1. Home
  2. Bybelkarakters
  3. Elia
  4. Elia Die Tisbiet (Deel 10) – Elia Se Hemelvaart

Elia Die Tisbiet (Deel 10) – Elia Se Hemelvaart

ELIA SE HEMELVAART

Skriftuur: 2 Konings 2:11,12

11En terwyl hulle aldeur loop en spreek, kom daar meteens ʼn wa van vuur met perde van vuur wat skeiding tussen hulle twee maak; en Elía het in die storm na die hemel opgevaar. 12En Elísa het dit gesien en geroep: My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters! En toe hy hom nie meer sien nie, het hy sy klere gegryp en dit in twee stukke geskeur.

Elia het moedeloos geword en van sy plig weggehardloop. Uiteindelik het hy homself in ʼn donker grot op die berg Horeb gaan wegsteek. Dis hier waar die Here vir Elia ingehaal het en hom weer moed ingepraat het. Die Elia-boodskap sê:

Wanneer ek en jy moedeloos word en van die Here weghardloop, hardloop Hy gelukkig saam met ons. En wanneer ons in ʼn donker grot van sinneloosheid en wanhoop gaan wegkruip, kom vertel Hy vir ons dat Hy ons nog liefhet en ons graag nog wil gebruik.

DIE VRAAG WORD HERHAAL

Wanneer mens die verslag van Elia se vlug na Horeb lees, ontdek jy dat die Here twee keer vir hom dieselfde vraag gevra het: “Wat maak jy hier, Elia?”

En twee keer het hy die Here dieselfde antwoord gegee. Hoor hoe klink dit:

1 Konings 19:14 Hy het geantwoord: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.”

STEMINTONASIE

Toe Elia die eerste keer hierdie woorde gesê het, was hy verskriklik ontsteld. As ons daar was om na hom te luister, sou ons dit agtergekom het.
Maar toe openbaar die Here Hom aan Elia, nie in wind, aardbewing of vuur nie, maar in ʼn sagte fluistering, in die kalmte van ʼn windstilte. Dieselfde vraag kom weer tot hom: “Wat maak jy hier, Elia?” Daar is nie meer opstandigheid in Elia se stemtoon nie. Bedees antwoord hy dat hy gevlug het omdat die mense hom wil doodmaak. Kom ons luister hoe die Here die weghardloper Elia weer in sy amp herstel:

SPAN ANDER IN OM MET DIE WERK TE HELP

2 Konings 2:15 Maar die Here sê vir hom: “Draai in jou spore om na die Damaskuswoestyn toe, en as jy daar aangekom het, moet jy Gasael salf tot koning van Aram.”

As jy dink jy kan nie meer vir die Here werk nie omdat jy moedeloos geword en weggehardloop het, maak jy ʼn baie groot fout. Die Elia-boodskap sê jy kan altyd weer voor begin. Jou werk op aarde is nog nie klaar nie. Gasael van Damaskus vir wie Elia in Damaskus moes gaan salf het, het die invloed van Baäl in Israel heeltemal vernietig. Die werk wat Elia begin het, het hy voortgesit. Maar daar was nog iets wat Elia moes doen:

2 Konings 2:16 Jy moet ook vir Jehu seun van Nimsi salf tot koning van Israel, en vir Elisa seun van Safat uit Abel-Megola moet jy salf tot profeet om jou op te volg. Dan sal dit so wees: wie Gasael se swaard vryspring, Jehu sal hom doodmaak; wie Jehu se swaard vryspring, Elisa sal hom doodmaak.

Wanneer jy die geskiedenis van Jehu en Elisa lees, ontdek jy dat hulle die invloed van Baäl in Israel heeltemal uitgeroei het. Elia moes leer dat hy nie die enigste mens was wat die werk van die Here kan doen nie. Hy moes ook ander mense betrek om met die hervormingswerk te help. Elia het ʼn groot fout gemaak toe hy gedink het dat hy die enigste een in Israel was wat aan die Here getrou gebly het. Hy het van Obadja vergeet wat die profete van die Here in grotte weggesteek en onderhou het.

