1. Home
  2. Ecce homo
  3. HEILIGE AANBIDDING

HEILIGE AANBIDDING

“Maar een van die serafs het na my toe gevlieg met ‘n gloeiende kool in sy hand, wat hy met ‘n tang van die altaar af geneem het,  en my mond daarmee aangeraak en gesê: Kyk, dit het jou lippe aangeraak, en jou skuld is weg en jou sonde versoen.” — Jesaja 6:6-7

HEILIG

Die ou Hebreeuse woord vir heilig is kadosh  en dui op groter betekenis as net blote morele reinheid. Dit beteken om afgesonder en toegewyd te wees, dus aan die Here te behoort.

In Levitikus 19:2 staan daar geskrywe: Wees heilig, want Ek is heilig. 

As ons nie heilig is nie, sal ons nie in die Here se teenwoordigheid kan wees nie:

“Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.” —  Hebreërs 12:14

Ons kan slegs heilig wees wanneer ons doelbewus deur die Here afgesonder word, soos ons lees in 1 Korintiërs 6:11:“En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.”

Dit is nie deur ons eie vermoë of prestasie nie, maar deur die Here se aanraking, sodat ons lewens ’n weerspieëling van Sy karakter kan word. Alles wat deur die Here aangeraak word, of dit nou mense, tyd of ‘n plek is, word uit die alledaagse verhoog tot ‘n groter doel.

Selfs tyd word geheilig wanneer die Here die sabbat seën en heilig volgens Genesis 2:3.  Heiligheid is dus nie tot ’n spesifieke plek, soos ‘n kerkgebou beperk nie, maar vorm deel van die natuurlike verloop van ons alledaagse lewe.  Ons word nie geroep om van die wêreld te onttrek nie, maar om juis binne die wêreld te leef as mense wat aan die Here behoort, ’n lewe wat anders is, nie deur uiterlike vertoon nie, maar deur ’n hart wat aan Hom toegewy is.

DIE ROEPING VAN JESAJA

Die roeping van die profeet Jesaja is ’n baie mooi voorbeeld van hoe ’n mens geheilig word tot diens van die Here.

In Jesaja 6 sien hy in ‘n visioen die Here op Sy troon, omring deur serafs wat uitroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare” — Jesaja 6:3. Die drievoudige herhaling beklemtoon die volmaaktheid van die Here se heiligheid. Menslike woorde is onvoldoende om Sy heiligheid en majesteit ten volle te beskryf. ’n Heiligheid so volkome en magtig dat selfs die serafs hul gesigte bedek in Sy teenwoordigheid.

Jesaja word oorweldig deur sy eie onwaardigheid en gebrokenheid. Hy besef sy tekortkominge en onreinheid in die lig van die Here se heerlikheid. Wanneer hy bewus word van sy eie sondige toestand volg ‘ngenadige ingryping.

“ Maar een van die serafs het na my toe gevlieg met ‘n gloeiende kool in sy hand, wat hy met ‘n tang van die altaar af geneem het,  en my mond daarmee aangeraak en gesê: Kyk, dit het jou lippe aangeraak, en jou skuld is weg en jou sonde versoen.” — Jesaja 6:6-7

Die Here se heilige teenwoordig word as ‘n verterende vuur, ‘n reinigende vlam voorgestel.

“Want onse God is ‘n verterende vuur.” — Hebreërs 12:29

Wanneer die kool Jesaja se onrein lippe aanraak, verdwyn sy skuld, sy sonde word versoen, en sy hele wese word geheilig.  Hierdie heiliging was nie iets wat hy self kon bewerk nie, maar genade waarna hy die Here kon antwoord op Sy vraag: 

“Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.” — Jesaja 6:8

TWEE ALTARE

In die tabernakel was daar twee altare wat deel vorm van die verlossingspad waarlangs ’n sondige mens tot die heilige Skepper Here kon nader. 

Dit begin in die voorhof by die brandofferaltaar (bronsaltaar) en lei dan na die wierookaltaar (die goue reukofferaltaar) in die Heilige

Die Hebreeuse woord vir offer, korban, kom van die wortel wat “nader kom” beteken en wierook, ketóret, dui daarop om te “bind” of om “een te word”.

Terwyl die brandofferaltaar ons nader bring aan die Here, verbind die wierookaltaar of reukofferaltaar ons hart aan die Here deur aanbidding. 

  1. By die brandofferaltaar word verlossing vir sonde bewerk deur die bloed want “die lewe van die vlees is in die bloed” — Levitikus 17:11.   Deur die offer kan die sondige mens dus tot die heilige Here nader

Vuur op die brandofferaltaar:  Die vuur wat op die brandofferaltaar gebrand het was ‘n ewige vuur wat die Here self aangesteek het en wat nooit moes uitgaan nie. Dit het gedui op die Here se voortdurende teenwoordigheid en op die deurlopende beskikbaarheid van verlossing. Dit was ’n heenwysing na Christus se volmaakte offer.

