1. Home
  2. Jesus
  3. Die Vleeswording Van Jesus
  4. Die Vleeswording Van Jesus (Deel 5) – Die Koor Het Sagter Gesing

Die Vleeswording Van Jesus (Deel 5) – Die Koor Het Sagter Gesing

VLEESWORDING – DIE KOOR HET SAGTER GESING

Skriftuur: Filipense 2:5-8

Daar was ‘n paar baie hartseer dae in die hemel. Dit het met Jesus se vleeswording te doen. Dis baie moeilik vir ons aardse verstande om ons in die hemel se hartseer in te dink.

Kom ek vertel van die eerste een. Dit was ‘n Sabbatoggend. Een derde van die orkes het nie opgedaag nie.

Die briljante, manjifieke koorleier Lucifer was ook nie daar nie.

Dit was nie ‘n maklike Sabbat vir God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees nie.

Dis nie maklik om iemand wat jy liefhet deur rebellie te verloor nie. God het Lucifer en die engele ontsettend liefgehad. Hy het elkeen van hulle met liefde geskape.

VERWERPING

Daar is baie soorte seer emosies. Verwerping is seker een van die seerste pyne wat daar is. God het dit op ‘n baie seer en intense manier ervaar.

Lucifer het dit reggekry om ‘n derde van die engele bevolking te oorreed om God te verwerp en uit Sy lewe te stap.

Die pyn van Jesus se vleeswording het met ‘n rebellie in die hemel begin. Hy was uitgedaag om Sy liefde vir Sy skepsels te kom bewys, en Hy het. Hy het mens kom word.

Het iemand jou al verwerp en uit jou lewe gestap?

Deur die jare het ek in huise gesit waar min meubels was. ‘n Lewensmaat het uitgetrek en ‘n klomp goed saamgevat.

DIE SABBAT IN DIE HEMEL

Dit was ‘n baie hartseer Sabbat in die hemel. ‘n Derde van die engele het hulle goed gevat en uitgetrek om nooit weer terug te kom nie.

‘n Hartseer het in God se hart ingetrek wat nooit weer uitgetrek het nie.

DIE LIED VAN PYN

Dis moontlik dat die Drie-eenheid die volgende treurlied daardie spesifieke Sabbat gesing het.

Jesaja 14:12 Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad!

Dis moontlik dat die twee derde agtergeblewene engele saam met God begin sing het. “Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester seun van die dageraad.”

Hemelse liefde is nie haatdraend teenoor iemand wat rebels uit jou lewe uit stap nie – net bitter hartseer.

DAWID SE LIED VAN PYN

Baie jare later het ‘n Pa ‘n soortgelyke lied oor sy rebelse seun gesing. Baie jare later ervaar koning Dawid die pyn wat God in die hemel ervaar het toe een van Sy kinders teen Hom gerebelleer het.

2 Samuel 18:33 Die koning het ontroerd geraak en in trane na die kamer bokant die poort opgeklim. Daar het hy heen en weer geloop en gesê: “My seun, Absalom, my seun, my seun. Absalom, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het. Absalom, my seun, my seun.”

Kan jy Dawid hoor huil? Hy huil die lied wat God lank gelede in die hemel gehuil het toe ‘n ander Absalom, Lucifer teen Hom in opstand gekom het.

LIEFDE VIR REBELLE

Eienaardig hoe groot ‘n mens se liefde selfs vir rebelle kan word.

Ek onthou die keer toe ek met die ma van hierdie boef gaan praat het. Sy het met soveel teerheid van haar kriminele kind gepraat.

Op ‘n keer het ek ‘n rebelse broer gaan besoek. Hy was al vir baie lank vir baie mense kwaad. Maar vir een of ander rede het ek vir hom lief geraak. Ek was ook jammer vir hom.
Dit vat baie minder energie om vir mense jammer te wees as wat dit vat om vir hulle kwaad te wees.

Terwyl ek na hom gery het, het ek vir die Here gevra om vir my ‘n baie sagte hart te gee. Ongelukkig het hy net kwater en kwater geword.

Hy het my sekere bose motiewe toegedig. Ek was verstom. Dinge wat nog nooit eers in my hart opgekom het nie, het hy my toegedig.

Nadat hy aan die einde van sy irrasionele uitbarsting gekom het, het ek hom gevra of ons nie kan saam bid nie. Hy het geweier.

Ek het in die kleine ervaar wat God in die oortreffender trap ervaar het.

Eendag in die hemel gaan ons meer aangaande die pyn in God se hart verneem toe Lucifer met ‘n derde van die engel uit Sy lewe gestap het.

NEEM JOU VERWERPINGSPYN NA GOD

Dis baie moontlik dat jy met verwerpingspyn in jou hart sit. Dis moontlik dat jy alles gedoen het om met iemand te versoen maar nie daarin kon slaag nie.

