1. Home
  2. Algemeen
  3. Dood Van Aaron: Numeri 20:20-29

Dood Van Aaron: Numeri 20:20-29

Dis moontlik dat jy die Here en jou geliefdes teleurgestel het. Jy het miskien skande oor die saak van die Here gebring. Miskien voel jy so platgeslaan dat jy dit nooit weer sal waag om in die diens van die Here te wil staan nie.

Ek het goeie nuus vir jou. Wanneer iemand geval het en God het hom of haar opgetel, kan jy met die grootste vrymoedigheid weer vir Hom kom werk.

Dis wat met Moses gebeur het en dis wat ons moet onthou. Jy sal altyd kosbaar in sy oë wees en daar is nog ‘n plekkie in sy wingerd waar jy vir Hom kan werk.

Numeri 20:14 Moses het boodskappers van Kades af na die koning van Edom toe gestuur met die versoek: “So sê u broer Israel: U is bewus van al die probleme waarmee ons te kampe gehad het.

U broer

Selfs nog vandag begroet mense in die Midde-Ooste mekaar as “broers” as hulle bloedfamilie is. Die Edomiete was die afstammelinge van Esau. Genesis 25:30 Toe sê Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem.

Al die probleme

Moses vertel vir sy boetie Edom van al die problem wat hulle wedervaar het met die hoop dit ‘n bietjie simpatie vir die afstammelinge van Jakob kan uitlok.

Die woord “probleem” kom van die Hebreeuse wortel “om moeg te wees”. Veertig jaar op die lang lang onherbergsame gevaarlike woestyne paaie sonder jou eie ou blyplekkie kan jou dalk ‘n bietie uitput.

“Boetie Edom maar dis nie al nie. Kom ek vertel jou nog iets.”

Vers 15 Ons vaders het na Egipte afgetrek, en ons het baie dae in Egipte gewoon, en die Egiptenaars het ons en ons vaders sleg behandel.

“Boetie Edom ek is seker jy het op CNN van die dokumentêre gesien hoe ons as slawe die voorraadstede en ander plekke vir farao moes bou. Ons mense was gedaan. Maar kom ek vertel jou wat toe eindelik gebeur het.”

Vers 16 Toe het ons die HERE aangeroep, en Hy het ons stem gehoor: Hy het ’n Engel gestuur en ons uit Egipte uitgelei. Hier is ons nou in Kades, ’n stad op die grens van jou grondgebied.

Die Engel was natuurlik Christus self, die ewige Prins van God se volk.

Vers 17 Laat ons tog deur jou land trek: ons sal nie deur lande of wingerde trek nie en die water uit die putte nie drink nie; ons sal die koningsweg hou; ons sal nie regs of links uitdraai nie, totdat ons deur jou grondgebied getrek het.

“Boetie Edom ek kan nou vir jou ‘n internetbetaling doen. Sê net hoeveel moet ek in jou rekening deponeer. Want jy sien as ons deur jou land trek, hoef ons nie die lang pad na die suide te neem en dan weer met ‘n groot opmad na die noorde toe trek nie.”

Koningsweg

Dit was die hoofroete oos van die Jordaan wat vanaf Damaskus in die noorde tot by Esion Geber by Akaba en die Rooi See .

Mens kan hierdie weg op Google Earth ook sien en dit was voorreg om etlike kere hier te gereis het.

Die koningsweg was baie eeue later deur die Romeine herstel. Met die opgrawings het hulle twee suile ontdek wat as mylpale gedien het.

En raai hoe reageer Edom op Moses se baie beleefde versoek?

“My broer Jakob ek is so jammer dat dit so swaar met jou gegaan het. Jy kan met die grootste plesier deur my land trek en dan gouer in die Beloofde Land gaan vestig.”

Vers 18 Maar Edom antwoord hom: Jy sal deur my nie trek nie, anders sal ek jou met die swaard tegemoettrek.

Ons kan kies hoe ons mekaar wil behandel. Hoe sou die geskiedenis uitgewerk het as Edom anders opgetree het.

