1. Home
  2. Ecce homo
  3. DIE KIDRON, DIE PAD VAN DIE KONING

DIE KIDRON, DIE PAD VAN DIE KONING

“En die hele dal van die lyke en van die as, en al die velde tot by die spruit Kidron…sal aan die HERE heilig wees; dit sal nie weer uitgeruk of verwoes word in ewigheid nie” — Jeremia 31:40

Wanneer ons aan Jerusalem dink, sien ons die Tempelberg en die Olyfberg. In die skadu van hierdie heilige hoogtes lê die Kidronvallei waarna daar soveel kere in die. Skrif verwys word. Hier loop die pad van ontmoeting, beproewing, reiniging, oordeel en uiteindelik oorwinning. Hierdie historiese ligging het ook profetiese konneksie met die laaste gebeure van die wêreldgeskiedenis.

DIE KIDRONVALLEI: DAL VAN TRANE, VERRAAD, REINIGING EN OORDEEL

Die Kidronvallei is ’n landskap wat deurweek is bloed, trane en beloftes. Dit is ’n diep wadi wat noord van die Ou Stad begin en suidooswaarts na die Dooie See lei. Dit is deur hierdie einste dal dat Dawid in sy uur van grootste beproewing gevlug het, en eeue later dat Jesus sy donker lydingsnag na Getsemane gestap het.

DAWID VLUG

Toe Absalom teen sy vader gerebelleer het, het Dawid deur die Kidronspruit gevlug. Dit was ’n uur van politieke chaos, diepe hartseer en totale afhanklikheid van die Here. Die volk het saam met hom gehuil terwyl hulle die stad verlaat het, en die koninkryk was naby aan totale ondergang. In daardie donker tyd wou dit voorkom of alles waarvoor Dawid sy lewe lank gebou het enige oomblik kon verkrummel (2 Samuel 15:23).

Agitofel, Batseba se oupa, Dawid se jarelange lojale vriend en raadgewer, het hom verraai deur by Absalom aan te sluit. Dawid het desperaat gebid:

“Here, verydel tog die raad van Agitofel!”. Die Here het sy gebed verhoor en later het Agitofel homself opgehang. Dit was ’n skadu van die verraad wat baie later in dieselfde vallei sou plaasvind.

Terwyl Dawid deur die Kidronvallei vlug, kom Simei, ’n man uit Saul se huis, ‘n Benjamiet, hom tegemoet. Onder ‘n gevloek en geskel gooi hy klippe en stof na Dawid en roep uit: “Kom uit, jou man van bloed, jou ellendeling!” – 2 Samuel 16:5-8.

Toe Abisai vir Simei wil doodmaak, keer Dawid hom met groot selfbeheersing: “Laat hom vloek, want die Here het hom beveel.” Dawid het hom hier aan die wil van die Here onderwerp en die vernedering verduur.

Later, na Absalom se dood, keer Dawid as koning terug na Jerusalem. Weer steek hy die Kidronvallei oor,. Hier kom Simei hom nederig tegemoet, val voor hom neer en smeek om vergifnis. Dawid spaar sy lewe op daardie dag (2 Samuel 19:16-23). Die saak was nie afgehandel nie. Op sy sterfbed het Dawid vir Salomo opdrag gegee om met Simei af te reken. Salomo het hom beveel om binne Jerusalem te bly met die Kidron as grens. Toe Simei drie jaar later die Kidron oorsteek, is hy tereggeste (1 Konings 2:36–46). Agitofel het deur sy eie hand gesterf, terwyl Simei uiteindelik onder die koning se oordeel geval het. Die Kidron word so die plek waar oordeel die verraaier en die oortreder inhaal.

Eeue later sou Jesus, die Seun van Dawid, deur dieselfde vallei stap om die dieslefde verraad en verloëning te beleef

JESUS LOOP DAWID SE PAD

Soos Agitofel vir Dawid, die koning van Israel, verraai het, het Judas die Seun van God met ’n soen verraai.

Nadat Jesus die Pasga saam met sy dissipels gevier het Jesus saam met hulle oor die Kidronspruit na die Tuin van Getsemane gegaan. Terwyl Hy daar gebid het, het Hy soos Dawid die pyn van verraad en verwerping ervaar. Hy het Sy wil volkome aan die Vader onderwerp met die woorde: “Nie my wil nie, maar u wil geskied.”

