1. Home
  2. Jesus
  3. Die Vleeswording Van Jesus
  4. Die Vleeswording Van Jesus (Deel 1) – Maria En Elisabet

Die Vleeswording Van Jesus (Deel 1) – Maria En Elisabet

DIE VLEESWORDING VAN JESUS – DEEL 1 MARIA EN ELISABET

Skrituur: Lukas 1:26-38

Net ‘n endjie vanaf Jerusalem is daar ‘n klein dorpie met die naam van Ein Karem. Dis hier waar die bejaarde egpaar, Sagaria en Elisabet gewoon het.

Dit was vir my baie aangrypend toe ek die eerste keer hier besoek het. ‘n Geboutjie is oor die antieke put gebou waar die mense van Jesus se dag gaan water skep het.

‘n Endjie daarvandaar kan mens ‘n pragtige kerk besoek. Die loflied van Maria is in ‘n hele aantal tale in mosaiek teen ‘n groot muur aangebring.

MARIA SE BESOEK

Nadat die engel Gabriël vir Maria kom vertel het dat sy as maagd geboorte aan die Messias sou gee, het sy hom gevra hoe dit kan moontlik wees.

Luister na hierdie onbegryplike antwoord van die Gabriël:

Lukas 1:35 Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God.

In my verbeelding sien ek hoe die jong Maria op die weg wat Levona genoem word, na haar bejaarde bloedverwant Elisabet toe stap. Terwyl sy stap dink sy:

“Tannie Elizabet is om en by 50 jaar oud en die engel sê dat sy al ses maande swanger is. Ek wil met haar oor hierdie groot wonderwerk gaan praat en haar vertel dat die engel gesê het dat ek die moeder van die Seun van God gaan word.”

DIE ONTMOETING

Terwyl ek Ein Karem besoek het, het ek aan die ontmoeting tussen hierdie twee geëerde vrouens gedink.

Toe Elisabet vir Maria groet, het klein Johannes in haar baarmoeder beweeg. Elisabet is met die Heilige Gees vervul en die volgende woorde uitgeroep:

Lukas 1:42 Geseend is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot! Waaraan het ek te danke dat die moeder van my Here na my toe kom?

MARIA SE LIED

Dr. Lukas het die pragtige loflied wat Maria geskryf het, vir ons bewaar en u kan dit gerus lees. Sy het ook die gawe van poësie soos haar groot oupa Dawid besit.

Ek noem net enkele gedagtes waarom sy die here besing het:

“Omdat Hy na my in my geringheid omgesien het.” vers 48
“Hy bewys ontferming van geslag tot geslag.” vers 50
“Behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes.” vers 53

DIE BEVALLING

Lukas 1:54 sê vir ons dat Maria omtrent drie maande by Elisabet gebly het en toe terug is Nasaret toe.

Maria was by toe klein Johannessie gebore is. Sy het na ‘n klein seuntjie gekyk wat 30 jaar later die magtige boodskap sou verkondig dat haar Kind die langverwagte Messias gekom om die sondes van die wêreld weg te neem.

JESUS SE GEBOORTE

Maria is terug Nasaret toe. Ses maande later het sy weer dieselfde pad na Betlehem toe geloop en iewers in die agterbuurtes geboorte aan Jesus gegee.

DIE VLEESWORDING

Kom ons luister hoe Johannes die vleeswording van Jesus beskryf:

Johannes 1:1 In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.

Johannes verwys na Jesus as die Woord. Dis Hy wat die karakter van God die Vader kom verwoord het. Hy het met ons oor die liefdevolle besorgheid van die Vader kom praat.

Luister wat sê Johannes verder van Jesus:

Vers 3 Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.

Jesus die Woord het nie alleen die sagte misreën gemaak nie. Hy het ook die magtige donderwolke, swaar gelaai met miljoene tonne water gemaak.

En wanneer jy biljoene sterre teen die swart fluweel van die nag skitterend sien bewe, moet jy weet dis Jesus die Woord wat hulle beskep het.