God kon nie die rebellie in Lucifer se hart verander nie. Dawid kon nie rebellie in sy rebelse seun Absalom se hart verander nie. Rebellie het die dood van albei gekos.

Neem jou pyn na die Here toe. Jou kleiner verwerpingspyn kan sinvol in Sy groter verwerpingspyn geakkommodeer word.

AANKONDIGING

Dit was ‘n baie hartseer Sabbat toe God die nuus van Adam en Eva se val aangekondig het. Die groot rebel het ook van Adam en Eva rebelle gemaak.

Die twee sondelose mense het hulle glans van onskuld verloor en hulle self met vyeblare van rebellie geklee.

Die groot engele skaar sien die pyn op God se gesig. Dis iets verskriklik. Pyn in die hemel.

VERWOES HULLE

Is dit moontlik dat een van die engele met die volgende voorstel gekom het:

“Here. Waarom vernietig U nie die Satan en al die rebelle nie? Begin dan met ‘n nuwe skepping.”

Gelukkig is dit nie God se natuur nie. Hy vernietig eerder Homself voordat Hy Sy skepsels vernietig. En dis presies wat sou gebeur.

DIE VLEESWORDING

Ten einde vir Adam en Eva die geleentheid te gee om gered te word, moes iets vreeslik gedoen word.

Een van hulle Drie sou die gedaante van ‘n mens moes aanneem en aarde toe kom.

Die engele is skielik in ‘n staat van skok. Moes die magtige twee Persoon in die Godheid Sy status prysgee en ‘n mens kom word teneinde die mens te red?

Hy wat sonne en planete gemaak het; Hy wat galaksies in wording gespreek het, moet nou deel van Sy eie skepping word.

DIE LIGGAAM

Maar die liggaam wat Jesus sou aanneem, sou nie soos die liggaam van Adam voor sy sondeval wees nie. Dit sou ook nie heeltemal soos Adam se liggaam ‘n paar jaar na sy sondeval wees nie.

Nee. Daar sou 4000 jaar gewag word totdat die menslike ras byna op sy swakste sou wees.

DIE VERLOOP VAN TYD

Die engele het dag vir dag die tragiese agteruitgang van die wêreld aanskou.

Na ongeveer 2000 jaar sien hulle hoe die sondvloed die aarde verwoes. Die mensdom het te sleg geword.

Nog ‘n verdere twee duisend jaar verloop. Die mensdom het so sleg geword dat demone hulle beset het.

Dit was die donkerste oomblik in die geskiedenis van die planeet.

DIE AFSKEID

Dit was in die jaar 4 vC. Die magtige Drie Eenheid het die engele bymekaar geroep. Die oomblik van afskeid vir Jesus, die Tweede Persoon in die godheid het aangebreek.

Dit was nie maklik vir die engele om afskeid te neem en te hoor dat Jesus die pynlike proses van vleeswording moes ondergaan nie.

Terwyl hulle Jesus groet besef hulle dat hulle Hom nooit weer sou sien soos wat hulle Hom op daardie oomblik sien nie.

Hy sou na die hemel terugkeer met die gedaante van ‘n mens. Nie net vir die eerste triljoen jaar nie, maar vir ewig.

Hy wat wêrelde deur die spreek van ‘n woord gemaak het, sou laer as ‘n engel, laer as Adam voor sy val, laer daal as Adam na sy val neerdaal.

Hy sou een met die patetiese, gevalle menslike ras op die donker planeet kom word.

Filipense 2:5,6 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie,

Verse 7,8 maar het Homself ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

DIE PYN VAN ONTLEDIGING

Toe Jesus Hom van Sy glorie ontledig het, was dit ‘n pynlike proses. Toe Hy Sy Godheid binne in die vorm van ‘n mens moes kom inweef en wegsteek, het dit Hom oneindige pyn veroorsaak.

”Christ, at an infinite cost, by a painful process, mysterious to angels as well as to men, assumed humanity. Hiding His divinity, laying aside His glory, He was born a babe in Bethlehem. (MS 29, 1899).

DIE TRAUMA VAN AFSKEID

Ek het geweet ons enigste kind een of ander tyd die huis sou verlaat. Ek het my probeer indink hoe moeilik dit gaan wees.

En toe breek die dag in 1987 aan. Ek sien nog die groot tasse in die gang. Ek voel tot vandag toe die pyn van afskeid.

Na sy weg is het ek in haar leë kamer gaan huil en weer en weer vir my kind se veiligheid gebid.

GEEN TASSE NIE

In die gang voor Jesus se kamer was daar nie tasse nie. Toe Hy na die aarde toe gekom het, het Hy alles agtergelaat.

