Deure

DEURE  – Johannes 10:1-9

Hierdie gebeurtenis het in 1962 in Springs plaasgevind. Ek was besig om te kolporteur. Dit was die heel eerste huis wat ek die middag besoek het. Ek het aan die deur geklop en gewag.

‘n Dame het oopgemaak en my stip in die oë gekyk. Toe praat sy. “Jy is mnr. du Plessis. Kom binne.” Toe ek binne is, het sy my die interesantste iets van my lewe vertel. Die vorige nag het sy my in ‘n droom gesien en ook die boeke wat ek verkoop.

Na ‘n ruk het haar dogter ingekom en vir my dieselfde verhaal vertel. In die hiernamaals gaan ons baie interessante ontmoetings hê en ek sien uit om hierdie twee mense weer te sien.

Maar dan was daar ook deure van die dood waaraan ek geklop het. Gevaarlike plekke waar die Here my teer bewaar het.

DEURE – algemeen

Vandag gaan ons oor deure gesels. Iets waarmee ons daagliks kontak. Die groot lesse van die lewe kom dikwels na ons in die vorm van die alledaagse dinge wat ons nie opmerk nie.

Die gebed van my hart is dat wanneer jy met deure in aanraking kom, jy aan die diepere betekenis daarvan sal dink. Mag dit wees dat jou kontak met deure jou geestelike lewe sal verryk en jou gebedslewe voller maak.

AFRIKAANSE IDIOOM

Hierdie gewone woordjie “deur” het ‘n idiomatiese vorm in Afrikaans aangeneem.

Bv. Vee eers voor jou eie deur;
Met die deur in die huis val;
Agter die deur staan;
Iemand die deur wys; en
By die verkeerde deur klop.

GEESTELIKE BETEKENIS IN DIE SKRIF

Ps. 141:3 “Here, stel ‘n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.”

Die seur van my lippe. Hier is ook ‘n deur. Agter hierdie deur gaan daar partymaal lelike dinge aan en Dawid bid dat die Here die deur van sy lippe moet bewaar.

Romeine 3:14 sê ons mond is vol vervloeking en bitterheid.

Een van die lelikste dinge om te aanskou is die uitbarsting van die mens. Die dinge wat somtyds by hierdie deur uitborrel is vreeslik.

Hou hierdie deur toe. Bid die Here om die deur van jou lippe te bewaar. Daardie dinge wat ons sê, is onherroeplik. Dit sny tere harte stukkend wat nooit weer heeltemal regkom nie.

Hosea 2:14 Deur van hoop.

Hier het ons met gedagtes te make. Daar is een deur wat ons kan oopmaak en ons stap in ‘n kamer van pessimisme, swartgalligheid. Hou daardie deur toe. Maak die deur van hoop, van verwagting, van vertroue oop.

Hoop is die anker van die siel (Hebreë 6:19) en dit gaan tot binnekant die voorhangsel, tot by God self.

“Want ons is gered in hoop” Romeine 8:24

“Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid” Kolossense 1:27

TOEPASSING

Wanneer jy weer ‘n deur oopmaak, dink aan Hosea 2:14, die deur van hoop. Plaas dan jou vertroue jou hoop, jou verwagting op ewige dinge, die wederkoms, ja plaas jou hoop op Christus, die hoop van die heerlikheid.

Wanneer hoop op ‘n vaste Christelike grondslag rus, bring dit moed, entoesiasme, optimisme en vreugde.

Rigters 16:3 “En Simson het gelê tot middernag; maar teen middernag het hy opgestaan en die deure van die stadspoort en die twee deurposte gegryp en die met grendel en al uitgeruk en op sy skouers gesit en dit opgedra na die top van die berg wat teenoor Hebron lê.”

Simson was vasgevang. Hulle wou hom doodmaak. Wat nou? Met die krag van die Here neem hy daardie yslike deure, ruk dit met grendel en al uit en gaan gooi dit bo op die berg.

Dikwels word ons vasgevang in omstandighede waarin dit vir ons menslik onmoontlik is om uit te ontsnap. Onthou, daar is ‘n deur wat ons kan uitruk en ontsnap.

1 Korinriërs 10:13 Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.

As jy weer in versoeking kom, onthou daar is ‘n deur wat jy deur Gods krag kan uitruk en bo op die bergtop van oorwinning kan gaan gooi.

ONBEPERKTE GELEENTHEDE

Openbaring 3:8 “Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie.”

Wat is hierdie geopende deur? Dit is die onbeperkte geleenthede vir persoonlike oorwinning in die stryd teen sonde.

Weet jy dat God gewillig is om elke engel uit die hemel te stuur om jou te help om te oorwin.