Miskien het hulle gevrees dat hulle hulle land sou verloor of dat hulle verniel sou word.

Moses het nie tou opgegooi nie en weer mooi gevra.

Vers 19 Toe sê die kinders van Israel vir hom: Ons sal met die grootpad trek, en as ons van jou water drink, ek en my vee, gee ek die prys daarvoor. Laat my net te voet deurtrek – verder niks nie.

Soek jou broer of een of ander familielid toenadering en jy wil nie? Wat sê die Psalmis van familiële eensgesindheid?

Psalm 133:1,3 Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon! 3Dit is soos die dou van Hermonberg wat op die berge by Sion val. Waar broers so saam woon, skenk die Here sy seën:

’n lang, lang lewe.

“Boetie Edom ons beloof om jou geen ongerief of skade te berokken nie. Sê net hoeveel geld ek nou dadelik per internet vir jou moet oorstuur. As ons jou enige skade aandoen, dan hou jy die hele bedrag. Ons sal sou gou as moontlik deurstap.”

Vers 20,21 Die koning van Edom het laat weet: “Jy mag nie deurtrek nie.” Die Edomiete het toe met ’n groot, magtige leër teen die Israeliete opgetrek. So het Edom geweier om Israel deur sy gebied te laat trek, en Israel moes van Edom af wegdraai

Deuteronomium 2:1-6  DAARNA het ons gedraai en weggetrek na die woestyn, op pad na die Skelfsee, soos die Here aan my gesê het, en ons het om die gebergte Seïr getrek, baie dae lank. 2Toe het die Here met my gespreek en gesê: 3Julle het lank genoeg om hierdie gebergte getrek. Draai noordwaarts weg 4en gee aan die volk bevel en sê: Julle gaan trek deur die grondgebied van julle broers die kinders van Esau wat in Seïr woon, en hulle sal vir julle vrees; pas dan goed op; 5begeef julle nie in die oorlog teen hulle nie, want Ek sal julle van hulle land selfs nie ’n voetbreed gee nie; want Ek het aan Esau die gebergte Seïr as ’n besitting gegee. 6Voedsel moet julle van hulle vir geld koop, dat julle kan eet; en julle moet ook water van hulle vir geld koop, dat julle kan drink.

Die ompaaie van die lewe is nie aangenaam nie maar jy leer groot lesse op hierdie paaie.

Israel se laer by Kades was net ‘n kort entjie van die grens van Edom. Beide Moses en die volk wou baie graag deur daardie land na die Beloofde land toe trek. Gevolglik het hulle hulle versoek aan die koning van Edom gerig.

Indien die volk op God vertrou het toe hulle in die moeilikheid was, sou Hy hulle deur Edom gelei het. Die inwoners sou hulle gevrees het en pleks van vyandigheid sou hulle aan Israel guns bewys het.

Hoe belangrik dink jy is dit om God in selfs die kleinste besonderhede te gehoorsaam?                                                                  

Maar Isreal het nie stiptelik volgens God se bevele gehandel nie. En terwyl hulle gekla en gemurmureer het, het ‘n goue geleentheid verby gegaan.

Toe hulle uiteindelik gereed was om hulle versoek aan die koning te rig, is die geweier. Vandat hulle uit Egipte weggetrek het, het die Satan alles in sy vermoë gedoen om te verhoed dat hulle Kanaän sou binnegaan.

En asgevolg van hulle ongeloof het hulle die Satan uitgenooi om die plan van God teen te werk.

Dis so belangrik dat ons God se Woord glo en uitleef terwyl Sy engele gereed staan om vir ons te werk. Bose engele is gereed om elke voorwaartse stap geen te staan,

Wanneer God se voorsienigheid Sy kinders nooi om vorentoe te beweeg wanneer Hy gereed is om vir hulle groot dinge te doen, versoek die duiwel hulle om God deur hulle huiwering en uitstel te mishaag .

Hy probeer om hulle te laat twis en te kla sodat hulle die seëninge verbeur wat God so graag op hulle wil uitstort.