Skielik is die hemel leeg. Jesus die Aanvoerder is weg.

AMPTELIKE BESOEK

As jy die president van Amerika was en jy word gevra om Hartenbos kampvergadering te kom besoek, hoe sou die Withuis dit vir jou reël?

CNN en ‘n duisend ander verslaggewers sou daar wees. George lughawe sou nie al die vliegtuie kon hanteer waar jy as president sou land nie.

Dink net aan al die luukse motors en motorfietse, die sirenes en die talle veiligheidswagte. Die SA lugmag sou met ‘n paar stralers hier oor die kampterrein vlieg.

Jammer om te sê. Ons hier sou nie die logistiek vir so ‘n hooggeplaaste president en sy gevolg kon verskaf nie.

En dis maar net ‘n ou presidentjie van ‘n landjie met die naam van Amerika op ‘n klein stukkie kosmiese stof met die naam planeet aarde.

NIE-AMPTELKIK

As die Amerikaanse president ons wou kom besoek, sou hy dit nie amptelik kon doen nie. Hy sou met een van Paccalsdorp se taxi’s hier aankom. Geklee in ‘n denim, tekkies en ‘n teehempie.

Sou dit enigsins sy status aantas?

Hoe het die Prins van die kosmos na die aarde toe gekom? Nieamptelik? Waarom? ‘n Amptelike glansryke besoek sou ons en ons planeet uitgewis het.

Waar het Hy tuisgegaan? In die ***** Hilton of in ‘n plakkerskamp langs ‘n township?

In die hartjie van die winter kom Hy kaalvoet by Nasaret aan.

Hy klop voor die deur van ‘n arm weeskind, Maria vir ‘n blyplek. Dan reduseer Hy Homself tot ‘n oneindige klein spermpie en begin met die proses van mensword.

Maria die 16 jarige weeskind het nie eers geweet hoe sy haar verwagte baba moes grootmaak nie. Sy het na tannie Elizabeth gegaan om raad te kry.

Vir nege maande lank ontwikkel die fetus. Naak kom die magtige tweede Persoon van die Godheid in die wêreld. Terloops. Hy is ook naak uit die wêreld.

Van ruimtes en lig en vryheid na ‘n baarmoeder van noutes en duisternis.

STUDIE VIR EWIG

The study of the incarnation of Christ, …will employ the mind of the diligent student as long as time shall last; and looking to heaven with its unnumbered years he will exclaim, “Great is the mystery of godliness.” {COL 133.4}

Met verbleikte lappe wat Maria en Josef by ‘n pandjieswinkel gekoop het, word Jesus toegedraai.

1 Timoteus 3:16 En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees…”

Daar was nie ‘n ginekoloog by die bevalling nie. Terwyl die God-mensie huil, bulk die koei in die stal. Nie die reuk van Babapoeier nie, maar die reuk van warm beesmis vul die stal.

Elke keer wanneer ek die geboorte kerk van Jesus in Betlehem besoek, dink ek aan die wonder van die vleeswording.

By Megiddo het die argeoloë ‘n tipiese krip ontdek waaruit beeste gevreet het. Jesus is in so ‘n voerbak neergelê.

God kom sit Sy seun in die voerbak van die wêreld en Hy nooi honger mense uit om Jesus die Brood van die hemel te kom eet.

Eendag in die hemel wil ek met die engele gaan gesels en hoor hoe hulle die vleeswording van Jesus ervaar het.

Wat was hulle reaksie toe hulle hulle Magtige Skepper as ‘n hulpelose Baba Jesus in die stal hoor huil het?

“How wide is the contrast between the divinity of Christ and the helpless infant in Bethlehem’s manger! How can we span the distance between the mighty God and a helpless child? And yet the Creator of worlds, He in whom was the fullness of the Godhead bodily, was manifest in the helpless babe in the manger. Far higher than any of the angels, equal with the Father in dignity and glory, and yet wearing the garb of humanity! Divinity and humanity were mysteriously combined, and man and God became one. FLB 48

VLEES GEWORD

Johannes druk sy pen in goddelike ink en skryf die volgende verstommende woorde neer:

Johannes 1:1-3 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
34. Vers 14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid.

Die heerlikheid van Jesus lê in Sy vleeswording – Sy afkom tot hier by my honger en my dors. Tot hier by my koudkry en my pyn. Hy is propvol genade.

That He might accomplish His purpose of love for the fallen race, He became bone of our bone and flesh of our flesh. {FLB 48.4}

Hy het so ‘n ver onmeetlike afstand gekom om ons te red. Kan ons nie net een kort treetjie na Hom toe neem nie. Hy sal dit ontsettend baie waardeer.

Was this article helpful?

Related Articles