Al Sy krag is beskikbaar om oorwin. Onthou, elke keer wanneer jy ‘n deur sien, daar is onbeperkte geleentheid vir persoonlike oorwinning in die stryd teen sonde en versoeking.

Jesus het vir ons ‘n deur van oorwinning geopen. Stap deur hierdie deur na ewige oorwinning.

DIE DEUR VAN GELEENTHEDE

1 Korintiërs 16:9 “Want ‘n groot en kragtige deur het vir my oopgegaan, en daar is baie teëstanders.”

Een van die grootste deure is die deur van geleenthede om iets vir die Here te doen.

Elke mens op hierdie aarde, vriendelik of onvriendelik is ‘n deur wat jou uitnooi om hom of haar te help.

Elke mens op aarde nooi jou uit om in sy of haar lewe in te stap en te kom help. En die beste manier waarop jy hulle kan help is om liefdevol en innemend te wees.

‘n Liefdevolle, innemende Christen is die sterkste argument ten gunste van die waarheid. Moenie vir jou self sê dat dit onmoontlik is om mense lief te hê nie. Daar bestaan nie so iets nie.

“Liefde vir die mens is die aardse openbaring van die liefde van God. Dit was om hierdie liefde in ons harte te bring, om ons kinders van een gesin te maak, dat die Koning van heerlikheid een met ons geword het. Wanneer Sy afskeidswoorde gehoorsaam word, “dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het”Johannes 15:12; wanneer ons die wêreld liefkry soos Hy dit liefgehad het, dan is Sy sending vir ons volbring. Ons is geskik vir die hemel, want ons het die hemel in ons harte.” KE 659.

Het ons die hemel in ons harte? Die teks sê ook dat dit nie alleen ‘n groot deur is nie, dit is ‘n kragtige deur.
Wanneer u begin om vir ander mense te werk, vul die Here u met krag.

Ek het vir baie jare ‘n begeerte gehad om vir die Here te werk, maar omdat ek oortuig was dat ek nog die aanleg, nog die krag gehad het, het ek uitgestel. Op ‘n dag het ek hierdie sitaat gelees, en dit het my tot onmiddellike aksie gedwing.

“Die Here skenk bekwaamheid aan elke man en vrou wat met Sy goddelike krag wil saamwerk. Al die vereiste talente, moed, volharding, geloof en takt sal kom as hulle die wapenrusting aantrek.” 6T 331-333

Die jare het my geleer dat die grootste deur in hierdie lewe die deur van geleentheid is om met siele te werk. Ek het ook geleer dat dit die kragtigste deur is want wanneer mens deur hierdie soort deure gaan, plaas die Here al die krag en bekwaamheid van die hemel op jou.

Wanneer jy weer ‘n deur sien, dink aan die groot en kragtige deur wat op jo wag in die vorm van mense wat jou hulp en liefde nodig het.

DEUR VAN DIE WOORD

Kolossense 4:3 “En bid tegelykertyd ook vir ons, dat God vir ons die deur van die woord mag open om te spreek van die verborgenheid van Christus, waarvoor ek ook in boeie is.”

Daar is ‘n baie belangrike deur wat ons daagliks moet open, en dit is die Woord van die Here.

Wanneer jy hierdie deur oopmaak, betree jy die vertrek met die rykste skatte van die heelal. Jy stap ‘n vertrek binne waar jy gemeenskap met die godsmanne van die eeue kan hou.

Wanneer jy hierdie deur oopmaak en ingaan, stap jy in die groot hart van liefde, Gods hart. Wanneer jy by hierdie deur instap is daar soveel te sien dat jy in jou kort lewensduur nooit alles sal kan waarneem nie.

Ek nooi jo om dikwels hierdie deur oop te maak, en in te stap.

DIE DEUR VAN MY HART

Openbaring 3:20 “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”

Dit is interessant om te sien in watter verskillende verbande die woord deur gebruik word. In hierdie verband is dit my hart. Hierdie keer moet ek die deur van my hart oopmaak. Vir wie? O, wat ‘n plegtige gedagte. Vir die Koning van die heelal.

Deur Sy liefde, deur Sy Woord, en deur Sy voorsienigheid, klop Christus aan die deur van die emosies; deur Sy wysheid, aan die deur van die gedagtes; en deur Sy beloftes aan die deur van die mens se verwagtinge en hoop.

Christus staan by die deur van elke mens se lewe, gereed om in te kom en ons met Sy teenwoordigheid te seën. Somtyds raas dit so vreeslik hier binne in my gemoed dat ek nie die klop aan die deur van my siel hoor nie.

Somtyds baklei ek so hard met die dinge van die verlede dat ek nie agterkom dat die Heiland van die hede by my hartsdeur klop nie.

As jy weer ‘n deur sien, onthou daar is Iemand wat graag wil hê dat jy, jou hartsdeur moet oopmaak, sodat Hy kan inkom.

