1. Home
  2. Die Christelike Lewe
  3. Liefdesteleurstellings

Liefdesteleurstellings

LIEFDESTELEURSTELLINGS Matteus 7:24-28

Daar is sekere mense wat in motorongelukke was, wat nooit weer wil bestuur nie. Die skok was te groot. Hulle het alle selfvertroue verloor. Het jy al miskien jou vertroue in iets of iemand geplaas en toe ‘n groot skok opgedoen? Miskien jou selfvertroue verloor?

En dan het ek ook al mense teëgekom wat vroeër in hulle lewe ‘n liefdesteleurstelling gehad het en toe besluit het om nooit weer iemand toe te laat om vir hulle lief te word nie en hulle het ook besluit om nooit weer hulle harte op iemand te sit nie. Pragtige mense, maar hulle het te seer gekry. Ons moet nou net nie dink dat alle ongetroude mense deur so ‘n ondervinding gegaan het nie.

EERSTE TELEURSTELLING

Kom ek vertel julle van my eerste liefdesteleurstelling. Ek was 17 jaar oud. Skaam en op my plek. ’n Nuwe gesin het in ons dorp ingetrek en hulle het ‘n paar dogters gehad. Een van hulle het my raakgesien en ek vir haar. Ek was ‘n baie vaal outjie en hierdie aandag was amper meer as wat ek kon hanteer. Dis ‘n geweldige iets wanneer iemand ekstra aandag aan jou gee.

Wat ek destyds nie geweet het nie, is dat hierdie meisie baie ander seuns ook raakgesien het. Ag, as ek dit maar net geweet het.

Ek onthou nog daardie eerste soen. Mense! Ewe skielik kon ek nie genoeg suurstof in die hande kry nie. As my hart ‘n toeremeter was (ref counter) sou die naaldjie hier in die rooi by 7000 om-wentelinge gewys het.

Ek het my hart op hierdie meisie verloor. Het jy al jou hart op iemand verloor? As ek gaan slaap het ek haar gesien. As ek wakker word was sy voor my geestesoog.

‘n Hele paar van ons is een naweek met ‘n groot vragmotor na Badplaas, ‘n warmwaterbron in Mpumalanga toe. Ons twee het langs mekaar gesit. Wat ‘n ondervinding. Die tyd het net te vinnig verby gegaan.

Ek het agter op daardie lorrie diep dinge gedink. Ek het gedink dat ek vir die res van my lewe in haar geselskap sal wil wees. Dit het aanmekaar soos ‘n hemel gevoel. Dinge soos ‘n troue, ‘n huis, kinders, ja al hierdie dinge het deur my kop gemaal.

Ek dink die naam wat die sielkunde vir hierdie soort ondervinding gegee het, word VERLIEDHEID genoem. Ken jy hierdie ondervinding?

TELEURSTELLING

En toe word die droom ‘n nagmerrie. Het dit al met jou gebeur? Iets heerlik, iets heiligs, word skielik ‘n seer, ‘n pyn, ‘n agressie, ‘n ding wat jy nie wil hê nie, maar wat nie wil weggaan nie.

Ek was soos iemand wat ‘n berg geklim het, hoër en hoër. En net toe ek bo kom, het ek teen die agter kant van die berg afgeval. Dit was seer, dit was vernederend, dit was skielik.

Ek sien haar nog in die swembad bo-op ‘n ander ou se nek. Dit speel en dit lag. Maar hier in my binneste het dit gehuil. Sy het my die hele naweek geignoreer en net met hierdie ou geflankeer. As hy nog ‘n ordentlike seun gewees het, sou dit nie so sleg gewees het nie, maar hy was sommer ‘n skorrie morrie. Het so iets al met julle gebeur?

Dit was my eerste liefdesteleurstelling. Gelukkig was die verhouding nog jonk anders sou ek baie seerder gekry het. As ek vooraf geweet het sy sou my los, sou ek nooit my hart op haar verloor het nie.

En ek is seker dat as jy vooraf geweet het, sou jy ook nie jou hart vir iemand gegee het nie.

SELFMOORD

Ons was een aand op ‘n geselligheid. Willie en sy nooi het ook daar aangekom. Hulle was vreeslik gelukkig. Maar toe gebeur iets. Hulle kry woorde en sy ignoreer hom die hele aand en skerts met die jong outjies. Ou Willie het net stiller en stiller geraak. Ek het hom baie jammer gekry want ek is vroeër deur dieselfde probleem.

Ek is vandag nog jammer dat ek nie daardie aand met hom gaan praat het nie. Ek moes my arm om hom gesit het, en hom moed ingepraat het. Ons kan nooit regtig weet hoe diep iemand se hartseer is nie.