Gedurende die Pasga is duisende offerlammers in die tempel geslag. In Jesus se tyd sowat 250 000 lammers. Die bloed van die offers is deur afloopkanale vanaf die Tempelberg na die Kidronvallei gelei, waar dit die water, walle en omliggende grond rooi bevlek het met die bloed van onskuldige lammers. So het die vallei ’n aangrypende herinnering geword aan die erns van sonde, die noodsaak van versoening en die duur prys van verlossing.

Dit was deur hierdie einste vallei dat Jesus daardie nag op pad na Getsemane gestap het. Terwyl die bloed van die paaslammers nog deur die Kidron gevloei het, het Jesus, die ware Lam van God, na wie elke offerlam vooruitgewys het, self die pad van lyding betree. Hy het geweet dat Hy binne enkele ure vir die sondes van die mensdom geoffer sou word.

Die gewig van die mensdom se sonde het swaar op Hom gerus. Sy siel was diep bedroef, selfs tot die dood toe.

In Getsemane het Hy in diepe angs en intense worsteling tot die Vader gebid. Hy het bloed gesweet, ’n sigbare teken van die oorweldigende lyding wat Hy verduur het, terwyl Hy die Vader se wil in volmaakte gehoorsaamheid aanvaar het: “Nie my wil nie, maar u wil geskied.”

Later is Jesus in Getsemane gevange geneem, verraai deur Judas, sy dissipel. Hy is deur die Kidronvallei teruggelei, verhoor deur Annas en Kajafas, en drie maal verloën deur Petrus, sy beste vriend. Hier in die Kidron waar Dawid gevlug en gehuil het, het Jesus ook die volle bitterheid van verraad en eensaamheid ervaar.

JESUS SE HEMELVAART EN WEDERKOMS

Veertig dae na Jesus se opstanding het Hy weer die Kidronvallei oorgesteek en na die Olyfberg opgegaan. Van daar af het Hy, voor die oë van sy dissipels, na die hemel opgevaar. Hierdie oomblik op die Olyfberg was ’n afskeid en ook ‘n belofte aan die totale mensdom. Terwyl die dissipels nog verwonderd na die hemel gestaar het, het twee engele met hulle gespreek:

“Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel sien opvaar het” — Handelinge 1:11

Die plek van Sy Hemelvaart is dus ook die plek van Sy Wederkoms. Die profeet Sagaria beskryf die dag van die Here se koms so:

“En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ’n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide. En julle sal vlug in die dal van my berge — want die dal van die berge sal loop tot by Asal — en julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussia, die koning van Juda. Dan sal die HERE my God kom, al die heiliges met U!” — Sagaria 14:4–5

Sagaria noem ook Asal, ‘n plek waarna die volk sou vlug. Party kommentators identifiseer Asal (of Azal) moontlik met die Wadi Yasul, ’n vallei suid van Jerusalem wat aan die onderste deel van die Kidronvallei uitloop. Die naam word dikwels met toevlug of ontsnapping verbind.

“Die Here is goed, ’n toevlug in die dag van benoudheid; Hy ken die wat op Hom vertrou.” — Nahum 1:7

Net soos die Here in die dae van koning Ussia sy volk bewaar het tydens die groot aardbewing, wys hierdie beeld daarop dat Hy ook aan Sy kinders ’n uitkoms en ’n weg van redding sal gee.

By Jesus se wederkoms kom Hy terug om getroue volgelinge na Hom te neem volgens 1 Tessalonisense 4:16–17. Eers na die 1000 jaar vrederyk keer Christus saam met Sy verlostes en die heilige stad na die aarde terug, wanneer die profesie van Sagaria vervul sal word en die finale oordeel vind plaas. So verbind Sagaria die Olyfberg, Asal en die Kidron met die Here se redding en oorwinning.

Dit is opvallend dat dieselfde Olyfberg ook die naam “Berg van Bederf” of die “Berg van Verwoesting” gekry het volgens 2 Konings 23:13. Hier het Salomo op sy oudag hoogtes vir heidense gode soos Astarte (godin van die Sidoniërs), Kemos (god van Moab), en Milkom (god van die Ammoniete) opgerig, waardeur die berg met afgodery geassosieer is. Eeue later het koning Josia hierdie afgodsheiligdomme vernietig en die plek gereinig (2 Konings 23:13–14).

Die Olyfberg wat die plek van afgodery was word nou met Christus se Hemelvaart en sy finale oorwinning verbind. Die Here verander plekke van ontrouheid in getuienisse van Sy verlossing.

