “Daarom raai Ek julle aan om by My goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word; en koop wit klere, sodat julle julle kan aantrek en julle skande, julle naaktheid, nie gesien word nie; en koop oogsalf om aan julle oë te smeer, sodat julle kan sien. Ek bestraf en tug elkeen wat Ek liefhet. Laat dit dan vir julle erns wees en bekeer julle.” — Openbaring 3:18-19

Mag ons ag slaan op die woorde van die laaste Ou-Testamentiese profeet, en die Here toelaat om as Smelter en Bleiker ons te reinig, te louter en te beklee, totdat Sy karakter in ons weerspieël word en ons gereed kan wees vir die groot dag van Sy koms.

Dr. Saartjie Eksteen

Was this article helpful?

Related Articles