Twee uur daardie oggend het sy nooi histeries aan ons voordeur geklop. Willie het homself in hulle kombuis geskiet en die hele wêreld was vol bloed. Die arme Willie het sy hart so volkome op sy nooi gesit en toe dinge skeef loop, was dit vir hom te moeilik om langer met hierdie vreeslike pyn en vernedering aan te gaan.

Ons moet baie versigtig wees wanneer iemand anders sy of haar hart aan ons gee. Baie van die groot houers het groot letters op hulle HANDLE WITH CARE. En dis hoe ons iemand se liefde en vertroue in ons moet hanteer.
Ek wil jou ‘n vraag vra. Mag ‘n mens iemand so lief kry dat jy nie meer wil leef as die verhouding verbrokkel nie? Was jy al so vreeslik teleurgestel?

As Willie maar net geweet het, sou hy seker nooit sy hart so volkome aan daardie meisie gegee het nie.

Ek was nog ‘n vakleerling gewees. Elke week het die vrou in die kantoor van my geld afgetrek en vir my gespaar. Naderhand was dit ‘n mooi bedraggie. Een van die mense wat saam met my gewerk het, het met baie mooi stories na my gekom en ek het al my geld wat ek vir drie jaar opgespaar het, vir hom geleen en dit nooit weer terug gekry nie.

Het jy al iemand vertrou wat jou teleurgestel het? Het iemand al met mooi stories na jou gekom? Het jy daardie mens geglo? En toe stel daardie mens jou bitter teleur. Is dit moontlik dat een so ‘n ondervinding jou sal weerhou om ooit weer iemand te vertrou? As ek maar geweet het die man in die drukkery wou eintlik my geld steel, sou ek dit nooit vir hom geleen het nie.

LAASTE EEN

Kom ek vertel julle van die laaste taleurstelling wat ek gehad het. Dis nie net mense wat jou teleur stel nie, dis ook die dinge wat saam met mense gaan, wat jou teleurstel. Ons noem dit gevolge. Gevolge is iets wat soms ‘n hele leeftyd by jou bly.

Ek ken die teks in Jakobus wat praat van die mot en die roes wat verniel, maar waar ek gewoon het was dit net die mot wat verniel. Die roes was eintlik nie ‘n probleem nie.

En toe kom koop ek ‘n kar hier in die Kaap. Uiterlik het hy geen tekens van roes getoon nie. Maar na so ‘n paar maande het daar sulke groot blasé op die deure begin uitkom. Hulle het groter en groter geword en toe begin hulle oopgaan en jy sien net roes.

Die man van die garage het vir my so eerlik gelyk en ek het hom vertrou. Dis so lekker om mense te vertrou maar dis so seer wanneer jy uitvind hulle het jou bedrieg.

As ek net geweet het hierdie verkoopsman was besig om my te bedrieg, sou ek nooit ‘n kar by hom gekoop het nie.

Ek wonder wat my volgende teleurstelling gaan wees? En ek wonder wat jou volgende teleurstelling gaan wees? ‘n Mens sou graag die teleurstellings van die lewe wil verhoed maar dis nie altyd moontlik nie. Psalm 34:20 sê die regverdige word deur baie rampe getref.

Jy sit miskien op die hierdie oomblik met ‘n gebreekte hart. Jy is miskien vreeslik spyt oor iets anders wat met jou gebeur het. Hoe maak mens om die teleurstellings van die lewe te kan vat?

As jy dit dan nie kan vat nie, kan jy miskien selfmoord pleeg. Of jy kan ‘n lelike verbitterde mens word? Miskien kan dit wees dat die lewe reeds vir jou te veel geword het. Miskien het jy alreeds begin verbitterd raak. Miskien dink jy meer aan die teleurstellings wat jy gehad het as aan enigiets anders.

Kom ek lees vir jou watter fantastiese raad Jesus vir ons het.

Matteus 7:24, 25 “Elkeen wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen die huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondamente was op die rots.”

Jesus praat hier van ‘n mens wat die teleurstellings van die lewe kon vat. Iemand wat bly staan het. Maar hy beskryf ook die mens wat dit nie kan vat nie. Kom ons leet dit in 26,27:

“En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heelteman verwoes.”

Op ‘n keer het ek Israel gedurende Maart besoek. Dis die tyd wanneer hulle laat reëns val. Terwyl ek in die omgewing van die see van Galilea gery het, het ek vloedwaters gesien wat met ‘n gedruis teen die heuwels afgerol het. Ek het aan hierdie verhaal van Jesus gedink.

Ek het aan mense gedink wat ek geken het. Party het gaval en ander het staande gebly. Die twee huise het presies dieselfde gelyk. Die mure, die dak, die vensters en selfs die fondamente en toe begin dit reent em dit hou aan reent. Wat sou jy sê is hierdie reent wat so aanhou?