REBELLIE, REINIGING EN OORDEEL: GRAFTE IN DIE KIDRON

Die Kidron is ook sinoniem met dood en word omring deur grafte uit verskillende tye en gelowe. Direk voor die Oospoort, die Goue Poort, lê die Islamitiese begraafplaas. Oorkant op die Olyfberg is die Joodse begraafplek wat alreeds meer as 3 000 jaar in gebruik is, daar is meer as 150 000 grafte. Hier, tussen antieke grafte, het baie tragiese verhale geëindig.

In die Kidron, is ook ‘n monument van Absalom, bekend as Absalon se pilaar wat ons aan sy ydelheid herinner.

Hierdie monument dateer waarskynlik uit die 1ste eeu v.C. en nie uit Absalom se tyd nie, baie jare na sy dood, maar volkstradisie het dit met Absalom geassosieer.

In 2 Samuel 18:18 lees ons:

“Absalom het, terwyl hy nog gelewe het, vir hom ‘n gedenkteken laat oprig in die Koningsvallei, want hy het gesê: ‘Ek het geen seun wat my naam kan onthou nie.’ En hy het daardie gedenkteken na sy eie naam vernoem. Tot vandag toe staan dit bekend as Absalom se Pilaar.”

Hierdie beskrywing pas baie mooi by die monument in die Kidronvallei. Volgens die styl en argeologie dateer dit waarskynlik uit die 1ste eeu v.C., baie jare na sy dood, maar volkstradisie assosieer dit steeds met Absalom.

Absalom is dood in die woud van Efraim, waar sy hare in ’n terpentynboom vasgehaak het toe hy op sy muil gery het. Terwyl hy tussen hemel en aarde gehang het, het Joab hom wreed vermoor, hom in ’n kuil gegooi en met klippe bedek. Die besonderhede is opgeteken in 2 Samuel 18:9-17.

Vir baie jare bring Joodse ouers hulle rebelse of ongehoorsame kinders na die monument en laat hulle klippe na die gedenkteken gooi waartydens die verhaal van Absalom vertel word as waarskuwing.

Absalom wou sy naam verewig met ’n monument, maar sy nalatenskap kom uit sy karakter. Die pilaar staan nog, maar die Bybel onthou hom vir sy rebellie, nie vir grootheid nie.

Baie naby aan Absalon se pilaar staan die monumentale graf van Sagaria. Dit is die graf van ’n dapper priester wie se lewe wreed beëindig is. Al glo argeoloë dat die monument waarskynlik ook eers in die eerste eeu n.C. uit die rots gekap is en dus nie Sagaria se werklike graf is nie word dit met die profeet en priester verbind wat deur koning Joas laat stenig is.

Die ironie is aangrypend. Sagaria was die seun van die hoëpriester Jojada. Dieselfde man wat die jong Joas uit die hand van sy ouma Atalia, die dogter van Agab en Isebel, gered het toe sy hom wou doodmaak. Jojada het Joas soos sy eie kind grootgemaak, hom beskerm en hom uiteindelik op die troon geplaas. Onder Jojada se leiding het koning Joas later die tempel van die Here laat herstel deur geld in te samel en bekwame vakmanne aan te stel om die vervalle gebou in sy vorige glorie te herstel (2 Konings 12:4–16; 2 Kronieke 24:4–14).

Solank Jojada geleef het, het Joas die Here gedien. Maar toe Jojada sterf, het Joas die Here verlaat, na die stemme van goddelose raadgewers geluister en uiteindelik die seun van sy weldoener laat stenig, in die voorhof van dieselfde tempel wat hy eens herstel het.

“Maar koning Joas het nie gedink aan die goedertierenheid wat sy vader Jojada aan hom bewys het nie; en hy het sy seun doodgemaak…”– 2 Kronieke 24:22

Terwyl Sagaria sterf, spreek hy nie ‘n vloek uit nie, maar laat hy sy saak aan die Here oor: “Mag die Here dit sien en rekenskap eis!”. Sy bloed het in die tempel geroep om geregtigheid. Byna nege eeue later sou Jesus self na hierdie martelaar verwys en sê: “van die bloed van Abel af tot die bloed van Sagaria…” – Matteus 23:35.

Die wêreld het sy stem probeer stilmaak, maar sy getuienis leef voort in die Skrif.

Ons verhouding met die Here kan nooit op die geloof van ons ouers, predikers of geestelike mentors rus nie. Joas moes self ‘n verhouding met die here gehad het en kon nie staatmaak op Jojada se verhouding nie.