Ek wonder wat Elia gedink het toe die Here vir hom sê dat daar baie mense in Israel was wat tot op daardie tydstip geweier het om Baäl te aanbid:

2 Konings 2:18 Maar Ek sal in Israel die sewe duisend laat oorbly wat nie die Baälbeeld aanbid het nie.

GEESTELIKE VERVAL

Daar is ʼn baie sterk ooreenkoms tussen die geestelik verval in Elia se tyd en die geestelike verval van ons tyd. Soos wat mense Baäl destyds saam met die Here aanbid het, so doen hulle dit nog steeds vandag. Dis skokkend om te sien hoeveel heidense gebruike die populêre kerke binnegesypel het. Ons noem dit sinkretisme.

Maar daar is goeie nuus. Ons moenie moedeloos word nie: Daar is nog “7000” wat die knie nie voor Baäl gebuig het nie. Eerlike, soekende mense wat wag om die eindtyd-Elia-boodskap van Jesus se geregtigheid aan te neem.

DAAR IS WERK OM TE DOEN

Die Here het Elia destyds geroep om teen die valse godsdiens van die tyd te waarsku. Vandag roep hy ons om teen die verskriklike dwaalleer van ons tyd te waarsku. Hoekom? Dit verwoes mense.

Is jy moedeloos soos Elia? Het jy onaktief geword? Het jy opgehou om van die waarheid te getuig? Dieselfde vraag kom vandag tot jou en my: “Wat maak jy hier? Waarom is jy onaktief?”

Terwyl Elia in die grot van onaktiwiteit gaan wegkruip het, het die Here vir hom werk beplan en planne gemaak om hom lewend hemel toe te neem. Wat ʼn God van genade! Weet jy wat? Die Here het vir elkeen van ons ʼn werk om te doen en daarna gaan Hy ons lewend hemel toe neem. Kom ons skep moed en kom ons gaan werk waar die Here wil hê ons moet gaan werk.

VOEL JY ONBEKWAAM?

Voel jy onbekwaam om vir die Here te werk? Daar is een sitaat wat my deur die jare gehelp het om vir die Here te werk en dit is die volgende:

“Niks is op die oog af hopeloser, maar tog onoorwinliker nie, as die siel wat sy eie nietigheid besef en daarom volkome op die Here vertrou.” (PK 175)

Elia het uit sy diep put van depressie en onaktiwiteit geklim, en ʼn magtige werk vir die Here gaan doen.

OORWIN WAAR HY VERLOOR HET

Daar is een spesifieke oorwinning wat Elia behaal het voordat hy lewend hemel toe is. Dit het my baie getref en ek wil net ʼn oomblikkie daarby stilstaan.

1 Konings 21:17,18 Die woord van die Here het toe tot Elia die Tisbiet gekom en vir hom gesê: “Maak klaar en gaan ontmoet vir Agab wat in Samaria as koning oor Israel regeer. Hy is nou by die wingerd van Nabot, wat hy gaan vat het.”

Raai bietjie waar hierdie wingerd geleë was. Wanneer mens die hele hoofstuk 21 lees, ontdek jy dat Nabot se wingerd langs Agab en Isebel se paleis in Jisreël was. Kan jy nog onthou wat hier gebeur het? Dis waar Elia die nag langs die stadspoort geslaap het nadat hy van sy Karmel-triomf teruggekeer het. Dis hier waar Isebel se boodskapper vir hom die doodsdreigement gebring het. Jisreël het vir Elia ʼn negatiewe konnotasie gehad. Dis die plek waar hy sy houvas op die Here verloor het. Dis die plek waar hy vir ʼn heidense vrou weggehardloop het in plaas daarvan om haar op haar plek te sit.

Het jy ʼn Jisreël-ondervinding in jou lewe? ʼn Plek waar jy skandes gemaak het? Hoe hanteer die Here my ondervindings van mislukkings?

Die Elia-boodskap sê dat die Here ons vra om te gaan oorwin waar ons vroeër verloor het. Om te gaan regmaak waar ons vroeër verbrou het.

