Dankbaarheid

DANKBAARHEID

Skriftuur: Psalm 103

Loof die Here o my siel, en vergeet geeneen van Sy weldade nie.

Daar is kere in my lewe wanneer ek niet skielike deur ‘n besef van die Here se goedheid oorweldig word. Het so iets al met jou gebeur?

Jy word skoon bewoë as jy net aan die verskriklike goedheid van die Here dink.

LOOF DIE HERE IN DIE GEMEENTE

Is daar voorbeelde in die Bybel waar mense die Here in die teenwoordigheid van die hele gemeente geloof het? Ja.

Psalm 111:1 Prys die Here! Met my hele hart wil ek die Here loof in die samekoms van die opregtes, in die gemeente.

Net soos die psalmis die Here destyds in die gemeente geloof het, net so wil ek Hom ook vanoggend in hierdie gemeente loof.

MY GESONDHEID

Ek is so dankbaar vir die goeie gesondheid wat ek nog geniet en vir die voorreg om vir die Here te kan werk.

Ek is so dankbaar vir hierdie lieflike gemeente wat ek kan bedien.

KIND

My kind het my twee keer gedurende die week gebel. Sy moes die godsdiens in die Kaapse Konferensie kantoor waarneem en sy wou hê ek moes ‘n gedagte herhaal van hoe paleisklippe gekap word.

Toe sy gebore is, het die pediater vir my gesê sy sal net 72 uur leef.

Ek het vir baie ure langs daardie broeikassie gestaan en kyk hoe haar longetjies onreëlmatig sukkel om asem te haal.

Die 72 uur wat die dokter haar gegee het om te leef het 12 uur Sabbatmiddag verstryk. Pleks dat die kindjie waarvoor ons 9 jaar gewag en gebid het, sterf, het jaar longetjies normaal begin asem haal.

Sy leef nog. Sy het haar Pappa hierdie week twee keer gebel.

DIE VERLOSSINGSPLAN

Ek is so dankbaar dat God die Vader ‘n plan ontwerp het om my en elke mens uit die kloue van ons sondige natuur te kom red.

Ek is so dankbaar dat Jesus vir my peroonlik aan die kruis kom sterf het. Ek is dankbaar vir ’n ewigheidheid waarin ek Hom daarvoor kan gaan loof.

DAWID SE DANKGEBED

In 1 Kronieke 29 kry ons ‘n pragtige voorbeeld waar Dawid begin om die Here voor die hele vergadering te loof. Toe hy klaar was, het hy die volk gevra om ook op hulle beurt die Here te loof.

1 Kronieke 29:10-15 Dawid het ‘n lofprysing aan die Here in teenwoordigheid van die hele vergadering uitgespreek. Sy woorde was: Geloof sy U, Here, God van ons voorvader Israel, van ewigheid tot ewigheid. Die grootheid, Here, die krag, die glans, die roem en die majesteit behoort aan U, ja, alles in die hemel en op aarde. Aan U, Here, behoort die heerskappy; U is bo almal verhewe. Van U kom rykdom en eer. U heers oor alles. Mag en krag word deur U geskenk, en dit berus by U om enigiemand groot en sterk te maak. En nou loof ons U, ons God, ons prys u glansryke Naam, want wie is ek en wie is my volk dat ons die vermoë sou hê om sulke gawes te bring? Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het. Net soos ons voorvaders is ons by U sonder reg of aanspraak. Ons tyd op aarde is soos ‘n skaduwee, dit gaan verby.

Dawid het die diens nie na sy lofbetuiging afgesluit nie. Dit sou nie volledig wees nie. Kom ons kyk wat in vers 20 gebeur het.

Vers 20 Daarna het Dawid vir die volle vergadering gesê: “Prys nou die Here julle God.” Die volle vergadering het toe die Here die God van hulle voorvaders geprys. Daarna het hulle voor die Here en die koning gekniel en in huldebetoon neergeval.

In hierdie geval was dit nie net die koning wat die Here in die gemeente geloof en gepry het nie. Hy het die gemeente ook aangemoedig om dieselfde te doen.

NEERKNIEL

Terwyl die orrel saggies speel, wil ek u vra om op u knieë te gaan en vanoggend net weer van voor af vir die Here baie dankie te sê vir Sy onbeskryflike goedheid en liefde vir ons.

KWEEK DANKBAARHEID

Kweek slegs gedagtes en gevoelens wat dankbaarheid en lof sal voortbring. As jy verontreg is, vergeet daarvan en dink net aan die groot genade, die goedheid en die onverklaarbare liefde van Jesus.

Pleks om mense te kritiseer, loof liewer die Here.

Laat toe dat die vingers van God se goedheid die melodie van dankbaarheid op die harp van jou lewe speel.

Mag dit wees dat mense wat net na die wanklanke van bitterheid en ondankbaarheid luister, deur God se mooi loflied in jou lewe betower word.

Elke Sabbat wanneer ek kerk toe kom, dank ek die Here vir die voorreg om met van ie mooiste mense in Pretoria te kan assosieer.

Dis ‘n hoogtepunt om op ‘n Sabbatmore by hierdie kerk in te stap en mense te sien wat glimlag. Mense wat blymoedig bly tenspyte van terugslae.