God se diensknegte moet altyd paraat wees om baie vinnig tot aksie oor te gaan wanneer Sy voorsienigheid die weg baan. As hulle aarsel gee dit die Satan tyd om hulle te verslaan.

Is daar iets wat die Here op hierdie spesifieke oomblik wil hê jy moet doen? En is jy oortuig? Doen dit oombliklik sodat die duiwel nie God se planne vir jou sal fnuik nie.

Die opdrag wat Moses aanvanklik gekry het om deur Edom te trek, het die Here, nadat Hy gesê het die Edomiete gaan vir hulle bang wees, Sy volk belet om die vreesfaktor teen hulle te gebruik.

Omdat God se krag Israel ondersteun het en die vrese van die Edomiete hulle ‘n maklik prooi sou maak, is hulle vermaan om dit nie uit te byt nie.

“Pas dan goed op; begeef julle nie in die oorlog teen hulle nie, want Ek sal julle van hulle land selfs nie ‘n voetbreed gee nie; want ek het aan Esau die gebergte Seïr as ‘n besitting gegee.” Deuteronomium 2:4,5

Die Edomiete was afstammelinge van Abraham en Isak en terwille van hierdie diensknegte het God aan hulle guns bewys.

Hy het die gebergte van Seïr aan hulle gegee en hulle moes nie gepla word nie solank hulle buite die bereik van God se genade verval nie.

Die Hebreërs moes die Kanaäniete heeltemal uitwis om die maat van hulle boosheid vol was. Maar die Edomiete het nog nie so ver gegaan nie en daarom moes hulle met deernis bejeën word.

God is genadig en Hy openbaar groot deernis voordat Hy straf. Hy maan Israel om die mense van Edom te spaar voordat Hy van hulle verwag om die inwoners van Kanaän uit te wis.                                                                           

Die voorvaders van Israel en Edom was broers en hulle moet hoflik en liefdevol teenoor mekaar wees. Die Israeliete is belet om op daardie stadium of in die toekoms hulle op Edom te wreek omdat hulle geweier het om Israel deur hulle land te laat trek.

Al was Israel die uitverkore volk, moes hulle nie verwag om enige deel van Edom in besit te neem nie.

God het hulle ‘n goeie land beloof en hulle moes nie dink dat hulle alleen reg op die aarde het nie en al die ander verdruk nie.

In hulle kontak met die Edomiete moes hulle daarteen waak om hulle nie lelik met hulle te wees nie. Wat hulle ookal nodig gehad het, moes hulle aanvra en stiptelik daarvoor betaal.

Om Israel aan te moedig om God te vertrou is hulle herinner: “Die Here jou God het jou geseën…geen ding het jou ontbreek nie.” Deuteronomium 2:7.

Hulle was nie van die Edomiete afhanklik nie, want hulle God was ryk aan hulpbronne. Hulle moes niks deur geweld of bedrog bekom nie en die gebod uitleef wat sê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

As hulle op die manier deur Edom getrek het sou dit vir hulle en die inwomers ‘n seën gewees het. Dit sou hierdie mense die geleentheid gee om met Gods kinders en hulle aanbiddingstyl kontak te maak en te sien hoe die God van Jakob mense seën wat Hom liefhet en vrees.

Dit kon so gewees het maar Israel se ongeloof het dit verhoed. God het vir hulle water gegee, maar toegelaat dat hulle ongeloof sy eie straf meebring.

Is daar lesse wat ons uit hulle geskiedenis kan leer? God het vir ons ‘n pragtige plan van geluk en sinvolheid. Kom ons vertrou Hom en ervaar die grootste geluk op hierdie aarde.

Hulle moes weer deur die woestyn trek en hulle dors by die wonderfonteine les. As hulle maar net die Here vertou het, sou dit nie nodig gewees het nie. PP 424

Verse 22 So het Edom geweier om Israel deur sy gebied te laat trek, en Israel moes van Edom af wegdraai

Skyfies van hoe die woestyn hier lyk.