Elia moes die hele end pad teruggaan na Jisreël waar hy voorheen gefaal het. Maar hierdie keer was die toets baie moeiliker. Hy moes Jisreël binnestap. En miskien gaan hy Isebel se lyfwag sien wat hom met die dood gedreig het. Die wingerd lê presies langs die paleis en dit beteken dat hy voor die paleis sal moet verbystap voor hy daar kan aankom. Sê nou net die vrou wat sy moed gebreek het, sien hom? Is dit nie moeilikheid soek nie? En wat gaan Agab doen as hy vir Elia sien?

VERTROU DIE HERE

Maar hierdie keer was Elia gereed vir ʼn duisende Isebels en ʼn duisend Agabs. Hy het diep geval, maar die Here het hom wonderbaarlik opgetel. Elia het al sy selfvertroue verloor en hom nou uitsluitlik op die krag van die Here verlaat. Hierdie keer sou hy nie weghardloop nie, maar presies doen wat die Here vir hom sê.

Kom ons luister na die boodskap wat die Here vir Elia gegee het om vir Agab te gee:

1 Konings 21:19 “Jy moet vir Agab sê ‘So sê die Here: Jy het gemoor en nou vat jy ook nog? Sê verder vir hom: So sê die Here: Op dieselfde plek waar die honde die bloed van Nabot opgelek het, sal hulle jou bloed ook oplek. Ja, joune!”

Terwyl Agab so tussen die pragtige wingerd van die vermoorde Nabot stap, sien hy skielik vir Elia hier voor hom. Hy moes baie groot geskrik het. Miskien het hy gedink Elia is nog steeds besig om weg te hardloop. Maar Agab sou sy fout agterkom. Elia het sy swakheid oorwin en hy praat weer met krag en oortuiging soos op Karmel. Dit mag net wees dat madam Isebel kom uitvind het wat se gepraat dit daar in die wingerd was. Maar Elia was gereed vir haar. Luister wat het hy vir Isebel te sê gehad:

2 Konings 2:23 En oor Isebel het die Here gesê: Die honde sal Isebel opvreet by die voorste muur van Jisreël.

“Isebel”, sê Elia vir haar. “Daar waar ek die nag in die reën geslaap het, en jy jou lyfwag gestuur het om my met die dood te dreig, dis waar die honde jou sal opvreet.”

OORWINNEND

Twee geskokte mense kyk Elia agterna terwyl hy tussen die wingerdstokke verdwyn. Hy stap nie soos ʼn verloorder daar weg nie. Elia stap met ʼn ferm tred van triomf en volle vertroue op die Here.

BELOFTES VAN DIE ELIA-BOODSKAP

Die Elia-boodskap het pragtige beloftes. Waar ons die Here vroeër teleurgestel het, gaan Hy vir ons die krag gee om te oorwin.
Die Elia-boodskap beloof: Voor jy hemel toe gaan, sal die Here jou die oorwinning oor Isebel se dreigemente skenk. Meer nog, Hy gaan ook vir jou die oorwinning oor jou eie besondere swakhede skenk. Ek dank die Here vir die Elia-boodskap wat die oorwinning aan elke opregte mens beloof.

OORWINNING IS ‘N GESKENK

Wanneer mens die verse lees wat oor “oorwinning” handel, maak jy ʼn heerlike ontdekking. Oorwinning is iets wat die Here as geskenk aan ons gee. Kom ek lees net een van die baie verse:

Psalm 44:7,8 Op my boog vertrou ek nie en my swaard sal my die oorwinning nie gee nie, want dit is U wat ons die oorwinning oor ons teëstanders gegee het en ons vyande die aftog laat blaas het.

Hoe behaal ons die oorwinning oor vyande van buite en vyande van binne? Die Here gee dit. Paulus verduidelik vir ons presies hoe die Here vir ons die geskenk van oorwinning skenk:

1 Korintiërs 15:57 Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.

DIE HEMELVAART

Die Bybel sê nie vir ons wanneer presies die Here vir Elia gesê het dat hy hom lewend hemel toe sou neem nie. Hoe sou jy gevoel het as jy vandag die versekering sou kry dat jy binnekort lewend hemel toe geneem word?