“Vuur het van die aangesig van die HERE uitgegaan en op die altaar die brandoffer en die stukke vet verteer. Toe die hele volk dit sien, het hulle gejuig en op hulle aangesig geval.” — Levitikus 9:24.

Elke oggend en aand is die kole van brandende vuur op die brandofferaltaar gevat na die Heilige om die wierook op die reukofferaltaar aan te steek en ‘n welriekende groot rook wolk te vorm wat ver gesien en geruik kon word.

  • Die reukofferaltaar verteenwoordig die plek van aanbidding en versoening, waar die wierook die gebede van die gelowiges simboliseer.  Die gebede van die heiliges was soos ’n welriekende geur wat voor die Here opstyg het.  Dit het gedui op Jesus wat voortdurend as Hoëpriester vir ons intree.

“Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan, die opheffing van my hande soos die aandoffer.” — Psalm 141:2.

Die reukofferaltaar het in die Heilige gestaan voor die verbondsark, maar die bediening van die reukwerk was nouliks geassosieer met die Allerheiligste volgens Hebreërs 9:4.  Die Groot Versoendag was daar vuurkole en reukwerk na die Allerheiligste geneem.  Die voorhangsel het nie tot by die dak gegaan nie en die reukwerk kon van die Heilige na die Allerheiligste gaan en die genadetroon bedek, wat die Here se teenwoordigheid voorstel.  Dit was die heiligste dag van die jaar wanneer die oordeel van die Here voltrek was en die tempel gereinig is van sonde.  Om hierdie gedagte verder te verduidelik sien ons presies dieselfde elemente ook in die hemel soos bespreek in Openbaring 8:3: 

“En ‘n ander engel het gekom en met ‘n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê.”

Wierook op die reukofferaltaar:   Die Here het streng voorskrifte gegee vir die meng en die gebruik van die wierook.  Dit het uit verskeie speserye en suiwer wierook bestaan  wat gemaal is en met sout gemeng is.  Dit was verbied om hierdie mengsel vir persoonlike of gewone gebruik na te maak. Dit beklemtoon dat wat aan die Here behoort, heilig en afgesonder is. Aanbidding kan nie volgens eie insig of gevoel gevorm word nie, maar moet volgens Sy voorskrifte.

Binne die offerstelsel van die tabernakeldiens het die Here vyf verskillende offers ingestel. Terwyl alle offers uiteindelik met die brandofferaltaar verband gehou het, was dit veral in verbinding met die sondoffer dat die reukofferaltaar ook ’n besondere rol gespeel het.

DIE SONDOFFER

Die sondoffer is spesifiek daagliks, soggens en saans, op die brandofferaltaar gebring waarna wierook op die reukoffer altaar aangesteek was. Hierdie offer, ook bekend as die reinigingsoffer, was ’n besondere offer wat bedoel was om versoening te doen vir sondes wat onwetend of per ongeluk gepleeg is, asook vir seremoniële onreinheid.

Deur handeoplegging is die sonde simbolies op die vlekkelose offerdier oorgedra, en deur die bloed van die dier, ’n heenwysing na Jesus se offer aan die kruis, kon die sondaar gereinig word, sodat die verhouding met die Here herstel is. Die sondoffer wat op die Groot Versoendag gebring is, het ook die tabernakel gereinig, sodat die Here steeds onder die volk kon woon.

“So moet hy dan vir die heiligdom versoening doen vanweë die onreinhede van die kinders van Israel en vanweë hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; so moet hy dit ook doen vir die tent van samekoms wat by hulle te midde van hulle onreinhede woon.” — Levitikus 16:16

Hiermee die details van die sondoffer:

  • Die dier is buite by die brandofferaltaar geslag,
  • die bloed is aan die horings van die brandofferaltaar gesmeer as teken van versoening,
  • en die oorblywende bloed is aan die voet van die brandofferaltaar uitgestort.
  • Deel van die bloed is selfs binne-in die heiligdom geneem en aan die horings van die reukofferaltaar gesmeer. 
  • Kole van die brandofferaltaar is geneem na die reukofferaltaar en daarop is die fyn wierookmengsel gebrand, dit was ‘n simbool van aanbidding en gemeenskap met die Here.

Die twee altare is onafskeidbaar.  Die vuur  vir die reukoffer moes altyd van die brandofferaltaar af kom. Sonder die eerste altaar was die tweede onmoontlik; sonder die tweede bly die eerste onvolledig.

In die Nuwe Testament vind die sondoffer sy volle betekenis in Christus.