Naderhand het die vloedwaters teen die huis begin spoel. Al hoe sterker en sterker. Toe begin die wind te waai. Al hoe sterker. Skielik is daar ‘n rukwind. Die een huis staan en die ander huis stort inmekaar.

Wat het die verskil gemaak? Deur die jare het ek gesien hoe mense vas gestaan het. Maar ek het ook gesien dat die teleurstellings vir baie mense, oud en jonk so moeilik geword het, dat hulle geknak het.

Wanneer ek inrigtings besoek, vra ek uit na die geskiedenis van die pasiente. Baie van hulle kon die skok van teleurstellings nie vat nie. En nou loop hulle in die kampe van die verskillende inrigtings van ons land rond.

Wat het die verskil in die twee huise gemaak? Net een woord. Die ROTS. Wie is die rots? Jesus. Hoe kom ek by HOM uit?

Die teks sê: “Elkeen dan wat hierdie woorde van MY HOOR en daarvolgens HANDEL, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op ‘n rots gebou het.”

Ek het terug gegaan en na die woorde van Jesus gekyk. Want dit sê as ek dit hoor en daarvolgens handel, sal ek nie inmekaar stort nie. Kom ons kyk hoe die woorde van Jesus my kan help met die meisie wat my daar by Badplaas gelos het.

Matteus 5:38-48 “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand. Maar ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen kwaadwille mense verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere.
As iemand jou dwing om sy goed een kilometre vêr te dra, dra dit vir hom twee kilometre. Gee aan hom wat van jou iets vra, en moet hom wat van jou wil leen nie afwys nie.”

Julle het gehoor dat daar gesê is: Jou naaste moet jy liefhê en jou vyande moet jy haat. Maar dit sê Ek vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir die wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers Sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor die wat reg doen en oor die wat verkeerd doen. As julle dan net lief het wat vir julle lief het watter loon kan julle nog verwag? Maak die tollenaars nie ook so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar so nie?

Wat Jesus hier sê is dat ek nie kwaad met kwaad moet vergeld nie. Ek moet eerder wanneer iemand my teleurgestel het, goed aan daardie mens doen. Wanneer ek dit doen kan enige wind van teleurstelling teen my waai. Die grootste vloedwaters van rampe kan my tref, maar ek sal nie val nie. Ek is op die Rots gebou. Haat verwoes, liefde bou.

MOENIE JAMMER WEES NIE

Ek moenie jammer wees dat ek my liefde aan daardie meisie gegee het nie. Dis die mooiste geskenk wat ek kon gee. Ek moet bly wees dat ek die geleentheid gehad het om iets goddeliks te kon doen. En al breek tien ander meisies of seuns my hart moet ek nog steeds bly wees dat ek
die voorreg gehad het om my hart aan en liefde aan iemand te kon gee. Dis die mooiste geskenk wat ek kan bring.

Jesus sê ek moet nie teen kwaadwillige mense optree nie. Nee, ek moet vergewe. Pleks van kwaad te wees vir die ou wat my nooi afgerokkel het, moet ek jammer vir hom wees. Iewers vorentoe gaan hy teëspoed optel. Daar wag vir hom ook ‘n liefdesteleurstelling.

Pleks van verbitter teenoor die meisie te raak, kom ek vergewe haar. Die eerste mooi geskenk wat ek haar kon gee, was my liefde, die tweede mooi geskenk wat ek haar kan gee is my vergifnis.

Daar is twee dinge wat ek aan iemand kan gee wat my teleurgestel het: verbitterheid, en dit is gal sleg, of vergifnis, dis soet. Verbitterheid gaan my huis laat intuimel, vergifnis laat my huis staan. As ek vergewe sal ek teleurstelling kan vat. As ek verbitterd raak, sal ek dit nooit kan vat nie, en ek sal verwoes word.

GELDLENER

Hoe moet ek teenoor die man optree wat my ou spaargeldjies geleen het en dit nooit weer terug gegee het nie? Luister na Jesus se woorde: “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.” Matteus 6:14

Ek moet nie sleg voel dat ek hierdie man vertrou het nie. Dit was die mooiste iets wat ek kon doen. Wat hy met my vertroue maak is ongelukkig sy saak. My taak is om te vertrou.

Die feit dat hy my nie terug betaal het nie, gee vir my die geleentheid om hom te vergewe. Om te kan vergewe is om nader aan Jesus te kom as op enige ander manier. Dit is die grootste geskenk wat HY my gegee het.

Het mense jou so teleurgestel dat jy alle vertroue in mense verloor het? Voel jy dat jy nooit weer iemand kan vertrou nie? Moenie so voel nie. Gee maar weer jou vertroue weg. Dis ‘n mooi geskenk. Almal sal jou nie teleurstel nie. Daar is mense wat jou vertroue sal waardeer. Hou maar net lank genoeg aan.