2 Konings 2:1 Die tyd het gekom dat die Here vir Elia in ʼn stormwind in die hemel sou opneem.

Dit sou my ongelooflik opgewonde maak, om te dink dat ek oor ʼn paar dae vir ewig van my sondige sterflike natuur ontslae gaan raak en ʼn onsterflike liggaam gaan ontvang. Die wonder daarvan sou my oorweldig. Om te dink dat ek binnekort die Koning in al Sy skoonheid gaan aanskou. Om te dink dat ek nooit weer gaan seerkry en huil nie; nooit weer ʼn bekommernis gaan hê nie; nooit weer onder die knaende versoekings van die vlees gaan ly nie.

Elke keer wanneer ek Jerigo besoek, dink ek aan die dag toe Elia en Elisa aangekom het. Die opgewondenheid in Elia se binneste was onuithoudbaar. Hoe nader die oomblik van sy hemelvaart gekom het, hoe vinniger het sy hart geklop.

2 Konings 2:4,5 …Hulle het saam in Jerigo aangekom. Die profete van Jerigo het na Elisa toe gekom en hom gevra: “weet jy dat die Here vandag jou leermeester van jou af gaan wegvat?” Hy het geantwoord: “Ja, ek weet. Moenie daaroor praat nie.” Hulle twee is toe saam verder.

Die laaste paar minute wou Elisa net aanmekaar met Elia praat. Hy wou vir oulaas by hom leer hoe om die Elia-boodskap suksesvol te verkondig. Toe die twee by die Jordaanrivier kom, het Elia sy mantel geneem en op die water geslaan. Met ʼn groot gedruis skeur die waters oop. Elia stap op droë grond deur die Jordaan. Dit was dieselfde mantel wat hy in skaamte en diepe berou oor sy kop getrek het toe die Here by Horeb aan hom verskyn het. Soos Israel van ouds deur die Jordaan na die beloofde land toe gestap het, so stap Elia ook deur die Jordaan na die ewige beloofde land. Dit was in dieselfde omgewing naby die berg Nebo waar Moses gesterf het. Dis ook hier waar die Here hom in ʼn spesiale opstanding kom opwek het.

2 Konings 2:11 Terwyl hulle gesels-gesels verder gegaan het, was daar skielik ʼn wa van vuur met perde van vuur wat hulle twee van mekaar geskei het, en Elia is in ʼn stormwind op, die hemel in.

Dis ʼn wonderwerk dat Elisa hierdie verblindende heerlikheid van die wa van vuur met die perde van vuur oorleef het. Dit was magtige, skitterende engele wat die voorkoms van glimmende perde en ʼn glimmende wa aangeneem het. Die engel wat vir Elia kos gebring het toe hy moedeloos was, was ook daar om hom te verwelkom. Vir die mense van Elia se tyd was perde en strydwaens simbole van mag, majesteit en heerlikheid.

As ons dieselfde glanstoneel sou beskryf, sou ons sê dit het gelyk asof ʼn duisende atoombomme gelyktydig ontplof het. Die teks sê Elia is in ʼn stormwind na die hemel opgeneem. Die verskriklike krag van ʼn tornado gee vir ʼn mens so ʼn vae idee van die onbeskryflike mag en majesteit van die Here. Terwyl Elia vinniger as die spoed van lig na bo beweeg, sien hy hoe die een kleurvolle melkweg na die ander by hom verbyskiet. Hy kan nie glo hy is op pad hemel toe nie.
Vir ewig gelukkig, vir ewig veilig. Met sy onsterflike, nuutgemaakte, sondelose liggaam en breinselle verlustig Elia hom in die wonders van die buitenste ruim. Ek wonder, het die Here nie ook vir Moses tydens hierdie geleentheid opgewek nie? As dit so was, het Moses en Elia saam die Here vir Sy onbeskryflike verlossende genade geloof. Eendag in die hemel gaan ons hoor van die ontmoeting wat daar tussen die Skepper en Elia plaasgevind het. God het Sy boodskapper met die warmte van Sy Vaderhart verwelkom en styf vasgedruk.

Die Elia-boodskap van vandag het baie goeie nuus. Jesus gaan ons binnekort kom haal. Kom ons raak opgewonde. Kom ons maak gereed. Daar wag vir ons ʼn omhelsing – die omhelsing van God die Vader en Sy Seun, Jesus Christus.

Was this article helpful?

Related Articles