DIE WOORD WORD VLEES

En toe op ‘n dag het ‘n misterie plaasgevind. ‘n Misterie wat ons deur die ewigheid gaan bestudeer.

Johannes 1:14 Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

Wat ‘n gedagte! Die Skepper word ‘n skepsel. Wat se soort skepsel. Hy word ‘n ek en ‘n jy.

HEMELSE VERGADERING

Op ‘n dag het die Vader die engele bymekaar geroep en aangekondig dat Jesus op pad na planeet aarde toe is om ‘n mens te gaan word.

“’n Mens!” roep Gabriël van verbasing uit. “Wat se soort mens? Soos wat Adam was voordat hy in sonde geval het? Mooi, sondeloos en simmetries?”

“Nee. Gabriël. Hy gaan soos een van die mense word waarmee julle daagliks te doen kry.”

“Maar heilige Vader die mens is tans die helfte van Adam se grootte is en ‘n miljoen keer leliker. Moet Jesus so gaan word?”

“Ja Gabriël. Daar is geen ander manier waarop ons die menslike ras van ‘n ewige uitwissing kan red nie.”

GABRIEL EN JESUS

Miskien het Gabriël met Jesus in gesprek getree en oor die implikasies van die vleeswording gepraat.

“Hoogheilige Christus. As U die vorm van ‘n engel sou aanneem en aarde toe gaan, sal dit vir my ‘n onbegryplike misterie wees, maar ek sal dit tot ‘n mate kan aanvaar. As u in die volle heerlikheid van Adam voor sy val na die aarde toe sou kom, sou dit vir my nog moeiliker wees om te aanvaar. Maar as u…”

Gabriël sukkel om verder te praat. Hy begin te huil. Na ‘n rukkie praat hy verder.

“Maar as u die gestalte van ‘n mens sou aanneem wat die liederlike spore van 4000 jaar se sonde op hom dra, sal ek dit nie kan vat nie.

“Is dit nodig dat U wat so verhewe is, so laag moet gaan daal om die mense ras te red?”

DIE VERBORGENDHEID VAN DIE GODSALIGHEID IS GROOT

Terwyl Paulus aan die misterie van die vleeswording dink, skryf hy die volgende woorde onder inspirasie van die Heilige Gees.

1 Timoteus 3:16 En, onteenseglik, die verborgendheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees…”

Niemand van ons wil afkom in status en in ons lewensstandaarde nie.

Niemand van ons sal met ‘n fiets wil kerk toe kom nie.

Niemand van ons sal iewers naby ‘n Township wil gaan plak nie.

Paulus sê: Die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees…

Die magtige Tweede Persoon van die Godheid, Jesus Christus, gryp ‘n paar sinkplate en swartsakke van menslike verval en kom plak in die township van die heelal.

Nee. Hy het nie met sy sinkplate en swartsakke van menslike vleeswording in die township van Sy heelal kom woon nie. Hy het langs die township in ‘n plakkerskamp kom woon.

DIE BEVRUGTING

Dit moes seker ‘n aandoenlike oomblik gewees het toe Jesus, die Aanvoerder van die hemelse leerskare moes afskeid neem.

“Waarheen gaan U as U ons nou verlaat? Gaan U in die tempel verskyn en Uself aan die Joodse volk bekendmaak?” vra een van die engele.

Jesus antwoord: “Ek het vir Gabriël gevra om vir ‘n jong maagd te gaan sê dat ek in die vorm van ‘n klein selletjie in haar baarmoeder geplant gaan word.

“Vir die eerste nege maande van my 33-jarige verblyf op aarde, sal ek in die liggaam van ‘n vrou deurbring.”

Die engele skud net hulle koppe. Dit wat hulle hoor is vir hulle net te onbegryplik om te verstaan.