Dis ‘n voorreg om op ‘n Sabbatdag mense te sien wat rein bly in ‘n baie onrein gemeenskap.

Dis so ‘n groot seën om in ‘n Sabbatskool lesstudie te sit en luister na iemand wat deeglik studeer het.

Vanoggend loof en prys ek die Here vir die voorreg om elke Sabbat Sy huis by te woon en met Sy kinders om te gaan.

DAWID SE DANKBAARHEID EN SE BLYDSKAP OM NA DIE HUIS VAN DIE HERE OP TE GAAN

Vir Dawid was dit ‘n baie groot voorreg om na die Huis van die Here te kon gaan. Dit het ‘n dankbare blydskap by hom opgewek.

Kom ons lees oor sy ondervinding:

Psalm 122:1 Ek was bly toe hulle vir my gesê het: “Kom ons gaan na die huis van die Here toe.”

Hoe voel jy wanneer iemand op ‘n Sabbatoggend vir jou vra om kerk toe te gaan?

Matteüs 18:20 Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is ek in hul midde.

Moenie dat ‘n sogenaamde swak boodskap jou Sabbatseëninge verwoes nie. Soek die teenwoordigheid van die Here in die diens. Hy het belowe om teenwoordig te wees. Soek Hom.

Kom ons lees verder wat Dawid oor die kerk bid.

Psalm 122:6-9 Bid dat Jerusalem vrede mag hê, dat hulle wat hom liefhet, rustig mag woon. Mag daar vrede wees binne jou mure, rus in jou wonings. Ter wille van my broers en my vriende wens ek jou vrede toe. Ter wille van die huis van die Here ons God bid ek dat dit met jou goed sal gaan.

BETER BINNE IN DIE KERK AS BUITE DIE KERK

Baie kere gaan dit nie so baie goed in die kerk nie. ‘n Mens kan dit met Noag in die ark vergelyk.

Dit was nie altyd so aangenaan in hierdie ark nie. Die geluide van die diere het Noag en sy mense met kere seker afgesit.

Dan was daar die reuk. Dit mag ook wees dat die diere met tye wanneer die ark op die vloed waters geskommel het, begin raas het.

Dit mag ook wees dat Noag en sy mense ongeduldig met mekaar geraak het. Maar ten spyte van dit alles, was dit binne in die ark baie beter as buite die ark.

Binne die ark was daar veiligheid en ‘n sekere toekoms. Buite die ark was daar geen toekoms nie, net die dood.

Matteüs 18:20 Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is ek in hul midde.

Moenie dat ‘n sogenaamde swak boodskap jou Sabbatseëninge verwoes nie. Soek die teenwoordigheid van die Here in die diens. Hy het belowe om teenwoordig te wees. Soek Hom. Die kerk van die Here waarheen en Sabbat vir Sabbat kan kom.

“Ons moet onthou dat die kerk, hoe swak en gebrekkig dit ook mag wees, is die enigste voorwerp op aarde is wat God se hoogste agting geniet. Hy waak oor Sy kerk met ‘n intense, liefdevolle besorgheid en versterk dit deur Sy Heilige Gees.” Selected Messages, Deel II, bl. 396.

Ek is so dankbaar vir die voorreg wat ek het om op ‘n Sabbat kerk toe te kom Ek is by die plek waar God se hart is.

BLY OP DIE SKIP

As kind het ek byna elke Sabbat geluister hoe my pa preek. Die rede hiervoor was omdat daar destyds nie baie predikante was nie.

Daar was een preek wat hy gepreek het, wat ek nooit sal vergeet nie. Dit het gehandel oor Paulus en die bemanning wat in ‘n groot storm op see beland het.

Daar was van die matrose wat die skip wou verlaat het, maar Paulus het die volgende vermaning gegee:

Handelinge 27:31 Paulus sê toe vir die offisiere en sy soldate: “As hierdie matrone nie aan boord bly nie, kan julle nie gered word nie.”

My pa het die kerk met die skip vergelyk. Hy het ons vermaan om nie van die skip, van die kerk, af te klim nie.

Bly op die skip! Was sy boodskap.

Ek u vermaan. “Bly op die skip. Moenie afklim nie. Bly in die kerk, moenie die kerk verlaat nie.”

Die kerk kan my nie red nie, maar die kerk kan my in my redding help.

Die goeie mense is daar om vir my tot seën te strek, die minder goeie mense is daar om my karakter te ontwikkel.

Ek is so dankbaar dat ek nog die gebruik van my verstandelike gesondheid. My breinfunksie is sodanig dat die Here my kan bestraf wanneer ek verkeerd doen. My breinfunksies geniet so ‘n mate van gesondheid dat ek nog die voorreg het om Hom elke dag te loof en om my hart elke dag vir Hom te kan gee.

Ek is so dankbaar dat ek my kind ook dikwels te kan bel. Dan vertel ek vir haar hoe verskriklik lief ek vir haar het, en hoe gereeld ek vir haar bid.

Ek dank die Here vir my kind.

Hoe gereeld dank jy die Here vir jou kinders? Miskien is jou kinders geestelelik nie so ver gevorder as wat jy dit wou hê nie.

Moet nooit vir hulle sê jy is in hulle teleurgestel nie. Doen alles in jou vermoë om hulle maats te bly en dank die Here vir jou kinders.

Was this article helpful?

Related Articles