Die Here sal nooit die getuienis van Sy getroue kinders vergeet nie en die uiteindelike oordeel sal voltrek word.

Ook ander konings soos Asa en Hiskia het afgodsbeelde en onrein voorwerpe uit die tempel en Jerusalem verwyder en dit in die Kidron vernietig en verbrand om na die Here terug te keer en ware aanbidding te herstel.

Die Kidron is ‘n getuie van rebellie, reiniging en oordeel en dat ware lewe slegs moontlik is as ons tot die einde aan die Here getrou bly.

ABRAHAM IN DIE KIDRON

Lank voordat Dawid Jerusalem verower het, het Abraham, nadat hy met sy 318 manne Lot en die ander gevangenes uit die hande van Kedorlaomer en sy bondgenote gered het, met die herwonne buit en mense teruggekeer. In die Kidronvallei, die Sawe laagte wat ook die Koningsdal genoem word, het twee konings hom tegemoetgekom.

Eerstens het Bera, die koning van Sodom, na hom gekom. Abraham het saam met sy manne en die herwonne goedere daar aangekom. Die koning van Sodom het hom ’n aanbod gemaak: “Gee my die mense, en neem jy die goed vir jou”, maar Abraham het dadelik geweier. Hy het verklaar dat hy van niks wat aan Sodom behoort sou neem nie, nie eens ’n skoenveter nie. Hy wou nie hê dat iemand kon sê dat die koning van Sodom hom ryk gemaak het nie. Abraham het slegs toegelaat dat sy manne eet wat hulle nodig gehad het, en dat sy bondgenote Aner, Eskol en Mamre hulle deel kry. In Bera sien ons ’n verteenwoordiger van die goddelose wêreld en die magte van die Bose. Abraham het geweet: van Satan en sy verteenwoordigers neem ’n mens niks nie, hoe aanloklik die voorstel ook al mag wees. Hy wou sy seën en sy oorwinning slegs aan die Here toeskryf.

Hierna het Melgisedek, die koning van Salem en priester van die Allerhoogste God, na vore getree. Hy het brood en wyn uitgebring en Abraham geseën: “Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand oorgegee het.”

Abraham het aan hierdie priester-koning ’n tiende van alles gegee wat hy uit die veldslag teruggebring het. Melgisedek, wie se naam “koning van geregtigheid” beteken en wat regeer het oor Salem, die stad van vrede – latere Jerusalem. Hy is ‘n tipe van Christus, die ewige Koning-Priester volgens die orde van Melgisedek.

Net so sal Jesus, die ware Koning-Priester, in die voleinding van tyd aan die nasies verskyn. Wanneer die Nuwe Jerusalem uit die hemel neergedaal het en die heiliges veilig by Christus is, sal dieselfde Kidronvallei, ook bekend as die dal van Josafat, die toneel word van die finale oordeel.

Soos die profeet Joël gesê het: “Ek sal al die nasies versamel en hulle na die dal van Josafat laat aftrek” —Joël 3:2

Hier sal die Regter van die hele aarde die nasies oordeel.

Die Kidron, die Koningsdal wat eens die plek was van keuse tussen die aanbod van die koning van Sodom en die seën van Melgisedek, word dan die plek waar die uiteindelike onderskeid gemaak word tussen die wat aan die wêreld behoort en die wat aan die Koning-Priester behoort. Abraham se voorbeeld bly vandag nog geldig dat ons niks moet neem van die bose nie, maar alles met dankbaarheid uit die hand van die Allerhoogste moet ontvang en aan Hom die eer gee wat Hom toekom. So berei ons ons voor vir die dag wanneer dieselfde vallei die heerlikheid van Christus se regverdige oordeel sal aanskou.

BELOFTE AAN HERSTEL

Die Kidronvallei nie net ’n plek van dood en oordeel nie. Die profeet Jeremia gee die pragtige belofte:

“En die hele dal van die lyke en van die as, en al die velde tot by die spruit Kidron… sal aan die HERE heilig wees; dit sal nie weer uitgeruk of verwoes word in ewigheid nie” — Jeremia 31:40

Die Kidron herinner ons dat elke mens uiteindelik voor die Koning sal staan.

Jesus het reeds die pad van lyding deur hierdie vallei geloop, maar Hy sal terugkeer as Koning van die konings en Here van die here.

Die groot vraag is dus nie of Hy kom nie, maar: Is ons gereed om Hom te ontmoet?

“Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!” — Openbaring 22:20

Dr. Saartjie Eksteen

Was this article helpful?

Related Articles