Wanneer mens bo op Jabal Madba staan waar mense en diere geoffer is, kan jy die berg sien. In Arabies word dit Jebel Nebi Harun, genoem, die berg van die profeet Aäron. Daar is ‘n moskee op die plek waar hy glo begrawe is en pelgrims besoek die plek.

Flavius Josefus en Eusebius plaas Hor suid van Petra.

Hier het groot emosies afgespeel

Verse 23,24 By Horberg, vlak by die grens van Edom, het die Here vir Moses en Aäron gesê: 24“Die tyd het gekom dat Aäron moet sterf. Hy sal nie in die land kom wat Ek aan die Israeliete gee nie, omdat julle twee julle verset het teen my bevel by die Meribawaters.

Aäron sal by sy volksgenote versamel word. OV

Waar nog lees ons van hierdie uitdrukking?

Genesis 25:8 Abraham het die asem uitgeblaas en in goeie ouderdom gesterwe, oud en afgeleef. En hy is by sy volksgenote versamel.

Vers 17 En dit is die lewensjare van Ismael: honderd-sewen-en-dertig jaar; en hy het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is versamel by sy volksgenote.

Genesis 35:29 En Isak het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is by sy volksgenote versamel, oud en afgeleef. En sy seuns Esau en Jakob het hom begrawe.

Genesis 49:33 Toe Jakob klaar sy bevele aan sy seuns gegee het, trek hy sy voete terug op die bed en blaas die asem uit; en hy is by sy volksgenote versamel.

Numeri 27:13 En as jy dit gesien het, sal jy ook by jou volksgenote versamel word soos jou broer Aäron versamel is.

Hierdie uitdrukking word vir die gereddes gebruik. Sal dit ook van jou en my gesê word?

Verse 25-27 Neem Aäron en sy seun Eleásar, en laat hulle op die berg Hor opklim;26 en trek Aäron se klere uit en trek dit sy seun Eleásar aan en Aäron sal daar by sy volksgenote versamel word en sterwe.27 Toe het Moses gedoen soos die HERE beveel het: hulle het op die berg Hor geklim voor die oë van die hele vergadering.

Hoe dink jy het Moses hierdie opdrag hanteer?

Waarom moes die volk hierdie drama aanskou?

Hulle was deels die oorsaak van sy doodsvonnis. Hulle moes ook kennis neem dat Eleasar die volgende hoëpriester na sy pa se dood sal wees.

Vers 28 En Moses het Aäron se klere uitgetrek en dit sy seun Eleásar aangetrek. En Aäron het daar gesterwe op die top van die berg, maar Moses en Eleásar het van die berg afgeklim.

Hoe het hulle mekaar gegroet?

Hoe het Moses dit reggekry om van die berg af te klim. Hy het so gehuil en Eleasar moes hom seker ‘n paar keer help dat hy nie val nie.

Die eerste hoë priester het gesterf en die tweede een is aangestel. Hy het ook gesterf en baie na hom. Hulle was almal tipes van die Groot Antitiese Hoë Priester wat ewig is

Hebreër 7:23,24 En hulle het wel priesters geword in ’n groot aantal, omdat hulle deur die dood verhinder is om aan te bly;24 maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit ’n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie.

Indien jy sukkel met sondeskuld en twyfel wil en net noem dat daar Iemand is wat kan help.

Vers 29 En toe die hele vergadering sien dat Aäron gesterf het, het die hele huis van Israel Aäron beween dertig dae lank.

Ek dink dit was ‘n hartseer 30 dae. ‘n Rukkie later sou hulle weer vir 30 dae rou. Hierdie keer oor hulle leier wat hulle vir 40 jaar gekoester het.

Volgende keer peins ons oor die laaste gesprek tussen twee bejaarde broers.

Het jy die voorreg gehad om ‘n laaste gesprek met jou biologiese broer gehad voordat hy dood is?

En indien jy van jou biologiese of geestelike broer vervreemd is, dink jy nie dis ‘n goeie idee om vrede te maak nie.

Was this article helpful?

Related Articles