VOORKOMS

Een van die engele vra vir Jesus nog ‘n vraag:

“Hoe gaan U lyk wanneer U na ons terugkom? Gaan U die mensgedeelte wat U nou gaan aanneem agterlaat, of gaan U dit saambring?”
Wat dink jy het Jesus geantwoord?

1 Timoteus 2:5,6 Daar is immers net een God, en daar is net een Middellaar tussen God en die mense, die MENS Christus Jesus wat Homself as ‘n losprys vir almal gegee het…”

Jesus spreek die engele toe:

“Wanneer Ek terugkom, gaan Ek nie meer lyk soos wat Ek nou lyk nie. Julle gaan ‘n God-mens sien.”

‘n Ander engel vra vir Jesus nog ‘n vraag.

“Vir hoe lank gaan U die mensheid in U saamdra?”

Jesus kyk die engel stip in die oë en antwoord: “Vir ewig!”

SAL NIE VREEMD VOEL NIE

Het jy al vreemd en ontuis in die geselskap van deftige, baie ryk mense gevoel? Gevoel jy is nie heeltemaal tuis nie.

As predikant het van my welgestelde lidmate my al in hulle vliegtuie opgeneem. Maar ek voel ontuis tussen hierdie mense want twee van my bande is glad en ek is nie seker of ek nuwe moet opsit nie. Miskien liewer versooldes.

Ek kan meer met die oppasser by die hanger identifiseer want sy bande is ook glad.

Wanneer ons in die hemel kom, sal ons nie net vliegtuie van onbeskryflike heerlikheid sien wat ons ontuis gaan laat voel nie.
Ons gaan die gladde bande van Jesus se nederigheid sien.

In die hemel gaan ons die nederige mens in Jesus die God-mens sien en ons gaan vir ewig tuisvoel. Daar gaan Iemand wees om mee
te identifiseer.

DIE HEEL PAD

Jesus het in die volste sin van die woord ‘n mens kom word. Van ‘n klein spermpie wat met ‘n sperm van Maria verbind het, tot die volle nege maande loop van ‘n fetus.

Daarna het Hy het in elke opsig die pynlike pad van ‘n mens kom loop. Van bevrugting tot die dood. Die Skepper van die sterre word ‘n verskietende ster.

1 Timoteus 3:16 En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees…”

SELFBEHEERSING

Ten einde ‘n volmaakte voorbeeld vir ons te wees het Jesus nooit van Sy eie Godheid gebruik gemaak om wonderwerke te verrig of om versoekings te weerstaan nie. Luister wat sê Hy:

Johannes 5:30 Uit my eie kan Ek niks doen nie…

In der ewigheid sal ons nooit kan besef watter versoeking dit vir Jesus gewees het. Hy kon as God enigiets doen, maar Hy het Homself soos ‘n diep afhanklike mens gedra.

Kom ek probeer hierdie misterie verduidelik.Dit was my voorreg om op ‘n keer by Cape Kennedy in Amerika te kon besoek. Hier by Nasa het hulle ‘n uitstalling van die vuurpyle wat gebruik was om mense na die maan te skiet.

Ek glo nie daar is genoeg perde om die perdekrag van hierdie motore te beskryf nie.

Gestel nou die Amerikaanse ruimte tegnoloë bou al daardie krag langs jou 1300 CC kewer enjin in. Jy word gevra om nooit daardie vuurpyl se krag sonder toestemming te gebruik nie.

Dit sou baie moeilik gewees het om jou kewer soos ‘n kewer te laat ry. Dink maar net as jy met ‘n sleepwa teen ‘n steil bult sukkel. As jy die krag na daardie vuurpyl enjins kon oorsit, sou jy soos ‘n blits met jou kar en sleepwa teen enige bult kon uit jaag.

Of as jy by ‘n robot staan en die bestuurder van ‘n opgewarmde BMW “ref” sy kar terwyl hy na jou kyk. Dit sal darem lekker gewees het om met jou kewertjie onder hom weg te trek dat dit lyk of hy stilstaan.