JESUS SE BEDIENING EN DIE SONDOFFER:

Beide die altare wys na een offer, die sondoffer, maar dit is nie net ‘n enkele gebeurtenis nie:

  • Eers by die brandofferaltaar, is Jesus, die “Lam van God”, die volmaakte offer aan die kruis wat voorsien het om vir ons sondes te betaal. Jesus se offer was vir die hele mensdom, vir almal se sondes volledig.  Ons lees in hierdie konteks:

En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! – Johannes 19:30.

Die woord wat hier gebruik word, is die Griekse Tetelestai. Dit beteken veel meer as net “dit is klaar.” Dit dra die gedagte van: volledig afgehandel, volkome voltooi, ’n kwitansie waarop geskryf is: ten volle betaal.  Met Jesus se woorde verklaar Hy dat Sy werk as Lam, die offer aan die kruis volkome, volmaak en voltooi is.

“Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.  Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.” — Jesaja 53:5-6.

Jesus se eenmalige offer was volmaak, genoeg vir die hele mensdom se sondes.

“Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.” —Hebreërs 7:25

  • Op aarde is Jesus se offerwerk as die Lam van God aan die kruis volkome volbring. Tog dui die sondoffer daarop dat die werk van verlossing hiermee nie afgesluit is nie, maar voortgaan in ’n volgende bediening waar Christus intree as ons Hoëpriester by die hemelse reukofferaltaar en vir alle gelowiges voorbidding doen.

“Want so ‘n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het.” —Hebreërs 7:25

Deur sy offer aan die kruis, as die Lam van God, is die weg vir ons oopgemaak sodat ons gebede, soos wierook, rein en welgevallig voor die Vader kan opstyg. Met sy eenmalige offer het Jesus verlossing vir die hele mensdom bewerk (Hebr. 9:26; 10:12). Tog aanvaar almal nie Sy offer nie, daarom tree Hy as Hoëpriester in slegs vir die wat Hom kies en Sy offer aanvaar om deur Hom tot die Vader te nader. Die offer is dus universeel, maar die voorbidding geld vir almal wat in Hom glo en na Hom toe kom. Jesus self staan nou as Middelaar en Hoëpriester by die hemelse reukofferaltaar en dra ons gebede voor die Vader:

“… en die rook van die reukwerk het met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgegaan voor God.” — Openbaring 8:3-4

Saam vorm Jesus se kruisdood en Sy voorbidding in die hemelse heiligdom die anti-tipiese sondoffer.

Behalwe vir die daaglikse sondoffers in die oggend en aand was daar ook ‘n jaarlikse sondoffer op die Groot Versoeningsdag.   Hierdie dag verteenwoordig die laaste fase van Jesus se bediening waar hy as regter optree voor Hy ons kom haal.

“Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee. – Johannes 5:22.

Die ondersoekende oordeel, waar Jesus ook sy berouvolle kinders sal vryspreek op grond van Sy eie geregtigheid.  Op hierdie heilige dag meng die gebede van Jesus met die reukwerk van die reukofferaltaar en styg na Sy Vader op om vir ons versoening te bring. Daniël 8:14 wys dat hierdie fase van Christus se bediening aan die einde van die 2300 jaar profesie sou begin, ‘n tydperk wat strek van 457 v.C. tot 1844.  

So openbaar die heiligdom skadu’s van Jesus se bediening in die hemel: die volmaakte Offer, die lewende Middelaar, en uiteindelik die regverdige Regter om verlossing en versoening vir die sondige mens te bewerk.

“En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en ‘n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby!” – Openbaring 16:17.”

Maar voordat daardie dag aanbreek, werk die Heilige Gees reeds in die harte van mense en berei Hy elkeen voor om reg voor die Here te staan, terwyl die genadetyd nog oop is.

OORTUIGING VAN DIE HEILIGE GEES

Die werking van die Heilige Gees in die mens se hart kan soos volg beskryf word:

“En as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel – Johannes 16:8.

  • Die Heilige Gees werk in die hart van die mens. Hy wys eers op sonde, nie net verkeerde dade nie, maar ’n gekose lewe sonder geloof in Jesus. In daardie oomblik besef ons dat ons nie uit onsself voor die Here kan staan nie. Daarom lei Hy ons na die brandofferaltaar, waar versoening is en skuld weggeneem word.
  • Dan oortuig die Heilige Gees van geregtigheid, nie iets wat ons kan verdien of voortbring nie, maar die volmaakte geregtigheid van Christus. In Hom word ons deur genade aangeneem en aanvaar voor die Here. Hierdie waarheid word uitgebeeld in die reukofferaltaar, waar die gebede van die gelowiges, gegrond in Christus se geregtigheid, soos ’n lieflike geur opstyg en welgevallig is voor die Here.
  • Maar die Gees wys ook op oordeel, dat die owerste van hierdie wêreld reeds geoordeel is. Die stryd is beslis. Elkeen staan nou voor ’n eie keuse.