Romeine 12:21-27 “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sovêr dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: Dit is My reg om te straf; Ek sal vergeld, sê die Here. As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”

Watter fantastiese raad. Wanneer iemand my skade aangedoen het, wil ek met hom afreken. Dis wanneer my huis gaan val want dan is ek nie op die rots gebou nie. Maar wanneer ek iets goeds vir die mens doen wat my seergemaak het, doen ek wat Jesus gesê het, en bou ek op die Rots.

TELEURSTELLINGS

In jou verlede het jy teleurstellings gehad. Hoe het jy dit hanteer? More en oormore gaan hulle weer kom. Hoe gaan jy hulle hanteer? Daardie wind en vloedwaters van hartseer gaan jou of laat intuimel of jy gaan staan. Dit hang af of jy gaan doen wat Romeine 12:21 sê:

“Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”

Dis Jesus se boodskap in ‘n neutedop. Daar is net een manier om te seer te hanteer, en dit is om mooi te wees. Vergewe mense en wees goed vir hulle. En as hulle jou weer teleurstel wees maar weer ‘n keer goed, en vergewe maar weer ‘n keer.

BY DIE KRUIS

Ek hou daarvan om vir Jesus ‘n paar vrae by die kruis te vra.

“Jesus, U het mos geweet dat Judas U gaan verraai? Waarom het U so lank met hom vriende gebly? Waarom het U so baie liefde op hom uitgestort? Waarom het U toegelaat dat hy U hart gebreek het?
Jesus antwoord saggies:

“Ja, Ek het geweet dat Judas my sou verraai. Ek het geweet hy sou my hart breek. Maar Ek wou graag vir hom my liefde en my vriendelikheid en my vertroue gee. Dis waarvoor Ek aarde toe gekom het, en dis die beste geskenk wat ek kan gee.”

“Jesus, hou U dit teen Judas dat hy U verraai het?” “Nee, Ek het hom vergewe. Ek is net so hartseer dat hy nooit my liefde aangeneem het nie.”

Jesus was so anders. As ek geweet het dat daardie eerste liefde van my sou my teleurstel, ontrou raak, sou ek haar nooit my hart gegee het nie.

Maar Jesus is so anders. Hy kom na my toe met al Sy liefde en Hy weet ek gaan aan Hom ontrou raak. Nogtans gee HY Homself aan my.

Kom ons vra Jesus oor Petrus.

“Jesus, U het geweet dat Petrus U met vloeke sou verloën, en nogtans het U hom as een van U drie beste vriende op aarde gemaak. Terwyl U in Kajafas se paleis gestaan het, het U gehoor hoe hy met vloeke ontken dat hy U enigsins ken. Ons het gesien hoe dit U hart gebreek het. Hoekom het U oop oë in hierdie groot liefdesteleurstelling ingeloop?

En Jesus antwoord weer amper dieselfde.

“Ek het aarde toe gekom om my liefde en vriendskap op almal uit te stort. Ek het geen voorwaardes gestel nie. Dis MY natuur. My geaardheid. Dit was vir my heerlik om My liefde op Petrus uit te stort.”

DIE MOTOR

Ek sou nooit die kar gekoop het as ek geweet het die deure sou ‘n paar maande later groot blasé maak wat oopbreek en roes nie. Vir my voel dit asof ek verniet die verkoopsman geglo het. Maar Jesus is so anders.

Hy sou die verkoopsman Sy vertroue gegee het, al het Hy geweet die man is nie eerlik nie. Hy sou met die roes gesit het. Dis wat Jesus so wonderlik maak.

Hy kyk na jou en my en Hy raak op ons verlief. Maar Hy weet alreeds vooraf dat ons Sy hart gaan breek. Dag vir dag stort Hy al sy liefde en aandag op my uit. En dan op ‘n dag slaan die lelike roes
van sonde uit.

Jesus is so wonderlik. Wanneer dit gebeur, gooi Hy my nie weg nie. Hy probeer weer en Hy sê Hy is gewillig om die lelike roes van sonde weg te neem en my weer heeltemal mooi te maak.

Dis waarom ek vir Jesus so lief is. Hy is so ‘n fantastiese vriend en Minnaar. Dit is Sy goedheid wat ‘n mens tot bekering lei. Het jy al jou hart volkome aan Hom gegee, soos Hy Sy hart volkome aan jou gegee het? Hy is gewillig om jou vriendskap op hierdie oomblik aan te neem. Wanneer jy dit doen, sal jou huis nie inmekaar stort nie.

Maar meer nog. Hy sal jou help om ander mense goed te behandel wat jou seergemaak het.

Was this article helpful?

Related Articles