In die kewertjie van Jesus se mensheid was Sy magtige godheid verborge. Hy kon van hierdie krag gebruik gemaak toe Hy teen die
bulte van armoede en versoekings uitgesukkel het maar Hy het nie.
In diepe afhanklikheid het Hy Sy krag van dieselfde Bron gekry as wat ek en jy dit kan kry.

Toe God die Seun ons mensheid in Homself opgeneen het, het Hy met daardie mensheid deur elke versoeking gestap.

Hebreërs 4:15,16 Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

Omdat Jesus saam met my ‘n mens kom word het, verstaan Hy hoe ek gevoel het toe die eerste meisie my bo ‘n ander een verkies het.

Sy eie volk het ‘n misdadiger bo Hom verkies.

Omdat Jesus ‘n mens kom word het, verstaan Hy my eensaamheid en my verdwaasde verleenthede.

Aan die kruis het Hy die grootste eensaamheid ooit deurgemaa.

Filipense 2:5-8 Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

MY SONDE OP HOMSELF GENEEM

Die laaste opdraende wat Jesus deur die lewe geloop het, was die heel moeilikste. Toe Hy teen die heuwel van Golgota uitgestap het, het God die Vader die sonde van die mensdom op Hom geplaas.

Die bult was vir Hom te steil en toe sterf Hy.

Maar toe Hy met my vrag sonde teen die bult van Golgotha gesterf het, het Hy ook my sonde vir ewig van my verwyder.

GOUE KETTING

Die vleeswording en uiteindelike dood van Jesus, het die goue ketting geword waarmee Hy ons as mens met die hemel kom verbind het.

VICTORIA WATERVALLE

Terwyl ek onlangs die magtige Victoriawatervalle besoek het, het ek aan Jesus se vleeswording gedink.

Tonne en tonne watermassas stort gedurigdeur oor die afgrond.

So ook het Jesus, die magtige Tweede Persoon van die Godheid oor die ewige donker afgrond tussen hemel en aarde kom stort.

Wanneer die waters die 107 meters afgestort het, spat dit in miljoene stukkies klein waterpartikels.

Daarna gebeur iets interessants. Dieself water wat ‘n rukkie vantevore oor die valle gestort het, vorm mis, en begin na bo te styg.

Hoër en hoër en selfs hoër as wat hulle van te vore was.

HOëR GESTYG

Toe Jesus Homself oor die wal van Golgota in die dood te pletter geval het, het Hy met Sy opstanding soos ‘n groot wolk van glorie in die kosmos opgestyg.

Soos die miswolk by die Victoriavalle ook hoër as voorheen gestyg het, so het Jesus na Sy vleeswording ook hoër in die estimasie van die heelal gestyg.

Filippense 2:9 Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is.

PRAG EN FUNKSIONALITEIT

Terwyl die miswolk van die gestorte water na bo styg, skyn die son daardeur en dan ontstaan die pragtigste reënboe.

So ook in die geval van die vleesgeworde opgestane Jesus.

In sy herese vorm vertoon Hy die die reënboog van verlossing in al sy kleurvolle heerlikheid en reddende skakerings.

Terwyl ons in die warm son langs die valle geloop en na die prag van die reënboog gekyk het, het iets verkwikkends met ons gebeur.

Die windjie het die koel mis teen ons warm, moeë liggame gewaai. Wat ‘n heerlike verkwikkende effek het dit nie op ons gehad nie.

Wanneer ek en jy die vleeswording van Jesus bestudeer, sal iets besonders met ons gebeur. Die koel mis van Sy verlossende liefde, sal ons moeë siele verkwik.

Hoe meer ons die kleurvolle, reddende skoonheid van Jesus se vleeswording en dood aanskou, hoe meer sal ons deur die koel mis van Sy reddende liefde verkwik word.

Die wêreld vier elke jaar die geboorte van Jesus. Mag dit wees dat ons in hierdie feesgetye van nuuts af die misterie van Jesus se vleeswording bepeins.

Was this article helpful?

Related Articles