GENADE DEUR

Matteus 25:10 “En ondewyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit.”

Binnekort, baie gouer as wat ons dink, sal Jesus die allerheiligste plek verlaat, die tempel sal vol rook word, en die genade deur sal vir ewig sluit.

“En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.” Openbaring 15:8

Die emosie van spyt is een van die onaangenaamstes wat mens kan beleef. Ons doen dinge, ons breek harte, ons maak mislukkings van dinge en ons kan dit nooit weer regstel nie. Spyt is iets wat altyd te laat kom, en ons spyt kan dinge nooit verander nie.

Geen mens kan homself in die vreeslike sielewroeging indink wanneer die genade-deur eendag sal sluit en hy besef dis vir altyd te laat.

Ons het nog gedink daar is tyd om reg te maak, en nou het die genadedeur gesluit – vir altyd gesluit. Vir 6000 jaar het hy oopgestaan, vir 6000 jaar het die liefdevolle genade van die Heiland met die een geslag na die ander gepleit en nou het genade geëindig. Ek is vir altyd verlore. Ons kan ons nie in hierdie situasie indink nie.

Uit die Koning van die Eeue, bl. 652,653 lees ek die volgende roerende gedagte:

“Alles in hierdie wêreld is in beroering. Die tekens van die tye is onheilspellend. Ons sien reeds die skaduwees van die dinge wat kom. Die Gees van God word onttrek van die aarde, en ramp volg ramp op see en op land. Daar is storms, aardbewings, brande, oorstromings en moord in alle grade. Wie kan die toekoms voorspel? Waar is veiligheid? Daar is veiligheid in niks wat menslik of aards is nie. Die mense begin hulle vinnig te skaar onder die banier wat hulle gekies het. Rusteloos wag hulle en hou hulle die bewegings van hulle leiers dop. Daar is diegene wat wag en werk vir die koms van die Here. ‘n Ander klas word aangemonster onder die leierskap van die eerste groot rebel. Daar is min wat in hart en siel glo dat daar ‘n hel te vermy en ‘n hemel te win is.

“Die krisis kruip langsaam nader. Die son skyn daarbo en volg sy vasgestelde baan, en die hemele verkondig steeds die heerlikheid van God. Die mense eet en drink nog, hulle plant en bou en rou en word in die huwelik uitgegee. Handelaars koop en verkoop nog. Mense ywer met mekaar vir die hoogste plek. Genotsoekers vul nog die teaters, gaan na die wedrenne en na die dobbelhole.
“Daar heers die grootste opwinding, en dit alles terwyl die genade uur vinnig ten einde loop, en elke persoon se lot vir ewig beslis word. Die Satan sien dat sy tyd kort is. Hy het al sy werktuie aan die werk gesit om die mense te bedrieg, te mislei, besig te hou, en te begogel; totdat die dag van genade beëindig en die genadedeur vir ewig gesluit word.”

IS EK GERED?

Die groot vraag wat ek myself in hierdie oomblikke moet afvra is net dit: Is ek gered? Wanneer die genade deur nou sluit, is my lot vir ewig beslis. Dis of die ewige lewe, of die ewige nag. As jy na ‘n deur kyk, besef dat die genade deur spoedig gaan sluit.

Tenslotte wil ek net van die beste Deur vertel. Daardie deur is Jesus.

Johannes 10:9 “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal Hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.”

Die skaapkrale in Jesus se dag gewone oop kolle met ‘n muur om. Daar was geen hek of deur nie. Die skape het deur ‘n opening in en uit gegaan. Saans wanneer dit donker word, het die herder in die opening gaan lê en self die deur geword.

Die herder het die letterlike deur geword, en enigeen wat in die kraal wou inkom, moes oor die herder klim. Nou gebruik Jesus hierdie beeld en Hy verklaar dat Hy die deur is. As iemand deur Hom ingaan, sal Hy gered word. Hy sal ingaan en weiding vind.

Is jy besig om die stryd te verloor? Jesus is die deur tot oorwinning. Is jy vasgevang in griewe, onvergewensgesindheid, liefdeloosheid? Jesus is die deur tot vrede en liefde.

Het sonde jou besoedel? Jesus is die deur tot reinheid.

Ek nooi jou om by hierdie deur, Jesus, in te gaan en vir ewig gered te word.

Waar jy daagliks met deure in aanraking kom, mag die Here gee dat die boodksappe wat Hy vir jou daarin het, duidelik tot jou spreek en dat dit jou krag sal gee op die weg na die hemelse tuiste.
tort.

Saam met Paulus kan ons sê: “Ons D A N K God vir sy onuitspreeklike gawe” 2 Korintië 9:15.

Was this article helpful?

Related Articles