Ons word geroep om die Here in Gees en in waarheid te aanbid, deur die werking van die Heilige Gees en in ooreenstemming met Sy Woord.  Hoe nader ’n mens aan die Here kom, hoe groter word die besef van Sy heiligheid en hoe dieper word die ontsag vir Sy grootheid.

Johannes noem homself in Johannes 13:23 “die dissipel vir wie Jesus liefgehad het”, ‘n beeld van nabyheid, maar op Patmos, toe hy die verrese Christus sien, val hy soos dood voor Hom neer, soos ons lees in Openbaring 1:17. Dieselfde Here wat naby en liefdevol is, is ook heilig en verhewe. Nabyheid aan die Here mag nooit familiêr of onverskillig word nie.

Die Skrif waarsku ons ernstig teen ongehoorsaamheid en oneerbiedige aanbidding.  Die swaar gevolge word veral geïllustreer in die verhaal van Nadab en Abihu.

NADAB EN ABIHU

Volgens Levitikus 10:2-3 lees ons:

“Daarop het daar vuur van die aangesig van die HERE uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die HERE.  Toe sê Moses vir Aäron: Dit is dit wat die HERE gespreek het deur te sê: In die wat naby My is, wil Ek My as die Heilige laat ken, en voor die oë van die hele volk wil Ek My verheerlik. Maar Aäron het stilgebly.”

Nadab en Abihu, die twee oudste seuns van Aäron, was deur die Here aangestel as priesters en het saam met Moses en die oudstes van Israel op Sinai Sy heerlikheid aanskou. By die inwyding van die tabernakel het die Here self vuur gestuur om die offers te verteer—’n teken van Sy heilige aanvaarding, en die volk het Hom in ontsag aanbid.

Aan die begin van Nadab en Abihu se bediening volg hulle nie die Here se voorskrifte nie en is hulle is deur daardie selfde heilige vuur verteer. Die Here het dit duidelik gemaak: “In die wat naby My is, wil Ek My as die Heilige laat ken” – Levitikus 10:3.

As ons na ‘n verder voorbeeld kyk sien ons dat selfs Moses se optrede by Meriba hierdie beginsel van die Here se heiligheid bevestig.

MOSES:

In Deuteronomium 32:51 kry ons ’n ernstige insig: Moses, ’n vriend van die Here wat so naby aan Hom geleef het, mag nie die Beloofde Land binnegaan nie. Die rede word duidelik gestel:

“…Omdat julle My nie geheilig het onder die kinders van Israel nie.”  – Deuteronomium 32:51

By die waters van Mériba het die volk weer oor water gekla. Die Here het vir Moses en Aäron beveel om met die rots te praat, maar in die oomblik van frustrasie het Moses die rots geslaan in plaas daarvan om te doen wat die Here gesê het. Die water het wel gevloei, maar Moses het in daardie oomblik nie die Here reg verteenwoordig nie. Hy het die Here se karakter verkeerd uitgebeeld.

Die oordeel oor Aaron se seuns en Moses staan nie geïsoleerd nie. Deur die hele Skrif word dieselfde heilige beginsel herhaaldelik bevestig dat wanneer mense die voorskrifte van die Here verwerp en volgens hul eie idees Hom aanbid, volg daar oordeel. Die verhale van Korag, Datan en Abiram, koning Jerobeam en Ussia wat almal reukoffers gebring voor die Here en uiteindelik geoordeel is.

SLOTGEDAGTE:

Dit bring die beginsel baie naby aan ons eie lewens. Hoe lyk ons aanbidding werklik? Wanneer ons die Here nader in ons woorde, ons optrede en ons gesindheid, eer ons Sy Naam, of raak ons so familiêr dat ons vergeet wie Hy werklik is?

Ware aanbidding is meer as dit wat ons bring; dit gaan oor hoe ons Hom verteenwoordig. Dit volg die pad van die sondoffer: eers by die brandofferaltaar, waar verlossing deur die bloed van Jesus Christus moontlik geword het; en dan by die reukofferaltaar, waar ons gebede, lof en toewyding soos ’n welriekende geur voor die Here opstyg, ’n teken van ’n lewende gemeenskap met Hom.

Aanbidding gaan nie oor ons intensies nie, maar oor gehoorsaamheid en eerbied. Ons kan niks uit onsself byvoeg nie, alles begin en eindig by Christus se volmaakte offer. Soos die gloeiende kool die onrein lippe Jesaja aangeraak het, mag die Here ook ons harte en woorde reinig, sodat ons Hom waardig kan eer en Sy Naam kan heilig.

Daarom bid ons saam met die woorde van die Onse Vader “Laat U Naam geheilig word.”

Dr. Saartjie Eksteen

Was this article helpful?

Related Articles